Vooroordeel, ongeskiktheid en gemoedsteurings

  • 1

Kwessies rondom akkommodasie van geestesongesteldhede in die werksmilieu wentel vir my dikwels om vooroordeel teen geestesongesteldhede. Smit en Fourie (“Depressie en die wêreld van werk - ‘n arbeidsregtelike perspektief”, LitNet Akademies, 25 September 2013) gee ‘n baie duidelik uiteensetting van die balans wat gevind moet word tussen die werkgewer en werknemer se belange. My gevoel is dat so ‘n balans in talle gevalle in gebreke bly weens die vooroordele en mistastings wat daar steeds oor gemoed- en angssteurings is.

Ten spyte van bewusmakingspogings, en ten spyte van ‘n baie hoë voorkoms van geestesongesteldhede, is daar wel ‘n vooroordeel teen sulke steurings. Ek sien ongelukkig te veel gevalle waar (sommige) werkgewers nie bereid is om dieselfde siekteverlof-voordele toe te staan as wat hulle met “regte” siektes sou nie. Die indruk wat ek kry is dat, sê maar, ‘n breukoperasie (wat mens weke lank bedlêend kan laat) makliker aanvaar word as hospitalisasie in ‘n psigiatriese kliniek (vir dieselfde aantal weke). Daar is dus dikwels gevalle waar bestaande riglyne oor siekverlof sonder enige dilemma of komplikasie toegepas sou kon word, maar nié toegepas word nie, juis weens hierdie vooroordeel.

Daar is allerhande teorieë oor waar hierdie vooroordeel se oorsaak lê. Vir my is die mees voor die hand liggende verklaring steeds die liggaam-gees-dualisme. In alledaagse spraak vind dit gestalte in houdings wat geestesongesteldhede as karakterfoute afmaak. Dit plaas depressie in dieselfde kategorie as byvoorbeeld luiheid. Sodoende word die mens se gemoed oorwegend met ‘n keuse verbind. Daarteenoor is “regte” siektes iets wat met jou gebeur: jy is passief. Hoewel ek dikwels pasiënte vanuit ‘n eksistensiële raamwerk benader (waar vryheid en keuse besonder belangrik is), moet mens erken dat groot dele van hoe ons voel, buite ons beheer lê, hetsy in ons oorgeërfde biologie, of in buitengewoon stresvolle omstandighede waaruit dit moeilik is om te ontsnap. Die dualisme is dus nie houdbaar nie en die vooroordeel teen geestesongesteldhede is bloot onregverdig.

Daar is egter ‘n paar dinge wat dit vir werkgewers moeilik maak om geestesongesteldhede te akkommodeer, veral deesdae. Al hoe meer soorte werk in ‘n moderne ekonomie vereis volgehoue konsentrasie. Persone met angs of gemoedsteurings sukkel juis hiermee. Trouens, in my ervaring is probleme met konsentrasie een van die mees hardnekkige simptome van gemoed- en angssteurings: lank na die gemoed opgeklaar het, kan konsentrasie nog sukkel. Hoe akkommodeer mens so ‘n werknemer as konsentrasievermoë sentraal tot sy werksfunksies staan? Dit is dus nie maklik om so ‘n werknemer se versoeke om minder stres en/of take wat minder konsentrasie vereis, toe te staan nie.

In dié verband dink werkgewers én werknemers te gou in terme van permanente ongeskiktheid. Die indruk wat ek kry, is dat dit met die woord chronies te make het, wat nie altyd reg verstaan word nie (en nie altyd dieselfde beteken nie). Wanneer mens byvoorbeeld praat van chroniese depressie (distimiese versteuring, of sogenaamde major depressiewe versteuring met chroniese duur), dui dit op die langdurige teenwoordigheid van simptome. Mens kan egter chroniese simptome hê (byvoorbeeld ‘n ligte depressiewe gevoel, en/of geringe inperkings van konsentrasie) en steeds goed genoeg funksioneer om te kan werk. Verder beteken chronies nie altyd “chronies simptomaties” nie. Bipolêre gemoedsteuring is ‘n chroniese ongesteldheid. Dit word, volgens ons huidige kennis, nooit werklik genees nie en ‘n persoon sal nooit werklik sy/haar medikasie kan stop nie. Dit beteken egter nie dat die persoon permanent simptome het nie. Bipolêre gemoedsteuring kan sodanig behandel word dat al die simptome in remissie is – die persoon moet bloot met die behandeling voortgaan om ‘n terugval te voorkom. Mens kan dus heeltemal stabiel lewe en goed funksioneer, mits mens getrou met jou behandeling voortgaan, net soos ‘n diabeet.

Werkgewers en werknemers oorreageer soms en kan sodoende ‘n waardevolle werknemer verloor omdat hulle nie bereid is om op korttermyn lank genoeg siekverlof te gee nie. Dit plaas dan juis meer druk op die werknemer, wat sy/haar behandeling en herstel vertraag, wat dan, as ‘n selfvervullende profesie, vir die werkgewer as bewys dien dat ontslag of ongeskiktheid gepas is. Kom ons neem byvoorbeeld ‘n geval van iemand wat aan panieksteuring ly. Die persoon se paniekaanvalle sou tipies veroorsaak dat hy/sy dikwels van die werk af wegbly. Met behandeling kan dit met hom/haar beter gaan, maar nie as die werk die heeltyd die swaard van ontslag of ongeskiktheid bo sy/haar kop hou nie. Dit veroorsaak mos juis meer angs! Terapie en medikasie is effektief, maar sal sukkel om vordering te maak as dit so kontstant stroomop moet swem. Deur te gou na ontslag of ongeskiktheid te spring, word talle werkbare oplossings weggesmyt.

‘n Goeie verwikkeling in die arbeidsmark is die groter teenwoordigheid van hulpprogramme vir werknemers – sogenaamde EAP’s (Employee Assistance Programmes). Dit is ‘n skitterende idee, maar ongelukkig is die ondersteuning wat sulke EAP’s bied, heeltemal onvoldoende. My voorstel sou wees dat werkgewers eerder werknemers wat die risiko loop om depressie te ontwikkel of om weer ‘n episode te beleef, aanmoedig om hul mediesefondsvoordele te gebruik of van ander sielkundige/psigatriese dienste tot hul beskikking gebruik te maak. Almal het nou wel nie mediese fondse nie, maar daarvoor is daar die staatsdiens. Selfs die fondse met die geringste voordele word deesdae verplig om sogenaamde voorgeskrewe minimum voordele vir gemoedsteurings toe te staan. Dit gee aan die pasiënt genoeg besoeke by ‘n sielkundige of psigiater om een maal ‘n maand gespreek te kan word. Dit is in my ervaring ‘n goeie voorkomende maatreël. Mense wat so voorkomend optree, is minder geneig om hospitalisasie en/of langdurige siekverlof te benodig.

‘n Wyer gebruik van voorkomende maatreëls vestig ook die aandag daarop dat geestesongesteldhede dikwels volgehoue bestuur en onderhoud verg (al is daar nie noodwendig langdurige simptome nie). Dit dra op ‘n sydelingse manier ook by tot bewusmaking, sodat ons kan hoop vir ‘n stand van sake waar regverdigheid en ‘n goeie skeut gesonde verstand kan seëvier.

 

 

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter


  • 1

Kommentaar

  • Ek self ly aan BiPoler II en voel dat daar 'n belangegroep moet wees vir geestestongestelde mense. Weet iemand van so 'n belangegroep?

     
    As daar nie een is nie, sal 'n mens een moet op die been bring.
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top