Voorspoedige Nuwejaar – dankie, maar wanneer?

  • 2

Moenie verbaas wees indien jy vir iemand 'n Voorspoedige Nuwejaar toewens en hulle jou met 'n paar verwarrende ogies aankyk en vra: "Watter een?"

Alhoewel die meeste van ons in die Westerse kultuur Nuwejaar op die eerste amptelike dag van die Gregoriaanse kalender vier, is daar so baie verskillende unieke datums vir Nuwejaarsvieringe regoor die wêreld en op ons eie voorstoep, dat Jan of San Alleman maklik en onbedoeld ’n fout van kwaadaardige omvang kan maak deur te vergeet om iemand op sy vieringsdag die voorspoedige wense van ’n nuwe begin toe te wens.
Mense het al kuiers op die brandstapel en onthoofdings vir minder ernstige oortredings oorgekom.

Gisteraand merk ek op die sosiale blaaie dat ’n Calvynse vriendin of twee saam met die Jode-mense hul Nuwejaar met die sonsondergang herdenk. Die horing se geblaas dui blykbaar op die aanbreek van Rosh Hashanah en die Nuwejaarsfees. Uit blote nuuskierigheid wou ek ’n kommentaar op die inskrywing maak, maar toe bedink ek die sondigheid van my natuur en pleks daarvan om vrye teuels daaraan te gee en moontlik mense tussen Durbanville en die Ben Gurion lughawe die swernoot in te maak, lees ek toe eerder verder oor hierdie eeue-oue gewoonte om die een tydperk af te sluit en ’n vars, nuwe een te begin.

My skok en verbasing was geskud tot in die sluimerende kankerselle van my murg, toe ek sien hoeveel mense ek al op die een of ander dag hierdie jaar moes geluk toegewens het en die taak liederlik verbrou het. Te midde van die aanklag van naasteverwaarlosing en disrespek, moes ek hardop wonder of ek vergifnis kan vra omdat ek ’n Skotse Nuwejaar vergeet het? Of die Sjinese of Koreane s’n?
Ag Vader, vergewe my, want ek het nie geweet, dat ek dit nie gedoen het nie.

Vriende, die aanslag is op ons. Facebooks en Whatsapps en Twitters en al hierdie onhebbelike sosiaal onverantwoordelike goeters, het ons versaak in ons uur om ingelig te wees. Daar was dus net een uitweg vir hierdie liefdesmens; net een oorweging en dit is om na naasbestaandes, Grieke, Jode, Britte en al die ander volke wat ons met aanklagsoë dophou, uit te reik!

Ons sal moet kennis neem van die ander planeetbewoners, ja selfs sover terug soos die homotjie Naledi se herdenkings van die Oujaar en die oopgrawe van die nuwe jaar.
Aangesien dit my stralend trots sal maak om die eerste nie-amptelike Noord-voorstedelike Kapenaar te wees wat die onsinnigheid van ’n Nuwejaar dwarsdeur die jaar uitlê, deel ek graag die volgende:

In en rondom Januarie vier ons, hulle en julle ...
Die wêreld se mees gevierde vakansiedag, Nuwejaarsdag. 1 Januarie was deur Julius Caesar ingestel, want dit was die datum waarop die Romeinse konsuls hul pligte ontvang het.
Japanese Nuwejaarsdag - Ook bekend as Gantan-SAI, shogatsu of Oshogatsu, hierdie Shinto vakansie vier die nuwe jaar met gebede vir hernuwing, goeie gesondheid en voorspoed.
Egiptiese Nuwejaarsdag (Sekhmet) – met geëerdheid aan die Egiptiese godin van die son.
Die Mahayana Boeddhiste se Nuwejaar - In Mahayana Boeddhistiese lande, begin die nuwe jaar op die eerste volmaan in Januarie.
Ou Skotse Nuwe Jaar – volgens die oorspronklike kalender voor die verandering in 1660, vier Skotte die brand van die Clavie (teer gevulde vat). Die brand is ’n simboliese suiwering.
Hen Galan - Vir die 200 inwoners van Gwaun Valley, naby Fish Guard, DYFED in Wallis, begin die nuwe jaar eers op 13 Januarie omdat hulle nog vas glo aan die “Julian” kalender en nie die 11 dae wat hulle verloor het met die res van Groot-Brittanje se oorskakeling na die Gregoriaanse kalender in 1752, wil prysgee nie. Hulle noem hul Nuwejaarsdag Hen Galan.
Armeniese Nuwejaar - Omdat Armenië nog staatmaak op die ou Juliaanse kalender, vier hulle Nuwejaar op 14 Januarie.
Oos Ortodokse Nuwejaarsdag - Sommige Ortodokse kerke, soos die Russiese Ortodokse kerk, vier Nuwejaarsdag op hierdie datum (ook volgens die Juliaanse kalender).
Die Uitsteller se Nuwejaar - As jy 'n uitsteller is, dan doen jy dit nie vandag nie. Moontlik môre. Maar, daar’s geen haas nie.
Sjinese Nuwejaar (Sun Nin) - Die Sjinese Nuwejaar word teen sononder op die dag van die nuwe maan onder die teken van Aquarius gevier.
Koreaanse Nuwejaar (Sol-Nal) – word teen sononder op die dag van die tweede nuwe maan na die wintersonstilstand gevier.
Losar, die Tibetaanse Nuwejaar, word om en by die dieselfde tyd as die Sjinese Nuwe Jaar gevier.
Let wel: Sommige Tibetane vier egter hul Nuwejaar 'n maand later. Verwarrend, nè?

In en rondom Februarie vier ons, hulle en julle ...
Ou Ierse Nuwejaarsdag - Sommige “Celtics” in Ierland vier die nuwe jaar tydens die fees van Imbolc, ook bekend as die fees van die ligte. Dit was 'n feesviering vir die herontwaking van die aarde.
Setsubun - Volgens die Japannese maan / son kalender, hierdie fees vind op die laaste dag van die winter plaas. As sodanig, is dit dikwels na verwys as Oujaarsaand ( aangesien dit amptelik op die dag gehou word voor die Japannese lente ).
Tu B'Shevat (Nuwejaar van bome) - Die Joodse Boomplantdag of Nuwejaar van Bome (een van die vier Mishnaïese nuwejaarvierings ). Dit herinner ons daaraan om respek aan bome en ander plante te bewys, ons verbintenis met die omgewing te vier en die vrugte van die land te waardeer. Dit word op die 15de dag van Shevat in die Hebreeuse kalender gevier. Plant 'n boom of eet 'n stukkie van die vrugte op hierdie dag.

In en rondom Maart vier ons, hulle en julle ...
Ou Romeinse Nuwe Jaar - Die Fees van Mars, ook bekend as Feriae Marti, vereer Mars, die Romeinse god van oorlog. Dit was ook die Nuwejaarsdag in die ou Romeinse kalender.
Venesië Nuwejaarsdag - Tydens die Middeleeue, was 1 Maart deur die stad Venesië se inwoners gevier.
Bali se Nuwejaarsdag - Ook genoem Nyepi. Gedurende hierdie dag mag niemand praat, reis, of werk nie. Dit is 'n dag vir stilte, gebed en meditasie. Klink na my soort dag!
Astrologiese Nuwejaar - Die astrologiese jaar begin met die eerste dag van die teken van die Ram.
Ou Russiese Nuwe Jaar - Van 1500-1725, sommige dele in Rusland vier die nuwe jaar op Lentedag.
Persiese Nuwejaar (Noruz) - Die Persiese of Iranse Nuwejaar is 'n nasionale vakansiedag in Iran en 'n paar ander Midde-Ooste lande. Nog steeds volgens die Persiese kalender gevier.
Ou Britse Nuwejaar - Voor die Jaarboek Wetsaanpassing van 1751, het Groot-Brittanje en sy Amerikaanse kolonies Nuwejaarsdag op 25 Maart gevier, want dit is “Lady Day” asook die Fees van die Aankondiging.
Volgens sommige Christene, moet die ware Nuwejaarsdag op die eerste nuwe maan na die eerste dag van die lente ( Noordelike Halfrond ) gevier word. Verwarrend, nè?

In en rondom April vier ons, hulle en julle ...
Ou Franse Nuwejaarsdag - Voor die aanvaarding van die Gregoriaanse kalender en 1 Januarie as Nuwejaarsdag in 1564, was Nuwejaarsdag in Frankryk op 25 Maart gevier en het dit tot 'n volle week geduur. Aangesien baie mense dus tot op 1 April feesgevier en gefuif het, was hulle ook soms die rede vir ander se grappe geword - of dan, April-dwase.
Theravadin Boeddhistiese Nuwejaar - Die Tharavadin Boeddhiste van Thailand, Burma, Sri Lanka, Kambodja en Lao vier die nuwejaar op die eerste volmaan van April en wel met drie dae van viering.

In en rondom Mei vier ons, hulle en julle ...
Boeddhistiese Nuwe Jaar - Boeddha, die verligte een, het in Indië van 563 VC tot 483 VC geleef. Sommige Boeddhistiese sektes vier sy verjaarsdag op die agtste dag van die vierde maanmaand as hul Nuwejaarsdag.
Let wel: Sommige sektes vier Boeddha se verjaarsdag op 8 April. Verwarrend, nè?

In en rondom Junie vier ons, hulle en julle ...
Antieke Griekse Nuwejaar - Sommige weergawes van die ou Griekse kalender vier die nuwe jaar op die somersonstilstand.

In en rondom Julie vier ons, hulle en julle ...
Armeniese Nuwejaar - Die Armeense Era, 'n ou manier van tyd meet, begin op 9 Julie 552.

In en rondom Augustus vier ons, hulle en julle ...
Aleksandriese Nuwejaar - Die eerste dag van die maand van Thoth was die begin van die nuwe jaar in die Grieks-Egiptiese kalender van antieke Alexandrië. Die Egiptiese god Thoth was die god van die skryf, tale, wette, annale, berekeninge, wiskunde, skrifgeleerdes en towenaars. Hy was dan ook die samesteller van die kalender.

In en rondom September vier ons, hulle en julle ...
Ortodokse Christelike Nuwejaar - Hierdie dag is die begin van die nuwe jaar vir 'n paar Russiese Ortodokse Christene.
Ou Russiese Nuwe Jaar - In 1699, het Peter die Grote beveel dat die Russiese Nuwejaar van 1 September tot 1 Januarie moet verander.
Ethiopiese Nuwejaarsdag - Dit is 'n nasionale vakansiedag in Ethiopië.
Griekse Nuwejaar (Selucidae) - Die Griekse Nuwejaar (Selucidae) begin erens in September.
Rosh Hashanah (Joodse Nuwejaar) - Rosh Hashanah, wat op die eerste dag van die Joodse maand Tishri (Tishrei) begin, word ook die Dag van Oordeel en Herinnering genoem. Oorspronklik was dit die dag van die skepping van man en vrou. In Mishnaïese tye, was die nuwejaarsdag ingestel vir offerandes en tiendes. Rosh Hashanah 2015 is die begin van die jaar 5776 in die Joodse kalender.

In en rondom Oktober vier ons, hulle en julle ...
Maleisiese Nuwejaar
Hindu Nuwejaar (Diwali) – tydens die nuwe maan laat in Oktober of vroeg November gevier.

In en rondom November vier ons, hulle en julle...,
Liturgiese Nuwejaar - Die seisoen van Advent begin met die vierde Sondag voor Kersfees en eindig met Kersdag. Dit is 'n voorbereidingstyd voor die viering van die geboorte van Christus. Dit is ook die begin van die nuwe liturgiese jaar vir Christene van die Weste.

In en rondom Desember vier ons, hulle en julle...,
Noorse Nuwe Jaar - Die Noorse Nuwejaar begin op wintersdag.
Keltiese Nuwejaar - Die eerste dag van die “Birch Moon”, die eerste maand in die Keltiese Jaarboek.
Pouslike State se Nuwejaar - Voor 1582 het die Pouslike State en 'n paar ander Italiaanse stadstate Nuwejaarsdag op Kersdag gevier. Verwarrend, nè?

En daar, my vars volleerde vriende, is die jaar verby en kon die suidelike deel van Afrika geen bydrae tot die wêreld se kalender en Nuwejaarsfeeste lewer nie!
Jammer vir vriend Homo Naledi, hy en sy nageslag sal maar by een van die boonste klomp se vieringe moet inval; die drie- of vierdae feeste sal seker die ding doen.

Aan al my nastrewende, amperse- en geboortereg Joodse vriende: L'shanah tovah!

  • 2

Kommentaar

  • Dankie vir die info Hennie. Ek sal beslis 'n kalender vir myself opstel om elke dag nuwejaarsdag te vier. Weet net nie of die vrou dit sal aanvaar nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top