Voorsittersverslag by geleentheid van die tweede ledevergadering van PEN Afrikaans

  • 0

Bestuur

Aan die einde van my termyn as voorsitter van PEN Afrikaans wil ek wegspring deur ondervoorsitter Kerneels Breytenbach, tesourier Naas Steenkamp en die bestuurslede Naomi Bruwer, Nelleke de Jager, EKM Dido, Heilna du Plooy, Louis Esterhuizen, Amanda Lourens, Melt Myburgh, Desmond Painter en Robert Pearce te bedank. Hulle name staan mooi alfabeties hier gerangskik omdat elkeen het op hul eie manier ’n bydrae gelewer het. Om ’n rodeoperd soos PEN Afrikaans in sy eerste volle bestaansjaar aan die leisels te vat, verg pioniersgees. Dankie dat julle help lasso’s swaai het en toe ook so stewig in die saal gesit het.

Die bestuur het slegs een keer amptelik vergader, midde-in die vrolike geroesemoes van die Woordfees. Omdat Robert Pearce in Port Elizabeth woon, kon hy nie teenwoordig wees nie, maar Heilna was gelukkig op die dorp as ’n feesganger en ook Dido het moeite gedoen om deur te ry Stellenbosch toe. Die belangrikste bestuursbesluit wat tydens dié vergadering geneem is, was dat ledegeld op R250 vasgestel word. Hiervan sal R150 aan PEN Internasionaal oorbetaal word en R100 gebruik word vir administrasie en werksaamhede.

Planne vir ’n Skype-konferensie het weens druk programme en botsende verpligtings gesneuwel, maar indien die toekomstige bestuur geografies nog wyer versprei is as wat ons was, bly dit ’n goeie opsie. Ons was darem gereeld elektronies in verbinding.

Ledetal

Die ledetal staan tans op 170, wat van PEN Afrikaans een van die grootste PEN-sentra maak. Uit die ledelys is dit duidelik dat ons goed verteenwoordig is in die noorde en die suide en dat daar geen gronde is vir vrese dat PEN Afrikaans deur die Kapenaars “gekaap” is nie. Die uitdaging nou is nie om blindelings nóg lede te werf nie, maar eerder om bestaande lede meer betrokke te maak (ook daaroor binnekort ietsie meer).

Dit is opvallend hoeveel minder jonges as wyse gryses daar op ons lys is. Hoewel laasgenoemde altyd ’n aanwins is, sal daar beter balans wees indien meer jonger skrywers betrokke raak. ’n Moontlike strategie in hierdie verband is om ook dramaturge te betrek, naas die digters, skrywers en joernaliste in ons midde. Baie van die mees opwindende kreatiewe werk in Afrikaans word immers deur die jong Turke van die toneelwêreld gedoen.

Forums en tuistes

In ons eerste bestaansjaar het ons virtuele en baksteenruimtes vir PEN Afrikaans gevind. Ons beskou die Breytenbach-sentrum in Wellington as basis en met Nicol Stassen as lid en Louis Esterhuyzen as bestuurslid het dit ook duidelik geraak dat die Protea-boekwinkels gawe saamtrekplekke vir PEN Afrikaans-funksies kan wees.

Die oorweldigend positiewe reaksie op ons Facebook-groep (https://www.facebook.com/PenAfrikaans) wys dat ons lede uitgehonger is vir ’n forum wat gedeelde belange verteenwoordig, entoesiasties is oor die uitruil van idees en graag kennis neem van wat in die Afrikaanse letterkunde en media gaande is.

Ek en mede-bestuurslid Desmond Painter het die Kopskote-blog begin en hoewel laasgenoemde nog in sy kinderskoene staan en ons weens tydsdruk nie baie aktief daar aan’t woel is nie, het dit nietemin belangstelling ontlok en hoop ons om, soos brokkies tyd beskikbaar raak, daaraan te bly werskaf.

Intussen bly PEN Afrikaans se webblad voorlopig op die LitNet-portaal staan. Daar was van die begin af die verstandhouding dat dit moontlik ’n tydelike oplossing sou wees. Daar is nou die opsie om ons eie, onafhanklike webblad te hê, ’n kwessie waaroor die nuwe bestuur na goeddunke moet handel.

Finansies en administrasie

Sedert my laaste ledebrief het PEN Afrikaans, benewens ander skenkings deur borge vroeër in die jaar, ook van die Jan S Maraisfonds R50 000 ontvang. Die steun van ons borge is ’n aanduiding van voortgesette vertroue in PEN Afrikaans. Ons is groot dank verskuldig aan ons borge, maar ook aan Naas Steenkamp, wat as fondswerwer sy gewig in goud werd was.

Sommige van ons planne is die afgelope jaar gekortwiek deur die afwesigheid van enige reaksie op ons aansoek om registrasie as nie-winsgewende organisasie by die kommissie vir maatskappye en intellektuele eiendom (CIPC) in die Departement van Sosiale Ontwikkeling. Soos ons die situasie verstaan, is dit ingevolge die wysigingswet op nie-winsgewende organisasies ‘n voorvereiste vir registrasie as ’n nie-belastingpligtige organisasie by SAID.  Ons het in Augustus vasgestel dat ons tweede aansoek afgekeur is weens ontbrekende inligting. Ons derde aansoek is reeds aan CIPC voorgelê en ons is versigtig optimisties dat die knoop nou deurgehak sal word.

Die versuim van CIPC om op ons aansoek te reageer, het ook ons begrotingsproses in die wiele gery.  By die ledevergadering in 2012 is ’n tentatiewe begroting van rondom R200 000 in die vooruitsig gestel. Hierdie bedrag was hoog weens die koste van die beoogde bywoning van die 2013-kongres van PEN Internasionaal in Ysland. In die aanloop tot die konferensie het die bestuur egter besluit om eerder te konsentreer op die versterking van administrasie en die finalisering van ons registrasie (deur onder meer afhandeling van maatskappyregistrasie en die insameling van ledegeld) voordat ons weer skenkersgeld gebruik om na die kongres te gaan.

Ons afwesigheid by die 2013-jaarkongres van PEN Internasionaal in Reykjavik, Ysland, is egter nie ideaal nie. As nuwe sentrum is dit allermins vanselfsprekend dat ons op steun en samewerking van ander sentra kan reken indien ons nie aktief vriendskappe kweek nie. Ons sal sigbaar ons gewig moet ingooi by PEN Internasionaal en ook die Afrika-groepering binne die groter ligaam. Dit is noodsaaklik dat ons voortbou op die goeie steun wat ons in 2012 gekry het toe PEN Afrikaans in Suid-Korea eenstemmig as nuwe sentrum erken is.

Ek, Fanie Olivier en E.K.M. Dido het in 2012 beleef dat die gesprekke, uitruil van idees, deel van kundigheid en kameraderie wat deel uitmaak van die PI-jaarkongres, die soort ding is wat gewoon nie met e-pos of Skype vervang kan word nie. Om kontinuïteit te verseker, stel ek voor dat Dido volgende jaar gevra word om die nuwe voorsitter te vergesel. Haar ondervinding, gewildheid en kontakte sal van waarde wees vir die nuwe, onervare voorsitter en dit sal ’n gulde geleentheid wees om drade op te tel en sigbaar te wys dat ons betrokke is en wil wees.

Die verhouding met ons suster-sentrum, South African PEN, is steeds vriendskaplik en ondersteunend. Ek het vanjaar gereeld kontak met Margie Orford gehad en sal graag my opvolger aan haar voorstel wanneer die tyd vir só ’n ontmoeting ryp is. Margie dink daaraan om haar volgende jaar verkiesbaar te stel vir die bestuur van Pen Internasionaal: nóg ’n rede waarom PEN Afrikaans in 2014 liefs die jaarkongres moet bywoon. Ons kan gerus oorweeg om aktief mee te werk om vir haar stemme te werf en haar in haar poging te steun. ’n Suid-Afrikaner op die bestuur van PEN Internasionaal is ook vir PEN Afrikaans ’n pluimpie en tot ons voordeel.

Lede sal onthou dat PEN Afrikaans in die aanloop tot verlede jaar se ledevergadering in die media deur Dan Roodt gekritiseer is. Kontak met Dan in die loop van die jaar was hoflik. Hy bly oortuig dat ons slegs Kaapse skrywers se belange verteenwoordig en ons verskil van hom. Dit bly egter vir ons belangriker om op ons eie projekte te fokus as om in geskille en polemieke betrokke te raak.

Aan adminstrasiekant verloop ons sake deesdae glad danksy die harde agter-die-skerms werk van Amanda Lourens, wat die ledelys en heelwat van die ledekommunikasie hanteer. Die vind van die regte mens vir dié taak  is ’n  belangrike huishoudelike stap wat  voortaan goeie kommunikasie en kontinuïteit van jaar tot jaar sal verseker. Baie dankie aan Amanda vir die enorme verantwoordelikheid wat sy op haar skouers geneem het.

Omdat die registrasie as nie-winsgewende organisasie so ’n kopseer was, het die insameling van ledegeld gesloer. Ons wou nie graag ledegeld hef voordat die registrasie afgehandel is nie, maar vra nou dat lede begrip toon vir die hef van ledegeld ten spyte van die feit dat die registrasie nog nie afgehandel is nie. Ons sal nie behoorlik op dreef kom daarsonder nie en boonop moet ons lidmaatskapfooi aan PEN Internasionaal betaal word.

Werksaamhede

Die jaar het op stormagtige noot begin met die Bolandse plaaswerkeropstande en ‘n bestuursbesluit om skrywers te vra om na te dink oor die wyses waarop ons die wingerd prys. “Miskien is daar te veel oor die genoegdoening en die genot, die skoonheid en die sinsbehae wat ons uit die wingerde en boorde put,” het ons geskryf. “Gewis te min oor die plukkers en die pakkers, en ’n veels te beperkte kennisname in ons kanon van hulle wat aan die agterspeen suig terwyl ons nóg ’n glasie klink.”

PEN Afrikaans het in samewerking met LitNet skrywers genooi skrywers om gedigte of kort-kortverhale (hoogstens 3 bladsye) te skryf wat die weerloosheid van werkers, die ongelykheid, die onrus of dalk die gewelddadigheid van die afgelope oesseisoen (en baie seisoene daarvóór) registreer.

Aan belangstelling het dit nie ontbreek nie en LitNet het alle bydraes op sy webwerf publiseer, maar weens geldnood (dit was vóórdat ons die vrygewige skenkings van ons borge ontvang het), kon ons nie die spesiale publikasie waaroor ons gedroom het, by die 2013-Woordfees die lig laat sien nie. Ons het wel tydens die Woordfees ’n ledebyeenkoms in die Erfurt-huis by die Stellenbosse Woordfees aangebied en dit was lekker en nuttig om lede te leer ken tydens dié byeenkoms en ook later op meer informele wyse oor ’n glasie wyn by De Vette Mossel.

Van die Bolandse plaaswerkeropstande het die soeklig in Mei na China verskuif. Terwyl Internasionale Persvryheiddag op 3 Mei gevier is, het die internasionale PEN-gemeenskap gefokus op die lot van die Nobelprys-bekroonde digter Liu Xiaobo,  wat steeds tronkstraf uitdien vir “aanhitsing tot die ondermyning van staatsgesag”.

Die inperking van die vryheid van Xiaobo en sy vrou, Liu Xia (wat onder huisarres geplaas is), bly een van die dringendste prioriteite van PEN Internasionaal. PEN Afrikaans was ’n ondertekenaar van ’n ope brief wat PEN Internasionaal aan die Chinese regering gerig het. Dit is betekenisvol dat Afrikaanse skrywers en woordmense op dié manier kon deelneem aan die globale protes teen die behandeling van skrywers en joernaliste in China. Een van ons oogmerke met PEN Afrikaans is juis dat die fokus nie net moet wees op aktivisme oor Afrikaans nie, maar op protes en aktiewe deelname in Afrikaans oor sake wat ons nie direk raak nie.

Danksy die bewilliging van skenkersgeld kon ons bekostig om PEN Internasionaal se Verklaring oor Digitale Vryheid, wat by die 2012-jaarvergadering in Suid-Korea aanvaar is, in Afrikaans te laat vertaal. Dit is 'n belangrike dokument wat ook in plaaslike konteks toepaslik is en gebruikswaarde het. PEN Internasionaal het vroeër vanjaar versoek dat sentra dit in hul eie taal laat vertaal en dit was lastig dat ons (weens 'n gebrek aan fondse) aanvanklik nie aan hul versoek kon voldoen nie. Intussen is die Afrikaanse vertaling egter by die ander gevoeg en danksy die gelukkige alfabetiese ordening staan dit heel bo-aan die lys vertalings op die PEN Internasionaal-webblad. Gaan kyk gerus daarna (by http://pen-international.org/pen-declaration-on-digital-freedom). Dit is ’n mooi illustrasie van hoe simbolies belangrik die gebaar was en ook van die wyse waarop ons lidmaatskap van PEN Internasionaal ons toegang gee tot kundigheid wat uit ’n breë basis put.

Tweedens kon ons twee jong Afrikaanse skrywers benoem vir PEN Internasionaal se Young Voices-kompetisie (ons het dit na die Jong Stemme-kompetisie herdoop). Elke sentrum het die geleentheid gekry om twee skrywers jonger as 30 in te skryf. Aangesien die wedstryd wil dien as aanmoeding tot vertalingsgeleenthede, moes alle sentra onderneem om hul wenverhale in Engels, Frans en Spaans te laat vertaal. Hoewel daar geen inskrywingsfooi was nie, was daar natuurlik wel koste verbonde aan dié vertalings. Die lees en beoordeling van die inskrywings en die reël van die vertalings in drie verskillende tale was harde werk en ek wil graag vir Amanda Lourens bedank vir haar hulp en ondersteuning.

Ons is bly dat ons die twee benoemdes – Christina van Deventer en Danie Stander – die kans kon gun om saam met soveel jong skrywers uit ander tale internasionaal aan die kompetisie deel te neem. Hoewel hulle nie onder die top drie was nie, het hulle dit opwindend gevind om saam met die vertalers te werk en was hulle opgewonde oor die kans om internasionaal mee te ding. Ek glo graag dat projekte soos hierdie, wat geleenthede in Afrikaans skep, meehelp om te keer dat talentvolle Afrikaanssprekendes volledig na ander tale migreer.

PEN Afrikaans het met die bestuur van PEN Internasionaal probeer om befondsing te vind vir ’n jaarlange internasionale navorsingsprojek oor hoe minderheidstale en taalregte skrywers wat in daardie tale werksaam is, affekteer. PEN Internasionaal het PEN Afrikaans uitgesonder as een van die handjievol sentra met wie hulle graag wou saamwerk aan hierdie projek.  Op die ou end het die projek voorlopig skipbreuk gelei omdat ons nie daarin kon slaag om steun van die Suid-Afrikaans regering te kry nie. Hoewel dit teleurstellend was dat al die harde werk op ’n doodloopstraat uitgeloop het, was dit wel ’n aanduiding van hoeveel steun daar vir PEN Afrikaans in die geledere van PEN Internasionaal is en watter soort moontlikhede dit vir ons in die toekoms kan skep.

Later vandeesmaand toon PEN Afrikaans solidariteit met Mikhail Khodorkovsky, Platon Lebedev en alle ander politieke gevangenes in Rusland.  Louis Esterhuizen het onmiddellik Protea Boekwinkel op Stellenbosch se infrastruktuur en hulp aangebied en die geleentheid sal ’n openbare voorlesing en gesprek op 25 en 26 Oktober behels (ons sal binnekort ’n uitnodiging aan alle lede stuur). 

Projekbeplanning

Projekbeplanning sal met hernieude ywer deur die nuwe voorsitter en bestuur getakel moet word (met hulp en steun van hul voorgangers). PEN Internasionaal bied waardevolle leiding en opleiding aan alle sentra om te verseker dat projekte op volhoubare wyse aangepak kan word. Een van die jaar se waardevolle lesse was dat ons klein moet begin, van meet af aan op fokusterreine moet besluit en waar moontlik ons kragte moet saamsnoer met ander rolspelers wat op soortgelyke kwessies konsentreer. Dit het duidelik geraak dat PEN Afrikaans goed geposisioneer is om op leesinisiatiewe, geletterdheids- en vertaalprojekte te fokus.

Wat leesinisiatiewe en geletterdheidsprojekte betref: ek was vanjaar verstom toe ek tydens ’n besoek aan Hoërskool Swellendam ontdek dat dié skool nie oor ’n biblioteek beskik nie. Tydens ’n latere besoek aan Hoërskool Montagu het dit geblyk ook húlle het geen skoolbiblioteek nie. In albei gevalle is die leerders pragtige, leeshonger, Afrikaanssprekende wit, swart en bruin kinders met toegewyde, geïnspireerde en inspirerende Afrikaans-onderwysers.

By navraag het die verhaal stuk-stuk ontvou: slegs 8% van skole in Suid-Afrika hét biblioteke en daar is geen nasionale beleid wat die onderwysdepartement of beheerliggame onder enige verpligting plaas om hieraan aandag te gee nie. Die onderwysdepartement se plan om skoolbiblioteke te vestig is nie-uitvoerbaar en die DA se minister van onderwys is op rekord dat tensy nie-regeringsorganisasies betrokke raak, ’n ganse generasie skoolkinders sal grootword sonder toegang tot enige ander leesstof as hul voorgeskrewe boeke (as hulle gelukkig genoeg is om laasgenoemde te ontvang). As Afrikaanse skrywers, joernaliste en uitgewers behoort dit ons diep te raak.

Ek glo PEN Afrikaans kan in dié verband ’n waardevolle bydrae lewer. Een van ons lede, Leti Kleyn, het reeds indrukwekkende werk begin doen met die  Karatara-boekprojek en die leeskamer wat sy help inrig het vir die Makhathini-laerskool in Mpumalanga. Ter interessantheid (en as inspirasie) heg ek ’n berig hierby aan oor die projek waarby Leti betrokke was. Lees gerus ook die transkripsie van ’n debat oor die skoolbiblioteke-kwessie wat vanjaar by die Universiteit van Kaapstad gehou het, hier: http://www.equaleducation.org.za/sites/default/files/Transcript_School_Libraries_debate.pdf

Ten slotte wil ek ook graag ook iets oor vertalingsprojekte sê. Bestuurslid Louis Esterhuizen  het die spyker op die kop geslaan toe hy op die Verswêreld-blog voorgestel het dat PEN Afrikaans gerus kan probeer om iets soortgelyk te vermag as die vertaalprojekte wat ander PEN-sentra aanpak. PEN Amerika het onlangs die wenners van hul vertaalpryse bekend gemaak. Uit 180 inskrywings het hulle op 13 projekte besluit wat deur ’n borgskap van die sogenaamde PEN/Heim Translation Fund gesteun gaan word.

Ons het nie naastenby dieselfde hulpbronne as PEN Amerika nie, maar dit bly ’n uitstekende plan om lokale inhoud aan so ’n inisiatief te gee. Nota bene: die Amerikaners laat werk uit ander tale in Engels vertaal as ’n manier “to help advance PEN’s mission of bridging divisions through shared appreciation of great literature”. ’n Vertaalprojek onder die vaandel van PEN Afrikaans hoef dus nie noodwendig die werk van Afrikaanse skrywers na ander tale te behels nie, maar kan moontlik eerder fokus op die vertaling uit ander tale (ook Afrikatale) na Afrikaans. In die gees van PEN Internasionaal weeg die bou van brûe en die verbreding van horisonne strykdeur swaarder as “bemarkingsoefeninge”.

Slotsom

Die eerste bestaansjaar van PEN Afrikaans is gekenmerk deur goeie skakeling met ons susterstak en gereelde kommunikasie met die bestuurslede van PEN Internasionaal. ’n Ledefunksie by die Woordfees, die Oesfees-skryfuitdaging, die mentorskap van jong skrywers en die vertaling van hul werk, die vertaling van PEN se belangrike verklaring oor digitale vryheid en georkestreerde standpunt-inname oor die lot van ons medeskrywers en –joernaliste en China en Rusland het deel uitgemaak van ons werksaamhede. Borge is gewerf, administrasie is op goeie grondslag geplaas, ons virtuele ruimtes is gevestig en ons het ’n holte vir ons voet gevind by die Breytenbach-sentrum op Wellington. Daar is groter duidelikheid oor die identiteit van PEN Afrikaans en oor die soort projekte waarop ons in die toekoms wil fokus. Die registrasieproses behoort binnekort iets van die verlede te wees en met soveel van die “huiswerk” wat nou agter ons lê, kan ons nou meer kreatief raak. Die eerste jaar het ’n stewige fondasie gelê en daar is alle rede om optimisties te wees oor wat voorlê.

Laastens wil ek beklemtoon dat PEN Afrikaans momentum sal verloor indien lede nie aktief en betrokke saamwerk nie. Dit is nie baie konstruktief om op die kantlyn te sit en voorstelle doen oor wat PEN Afrikaans kan en moet aanpak nie. Help ons asseblief om daardie dinge te laat gebéúr.

Met vriendelike groete,

SONJA LOOTS

Kaapstad, 24 September 2013

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top