Vonnisbespreking: Waaksame waghonde en waagmoedige kinders – ’n wanklank uit die Oos-Kaap

  • 0

Vonnisbespreking: Waaksame waghonde en waagmoedige kinders – ’n wanklank uit die Oos-Kaap
Kohl v Grobbelaar (4962/2017) [2018] ZAECGHC (22 Mei 2018)

Johan Scott, Departement Privaatreg, Universiteit van Suid-Afrika

LitNet Akademies Jaargang 15(3)
ISSN 1995-5928

 

Abstract

Alert watchdogs and plucky children – a jarring note from the Eastern Cape

This case dealt with a child who had been bitten by a watchdog while sitting on a boundary wall. The court was confronted by two basic questions, namely whether the dog’s behaviour had deviated from that of a reasonable dog, which is a requirement for liability of its owner in terms of the actio de pauperie, and whether the child could be regarded as having been on the defendant’s property unlawfully, which would constitute a valid defence against that action.

The judgment offers a prime example of how a court can deliver an erroneous judgment by proceeding from wrong assumptions. It accepted the pleadings, agreed to on behalf of both parties, which had been based on the hypothesis that the actions of a child under 10 years of age who is irrebuttably regarded as not being accountable in terms of sections 7 and 11 of the Child Justice Act 75 of 2008, could not be regarded as provocation so as to render the conduct of the dog reasonable under the circumstances, nor as having constituted his unlawful presence on the defendant’s property, thereby depriving the latter of his only remaining defence. This is the first time in our law that the question of accountability of a victim of a dog attack was regarded as a relevant factor in applying the principles of the actio de pauperie. There is no authority whatsoever for such an application of the rules pertaining to accountability in this context.

Influenced by its improper approach to the relevance of the lack of accountability on the victim’s part, the court concluded that the dog had acted contra naturam sui generis in attacking the child, whereas the latter’s presence on the boundary wall was found not to have been unlawful. Whereas the finding in favour of the plaintiff may please the layman who would certainly feel sympathy for any child mauled by a dog, the legal consequences of this judgment spell great danger for even the most exemplary dog owner (or the owner of any domestic animal), as virtually any harm caused to a trespasser who is not accountable at the time of trespassing will in future have to be redressed by the owner. The judgment is patently incorrect.

Keywords: accountability, actio de pauperie; children; delict; domestic animal; reasonable dog; strict liability; trespassing; unlawful presence

Trefwoorde: actio de pauperie; betreding; delik; huisdier; kinders; redelike hond; onregmatige aanwesigheid; skuldlose aanspreeklikheid; toerekeningsvatbaarheid

 

1. Inleiding

Indien mens die standaardhandboeke sou raadpleeg oor die deliktuele aanspreeklikheid van die eienaar van ’n huisdier vir die dood, besering of ander nadeel deur sodanige dier veroorsaak, wil dit voorkom of die toepaslike beginsels glashelder is en daar min ruimte vir onsekerheid en verwarring bestaan. Indien die eienaar of beheerder van die dier se gedrag (doen of late) tot die skade aanleiding gegee het, sal hy of sy ingevolge die beginsels van die ontwikkelde actio legis Aquiliae aanspreeklikheid kan opdoen, mits daar natuurlik aan die sogenaamde verdere delikselemente van onregmatigheid, skuld, kousaliteit en skade voldoen word (vgl Moubray v Syfret 1935 AD 199; Myburg v J & A Jorgenson 1914 EDL 89). Selfs waar die eienaar se optrede nie opsetlik of nalatig was nie, sal hy of sy steeds aanspreeklikheid kan opdoen as daar aan die vereistes van die antieke actio de pauperie, wat steeds in die Suid-Afrikaanse reg geld, voldoen word. Indien hierdie vereistes teenwoordig is in ’n geval waar die eienaar se gedrag selfs vir Aquiliese aanspreeklikheid (skuldaanspreeklikheid) voldoende sou wees, sou die eiser steeds ’n keuse kon uitoefen om liefs ingevolge die beginsels van die actio de pauperie (wat geen skuldvereiste aan die kant van die eienaar stel nie) te prosedeer, aangesien dit onder omstandighede veel makliker kan wees om die bewyslas te kwyt as onder die beginsels wat op normale deliksaksies van toepassing is (sien veral Neethling en Potgieter 2015:392 e.v.; Loubser en Midgley 2017:458 e.v.; Van der Walt en Midgley 2016:56 e.v.; Van der Merwe en Rabie 2014:319 e.v.; Van der Merwe en Olivier 1989:486 e.v; en McKerron 1971:251 e.v.).

Die saak tans onder bespreking is op basis van die reëls van die actio de pauperie besleg. Derhalwe moet die eiser slegs bewys dat (i) die verweerder ten tye van skadeberokkening die eienaar daarvan was, (ii) die dier ’n huisdier was en (iii) die dier by skadeberokkening contra naturam sui generis (anders as ’n ordentlike dier van sy soort) opgetree het (Loriza Brahman v Dippenaar 2002 2 SA 477 (HHA) 482F-H en gesag hier bo aangehaal). Erkende verwere teen sodanige vordering is dat die dier deur (i) oormag, (ii) die skuldige optrede of provokasie van die benadeelde of ’n derde, of (iii) die uitlokkende optrede van ’n ander dier aangestig is (wat daarop dui dat die dier nie op grond van innerlike prikkelbaarheid of boosaardigheid (inward excitement or vice, of volgens die Latynse spreuk, sponte sua feritate commota) opgetree het nie), of (iv) die eiser vrywillig die risiko van benadeling aanvaar het (sien veral Loubser en Midgley 2017:462); of (v) die benadeelde of sy of haar beskadigde eiendom nie regmatig aanwesig was waar skade deur die dier toegebring is nie (veral Van der Walt en Midgley 2016:332–3; Loubser en Midgley 2017:462). Dit is interessant dat Neethling en Potgieter (2015:394), anders as die ander skrywers, verweer (v) as ’n vierde vereiste vir die aksie inklee deur dit soos volg positief te verwoord: “Die benadeelde of sy goed moet regmatig op die plek van skadeberokkening aanwesig wees.” Dit is egter verkieslik om dit as ’n verweer aan te teken, aangesien die bewyslas om aan te dui dat daar geen regmatige aanwesigheid was nie, op die verweerder rus, anders as in die geval van die vermelde drie vereistes, ten aansien waarvan die eiser die bewyslas dra (sien veral Van der Walt en Midgley 2016:322 met gesag in vn. 4 aangehaal, 325 met gesag in vn. 8 aangehaal en 333 met gesag in vn. 8 aangehaal; sien verder Van der Merwe 1980:219). (Wat die materiële privaatreg betref, is die onsekerheid oor die aard van hierdie verweer of vereiste egter nie van kardinale belang vir ’n bespreking soos die onderhawige nie.)

Nieteenstaande die relatiewe eenvoud van ons huidige materiële reg wat skuldlose aanspreeklikheid vir skade wat veroorsaak is deur huisdiere – waarvan honde waarskynlik die meeste in die regspraak figureer – betref, duik daar elke dan en wan gevalle in die regspraak op wat hoofbrekens besorg. In dié soort gevalle raak die probleem egter nie die materiële reg betreffende die vereistes vir of verwere teen ’n vordering gebaseer op die actio de pauperie nie, dog eerder die toepassing daarvan op die feite in ’n bepaalde geval. As ’n enkele betreklik onlangse voorbeeld hiervan kan daar verwys word na Thysse v Bekker 2007 3 SA 350 (K), waar die hof die objektiewe aard van die contra naturam sui generis-vereiste sodanig oorbeklemtoon het dat die de facto- invloed van provokasie op die dier, wat ’n aanduiding verskaf het dat hy nie uit innerlike boosaardigheid opgetree het nie, totaal verontagsaam is (die hond het fel gereageer en gebyt toe die eiser se kind onverwags gestruikel en teen sy kop gestamp het; sien Scott 2008:115 vir ’n kritiese evaluasie). Dit is derhalwe meer met verwysing na hierdie toepassingsproblematiek dat hoofregter Beadle hom 47 jaar gelede soos volg in Bristow v Lycett 1971 4 SA 223 (RAD) 227A uitgelaat het: “There can be few branches of the law which are more complex and confusing than the liability for damages (sic) caused by animals, and the Roman-Dutch law here is not only no exception to the general rule, but possibly more complex than many other systems.” (Die enigste materieelregtelike probleem waarmee die hof in daardie saak te kampe gehad het, was die vasstelling van die aanspreeklikheidsvereistes van ’n moderne deliktuele vordering geskoei op die antieke edictum de feris van die curules aediles, en die vraag of dit tans nog as regsmiddel beskikbaar is waar skade deur ’n wilde dier veroorsaak is; sien hiervoor Scott 2018:510 e.v.)

Die uitspraak in Kohl v Grobbelaar laat ook die vraag ontstaan of die eenvoudige vereistes vir, en veral die verwere teen, die moderne weergawe van die actio de pauperie nie ook ’n mooi voorbeeld bied vir die stelling dat dit veelal heel moeilik is om praktiese gevolg aan maklike beginsels te gee nie – veral waar logiese toepassing daartoe sal bydra dat ’n skadevergoedingsvordering iemand met wie mens natuurlike simpatie betoon, ontsê word, soos die kind in die Thysse-saak wie se neus afgebyt is, en die kind in die saak onder bespreking wat aaklige bytwonde opgedoen het. Die ou Engelse spreuk, “hard cases make bad law”, duik onwillekeurig in die gemoed op.

 

2. Feite en uitspraak

Die eiseres se vyfjarige seuntjie, Reece, is deur die verweerder se baster-kettingboelhond aangeval terwyl hy op die grensmuur wat ’n derde party en die verweerder se persele geskei het, gesit het. Voordat hierdie gebeure hulle afgespeel het, het die verweerder Reece by verskeie geleenthede gemaan om nooit sy perseel te betree as hy nie daar was om sy hond te beheer nie en ook om hom daarvan te weerhou om op die muur te klim. Nieteenstaande hierdie versoeke het die kind egter op die rampspoedige dag die grensmuur – wat aan die verweerder se kant van 1,2 tot 1,45 meter hoog gewissel het – bestyg en daarop gaan sit. Die verweerder, ’n nagwerker wat op daardie oomblik aan die slaap was, se hond, wat vryelik op sy baas se grond rondbeweeg het, het Reece vervolgens aangeval en ernstig beseer. Die eiseres het in eie naam, asook as natuurlike voog van haar beseerde kind, skadevergoeding van die verweerder geëis op basis van die actio de pauperie (parr. 2, 4).

Die twee regsvrae wat beslis moes word, is pertinent deur regter Lowe geïdentifiseer, naamlik: (i) of Reece se teenwoordigheid op die grensmuur van sodanige aard was dat dit as provokasie teenoor die dier beskou kon word met die gevolg dat die hond se aanvalsgedrag nie as contra naturam sui generis sou kwalifiseer nie; en (ii) of die kind se teenwoordigheid op die grensmuur, waar hy aangeval is, regmatig was, wat die eienaar van die hond van sy verweer van onregmatige teenwoordigheid aan die kant van die beseerde sou ontneem (par. 7).

Wat die eerste regsvraag betref, kom die hof tot die volgende beslissing: “In this matter on the facts before me a well behaved (sic) dog (the reasonable dog) would not have attacked a child simply due to the child having climbed and sat on top of the boundary wall without more” (par. 10.6). Wat die tweede regsvraag betref, beperk die hof hom in sy antwoord streng gesproke nie tot die beantwoording daarvan nie, maar beroep hom op ander omstandighede om ten gunste van die eiseres te beslis: Aanvanklik wil dit voorkom of die hof Reece se teenwoordigheid op die muur nie as onregmatige teenwoordigheid beskou het nie (par. 11.6); vervolgens beslis die hof egter dat indien sy beslissing hieroor verkeerd sou wees, “such child (wat strafregtelik culpae incapax is) has a pauperian claim even if found to be on Defendant’s property without direct lawful entitlement or tacit consent” (par. 11.8; sien verder par. 11.9). Aangesien sowel die provokasie- as onregmatige teenwoordigheidsverweer deur die hof verwerp is, was die finale gevolgtrekking onvermydelik: “Judgment is given in favour of the Plaintiff in respect of the claim against the Defendant as to the merits of that claim in the actua de pauparie (sic), the issue of the quantum of that claim to stand over for further adjudication” (par. 12.3).

 

3. Kritiese evaluering

3.1 Inleiding

Ofskoon hierdie uitspraak in die Saflii-verslae op die internet opgeneem is en die noukeurige redigeerwerk van kundige redaksionele spanne soos dié van Juta en Kie wat verantwoordelik is vir die Suid-Afrikaanse Hofverslae, of dié van LexisNexis wat die redaksie van die All South African Law Reports behartig, moes ontbeer, is die vele onnoukeurighede wat daarin voorkom, tog erg hinderlik. Mens vra jou onwillekeurig die vraag af of enige regterlike beampte nie tog minstens een keer die finale teks van sy geskrewe uitspraak op harde kopie (waarskynlik deur ’n derde vanaf band oorgetik) moes deurgegaan en ooglopende foute, soos “Sarah v Edwards” in plaas van “SAR&H v Edwards” (par. 10.3), “well behaved” in plaas van “well-behaved” (par. 10.6) en “actua de pauparie” in plaas van “actio de pauperie” (parr. 11.8 en 12) moes aangeteken het nie. Verder is die verwysingsmetode na standaardhandboeke inkonsekwent en nie volgens normale gebruik nie. Die hof het byvoorbeeld na die handboek van Loubser en Midgley verwys deur net die titel, uitgawe en datum daarvan aan te haal, sonder verwysing na die redakteurs en/of skrywers daarvan (par. 5), terwyl daar na Neethling en Potgieter se standaardwerk verwys word deur slegs die naam van Visser, ’n mede-outeur tot die vyfde uitgawe daarvan (hy is in 2007 oorlede), in textu te vermeld, en slegs die uitgawe, sonder datum, en die name van die oorspronklike drie skrywers (as deel van die boektitel na Visser se oorlye) in ’n voetnoot (vn. 2) vermeld word (par. 6).

Verder val dit uiters vreemd op dat ’n aansienlike gedeelte van die hof se uitspraak uit direkte aanhalings uit handboeke bestaan. Nie minder nie as drie bladsye (ble. 4–6; par. 5) van die 12 bladsye wat tegnies as ratio decidendi kwalifiseer, is met sekere weglatings oorgeneem uit Loubser en Midgley se studentehandboek (2017:376–80) (deur die redakteurs bestempel as “intended to be a first reference work” – sien die “Preface” daarvan), terwyl een en ’n halwe bladsy (ble. 7–8) oorgeneem is uit Neethling en Potgieter se standaardwerk (2015:382–84, met sekere weglatings). Die “geleende” gedeelte van die ratio decidendi maak dus nie minder nie as 37,5% daarvan uit. (Indien die latere ellelange aanhaling uit Green v Naidoo 2007 6 SA 372 (W) par. 32 – sien par. 10.3 – in aanmerking geneem word, styg hierdie persentasie tot 45,3%.)Dit is die eerste keer dat ek in ’n Hoë Hof-uitspraak so ’n blatante voorbeeld van “knip-en-plak” teëkom. Dit skep beslis die indruk van oorhaastige werk. Verder moet mens deurentyd in gedagte hou dat handboeke glad nie as primêre regsbronne erkenning in ons howe geniet nie; hulle kan hoogstens ter opsporing van die primêre bronne aangewend word (vgl. Scott 2013:244–50).

3.2 Probleme rakende die pleitstukke

In die lig van die goedgevestigde materiële regsreëls wat die aanspreeklikheidsvereistes vir die actio de pauperie beheers, kom dit uiters vreemd voor dat die regsverteenwoordigers van die partye tot die volgende vergelyk gekom het betreffende die aangeleenthede waaroor die hof uitsluitsel moet gee:

1.1 The legal question to be determined by the above Honourable Court is whether the minor “Reece” was doli incapax (doli et culpae incapax) at the date of the dog attack on him and whether the Defendant, as the owner of the Bull Mastiff crossbreed dog, is liable as owner for the injuries caused by his dog to the Plaintiff’s son, Reece, an infans at the time;

1.2 if it is found that Reece was doli incapax (doli et culpae incapax) and Defendant liable as owner of the dog, then judgment be entered in favour of Plaintiff in respect of the merits of the claim and that the issue of quantum will stand over for determination at another date. (Par. 2)

Hierdie uiteensetting is allermins ’n toonbeeld van helderheid. In die eerste paragraaf word die kwessie van vasstelling van die kind se moontlike ontoerekeningsvatbaarheid voorop gestel en dan in dieselfde sin gekoppel aan die vraag of die verweerder as honde-eienaar aanspreeklik is vir die nadeel wat sy hond veroorsaak het. Laasvermelde deel van die sin is in werklikheid sinloos: die eiseres sou tog geen eis ingestel het indien sy nie die verweerder aanspreeklik wou hou nie! Dit is fundamenteel waaroor die saak (enige saak) handel. Ek vermoed dat die gedagte wat die partye waarskynlik wou uitdruk, was dat die hof moes vasstel of daar aan die aanspreeklikheidsvereistes vir die actio de pauperie voldoen is (waarvoor die bewyslas op die eiser rus), wat prima facie op aanspreeklikheid sou dui. Die wyse waarop die tweede paragraaf saamgestel is, versterk hierdie vermoede, want soos dit letterlik daar staan, is dit ook sinloos: indien die verweerder aanspreeklik bevind sou word, is dit irrelevant of die kind doli capax of incapax was! My voorgestelde uitleg sou inderdaad verduidelik waarom die tweede paragraaf met ’n verwysing na die moontlike ontoerekeningsvatbaarheid van Reece begin, naamlik dat die bewyslas vir die verweer van toerekeningsvatbaarheid aan die kind se kant op die verweerder gerus het (waarmee ek hoegenaamd nie my instemming wil betuig met die siening dat sodanige verweer in ons reg hoegenaamd in konteks van hierdie aksie bestaan nie). ’n Verdere gevolg van my uitleg is dat die verwysing na die kwessie van die kind se moontlike ontoerekeningsvatbaarheid aan die begin van die eerste paragraaf voortydig en dus onnodig is. Die verloop van die uitspraak lewer bewys daarvan dat regter Lowe se gedagterigting waarskynlik my voorgestelde uitleg gevolg het, aangesien hy eerstens ’n ondersoek geloods het na die vraag of daar aan die contra naturam sui generis­-vereiste voldoen is, opgevolg deur sy bevinding dat Reece ontoerekeningsvatbaar was en die verweerder bygevolg aanspreeklik is. Regter Lowe se ellelange aanhaling uit Loubser en Midgley se handboek (sien my opmerking onder par. 3.1 hier bo) steun ook hierdie uitleg: Daardie outeurs behandel ook eers die aanspreeklikheidsvereistes waarvoor die bewyslas op die eiser rus onder die opskrif “Elements of the action” (Loubser en Midgley 2017:378), waarna hulle onder die opskrif “Defences” (2017:379) nie minder nie as ses verwere vermeld. (Dit val dadelik op dat enige verwysing na die slagoffer se moontlike ontoerekeningsvatbaarheid nêrens in daardie handboek, of die aangehaalde gedeelte van Neethling en Potgieter se werk, waaruit ’n lang aanhaling (2015:392–4 – sien opmerking onder par. 3.1 hier bo) geneem is, te berde gebring word nie.)

Wat die hof se aanwending van die terminologie betref, dien daarop gelet te word dat dit streng gesproke verkeerd is om die Latynse term doli incapax as versamelterm vir doli et culpae incapax aan te wend. Die korrekte versamelterm is culpae incapax, omdat die selfstandige naamwoord culpa ’n wye en enge betekenis het: in enge sin verwys dit na nalatigheid, terwyl die wye betekenis daarvan (waarna die hof kennelik verwys) sowel opset as nalatigheid insluit (Hiemstra en Gonin 1986, s.v., culpa).

Die hof se uiteindelike beslissing is uiteraard beïnvloed deur die wyse waarop die eiseres en verweerder se regsverteenwoordigers hul kliënte se saak voorgedra het. Soos later sal blyk, het die aanvanklike dwaling oor fundamentele aspekte waaroor die hof tot ’n beslissing moes geraak, hom uiteindelik gewreek.

3.3 Beslissing rakende die contra naturam sui generis-vereiste

Soos reeds (par. 1) aangedui, het die hof hom eerstens bemoei met die vraag of die hond contra naturam sui generis opgetree het. Die wyse waarop die hof (par. 5) uit Loubser en Midgley se werk aangehaal het, laat nie werklik blyk waarop regter Lowe hom spesifiek toegespits het nie. Soos vermeld, het hy sekere gedeeltes van die handboek uitgelaat, en daaruit kan mens moontlik probeer aflei dat hy die behoue gedeeltes wou beklemtoon, byvoorbeeld wat die verwere betref, dat die eiser se verwytbare optrede asook die feit dat die beseerde onregmatig op die perseel waar hy of sy beseer is, aanwesig was. Die hof het selfs so ver gegaan om Loubser en Midgley se opsomming van Fourie v Naranjo 2008 1 SA 192 (K) aan te haal (2017:463–4), ofskoon die feite in daardie saak nie naastenby met die feite van die huidige geval ooreenstem nie. Die hof se verwysing (par. 6) na sekere gedeeltes van Neethling en Potgieter se werk, met inbegrip van ’n bepaalde voetnoot daarvan (waaroor later), dien blykbaar ook as ’n soort inleiding waarin en agtergrond waarteen die breë beginsels van aanspreeklikheid ingevolge die actio de pauperie uiteengesit word.

Uiteindelik word daar dan tog tot ’n punt gekom wanneer regter Lowe die kwessies aanstip waaraan hy spesifiek aandag gaan gee:

The above brings into play the defences of culpable and provocative conduct referred to in the authorities above, regardless that the child was culpae incapax, and the requirement that the child must have been lawfully (a legal right to be there alternatively having a lawful purpose) on the boundary wall for liability to ensue. In this regard and in terms of the Child Justice Act 75 of 2008 (sections 7 and 11) a child 9 years of age is irrebuttably presumed to be doli incapax, and therefore, as an example, is not accountable for trespass. (Par. 8)

Hy gaan dan onmiddellik oor tot die beoordeling van moontlike provokatiewe optrede aan Reece se kant wat, indien dit aanwesig sou gewees het, daarop sou dui dat die hond nie uit innerlike boosaardigheid en derhalwe nie contra naturam sui generis sou opgetree het nie. Ongelukkig verklaar die hof dat die verweerder moet bewys dat “Reece’s behaviour constituted provocation in the sense required (substantial negligence or imprudence) causing the animal not to act contra naturam” (par. 10.3). Die algemene beroep op Lever v Purdy 1993 3 SA 17 (A) as gesag is onvanpas, aangesien daardie saak hoegenaamd geen gesag bied vir die standpunt dat die provokerende persoon toerekeningsvatbaar (’n noodwendige voorvereiste vir “substantial negligence or imprudence”) moet wees nie; dit stel bloot die normale vereiste dat die bewyslas in die geval van ’n verweer van provokasie op die verweerder rus.

Dit is ten ene male onwaar dat ons reg vereis dat die persoon wat die hond provokeer, onder alle omstandighede toerekeningsvatbaar moet wees. Die hof verwar hier die verwere van provokasie met bydraende skuld aan die eiser se kant. Wat uiters vreemd opval, is dat regter Lowe vroeër in die loop van sy lang aanhaling (par. 6) uit Neethling en Potgieter se handboek ook die inhoud van voetnoot 44 (Neethling en Potgieter 2015:383) aangehaal het, waar daardie skrywers gesag verskaf vir hul stelling dat skuldige of provokatiewe optrede aan die kant van die benadeelde ’n absolute verweer is. Wat die regter egter kennelik uit die oog verloor het, is dat sy beroep op die inhoud van daardie voetnoot juis gesag is vir die stelling dat toerekeningsvatbaarheid van die benadeelde geen rol te speel het in hierdie konteks nie. (Met ’n beroep op Green v Naidoo 378–9 verklaar Neethling en Potgieter t.a.p.: “This conduct need not necessarily be accompanied by fault. Therefore even the conduct of a child younger than 10 years (who is accordingly culpae et doli incapax …) can provoke a dog sufficiently that it does not act contra naturam sui generis if it bites the child.) Op raaiselagtige wyse het regter Lowe, direk nadat hy hierdie woorde aangehaal het (par. 6 in fin.), na “Footnote 14” (sonder vermelding van die betrokke bladsy) verwys, waarmee hy oënskynlik ’n kwalifikasie aan Neethling en Potgieter se stelling wou heg. ’n Gedeelte van die bewoording van die geheimsinnige voetnoot lui soos volg: “The law requires that the person concerned must at least have had the mental and intellectual capacity to comprehend and avoid the danger in a particular situation.” By nabetragting blyk dit dat die vermelde voetnoot op bladsy 131 voorkom, waar die skrywers in algemene terme die betekenis van toerekeningsvatbaarheid, as voorvereiste vir ’n skuldverwyt, behandel. Hierdie stelling is niks meer nie as ’n weergawe van die eerste vereiste vir ’n bevinding van toerekeningsvatbaarheid; dit is allermins gesag vir enige stelling dat provokatiewe optrede wat ’n dier tot aanval aanstig, negeer behoort te word indien dit sou blyk dat die aanstigter ontoerekeningsvatbaar sou wees. Indien regter Lowe sy verwysing na “provocation in the sense required (substantial negligence or imprudence)” met verwysing na die inhoud van die aangehaalde voetnoot 14 wou motiveer, het hy in die lig van bestaande regspraak klaaglik misluk. Afgesien van die feit dat die aangehaalde passasie uit Neethling en Potgieter se werk direk teenstrydig met die hof se siening is, het regter Satchwell in haar uitspraak in Green v Naidoo 378H–379C soos volg gereageer op die eiser se betoog dat ’n ontoerekeningsvatbare kind van vier jaar nie daartoe in staat is om ’n daad van provokasie te pleeg nie (in daardie geval het die dogtertjie ’n rofie van ’n hond se neus afgetrek terwyl hy aan die eet was):

First, it is my understanding that C, as a child aged four, cannot be held liable in law for an act she may have performed but it does not mean that the act was not performed. There are no legal consequences for C since it is not sought and no one is able to seek that she be classified a “wrongdoer”. However, there may still be factual consequences for other actors. Second, the enquiry which I must perform is directed at ascertaining the conduct expected of a reasonable dog acting in accordance with its nature when faced with such a situation. It does not help the enquiry to wish away or ignore the very situation into which one is enquiring. Third, I am concerned that this proposition would require that a dog should be in a position to distinguish whether or not his assailant is doli or culpa (sic) capax or incapax. Fourth, I know of no authority that requires the “external force … onerous to dogs” to be a doli or culpa (sic) capax human.

’n Sterker aanduiding van die irrelevansie van die aanstigter se toerekeningsvatbaarheid of ontoerekeningsvatbaarheid met betrekking tot die provokatiewe gedrag is nouliks te bedink. Hierdie denkrigting sluit ook goed aan by die idee dat die contra naturam sui generis-vereiste kunsmatig is omdat dit as ’t ware ’n verwytbare gesindheid aan diere toedig asof hulle gelykstaande is aan mense en verder dat die verskillende interpretasies daarvan deur die howe tot onsekerheid aanleiding gee (sien bv. Van der Merwe 1970:289–91; Van der Merwe 2003:593; Van der Merwe en Rabie 2014:325; en vgl. Zimmermann 1990:115–6). Daar kan akkoord gegaan word met Van der Merwe (2011:640–1) se voorstel dat die contra naturam sui generis-vereiste vervang behoort te word deur ’n vereiste dat die huisdier die nadeel uit eie beweging veroorsaak het en nie omdat dit deur ’n bepaalde soort verwytbaarheid getref word nie.

Nog meer onbegryplik is die stelling van regter Lowe, na ’n lang aanhaling (byna ’n hele bladsy van sy uitspraak) uit die Green-saak, waarin hy toegee dat hy die gesag waarna hy verwys het, moet toepas, maar dit dan bloot nie doen nie (par. 10.4). In sy volgende sin herhaal hy dan gewoon slegs die goedgevestigde reël dat die “redelike hond”-toets toegepas moet word, en nie die toets van die bepaalde ras waartoe die hond wat nadeel veroorsaak het, behoort nie. (Geen gesag word verskaf nie, maar sien in die besonder Da Silva v Otto 541I–543A; vgl. verder die Loriza Brahman-uitspraak 485H–486A.) Dit gee hom dan die geleentheid om op die feite te beslis dat “there is nothing to indicate that this behaviour (die feit dat die kind op die muur gesit het) constituted any particular external stimuli (sic) which would have indicated that the dog did not act contra naturam” (par. 10.5), en dat die hond se optrede derhalwe aan die vereistes van die contra naturam sui generis-vereiste voldoen (parr. 10.6–10.7). Terugskouend beteken hierdie bevinding dat die ganse uiteensetting oor die kind se ontoerekeningsvatbaarheid dus oorbodig was!

Ofskoon die kwessie van toerekeningsvatbaarheid ongeregverdig by die beslegting van hierdie saak bygesleep is, dien daar egter in die verbygaan op ’n foutiewe aanname deur die hof gewys te word. Die 10-jaar-ouderdomsgrens wat ons reg ingevolge artikels 7 en 11 van die Child Justice Act75 van 2008 stel vir die onweerlegbare vermoede van kinders, geld slegs wat die strafreg betref. In die privaatreg geld die gemeenregtelike reëling nog steeds dat kinders onder sewe jaar onweerlegbaar geag word ontoerekeningsvatbaar te wees, terwyl daar ’n weerlegbare vermoede van ontoerekeningsvatbaarheid vir kinders tussen 7 en 14 jaar geld (Loubser en Midgley 2017:105; Boezaart 2017:76; Jansen en Neethling 2017:479). (Neethling en Potgieter 2015:137–8 se uiteensetting berus op die verkeerde veronderstelling dat die Child Justice Actop deliktuele aanspreeklikheid van toepassing is, maar in die lig van bovermelde gesamentlike publikasie van Jansen en Neethling kan mens verwag dat die ware posisie beslis in die volgende uitgawe van hul hoog-aangeskrewe handboek weerspieël sal word.) Dit is belangrik dat duidelikheid oor hierdie aspek verkry word, aangesien hierdie ’n beslissing van die Hoë Hof is wat ingevolge die presedenteleer ten minste in die Oos-Kaap as belangrike rigtingwyser geld, en veral wat die laer howe betref ’n veel wyer invloed kan uitoefen.

3.4 Beslissing rakende die verweer van onregmatige aanwesigheid

Deur die loop van die uitspraak word daar telkens verwys na die verweer dat die benadeelde of sy of haar beskadigde eiendom onregmatig aanwesig was waar die verweerder se dier die nadeel veroorsaak het (oorsigtelik in parr. 5 en 6; in besonderhede in par. 11). Ofskoon hierdie verweer nie in die Romeinse of Romeins-Hollandse reg erken is nie, voer hoofregter De Villiers dit in sy uitspraak in Drummond v Searle (1979) 9 Buch 8 9 in die Suid-Afrikaanse reg in omdat dit na sy oordeel op die basis van gesonde verstand gemotiveer kan word. Nieteenstaande sporadiese kritiek daarteen (sien bv. Van der Merwe 1970:280–3, 1968:387–8 en 1980:219–20) geld hierdie verweer sedertdien ontwyfelbaar in ons reg (sien veral die regspraak aangehaal deur Van der Merwe en Rabie 2014:333 vn. 2). In die regspraak is die enigste blywende onsekerheid rakende hierdie verweer geleë in die vraag of die benadeelde se regmatige aanwesigheid afhanklik is van ’n regmatige doel (“lawful purpose”), dan wel van ’n reg (“legal right”) om aanwesig te wees. (Vir die regmatige doel-benadering sien bv. Le Roux v Fick (1879) 9 Buch 29 42; Fourie v Naranjo 201C; en Neethling en Potgieter 2015:394 vn. 50. Wat die “legal right”-benadering betref, sien bv. O’Callaghan v Chaplin 1927 AD 310, 331; Vieira v Van Rensburg 1953 3 SA 647 (T) 650H–651D; Fourie v Naranjo 201C; en Neethling en Potgieter 2015:394 vn. 51.) Neethling en Potgieter se voorkeur vir die “legal right”-benadering skyn die logiese te wees, “aangesien daar tog nie na die ‘purpose’ van ’n saak as lewelose objek gevra kan word nie” (2015:394). Hierdie onsekerheid speel luidens regter Lowe in die onderhawige saak egter geen rol nie, “as Reece was clearly not on the wall by invitation or with the consent of Defendant, nor did he have a lawful purpose therefore, to the extent that he was in fact on Defendant’s property” (par. 11.3).

In hierdie gedeelte van die uitspraak stel die hof alles in die werk om die fundamentele aspek – “the (real) question” – wat met hierdie verweer verband hou, te identifiseer. Die uiteinde van hierdie proses was egter allermins geslaagd, siende dat nie minder nie as drie kwessies geïdentifiseer is, wat allermins rym met die voorneme om die enkele ware regsvraag te vind. Die volgende drie aanhalings is hier toepaslik: (i) “The real question it seems to me is to what extent a child below ten years of age, perched on top of a boundary wall separating two properties, can be said to have been unlawfully on Defendant’s property such as to raise a defence of unlawful presence” (par. 11.1); (ii) “The real question it seems to me is to what extent a child perched on top of a boundary wall separating two properties can be said to have been on Defendant’s property at all, such as to raise a defence of unlawful presence” (par. 11.4); (iii) “The question is whether the child was lawfully present at the place where the attack occurred, that being where he sat on the wall bordering the premises of Defendant and a third party” (par. 11.5). Dit behoef geen betoog nie dat (i) en (ii) verskillende vrae behels: In (i) word na die moontlike onregmatigheid van die kind se aanwesigheid verwys, terwyl (ii) handel oor die vraag of Reece hoegenaamd aanwesig was. Die inhoud van (iii) stem fundamenteel met dié van (i) ooreen, maar verskil in formulering deurdat daar in (i) na die kind se moontlike onregmatige aanwesigheid verwys word, terwyl daar in (iii) na sy moontlike regmatige aanwesigheid verwys word.

Die saak word verder gekompliseer deur die hof se stelling dat dit allermins uit die ooreengekome feitestel blyk dat Reece sonder die derde party (wie se eiendom aan die ander kant van die muur geleë was) se toestemming op die muur was (par. 11.5). Die hof het vervolgens plotseling beslis dat dit uitermate tegnies en inderdaad verkeerd sou wees om tot die gevolgtrekking te geraak dat Reece se aanwesigheid op die muur onregmatig was, omdat daar by ontstentenis van enige bewys tot die teendeel aanvaar kan word dat die buurman (die derde party, aan die ander kant van die muur) wel toestemming aan die kind gegee het om die muur te beklim (par. 11.6). Die relevansie hiervan is allermins duidelik, gesien die feit dat die tersaaklike verweer handel oor die onregmatige aanwesigheid op die verweerder se eiendom. Dit sou inderdaad merkwaardig wees indien ’n persoon sonder die toestemming van die eienaar van ’n grondstuk op ’n grensmuur sou kon sit, met sy of haar bene wat aan die eienaar se kant afhang, sonder om privaatregtelik (en selfs strafregtelik) onregmatig teenoor die grondeienaar op te tree. Soos egter uit die volgende paragraaf blyk, het die feit dat Reece onder die ouderdom van tien jaar was, waarskynlik in regter Lowe se gemoed vasgesteek en uiteindelik sy finale beslissing beïnvloed.

Dat die hof vasbeslote was om die verweerder aanspreeklik te hou, blyk glashelder uit die bysleep van die ontoerekeningsvatbaarheidsargument wat so ’n oorheersende rol in konteks van die contra naturam sui generis-vereiste gespeel het (sien par. 3.3 hier bo). Regter Lowe druk hom soos volg in hierdie verband uit:

In any event and even if I am incorrect in respect of the above, lawful presence cannot be divorced from a minor below 10 years of age being doli et culpae incapax. Not only could Reece not exhibit fault or culpable action, let alone criminal conduct, but he also could not commit the criminal act of trespass. (Par. 11.7)

Hieruit wil dit voorkom of regter Lowe ten eerste toerekeningsvatbaarheid as voorvereiste vir die benadeelde se onregmatige optrede vereis, en verder dat die vereiste onregmatige optrede (aanwesigheid) gelykgestel word aan die misdaad van betreding (“oortreding” indien die bewoording van die Wet op Oortreding 6 van 1959 in ag geneem word). Daar bestaan in ons reg hoegenaamd geen gesag vir sodanige benadering nie.

In al die sake waarin ons howe hulle oor hierdie verweer uitgelaat het, word bloot vermeld dat die benadeelde onregmatig op die perseel waar benadeling geskied het, aanwesig moet gewees het. In al daardie gevalle het die eisers privaatregtelik gelitigeer en mens kan dus geredelik aanvaar dat die verwysings na onregmatige teenwoordigheid (“unlawful presence”) op privaatregtelike onregmatigheid slaan. Sonder om aandag te skenk aan die nuwe koers wat ons howe sedert die beslissing van Telematrix (Pty) Ltd t/a Matrix Vehicle Tracking v Advertisings Standards Authority SA 2006 1 SA 461 (HHA) ingeslaan het, waarin daar beslis is dat onregmatigheid (ook) beskou kan word as die redelikheid om ’n verweerder aanspreeklik te stel (sien Neethling en Potgieter 2015:83–90 vir ’n kritiese evaluering), kan steeds met voldoende sekerheid verklaar word dat onregmatigheid grondliggend daarin geleë is dat ’n dader ’n ander se regsbeskermde belang op normskendige, oftewel objektief onredelike wyse (waar daar geen regverdiging daarvoor bestaan nie) aantas (waar die grondslag van enige norm in hierdie verband die regsoortuiging van die gemeenskap (die boni mores) is. (Sien in die algemeen Neethling en Potgieter 2015:35–60; Loubser en Midgley 2017:177–202; en Van der Walt en Midgley 2016:110–3, 117–26, 133–44.) Dit behoef geen betoog nie dat ’n ontoerekeningsvatbare persoon se handeling wel ’n ander se belange op onredelike wyse kan skend, soos waar ’n kind soos Reece ’n ander se ruit stukkend gooi, sy of haar grond betree, of hom of haar met ’n skerp voorwerp steek. ’n Onregmatige handeling op sigself staande verteenwoordig maar twee van die vyf delikselemente; skuld, kousaliteit en skade moet nog bykom om dit as onregmatige daad (delik) te laat kwalifiseer. Verder is dit insiggewend dat ons howe al by herhaling daarop gewys het dat skuld geen rol te speel het by die bepaling van onregmatigheid nie (vgl. bv. Minister of Law and Order v Kadir 1995 1 SA 303 (A) 320B–C; Za v Smith 2015 4 SA 574 (HHA) 584F–585D; en Stedall v Aspeling 2018 2 SA 75 (HHA) 79I–80F). Die onderhawige geval bied ’n skoolvoorbeeld van waar die afwesigheid van skuld bepalend geag word vir die afwesigheid van onregmatigheid.

Dit wil selfs voorkom of regter Lowe die bestaande reg rakende hierdie verweer uitgelê het as sou die eiser moet bewys dat die verweerder die misdaad van betreding gepleeg het. Die regter se vermelding van die feit dat Reece nie die verweerder se toestemming gehad het om op die muur te wees nie, gekoppel met die onlogiese gevolgtrekking dat dit nie op onregmatige optrede aan die kind se kant dui nie (par. 11.6), skep die vermoede dat hy sy bevinding gemaak het teen die agtergrond van die bewoording van artikel 1 van die Wet op Oortreding 6 van 1959, wat bepaal dat iemand wat sonder toestemming van die wettige okkupeerder of eienaar van grond of ’n gebou of deel van ’n gebou sodanige perseel betree of daarop aanwesig is, aan ’n misdryf skuldig is (Snyman 2012:584–7). Daar dien egter vermeld te word dat Reece se handeling selfs ingevolge die strafreg as onregmatig beskou sou kon word, aangesien die strafregtelike toets vir onregmatigheid, net soos dié van die deliktereg, suiwer objektief is en ’n handeling wat aan die misdaadomskrywing voldoen, slegs deur die aanwesigheid van ’n regverdigingsgrond as regmatig tipeer kan word (De Wet en Swanepoel 1985:69; Visser, Vorster en Maré 1990:179–80).

Op die keper beskou sou die effek van hierdie uitspraak, indien dit korrek sou wees, katastrofiese gevolge kon inhou vir die eienaars van huisdiere wat nadeel aan ontoerekeningsvatbare betreders op hul eiendom veroorsaak: benewens ’n kind onder sewe jaar (of onder 14 indien die verweerder nie die vermoede van ontoerekeningsvatbaarheid kan weerlê nie), sou die hopeloos dronke, geesteskranke, of rasend woedende betreder (bv. deur die grondeienaar se optrede uitgelok) wat byvoorbeeld deur die eienaar se kwaai waghond karnuffel word, nie met die verweer van onregmatige teenwoordigheid op die eienaar se perseel getroef kon word indien die hof van oordeel sou wees dat die waghond se optrede nie aan dié van die redelike hond voldoen nie. Hierdie benadering kan mens verwag indien daar geen provokasie van die kant van die betreder teenoor die dier was nie. Dit blyk derhalwe duidelik dat die onderhawige uitspraak onder gepaste omstandighede die eienaar van die huisdier ’n uiters belangrike verweer ontsê: dit is duidelik soos daglig dat dit die posisie van die eienaars van veral sekere huisdiere, soos waghonde, beduidend verswak het.

Dit is insiggewend dat Van der Merwe reeds in sy doktorale proefskrif kritiek uitgespreek het teen die verweer van onregmatige teenwoordigheid (Van der Merwe 1970:279–83; sien verder 1968:387–8; 1980:221), eerstens omdat dit nie in die Romeinse en Romeins-Hollandse reg as sodanig erken is nie en tweedens omdat behoud van die verweer teenstrydig sou wees met die skuldlose karakter van aanspreeklikheid ingevolge die actio de pauperie: “Myns insiens is hierdie verweer slegs ’n terugkeer na die skuldgrondslag. Die onderliggende gedagtegang is dat die redelike eienaar van die dier slegs benadeling van regmatige besoekers deur sy diere kan voorsien” (Van der Merwe 1970:282). Van der Merwe slaan die bal hier mis: hoofregter De Villiers se mening dat mens se gesonde verstand as voldoende basis vir die erkenning daarvan dien – veral aangesien daar geen teenstrydige menings deur ons ou skrywers op hierdie punt uitgespreek is nie – is ten minste net so geldig, indien nie meer oortuigend nie (sien Drummond v Searle 9). Daar kan naamlik objektief geredeneer word dat die skuldlose aanspreeklikheid weens nadeel wat deur ’n huisdier veroorsaak is, op billike wyse getemper word deur die vereiste dat die benadeelde of sy of haar eiendom regmatig op die perseel waar nadeel veroorsaak is, aanwesig moes wees. Die feite in die onderhawige saak bied juis ’n goeie voorbeeld hiervan. Die verweerder was ’n nagwerker wat uit noodsaak bedags moes slaap. Daar bestaan derhalwe regverdiging vir die feit dat hy sy goed-omheinde eiendom kon beskerm deur ’n waghond aan te hou. Dit kom uitermate onbillik voor om hom nou aanspreeklik te hou vir die beserings wat sy hond aan Reece veroorsaak het.

 

4. Gevolgtrekking

Hierdie uitspraak bied ’n goeie voorbeeld van hoe die gevestigde reëls wat die moderne actio de pauperie in die Suid-Afrikaanse reg beheers, nie toegepas moet word nie. Soos reeds aangedui, is die oorsaak van die probleme grondliggend te vinde in die wyse waarop die partye hul pleitstukke voorberei het (sien par. 3.2); dit het die hof aanleiding daartoe gegee het om Reece se ontoerekeningsvatbaarheid aan te wend om ongeregverdigde bevindings ten gunste van die eiser te maak wat sowel die aanspreeklikheidsvereiste van contra naturam sui generis-optrede deur die hond (sien par. 3.3) as die verweer van onregmatige teenwoordigheid van die eiser op die verweerder se eiendom (sien par. 3.4) betref. Dit is onrusbarend dat hierdie saak wye mediadekking geniet het waarin die feit dat die ontoerekeningsvatbaarheid van die beseerde kind as aanspreeklikheidsuitsluitingsfaktor gedien het, beklemtoon is (sien bv. Legal Brief, 4 Julie 2018). In geen van die mediaberigte was daar ’n sweem van kritiek teen die uitspraak nie, en mens kry die indruk dat regter Lowe se bevindings algemene goedkeuring weggedra het.

Die gevaar bestaan dat die verkeerde rigting wat in hierdie uitspraak ingeslaan is, veld kan wen, veral wanneer laer howe (en die Oos-Kaapse Hoë Hof) in die toekoms met sake van hierdie aard gekonfronteer sou word. Dit sou beslis ’n genade wees indien dit heel spoedig in die doofpot sou verdwyn, hopelik as gevolg van ’n latere uitspraak waarin die foutiewe aanwending van die eenvoudige beginsels van die actio de pauperie uitgewys sal word. Mens kan maar net hoop dat die uitspraak nie sy pad na die Suid-Afrikaanse Hofverslae of die All South African Law Reports sal vind, waaruit dit wyer bekendheid en hoër status sal verkry nie.

My finale wens rakende hierdie saak word akkuraat vervat in die volksdigter C. Louis Leipoldt se woorde waarmee hy sy tragikomiese gediggie “Boggom en Voertsek” soos volg afsluit:

Daar’s niks as die storie om oor te erwe,
En niks om daaruit te trek.

 

Bibliografie

Boezaart, T. 2017. Toerekeningsvatbaarheid van kinders in die Suid-Afrikaanse reg. Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 5:68–81.

De Wet, J.C. en H.L. Swanepoel. 1985. Die Suid-Afrikaanse strafreg. 4de uitgawe. Durban: Butterworths.

Hiemstra, V.G. en H.L. Gonin. 1986. Drietalige regswoordeboek / Trilingual legal dictionary. 2de uitgawe. Kaapstad: Juta.

Jansen, R.-M. en J. Neethling. 2017. Delictual capacity and (contributory) negligence of minors. Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 80(3):474–82.

Legal brief. https://www.pressreader.com/south-africa/pretoria-news/20180702/281522226832719 (20 Augustus 2018 geraadpleeg).

—. https://af-za.facebook.com/permalink.php?story_fbis=984162568425750&id (26 September 2018 geraadpleeg).

Loubser, M. en R. Midgley (reds.). 2017. The law of delict in South Africa. 3de uitgawe. Kaapstad: Oxford University Press.

McKerron, R.G. 1971. The law of delict. 7de uitgawe. Kaapstad: Juta.

Neethling, J. en J.M. Potgieter. 2015. Neethling-Potgieter-Visser deliktereg. 7de uitgawe. Durban: LexisNexis.

Scott, T.J. 2008. Vita perit, labor non peritur – liber memorialis PJ Visser. Durban: LexisNexis.

—. 2013. A growing trend in source application by our courts illustrated by a recent judgment on right of way. Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 76(2):239–51.

—. 2018. The actio de feris – phoenix from the ashes, or vain chimera? Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 81(3):510–27.

Snyman, C.R. 2006. Strafreg. 5de uitgawe. Durban: LexisNexis.

Van der Merwe, C.G. 1970. Skuldlose aanspreeklikheid vir skade veroorsaak deur diere. LLD-proefskrif, Universiteit van Suid-Afrika.

—. 1968. Workmen’s Compensation Commissioner v R.E.F. Kaiser. Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 31(4):385.

—. 1980. Vermaak v Khoza 1979 1 SA 578 (N). Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 43(2):217–21.

—. 2003. Die Hoogste Hof van Appèl bevestig die bestaansreg van die actio de pauperieTydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 3:590–4.

—. 2011. Remnants of blameworthiness in the actio de pauperie. Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 74(4):633–43.

Van der Merwe, C.G. en M.A. Rabie. 2014. “Animals” in The Law of South Africa. Vol. 1. 3de uitgawe. Durban: LexisNexis.

Van der Merwe, N.J. en P.J.J. Olivier. 1989. Die onregmatige daad in die Suid-Afrikaanse Reg. 6de uitgawe. Pretoria: J.P. van der Walt.

Van der Walt, J.C. en J.R. Midgley. 2016. “Delict” in The Law of South Africa. Vol. 15. 3de uitgawe. Durban: LexisNexis.

Visser, P.J., J.P. Vorster en M.C. Maré. 1990. General principles of criminal law through the cases. 3de uitgawe. Durban: Butterworths.

Zimmermann, R. 1990. The law of obligations – Roman foundations of the civil tradition. Kaapstad: Juta.

 

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top