Johan Scott

T.J. (Johan) Scott het die grade BA (Regte) (1966), LLB (1968) en BA Hons (Latyn) (1971) aan die Universiteit van Pretoria behaal. Hy het in 1976 die graad Doctor Iuris aan die Rijksuniversiteit Leiden onder promotorskap van die wêreldberoemde regshistorikus Robert Feensta verwerf met ’n proefskrif getiteld “Die geskiedenis van die oorerflikheid van aksies op grond van onregmatige daad in die Suid-Afrikaanse reg”.

Scott was meer as 40 jaar verbonde aan die regsfakulteit van die Universiteit van Pretoria, te wete as lektor (1969), senior lektor (1970–1976), medeprofessor (1976) en professor (1976–2010) in die Departement Romeins-Hollandse Reg en Internasionale Privaatreg (die latere Departement Privaatreg). Hy was van 1984 tot 2006 hoof van die Departement Privaatreg. Hy het aan die einde van 2010 afgetree, maar tot aan die einde van 2015 in tydelike hoedanigheid as professor in privaatreg aangebly. Van 2016 tot 2017 was hy 'n besoekende navorser in die Departement Privaatreg aan die Universiteit van Suid-Afrika. In 2018 is hy in dieselfde departement as buitengewone hoogleraar aangestel.

Scott spits hom veral op die deliktereg, saaklike sekerheidsreg en internasionale privaatreg toe. Daarbenewens koester hy ’n besondere belangstelling in die regsgeskiedenis en regsvergelyking. Hy is die skrywer van talle vakwetenskaplike publikasies.

Van 1981 tot 1996 het hy as redakteur van die ensiklopediese werk The Law of South Africa gedien. In 1986 en 1994 het hy as genoot van die Alexander von Humboldt Stiftung in Keulen navorsing gedoen. Hy is getroud met Susan Scott, skrywer van onder andere die gesaghebbende Scott on Cession. Die egpaar het vier kinders.

Scott is ’n sportman en lief vir die buitelewe. Veral diepseehengel, draf, swem en snorkelduik lê hom na aan die hart. Verder verdiep hy hom in sy Africana-versameling. Sy geliefkoosde spreuk is die gevierde woorde van Cicero (De finibus 2.105): “Iucundi acti labores!” (Hoe genotvol is die rus tog na afloop van die arbeid!). 

 

Vonnisbespreking: Die jongste “gly-en-val”-uitspraak teen ’n winkeleienaar: ’n Ontkenning van die Chartaprops-verweer?

Johan Scott LitNet Akademies (Regte) 2023-11-28

"Hierdie uitspraak sal beslis in die kraam pas van inkopiegangers wat daagliks supermarkte besoek, maar is slegte nuus vir winkeleienaars."

Vonnisbespreking: Die tragiese gevolge van onbevoegde polisie-optrede – die hof maak (te) korte mette met flou verskonings

Johan Scott LitNet Akademies (Regte) 2022-11-17

"Die polisie se rekord wat betref siviele eise wat teen hulle ingestel is deur diegene wat aan die kortste end getrek het weens hul optredes wat wissel van aanranding en verkragting tot die nalatige versuim om hul beskermingsplig uit te oefen, sien daar ook beroerd uit ..."

Vonnisbespreking: Waagartieste leer haar heiland ken. Gevestigde regsbeginsels egter tot haar redding

Johan Scott LitNet Akademies (Regte) 2022-06-14

"Ons regspraak wemel van uitsprake waarin die volenti-verweer opgewerp is. Veral op die gebied van sportbeserings en benadeling weens mediese behandeling is daar interessante gevalle wat in die lig van die omvang van hierdie bespreking nie onder die loep geneem is nie."

Vonnisbespreking: Boelie kry op sy baadjie: Moes die skool gered het?

Johan Scott LitNet Akademies (Regte) 2019-11-20

“Anders as in vervloë dae, wil dit egter voorkom of die gevolge van ’n fisieke aanranding deesdae ernstiger gevolge het.”

Vonnisbespreking: Waaksame waghonde en waagmoedige kinders – ’n wanklank uit die Oos-Kaap

Johan Scott LitNet Akademies (Regte) 2018-11-12

"Dit is ten ene male onwaar dat ons reg vereis dat die persoon wat die hond provokeer, onder alle omstandighede toerekeningsvatbaar moet wees. Die hof verwar hier die verwere van provokasie met bydraende skuld aan die eiser se kant."

Vonnisbespreking: Die aksie van afhanklikes weens die dood van hul broodwinner: Veel lawaai en weinig wol?

Johan Scott LitNet Akademies (Regte) 2016-10-25

"Die afleiding dat die ontwikkelde Tswanareg gelykstaande is aan die inheemse Afrika-gewoontereg in die algemeen kom daarop neer dat ’n besondere stamregstelsel algemeen op swart landgenote toepassing vind. Sal ’n mens werklik hierdie as ’n presedent kan voorhou waar die litigante byvoorbeeld Xhosas of Vendas is? Na my mening sal dit nie geregverdig wees nie."

Top