Voorouer. Pelgrim. Berg.
Ingrid Winterbach
Human & Rousseau
ISBN: 9780798181945
..........
Soos die tweede woord in die titel van haar nuutste roman, Voorouer. Pelgrim. Berg., aandui, is Winterbach hier ook geïnteresseerd in reise, maar dan spirituele of inwaartse reise eerder as ’n beweging deur ruimte.
..........
By die bekendstelling van haar roman Die aanspraak van lewende wesens in 2013 het Ingrid Winterbach genoem dat sy ’n reis deur Suid-Afrika geneem het as onderwerp vir die roman omdat sy sukkel met plot, met die uitdink van verhaallyne. Die uitbeelding van ’n reis verleen aan ’n verhaal ’n ingeboude struktuur: ’n begin, middel en einde. Soos die tweede woord in die titel van haar nuutste roman, Voorouer. Pelgrim. Berg., aandui, is Winterbach hier ook geïnteresseerd in reise, maar dan spirituele of inwaartse reise eerder as ’n beweging deur ruimte. In Voorouer. Pelgrim. Berg. is daar wel ’n man wat ronddwaal rondom Katerina Steenkamp, die hoofkarakter, se huis en vir wie sy op ironiese wyse “die flaneur” noem. Anders as ’n Europese flâneur, ’n kunstenaar wat in ’n stad wandel en inspirasie uit hierdie wandelings put, is hierdie flaneur skynbaar armoedig en sielkundig versteurd, en is dit onwaarskynlik dat dit sy keuse is om heeldag rond te loop sodat hy inspirasie kan vind vir sy kuns. Anders as met ’n pelgrim is dit ook nie duidelik of hy ’n einddoel in gedagte het nie, en sy reise deur die buurt verleen net vaagweg ’n struktuur aan die roman, ’n struktuur wat nie werklik vir Katerina affekteer nie.
Katerina self verlaat meestal nie haar huis nie. Sy onderneem virtuele reise op die internet, en intellektuele en sielkundige reise in haar eie verstand. Sy gesels met kêrels op ’n fiksionele dating site, WAYOO, en word ingesuig by hulle esoteriese belangstellings. Hierdie gesprekke en die ontmoetings waarop hulle uitloop is die snaaksste dele in die roman en bied ’n afwisseling van die triestige aard van Katerina se ander inwaartse reise. Benewens hierdie gesprekke en die intellektuele verkennings wat daaruit voortspruit, stel Katerina ook belang in visuele kuns en in letterkunde. Haar broer, Daan, stel belang in hulle familie se voorgeslagte en hy stel voor dat sy ook probeer om met haar voorouers (en gestorwe geliefdes in die algemeen) te kommunikeer. Hierdie deel van die roman gaan veral oor die onbereikbaarheid van ’n tipe klaarheid (duidelike begrip / afsluiting) wat betref lewendes se verhoudings met gestorwenes. Reeds vroeg in die roman raak dit duidelik dat dit hier ook gaan oor intergenerasietrauma – traumatiese gebeure wat oor die generasies heen ’n invloed op mense het. Op bladsy 12 noem Katerina byvoorbeeld dat haar ma “vanaf die ouderdom van veertien jaar deur hulle huisdokter gemolesteer is”.
In Desember 2021 het ’n opspraakwekkende artikel deur Parul Sehgal in The New Yorker verskyn waarin Sehgal uitvaar teen die alomteenwoordigheid van wat sy die “trauma plot” noem – die geneigdheid van hedendaagse romans, films en televisiereeks om verhaallyne te bou rondom die onthulling van traumatiese gebeure uit die verlede, en om karakters uit te beeld as die produk van hulle traumatiese geskiedenisse. Die protagonis van die traumaplot is versteurd en tree misterieus op, totdat die leser of kyker uiteindelik uitvind wat die oorsaak van hierdie gedrag is en hierdie traumatiese verlede ’n patos aan die verhaal in sy geheel verleen. Volgens Sehgal gaan die traumaplot dikwels gepaard met lui karakterisering, omdat die patos wat deur trauma gewek word, beteken dat die karakter wat daaronder ly, bloot ’n versameling simptome kan wees: “Evoke the wound and we will believe that a body, a person, has borne it.”
.........
Trauma speel ’n belangrike rol in Voorouer. Pelgrim. Berg. Verskeie karakters is gekwel en gefassineer deur hulle eie lyding en dié van hulle voorouers en hulle medemense. Soos wat die roman nie die struktuur van ’n tipiese reisverhaal het nie, besit dit egter ook nie ’n traumaplot nie.
..........
Trauma speel ’n belangrike rol in Voorouer. Pelgrim. Berg. Verskeie karakters is gekwel en gefassineer deur hulle eie lyding en dié van hulle voorouers en hulle medemense. Soos wat die roman nie die struktuur van ’n tipiese reisverhaal het nie, besit dit egter ook nie ’n traumaplot nie. Die oorsake van die karakters se wonde word nie van die leser weerhou in ’n poging om spanning te skep nie (soos reeds genoem, word sommige traumas reeds van die begin van die roman af aan lesers bekendgemaak), en die karakters word nie uitgebeeld as slegs ’n versameling simptome nie. Trauma funksioneer in die roman as iets meer alledaags, iets wat miskien die karakters se lewens onherroeplik verander het, maar waarmee hulle nietemin saamleef. ’n Simptoom (in die psigoanalitiese eerder as noodwendig die psigiatriese sin) waardeur Katerina wel gekarakteriseer word, is herhalingsdrang: Volgens Freud is die mens geneig om dieselfde patrone oor en oor te herhaal, veral wat betref moeilike of ontstellende gebeurtenisse uit hulle verlede. Of Katerina dit doen, is debatteerbaar, maar Voorouer. Pelgrim. Berg. is gevul met herhalings van dieselfde gegewens en beskrywings – soms vanuit verskillende perspektiewe of met bykomende insigte, maar soms net woordelikse herhalings.
.........
In plaas daarvan om die roman in terme van narratief, van karakters wat deur tyd en ruimte beweeg, te verstaan, maak dit miskien meer sin om hierdie herhalende inkantasies te verstaan in terme van Katerina se belangstelling in visuele kuns (en natuurlik Winterbach se ander loopbaan as skilder) en die roman te sien as ’n naas mekaar stelling (en soms oorvleueling) van die beelde van die voorouer, die pelgrim en die berg.
..........
In plaas daarvan om die roman in terme van narratief, van karakters wat deur tyd en ruimte beweeg, te verstaan, maak dit miskien meer sin om hierdie herhalende inkantasies te verstaan in terme van Katerina se belangstelling in visuele kuns (en natuurlik Winterbach se ander loopbaan as skilder) en die roman te sien as ’n naas mekaar stelling (en soms oorvleueling) van die beelde van die voorouer, die pelgrim en die berg. Veral die berg (hoofsaaklik die berg wat Katerina deur haar werkkamer se venster sien) se voorkoms word in ryk besonderhede beskryf, met ’n fyn oog vir kleure en teksture.
.........
Waar die pelgrimmotief dui op karakters se inwaartse reise, en ’n begrip van of greep op die voorouers dalk die eindbestemming is wat Katerina nooit kan bereik nie, funksioneer die berg as ’n agtergrond, ’n “backdrop” (238) waarna Katerina, soos in die psalm, haar oë opslaan.
..........
Waar die pelgrimmotief dui op karakters se inwaartse reise, en ’n begrip van of greep op die voorouers dalk die eindbestemming is wat Katerina nooit kan bereik nie, funksioneer die berg as ’n agtergrond, ’n “backdrop” (238) waarna Katerina, soos in die psalm, haar oë opslaan. By die klaarblyklike gebrek aan ’n geloof in ’n god of die transendentale, is die berg ’n herinnering aan die werklikheid, van die materiële realiteit buite Katerina se psige: “Daar ís ’n verskil tussen verskillende kleure, my hand wórd gestuit deur die harde oppervlak van die tafel, water is nat. Die berg is op ’n afstand van waar ek in my werkkamer sit” (239). In die omgewing waarin Katerina haar bevind, is nie net die berg ’n konstante teenwoordigheid en agtergrond nie, maar ook die gruwelike geweld en die ontbering van armoede waarvan sy gereeld verneem. Die twee teenwoordighede – die skoonheid van die berg en die abjekte lyding – is teenstrydighede, maar ewe werklik. Nadat Katerina ’n ontstellende gebeurtenis waarneem, dink sy: “Ek kyk na die goddamn berg. So allerliefliks vanoggend, die sagte klowe, so of mens met jou hand daaroor kan stryk, soos oor ’n oppervlak van fluweel” (311).
Maar hóé om so ’n roman te lees, een wat nie die leser op ’n reis neem nie, maar eerder bestaan uit ’n herhaling (met variasies) van motiewe? Ek moet erken dat ek gefrustreerd en soms verveeld was die eerste keer toe ek dit gelees het, en ek vermoed dat dit heelwat ander lesers se ervaring ook sal wees. Met die tweede lees het ek geweet wat om te verwag, en het ek ’n waardering ontwikkel vir die roman se vreemdheid en ondeurdringbaarheid. Dit is ’n gedig, ’n woordskildery van ’n roman – meer uitdagend én verkwikkend sal jy nie maklik teëkom nie.
Kommentaar
Sinvolle sleutels, dankie, Bibi.
'n Boek om ervaar te word. Een van die grootstes en mooistes in my taal. Ek wonder hoekom die resensente so behep met struktuur is?