|
Abstract
The most recent “slip-and-trip” judgment against a shop owner: A denial of the Chartaprops defence?
In 1991, in Langley Fox Building Partnership (Pty) Ltd v De Valence, the Supreme Court of Appeal held that the employer of an independent contractor is not liable for the delicts of the employees of the latter, unless the conduct of the employer or his or her employees had also conformed to the requirements for delictual liability.
Notwithstanding, courts have since then not always followed that important judgment, particularly in claims arising from injuries sustained by shoppers who tripped and fell on slippery floors in shopping malls and supermarkets, where shop owners and/or managers had engaged independent cleaning firms to keep floors clean and safe (e.g. Probst v Pick ’n Pay Retailers (Pty) Ltd handed down by the full Johannesburg High Court in 1998). However, in 2009 the Supreme Court of Appeal held that it would be a valid defence for a shop or mall owner or manager to plead that an independent contractor had been appointed for floor cleaning, and that the latter would normally be delictually liable where a shopper had sustained injuries, effectively confirming Langley Fox.
In the case under discussion, the plaintiff slipped and fell on a slippery patch in one aisle of the defendant’s supermarket. The court approached delictual liability by applying the res ipsa loquitur maxim on the authority of Probst. Consequently, an inference of negligence on the defendant’s part, following by applying the maxim, was established. The court ultimately decided that the defendant had failed to rebut such inference and also that no negligence had been established on the plaintiff’s part. Notwithstanding its reference to the “Chartaprops defence”, the court did not apply it properly and consequently held the defendant liable. At no point did the court enquire about the possible negligence of the independent contractor’s employees, although the facts overwhelmingly point towards such a probability. The reason for this omission is probably to be found because the court ordered the independent contractor to indemnify the defendant in terms of an indemnity clause in their cleaning service agreement. As a result, the effect of this judgment is that the pre-Chartaprops legal approach to “slip-and-trip” cases – in terms of which a shop owner could incur delictual liability for the civil wrongs of an independent contractor’s employees as if they were his employees – was reinstated.
One can fully agree with the court that a reasonable person in the defendant’s position would have foreseen the type of damage that had occurred in casu, and would have taken reasonable steps to avoid such harm. However, the court’s finding that the steps taken by the defendant in appointing a cleaning service contractor had been ineffective, does not necessarily imply that those steps had been inadequate, considering the surrounding facts and circumstances.
Keywords: foreseeability; independent contractor; legal duty; omission; negligence; shop floor; shop owner; shop manager; “slip and trip” injury; spillage; wrongfulness
Trefwoorde: “gly en val”-besering; late; nalatigheid; onafhanklike kontrakteur; onregmatigheid; regsplig; stortsel; voorsienbaarheid; winkeleienaar; winkelvloer
1. Inleiding
Ingevolge die Suid-Afrikaanse deliktereg is die lasgewer van ’n onafhanklike aannemer (vrye ondernemer) in die gewone loop van sake nie middellik aanspreeklik vir laasgenoemde, of dié se werknemers, se onregmatige dade gepleeg in die loop van sy, haar of hulle uitvoering van die lasgewer se opdragte nie. Slegs wanneer sodanige lasgewer se eie optrede aan al die vereistes van ’n onregmatige daad voldoen, sal hy of sy aanspreeklikheid, of mede-aanspreeklikheid tesame met die onafhanklike kontrakteur, opdoen (Langley Fox Building Partnership (Pty) Ltd v De Valence 1991 1 SA 1 (A) 13A–C; Chartaprops 16 (Pty) Ltd v Silberman 2009 1 SA 265 (HHA) 278A; Avonmore Supermarket CC v Venter 2014 5 SA 399 (HHA) 401I-402A; sien verder Neethling en Potgieter 2020:455; Van der Walt en Midgley 2016:70; Loubser en Midgley 2017:470–3 wat na oorvloedige regspraak verwys). In die Chartaprops-uitspraak (278C–D) het appèlregter Ponnan (met ’n beroep op Glanville Williams 1956:39) kritiek uitgespreek teen die moderne neiging om lasgewers te geredelik aanspreeklik te hou vir die delikte van hul onafhanklike kontrakteurs gepleeg in die uitvoering van hul opdragte, omdat dit daartoe sou bydra om onafhanklike kontrakteurs, in stryd met gevestigde regsbeginsels, vir aanspreeklikheidsdoeleindes aan werknemers gelyk te stel.
Wanneer daar vasgestel moet word of die lasgewer se optrede aan die vereistes vir deliktuele aanspreeklikheid voldoen, is dit van kardinale belang om te onderskei wat die aard van die werk is wat deur die betrokke onafhanklike kontrakteur aangeneem is. Appèlregter Ponnan wys daarop dat daar in hierdie verband twee kategorieë werkaanneming bestaan. Eerstens, indien die skadestigtende optrede van die ondernemer van sodanige aard was dat dit nie onmiddellike gevaar ingehou het nie, sal die lasgewer slegs aanspreeklikheid kan opdoen indien hy of sy die bepaalde onregmatige en skuldige optrede spesifiek gemagtig het, daarvan bewus was, of redelikerwys daarvan bewus moes gewees het. Tweedens, waar die aannemer werk verrig op ’n perseel waartoe die publiek toegang het en dit boonop redelikerwys verwag kan word dat dit skade kan veroorsaak tensy daar behoorlike voorsorgmaatreëls getref word, rus daar steeds ’n verpligting op die lasgewer om toe te sien dat die nodige voorsorgmaatreëls getref word en dat die perseel veilig is, hetsy hy of sy die werk self onderneem, of deur bemiddeling van sy of haar eie werknemers, of dit aan ’n onafhanklike kontrakteur delegeer (283E–I; met ’n direkte beroep op Crawhall v Minister of Transport 1963 3 SA 614 (T) 617F–H en ’n indirekte beroep op Dukes v Marthinusen 1937 AD 12).
Die Chartaprops-saak handel luidens die hof oor die vermelde eerste kategorie werkaanneming (283F). In daardie geval het die eiseres ’n skadevergoedingseis ingestel teen die eienaar en okkupeerder van ’n winkelsentrum (Chartaprops, die eerste verweerder), asook teen ’n onafhanklike kontrakteur (Advanced Cleaning, die tweede verweerder) wat kontraktueel teenoor Chartaprops gebonde was om skoonmaakdienste te verskaf in laasgenoemde se sentrum. Die eiseres is beseer toe sy gegly het op die winkelvloer wat glad was as gevolg van vloeistof wat uit een van Advanced Cleaning se skoonmaakapparate gelek het terwyl dit deur een van hul werknemers gebruik is. As eisoorsaak is aangevoer die nalatige versuim van sowel die eerste as die tweede verweerder om die vloeistof betyds te verwyder van ’n gebied waartoe die publiek toegang gehad het. Ofskoon albei die verweerders in die Gautengse Hooggeregshof (Johannesburg) solidêr aanspreeklik bevind is (Silberman v Chartaprops 16 ongerapporteer (saaknr. W29068/03) per Boruchowitz Ŗ), het die eerste verweerder se appèl geslaag en het die Hoogste Hof van Appèl die tweede verweerder in ’n meerderheidsbeslissing ten volle aanspreeklik gehou vir die eiseres se skade (sien Neethling en Potgieter 2009(1):661–7; Neethling en Potgieter 2009(2):786–90; Scott 2009:670–7 vir ’n kritiese ontleding). Die meerderheid het hul beslissing uitsluitlik gegrond op die afwesigheid van nalatigheid aan die kant van die eerste verweerder, sonder om hoegenaamd aandag te skenk aan die onregmatigheidsvraag. Hierdie aspek van daardie uitspraak het Neethling en Potgieter se geregverdigde kritiek ontlok het (Neethling en Potgieter 2009(1):666–7, 2009(2):789–90). Wat die beslissing rakende nalatigheid betref, word allerweë aanvaar dat die eerste verweerder se aanstelling van die tweede verweerder – ’n erkende skoonmaakonderneming – vir hom die knoop deurgehak het om die verwyt van nalatigheid vry te spring (sien bv. Neethling en Potgieter 2009(1):666; Heyman 2021:1). Scott (2009:676) wys ook op dié aspek van die bevinding, maar rig die volgende waarskuwing:
However, as a review of some of the older cases has revealed, this does not imply that a principal employing the labour of an independent contractor can under all circumstances “rest on his laurels” after the initial act of entering into a contract of service with such contractor.
Soos onlangs uitgewys, wemel dit in ons hofverslae van sogenaamde “gly-en-val”-sake (Scott 2023:383–4 verwys na nie minder nie as 14 sodanige uitsprake vanaf 1961 tot 2022, waarby nog die uitsprake van die verhoorhof, die Kaapstadse volbank en die Appèlhof in die Cenprop-saak – waarna later verwys word – gevoeg kan word). Voor die Chartaprops-uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl is ’n benadering gevolg wat goed deur die uitspraak in Probst v Pick ’n Pay Retailers (Pty) Ltd [1998] 2 All SA 186 (W) geïllustreer word. Daarin is bevind dat die blote feit dat die winkeleienaar ’n onafhanklike kontrakteur aangestel het om die vloere in ’n veilige toestand te hou, nie voldoende aanduiding was dat redelike stappe gedoen is om die voorsienbare skade te voorkom nie. Regter Stegmann verwoord die toepaslike beginsels soos volg:
2. The duty of the keeper of a supermarket to take reasonable steps is not so onerous as to require that every spillage must be discovered and cleaned up as soon as it occurs. Nevertheless, it does require a system which will ensure that spillages are not allowed to create potential hazards for any material length of time, and that they will be discovered, and the floor made safe, with reasonable promptitude.
3. The defendants engaged a firm Ellis Cleaners to perform these [cleaning] duties for them. The defendants nevertheless remained liable for any negligent failure on the part of Ellis Cleaners to perform the duties with due care. (200, my beklemtoning)
Hieruit blyk dit duidelik dat die winkeleienaar in werklikheid middellike aanspreeklikheid opgedoen het vir die nalatige versuim van die onafhanklike kontrakteur se werknemers. Appèlregter Ponnan se Chartaprops-uitspraak rakende die aanspreeklikheid van die onafhanklike kontrakteur in daardie geval verwerp egter in geen onduidelike terme nie sodanige benadering:
There are few operations entrusted to an independent contractor by a principal that are not capable, if due precautions are not observed, of being sources of danger to others. If a principal were to be held liable for that reason alone the distinction between “employee” and “independent contractor” will all but disappear from our law. This plainly is not the type of case where it can be said that Chartaprops negligently selected an independent contractor or that it so interfered with the work that damage resulted or that it authorised or ratified the wrongful act. The matter thus falls to be decided on the basis that the damage complained of was caused solely by the wrongful act or omission of the independent contractor, Advanced Cleaning, or its employees. (285D–E, my beklemtoning)
Direk hierna beklemtoon die hof die feit dat Chartaprops nie bloot tevrede was om te berus by die feit dat hulle hul skoonmaakdienste uitgekontrakteer het nie, dog meer gedoen het, byvoorbeeld deur toe te sien dat hul sentrumbestuurder elke oggend met die opsigter van die skoonmakers vergader, self inspeksies gedoen het om te verseker dat alle skoonmaaktake na behore nagekom is en, waar hy vloeistofstortings of enige afval opgemerk het, daarvoor gesorg het dat dit onmiddellik opgeruim word (285G). In die lig hiervan het appèlregter Ponnan tot die volgende gevolgtrekking gekom:
That being so it seems to me that Chartaprops did all that a reasonable person could do towards seeing that the floors of the shopping mall were safe. Where, as here, the duty is to take care that the premises are safe I cannot see how it can be discharged better than by the employment of an independent contractor. That was done by Chartaprops in this case, who had no means of knowing that the work of Advanced Cleaning was defective. Chartaprops, as a matter of fact, had taken the care which was incumbent on it to make the premises reasonably safe. (285G-H)
Indien die beklemtoonde gedeeltes uit hierdie aanhalings saamgelees word, regverdig dit die afleiding dat dit voldoende vir Chartaprops was om bloot ’n onafhanklike kontrakteur aan te stel aan wie alle skoonmaakdienste toevertrou word, tensy Chartaprops: (a) nalatig was deur ’n onbevoegde onafhanklike kontrakteur aan te stel; (b) sodanig ingemeng het met die kontrakteur se werksaamhede dat dit tot die nadeel aanleiding gegee het; (c) die spesifieke onregmatige handeling of versuim van die kontrakteur se werknemer(s) gemagtig het; of (d) sodanige handeling of versuim bekragtig het. Sodanige aanstelling van ’n onafhanklike kontrakteur om skoonmaakdienste te behartig vorm derhalwe die basis van die sogenaamde “Chartaprops-verweer”. Daar moet deurentyd in gedagte gehou word dat ofskoon daar gemeenregtelik ’n algemene verpligting op die eienaar of okkupeerder van ’n perseel rus om te voorkom dat ’n potensieel gevaarlike toestand daarop enigiemand anders benadeel, feitelike beheer deur die eienaar of okkupeerder op sigself nie voldoende is om hom of haar met ’n regsplig te belas om nadeel aan aanwesiges op die perseel te voorkom nie. Dit is bloot een van die faktore wat oorweging verdien. Die feite en omringende omstandighede van elke bepaalde geval sal telkens die deurslag gee of die eienaar of okkupeerder redelikerwys verplig was om stappe te doen om nadeel te voorkom, al dan nie (Administrateur, Transvaal v Van der Merwe 1994 4 SA 347 (A) 360D, 360F–G, 361F–H; sien verder Neethling en Potgieter 2020:71; Van der Walt en Midgley 2016:147; Loubser en Midgley 2017:265). Neethling en Potgieter (2009(1):667, 2009(2):790, 2020:456) skyn dieselfde mening toegedaan te wees en sinspeel daarop dat die aanstelling van ’n bevoegde onafhanklike kontrakteur (sonder enige van die diskwalifikasies onder (a)–(d) hier bo vermeld) enige moontlike onregmatigheid van die lasgewer vis-à-vis die benadeelde sal uitskakel, omdat sodanige lasgewer enige regsplig wat hy of sy teenoor ’n benadeelde verskuldig was daardeur nagekom het en gevolglik geen deliktuele aanspreeklikheid kan opdoen nie. Die effek van sodanige benadering is dat slegs die onafhanklike kontrakteur dan aanspreeklik sal wees. Hierdie benadering is ook in ooreenstemming met die toonaangewende uitsprake in Langley Fox Building Partnership (Pty) Ltd v De Valence 13A-C en Minister of Community Development v Koch 1991 3 SA 751 (A) 761H–3C.
Appèlregter Ponnan se beklemtoning van die feit dat Chartaprops meer gedoen het as die blote aanstelling van Advanced Cleaning moet nie vertolk word as sou hy die verdere stappe wat Chartaprops toe gedoen het, ingesluit het by die vereistes wat die reg aan ’n lasgewer in Chartaprops se skoene stel om aanspreeklikheid vry te spring nie. Sou dit wel die geval wees, beteken dit dat sodanige aanstelling maar net een van die vele gelyksoortige faktore sou wees wat die hof in ag geneem het, en nie die kardinale faktor nie. Die sinnetjie: “It did more” (285F) moet derhalwe vertolk word as: “It did more than it had been legally obliged to do.”
Steun vir bovermelde vertolking van die Chartaprops-verweer blyk onder andere uit die uitsprake in Holzhausen v Cenprop Real Estate (Pty) Ltd 2021 4 SA 221 (WKK) 238C–E waar die hof duidelik onderskei het tussen sogenaamde “spillage”-sake (soos Chartaprops en die uitspraak onder bespreking) en gevalle waar daar permanente inherente gevaar op die perseel aanwesig is – byvoorbeeld as gevolg van die vloerkonstruksie, asook uit Cenprop Real Estate (Pty) Ltd v Holzhausen 2023 3 SA 54 (HHA) 63B–D waarin die uitspraak van die Kaapse Hoë Hof gehandhaaf is (vir ’n evaluering van eg. raadpleeg Neethling 2022:577–85; vir lg. sien Scott 2023:383–93; vgl. verder Heyman 2021:1).
In ’n uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl wat in dieselfde jaar as Chartaprops gelewer is, is die supermarkeienaar wel aanspreeklik bevind teenoor ’n klant wat in die vrugte-en-groente-afdeling van die winkel op kookolie gegly en geval het. Hierdie geval kan egter beskou word as een waar die eienaar wel nalatig was deur ’n onbevoegde ondernemer met beperkte personeel aan te stel (Checkers Supermarket v Lindsay 2009 4 SA 459 (HHA); sien par. 3.4 post). Dit het dus nie die Chartaprops-verweer ontken nie. ’n Verdere uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl wat prima facie met die eerste oogopslag indruis teen die erkenning van die Chartaprops-verweer is dié in Avonmore Supermarket CC v Venter 2014 5 SA 309 (HHA) waar ’n klant gegly het nadat water op die winkelvloer gestort is en die winkeleienaar aanspreeklik bevind is. Laasgenoemde se verweer dat ’n onafhanklike kontrakteur aangestel is en dat dit voldoende was om blaam na die kontrakteur te verplaas het misluk, doodeenvoudig omdat die verweerder versuim het om genoegsame bewys voor die hof te plaas oor die bestaan, aard en inhoud van die beweerde ooreenkoms met die kontrakteur (402C–E). Ook hierdie uitspraak doen dus in werklikheid geen afbreuk aan die toepaslikheid van die Chartaprops-verweer in toepaslike gevalle nie.
2. Feite en uitspraak
Op 13 November 2017 het die eiseres, me Williams (W), saam met haar suster by haar plaaslike supermark, Pick n Pay (P) in die N1-winkelkompleks in Goodwood gaan inkopies doen. Terwyl sy by die kassiere staan en wag het om te betaal, het dit haar skielik bygeval dat sy ’n bepaalde item vergeet het. Haastig is sy toe terug om dit te gaan haal. Nadat sy die item in ’n rak geleë in die vierde gang van die winkel gevind het en vervolgens flink langs ’n ander roete (gang 5) na die kassiere teruggestap het, het haar voete onverwags onder haar uitgegly sodat sy hard met haar linkersy op die vloer beland het. Uit die getuienis het dit geblyk dat W gegly het op ’n olierige rooibruin vloeistof wat waarskynlik gedrup het uit ’n rak waarop flesse met pasta en souse uitgestal was. Sy het aansienlike ongemak verduur en kon nie sonder hulp weer regop kom nie. Die eerste persoon wat haar te hulp gesnel het, was me Sitsholwane (S), die kliëntediensbestuurder van die supermark, wat onmiddellik vir ’n rystoel gesorg en persoonlik toegesien het dat W na ’n nabygeleë hospitaal vervoer word (parr. 1–4, 10–2).
Omdat W die weduwee is van ’n beroemde Springbok-rugbyspeler, Chester Williams, was S en verskeie ander van die winkelpersoneel bekommerd dat die voorval negatiewe publisiteit sou ontlok. Hulle het S derhalwe versoek om die saak uit die pers te hou en beloof dat P vir W vir enige mediese uitgawes sou vergoed. Daar het egter dadels van hierdie onderneming gekom. In Mei 2019 het W ’n deliktuele aksie ingestel teen P, asook teen ’n skoonmaakonderneming, Tradesoon 1020 (Edms) Bpk wat onder die handelsnaam Blue Dot (B) handel gedryf het, en wie se personeel die winkelvloere op ’n daaglikse grondslag moes skoonhou. W het algemene skadevergoeding weens pyn en lyding, asook skadevergoeding vir gelede en toekomstige mediese uitgawes geëis (par. 5).
P se verweer was vierledig, naamlik dat: (a) W se beserings uitsluitlik aan haar eie nalatigheid te wyte was; (b) as alternatief, W bydraend nalatig was en enige bedrag skadevergoeding verminder moet word met inagneming van W se bydraende nalatigheid en S se beweerde nalatigheid; (c) B, aan wie P alle skoonmaakdienste in die winkel uitbestee het, ten volle aanspreeklik is ingevolge hul ooreenkoms met P, waarvolgens B onderneem het om aanspreeklikheid te aanvaar teenoor enigeen wat skade kan ly as gevolg van hul versuim om hul skoonmaakverpligtinge na behore na te kom; en (d) P alle redelike stappe gedoen het ter nakoming van sy verpligtinge teenoor W deurdat P gesorg het vir ’n deurlopende skoonmaakdiens en in die omstandighede alle redelike stappe gedoen het om te verhoed dat W enige nadeel ly (laasgenoemde is die Chartaprops-verweer in enge sin). P het vervolgens ’n derdepartykennisgewing aan B bestel waarin die hof versoek is om ’n verklarende bevel uit te reik dat B aanspreeklik sal wees om P te vrywaar teen die betaling van enige skadevergoeding wat die hof aan W teen P mag toeken (parr. 6–7).
B se verweer teen die derdepartykennisgewing was tweeledig, naamlik dat: (a) W se beweerde beserings nie gewyt kon word aan die nalatige optrede van B se werknemers nie en in werklikheid aan haar eie nalatigheid toegeskryf kan word; en (b) as alternatief, W se beserings toegeskryf kan word aan die nalatigheid van mnr Jehomah (J), ’n bevoorrader (“merchandiser”) van ’n ander firma wat in die supermark die bemarking van bepaalde produkte namens sy werkgewer waargeneem het. Hy het nie slegs nagelaat om die onmiddellike gebied waarin hy gewerk het skoon en veilig te hou nie, maar in der waarheid die gewraakte storting van vloeistof veroorsaak en daarna versuim om enige voorsorgmaatreëls teen die moontlike benadeling van klante te tref (par. 8).
Soos gebruiklik in sake van hierdie aard, het die partye daartoe ingestem dat die kwessies van aanspreeklikheid en kwantum ingevolge Hooggeregshofreël 33(4) geskei word en dat laasgenoemde sou oorstaan vir moontlike latere beslegting. Daarna het regter Gamble die getuienis van P, S en me Naka (N), B se werknemer wat ten tyde van die voorval in die onmiddellike nabyheid van W se ongeval teenwoordig was, ontleed en geëvalueer (parr. 10–21).
Albei die verweerders se pleite van W se moontlike nalatigheid of bydraende nalatigheid is summier verwerp (par. 34). Een van die gevolge van die verweerders se versuim om J as getuie te roep (parr. 42–3) was dat daar geen bevinding oor sy moontlike nalatige optrede gemaak is nie.
Wat P se aanspreeklikheid betref, het die hof P se beroep op die verweer dat slegs B as skoonmaakfirma aanspreeklik moet wees, verwerp en beslis dat W se beserings veroorsaak is deur die nalatigheid van P se werknemers en dat sy dus ten volle deur P vergoed moet word vir die nadeel wat sy later kan bewys (parr. 48–9). Wat B se posisie betref, het die hof die vrywaringsooreenkoms wat tussen P en B gesluit is sodanig vertolk dat B vir P skadeloos moet stel en ’n verklarende bevel te dien effekte teen B uitgereik (parr. 50–1).
3. Kritiese evaluering
3.1 Inleiding
’n Interessante (volgens sommiges moontlik irrelevante) aspek van hierdie saak is dat regter Gamble op 10 Desember 2019 as voorsittende regter van die verhoorhof uitspraak gegee het in Holzhausen v Cenprop Real Estate (Pty) Ltd [2020] 1 All SA 767 (WKK) waarin hy die Chartaprops-uitspraak deeglik ontleed het (en selfs ongeveer 20 persent van sy ratio decidendi afgestaan het aan die minderheidsuitspraak van appèlregter Nugent in daardie saak) en op grond daarvan die deliktuele vordering van die eiseres wat op reënwater in ’n winkelsentrum gegly het, van die hand gewys het. Anders as wat hierbo (par. 1) voorgestel is, het hy die stappe bykomend tot die aanstelling van ’n onafhanklike skoonmaakfirma wat deur die winkeleienaar as eerste verweerder gedoen is – byvoorbeeld vloerinspeksies op gereelde grondslag – as deel van die Chartaprops-verweer beskou en tot die bevinding gekom dat Chartaprops in alle opsigte aan dié verweer se vereistes voldoen het. Anders as die Kaapse volbank en die Hoë Hof van Appèl, het regter Gamble in werklikheid beslis dat daardie saak ’n gewone “spillage”-saak is, maar desnieteenstaande die verweer gehandhaaf. Dit op sigself verleen al ’n voorsmaak van die wyse waarop hy die Chartaprops-verweer in die uitspraak onder bespreking uitgelê en toegepas het. Die verdere bespreking sal geskied aan die hand van die opskrifte waaronder die hof sy ratio decidendi uiteengesit het.
3.2 Die toepaslike regsbeginsels
Regter Gamble het begin met ’n verwysing na die hoë frekwensie van “gly-en-val”-sake oor die afgelope dekades, asook die feit dat die Chartaprops-uitspraak sedert die Cenprop-beslissing nie meer die finale antwoord in hierdie tipe gevalle verskaf nie (par. 22). Vervolgens het hy die feite van en uitslag in Cenprop kortliks geskets waar die eiseres geslaag het omdat die vloer in daardie geval glad was as gevolg van ’n meer permanente potensiële gevaartoestand wat deur reënval teweeggebring is (par. 23) en daarop gewys dat dit verskil van Chartaprops en die onderhawige saak waar die vloere glad was vanweë sporadiese vloeistofstortsels (par. 24). Verdere verskille tussen hierdie geval en die vermelde twee uitsprake was dat die eiseres in Chartaprops die winkelsentrumeienaar en die skoonmaakfirma as mededaders gedagvaar het, terwyl die eiseres in Cenprop die eienaar van die gebou en die bestuurder daarvan, maar nie die skoonmaakfirma nie, aangespreek het, terwyl laasgenoemde in die saak onder bespreking slegs as ’n derde party gevoeg is (parr. 26–7). Die gemeenskaplike eienskap van al drie die sake is korrek deur die hof uitgewys as die feit dat daar staatgemaak is op die verweer dat die skoonmaakdienste in die winkels aan onafhanklike kontrakteurs uitbestee is (par. 25).
Opvallend is dat die hof dan onmiddellik daartoe oorgegaan het om die basis van die eiseres se vordering te identifiseer as nalatige optrede aan die winkeleienaar se kant, deurdat die “approach in matters of this kind” beheers sou word deur toepassing van die klassieke omskrywing van nalatigheid in Kruger v Coetzee 1966 2 SA 428 (A) 430D–G, wat volledig aangehaal word:
For the purpose of liability culpa arises if –
(a) a diligens paterfamilias in the position of the defendant –
(i) would foresee the reasonable possibility of his conduct injuring another in his person or property and causing him patrimonial loss; and
(ii) would take reasonable steps to guard against such occurrence; and
(b) the defendant failed to take such steps.
Hierdie beroemde formulering van appèlregter Holmes wat oor die laaste 57 jaar in feitlik elke saak waarin nalatigheid ter sprake gekom het, aangehaal en toegepas is, kan tot drie kernvrae gereduseer word. Die eerste twee handel oor die redelike voorsien- en voorkombaarheid deur die redelike persoon van die nadeel wat die verweerder veroorsaak het. Die derde beoog die beoordeling van die verweerder se optrede in die lig van eersgenoemde twee. Drie positiewe antwoorde sal nalatigheid aan die kant van die verweerder bevestig (Scott 2020:555, 2023(1):385, 2023(2):560). In feitlik al die gerapporteerde sake wat oor beserings weens gladde vloere handel, het die beslissings gewentel om die (b)-vereiste, naamlik of die verweerder voldoende stappe gedoen het om redelik voorsien- en voorkombare nadeel te vermy.
Dit is te betreur dat die hof op geen stadium na die onregmatigheidsvereiste vir deliktuele aanspreeklikheid verwys het nie, veral in die lig van die klem wat daar in die nabye verlede selfs van die kant van die Hoogste Hof van Appèl op dié kardinale vereiste gelê is (Stedall v Aspeling 2018 2 SA 75 (HHA) 79C; vgl. Neethling en Potgieter 2009(1):666–7, 2009(2):789). Dié versuim kom egter gereeld voor in die tipe saak onder bespreking. In hul bespreking van Chartaprops verwys Neethling en Potgieter (2009(2):789) daarna as “regrettable”. Dit wil egter nie sê dat die hof daardie vereiste oor die hoof gesien het nie: indien die litigante hul pleitstukke met die klem op die nalatigheidsvereiste geformuleer het, impliseer dit nie noodwendig dat die onregmatigheidsvereiste uit die oog verloor is nie (Scott 2018:910–1; sien verder Van der Merwe en Olivier 1989:111 wat van mening is dat ’n bevinding van skuld ipso iure daarop neerkom dat ’n dader onregmatig opgetree het; vgl. ook Neethling en Potgieter 2020:155–7).
Regter Gamble het vervolgens (par. 29) vermeld dat daar in die onlangse Cenprop-uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl (par. 22; 61B–C) met goedkeuring verwys is na Probst v Pick ’n Pay Retailers (Pty) Ltd 197. Dit is inderdaad die geval, maar al wat daar in dié aanhaling uit die Probst-saak in hierdie verband gesê is, is dat indien die beseerde klant kon bewys dat hy of sy skuldloos was, hy of sy normaalweg daardeur sou aandui dat die oorsaak van sy of haar besering aan die verweerder se nalatigheid te wyte was. Daar is in daardie gedeelte van Probst in der waarheid niks gesê oor wat voldoende getuienis sou uitmaak om nalatigheid aan die kant van ’n winkeleienaar in dergelike omstandighede te bewys nie. Regter Gamble het egter daardie verwysing uit Probst aangewend om die metodiek wat in daardie saak toegepas is en uitvoerig daarin uiteengesit is (197g–198c) op die geskil voor hom toe te pas. In Probst (loc cit) is die spreuk res ipsa loquitur aangewend; dit verteenwoordig nie werklik ’n leerstuk nie, maar is eenvoudig ’n nuttige etiket om ’n gevolg te beskryf (“a convenient label to describe a result”: Leon Bekaert Southern Africa (Pty) Ltd v Rauties Transport (Pty) Ltd 1948 1 SA 814 (W) 817; sien veral Arthur v Bezuidenhout Mieny 1962 2 SA 666 (A) 574). Hierdie spreuk, wat beteken dat die saak vir sigself spreek, beïnvloed nóg die eiser se bewyslas, nóg die verweerder se weerleggingslas. Dit bepaal slegs dat indien die eiser bepaalde feite bewys het, byvoorbeeld om aan te toon dat hy of sy nie nalatig was nie, en verder ook nie in ’n posisie verkeer het om getuienis aan te voer rakende feite wat normaalweg (dog nie noodwendig nie) uitsluitlik aan die verweerder bekend is nie, daar ’n prima facie-afleiding gemaak kan word dat die verweerder nalatig gehandel het (Van der Walt en Midgley 2016:287; Neethling en Potgieter 2020:191–2). Wat van die verweerder verwag word om sodanige afleiding te weerlê, word soos volg in Probst 198b–c verduidelik:
[I]t is enough that the defendant should produce evidence which leads to the inference that the accident which caused harm to the plaintiff was just as consistent with the absence of any negligent act or omission on the part of the defendant as with negligence on his part. The plaintiff will then have failed to discharge his onus, and absolution from the instance will have to be ordered.
In die nabye verlede is daar in veral die regspraak aandag aan die toepassing van hierdie stelreël gegee en by herhaling teen die verkeerde toepassing daarvan gemaan. In Goliath v MEC for Health, Eastern Cape 2015 2 SA 97 (HHA) waar dit die eerste keer in die geval van ’n mediese nalatigheidsaak aangewend is, het appèlregter Ponnan die vraag gestel of die tyd nie ryp was, gegewe die “evolved mystique of the maxim”, om dit oorboord te gooi nie (104H). In die lig hiervan het Van den Heever en Lawrenson (2015:34) hul bespreking van daardie uitspraak soos volg afgesluit:
Lawyers are often accused of using legal tags to befuddle the public and demonstrates (sic) that the law is far too difficult to mere laymen. Some legal phrases seem to befuddle the lawyers themselves. Res ipsa loquitur is a case in point.
Dit is duidelik dat een van die grootste gevare verbonde aan die toepassing van dié spreuk is dat dit ’n hof tot spekulasie kan verlei.
Dit is belangrik om daarop te let dat die feite van Probst met betrekking tot een kardinale aspek identies is aan dié van Chartaprops: die winkeleienaars het hulle in albei gevalle daarop beroep dat die aanstelling van ’n skoonmaakfirma in hul winkels ’n voldoende redelike stap was om voorsienbare nadeel aan winkelgebruikers te verhoed. In eersgenoemde saak het dié verweer misluk, terwyl dit in Chartaprops suksesvol was. In Probst het die hof bevind dat die verweerder-eienaar steeds aanspreeklik sou wees vir enige nalatige versuim van die werknemers van die skoonmaakfirma om hul pligte na behore uit te oefen, asook dat hulle as winkeleienaars self nagelaat het om voorsiening te maak vir die sistematiese nagaan van die winkelvloere met redelike tussenposes. Die effek daarvan was dat gestorte kookolie byvoorbeeld so lank as ses ure op die vloer kon bly sonder om opgeruim te word. Hierdie uitspraak is ’n goeie voorbeeld van die heersende regsposisie voor die uitspraak in Chartaprops in 2009, waar winkeleienaars eintlik middellik aanspreeklik gehou is vir die delikte van onafhanklike kontrakteurs wat deur hulle aangestel is (sien par. 1 ante).
Sonder om verder op hierdie tema voort te borduur, het die hof dit goed gedink om dadelik te wys op die verskil tussen die feite en ratio decidendi van die Cenprop- en Chartaprops-saak. Die verskil het daarop neergekom dat die geslaagde verweer in laasgenoemde saak, te wete dat daar ’n skoonmaakfirma aangestel is om stortings op deurlopende basis te monitor en op te ruim nie op die feite in eersgenoemde toepaslik was nie. Die rede daarvoor was dat die verweerder-eienaar in eersgenoemde saak geen stappe gedoen het om redelik voorsienbare nadeel wat die gevolg was van die aanwesigheid van ’n permanente gevaartoestand (nie ’n toevallige stortsel nie) op die perseel (wat teweeggebring is deur die vloerteëls wat gedurende reënbuie altyd nat en glad was) die hoof te bied nie (parr. 30–1). Regter Gamble het hierdie gedeelte van sy uitspraak afgesluit deur te verklaar dat die Chartaprops-uitspraak vir sy doeleindes van toepassing is (par. 31).
3.3 Herformulering van die Chartaprops-verweer
Regter Gamble het geen poging aangewend om sy eie beskrywing van die Chartaprops-verweer te verskaf nie, maar bloot daarby berus om vier paragrawe uit die Cenprop-beslissing aan te haal (parr. 24–7, 61E–63A) waarin waarnemende appèlregter Molefe eers sy eie formulering van ’n gedeelte van die verweer verskaf het en dit toe afgesluit het (par. 27, 62D–63A) met ’n lang aanhaling uit die Chartaprops-uitspraak (parr. 45–6 en 48 van daardie uitspraak). In werklikheid was hierdie dus nie ’n herformulering (“restatement”) van die verweer soos dié term meestal in die regsgeleerdheid aangewend word nie – naamlik “another statement that reflects it [the original], usually in a slightly different form” (vgl. Collins English Dictionary sv “restatement”). Die inhoud en aard van hierdie verweer is hier bo uiteengesit (par. 1 ante).
3.4 Het Pick n Pay die Chartaprops-verweer bewys?
Regter Gamble het ten aanvang die kardinale regsvraag soos volg geformuleer:
Given the alternative allegations made in its plea, it is apparent that Pick ’n Pay seeks to rely on the ratio of the majority judgment of the SCA in Chartaprops. The question that then arises for decision is whether, having taken what it alleges are reasonable steps to engage the services of an independent cleaning contractor in the form of Bluedot, Pick ’n Pay can now avoid liability for the plaintiff’s alleged injuries?
Die kernvraag waaroor die hof moes beslis was derhalwe of P se aanstelling van B om die vloere van sy perseel skoon te hou, neergekom het op redelike stappe wat die diligens paterfamilias in P se plek sou gedoen het, al dan nie; dit kom daarop neer dat die hof moes oorweeg of daar aan die nalatigheidsvereiste gestel in stappe (a)(ii) en (b) van die toets soos geformuleer in Kruger v Coetzee voldoen is (sien par. 3.2 ante).
Ten eerste het die hof, steunend op Probst, korte mette gemaak met P se eerste verweer dat W se beserings uitsluitlik aan haar eie nalatige optrede toegeskryf kon word. Dit was nooit gedurende kruisondervraging aan haar gestel nie (par. 34) en daar is ook bevind dat die rede waarom sy gegly het nie aan haar haas toegeskryf kon word nie, dog eenvoudig omdat sy op ’n gladde deel van die vloer waarop vloeistof gestort het, getrap en gegly het (par. 35).
Vervolgens het die hof hom gewend tot beoordeling van P se beroep op die Chartaprops-verweer deur onmiddellik oor te gaan tot die toepassing van die res ipsa loquitur-spreuk soos geskets in die lang aanhaling uit Probst in par. 29. Daar is sonder meer bevind dat daar ’n afleiding gemaak kan word dat die verweerder nalatig was en daar derhalwe ’n verpligting op hom gerus het om die afleiding te weerlê (par. 36). Weer eens, met ’n beroep op Probst, het regter Gamble verklaar dat ’n kernpunt om te bepaal of die verweerder hierdie prima facie-afleiding weerlê het, die vraag was hoe lank die stortsel op die vloer gelê het voordat die eiseres daarop gegly en geval het (ibid).
Die res van hierdie gedeelte van die uitspraak is dan ook gewy aan ’n ontleding van die getuienis. S, die kliëntebestuurder, se getuienis is oor die algemeen onbevredigend bevind (parr. 37–42). S het onder andere gewag gemaak van ene Ronald, ’n opsiener wat veronderstel was om die werksaamhede van die skoonmakers te monitor, dog geen eksemplare van laasgenoemde se verslae was vir die hof beskikbaar nie (par. 27). Verder was dit duidelik dat S geen benul gehad het van hoe lank die stortsel op die vloer gelê het nie en dat die voorvalverslag wat sy na die tyd opgestel het ook nie akkuraat was nie (parr. 38–41). Verder het die hof die mening uitgespreek dat die verweerder vir J, die bevoorrader wat in W se teenwoordigheid was toe sy geval het, as getuie sou geroep het indien hy sou kon bevestig dat die stortsel slegs kort voor die gewraakte voorval op die vloer beland het en sodoende aan die vereistes sou voldoen wat in Probst gestel is om die prima facie-afleiding van nalatigheid aan P se kant te weerlê (par. 43). Ook die getuienis van N, die skoonmaakster in diens van B wat die gedeelte waarin W geval het skoongemaak het, het volgens die hof in hierdie opsig geen bydrae gemaak nie (parr. 45–6). Uiteindelik het regter Gamble beslis dat P se gebrekkige getuienis die afleiding regverdig dat die stortsel ’n geruime tyd op die vloer was toe W daarop gegly het en dat P nagelaat het om te sorg dat B dit spoedig verwyder (parr. 44, 47).
Wat die Chartaprops-verweer in die besonder betref, laat die hof hom soos volg uit:
It is no answer, in the circumstances, for Pick ’n Pay to say that it had appointed an independent contractor to clean its floors and that it has thus taken all reasonable steps to ensure the safety of its customers. The facts show that Bluedot did not clean up the spillage which caused the plaintiff’s fall for an appreciable period of time and had Pick ’n Pay complied with its legal duty of care towards its customers, its staff would have detected the spillage, alerted the cleaners to the potential hazard and seen to it that they cleaned up the mess before the plaintiff trod on it. ... In my considered view, then, Pick ’n Pay has not adduced sufficient evidence to rebut the prima facie case of negligence put up by the plaintiff. In the circumstances, the plaintiff’s fall was occasioned by the negligence of Pick ’n Pay’s employees and she is thus entitled to be fully compensated by Pick ’n Pay for such damages as she may prove in the future. (parr. 48–9)
Dit is so duidelik soos daglig dat die hof in geen stadium die kern van die Chartaprops-verweer aangespreek het nie, te wete dat ’n uitbesteder van werk in die normale gang van sake nie vir die delikte van die werknemers van die onafhanklike kontrakteur aanspreeklik is nie. Om die waarheid te sê, die hof het in hierdie gedeelte van sy uitspraak totaal versuim om hoegenaamd by name na Chartaprops te verwys en in werklikheid die uitspraak in Probst gevolg, want dit is duidelik dat B se werknemers se nalatige versuim die causa causans van W se beserings was (vgl. Probst 200). Soos hier bo verduidelik (par. 1 ante), bestaan die kern van die Chartaprops-verweer, luidens die uitdruklike stelling van appèlregter Ponnan, daarin dat ’n winkeleienaar soos P se verpligting om toe te sien dat die winkelvloere veilig is, nie beter nagekom kan word nie as deur die aanstelling van ’n onafhanklike kontrakteur wat skoonmaakdienste verrig. Daardie regter het daarbenewens tereg daarop gewys dat weinig werksaamhede uitbestee kan word wat nie gevaar vir andere inhou tensy toepaslike voorsorgmaatreëls getref sou word nie. Daar is egter geen rede om ’n uitbesteder dan aanspreeklik te hou nie, want indien dit sou gebeur sal die erkende verskil tussen werknemer en onafhanklike kontrakteur vir deliktuele aanspreeklikheidsdoeleindes uit ons reg verdwyn. In die toekoms sal howe verplig wees “[to decide the matter] on the basis that the damage complained of was caused solely by the wrongful act or omission of the independent contractor ...or its employees” (285D–E van Chartaprops; sien verder par. 1 ante). In die saak onder bespreking is die versuim van B se werknemers nie eens getoets aan die vereistes vir deliktuele aanspreeklikheid nie.
Indien ’n mens hierdie uitspraak met die Chartaprops-beslissing wil versoen, sal dit beteken dat die stappe wat Chartaprops uit eie beweging ter beveiliging van die vloere gedoen het – soos gereelde vloerinspeksies deur toesigpersoneel – as verpligte bykomende stappe geïnterpreteer moet word waaraan ’n uitbesteder sal moet voldoen om aanspreeklikheid weens nalatigheid vry te spring. Soos egter hier bo betoog, het appèlregter Ponnan in alle waarskynlikheid slegs opgemerk dat die verweerder meer gedoen het as wat regtens van hom verwag is (285F van daardie uitspraak; par. 1 ante). Die korrekte benadering tot die toepassing van die Chartaprops-verweer in die saak onder bespreking sou dan wees dat die blote aanstelling van B alreeds voldoende bewys lewer dat die prima facie-afleiding van nalatigheid aan P se kant weerlê is, indien ’n mens die Probst-benadering sou wou volg. Aan die ander kant wil dit egter voorkom of die Chartaprops-verweer volgens my voorgestelde interpretasie ’n beroep op die res ipsa loquitur-metodiek uitskakel, soos onder meer blyk uit die uitspraak van appèlregter Mlambo in Checkers Supermarket v Lindsay 2009 4 SA 459 (HHA) wat vyf maande na Chartaprops gelewer is. In daardie saak het die eiseres ook op ’n oliekol in die verweerder se winkelperseel gegly en uiteindelik in haar aksie geslaag. Ofskoon die eiser hier wel skoonmaakdienste aan ’n onafhanklike kontrakteur uitbestee het, was dié se dienste totaal ontoereikend. Daar is egter hoegenaamd geen kennis geneem van die Chartaprops-verweer nie, dog wel van die algemene benadering in Probst dat ’n winkeleienaar oor ’n stelsel moet beskik om vloere skoon en veilig te hou. Die algemene benadering soos in Probst uiteengesit is derhalwe gevolg. (Die uitspraak in Chartaprops was teen dié tyd duidelik nog nie aan appèlregter Mlambo beskikbaar nie, omdat dit in dieselfde maanduitgawe van die Suid-Afrikaanse Hofverslae as die Checkers-saak gepubliseer is.) Appèlregter Mlambo het hom naamlik soos volg uitgelaat:
Properly considered the res ipsa loquitur doctrine is irrelevant in this matter due to the issue that called for determination. The High Court, quite properly, posed the correct question after considering the evidence led: whether the appellant “had a proper system in place to deal with promptitude with spillages’” It was thus unnecessary to engage in any discussion about the res ipsa loquitur doctrine.
Dit is veelseggend dat daar reeds so vroeg as Monteoli v Woolworths (Pty) Ltd 2000 4 SA 735, 737 sterk kritiek uitgespreek is teen die Probst-uitspraak. Regter Willis verwoord dit soos volg verwoord:
It is not clear whether the learned judge in that case ... was applying a maxim (res ipsa loquitur) or making a rule of policy. Furthermore, in my opinion, the views expressed in that case at 197g–189c go too far. The application thereof may be apposite when considering absolution from the instance at the close of the plaintiff’s case. This I need not decide. It must, however, be offensive to policy to find negligence on the part of a defendant by the artificial application of a maxim at the end of a trial when the defendant has given evidence. This is particularly the case where common sense indicates that, upon an overview of the facts as a whole, there probably was none.
(Sien verder die Goliath-uitspraak 104G te dien effekte; par. 3.2 ante.) Regter Willis het daarop gewys dat die bewyslas in sake van hierdie aard steeds op die eiser rus om die nalatigheid van die verweerder se optrede te bewys, maar dat dit in gevalle waar die eiser nie in ’n posisie verkeer om getuienis oor bepaalde aspekte te lewer nie van ’n ligter aard kan wees waar die verweerder oor besondere kennis aangaande die kardinale feite beskik. Daarna het hy daarop gewys dat die blote feit dat daar drie ertjies op die vloer gelê het waarop die eiseres geval het op sigself geen afleiding van nalatigheid regverdig nie (742I). Dieselfde sou van die olie in die Probst-saak en die onbekende vloeistof in die saak onder bespreking gesê kon word.
Dit blyk verder duidelik dat P in die geval onder bespreking wel deeglik ’n stelsel ingestel het om stortings op die winkelvloer binne ’n redelike tyd op te spoor en op te ruim deur die uitbesteding van skoonmaakwerk aan B, en dat dit ’n nakoming is van die vereiste van redelike stappe doen ingevolge die Chartaprops-verweer. Soos vroeër vermeld, sal hierdie verweer slegs uitgeskakel word indien P: (a) nalatig was deur B as ’n onbevoegde kontrakteur aan te stel; (b) P sodanig ingemeng het met B se werksaamhede dat dit tot die nadeel aanleiding gegee het; (c) P die bepaalde onregmatige handeling of versuim van B se werknemer(s) gemagtig het; of (d) sodanige handeling of versuim bekragtig het (sien par. 1 ante). Dit blyk nie uit die hof se evaluasie van die getuienis wat namens P gelewer is dat enige van hierdie diskwalifiserende omstandighede hoegenaamd teenwoordig was nie. Afgesien hiervan het dit uit S se getuienis geblyk dat P tog wel ’n bykomende (streng gesproke onnodige) stap gedoen het om winkelklante te beskerm, te wete die aanstelling van ’n toesighouer, ene Ronald, om die werksaamhede van B se personeel in die winkel te monitor. Die hof het dié brokkie getuienis egter as waardeloos afgemaak, omdat konkrete bewysstukke van Ronald se verslae (“work sheets”) nie voorgelê is nie (par. 37). Dié bevinding doen egter nie afbreuk aan die feit nie dat daar wel aan P se kant in werklikheid ’n omvangryker stelsel in plek was as deur die Chartaprops-verweer vereis. Hoe dit ook al sy, moet die volgende waarskuwing van appèlregter Scott in Pretoria City Council v De Jager 1997 2 SA 46 (A) 55H–I, 63I–4A steeds in gedagte gehou word: die vraag of stappe wat daadwerklik gedoen is om redelik voorsienbare nadeel te voorkom redelik is, al dan nie, is afhanklik van ’n oorweging van al die omringende feite en omstandighede van die geval. Dit beteken dat die blote feit dat die voorsienbare nadeel in werklikheid ingetree het, nie daarop dui dat die voorkomende stappe wat die verweerder gedoen het noodwendig onredelik was nie en dat die toepaslike ondersoek in finale instansie ’n waarde-oordeel behels.
3.5 Die hof se gevolgtrekking
Wat B se posisie betref, het die hof eenvoudig aanvaar dat die uitbestedingskontrak tussen P en B waarin daar in klousule 12 voorsiening gemaak word dat B aanspreeklik sal wees om P skadeloos te stel vir enige nadeel gely as gevolg van “the negligence of Bluedot’s employees in the execution of their functions and duties under that agreement” van toepassing is en dat B “is fully liable to indemnify the defendant fully in accordance with the relevant provisions of its ‘Cleaning Service Agreement’ with the defendant ...” (par. C van die bevel wat ten slotte, sonder ’n paragraafnommer, uitgereik is). Dié bevinding is, om dit sagkens te stel, niks minder as bisar nie! Die geskrewe vrywaringsbeding is kennelik slegs van toepassing in die geval van ’n bevinding van nalatige optrede aan die kant van B se werknemers. Dit is ’n raaisel hoe die hof hierdie beding sommer so sito-sito op die gewaande nalatige optrede van P se werknemers van toepassing kon maak deur bloot te verklaar dat “I did not understand Mr. Jansen van Vuuren [B se advokaat] to contend that the indemnity should not apply in the event that it was held that Pick ’n Pay is liable to the plaintiff for damages (sic) arising from her fall on that day” (par. 50). Die afleiding wat die hof in hierdie verband gemaak het druis in werklikheid in teen die letter van klousule 12 van P en B se kontrak. Tensy P sy advokaat opdrag gegee het om die besondere beding te verander – en ’n mens kan jou wel indink dat dit hoogs onwaarskynlik sou wees – is hierdie bevinding van die hof duidelik per incuriam.
4. Gevolgtrekking
Die optrede van B se skoonmaakpersoneel as die moontlike oorsaak van W se beserings is glad nie deur die hof oorweeg nie. Die feite dui onteenseglik daarop dat N, wat kort voor die voorval die betrokke gang skoongevee het, versuim het om die nat kol op te ruim. Sou die hof aandag hieraan gegee het en bevind het dat die versuim van B se werknemer nalatig was, sou daar ’n bevinding moes volg dat B en P mededaders was wat solidêr teenoor W aanspreeklik is ingevolge die toepaslike bepalings van artikel 2 van die Wet op Verdeling van Skadevergoeding 34 van 1956. Die hof se benadering in hierdie verband is waarskynlik beïnvloed deur sy foutiewe aanname dat B ex contractu teenoor P verbind was om laasgenoemde te vrywaar. Dit is ironies dat die praktiese effek hiervan dus dieselfde was asof P aanspreeklikheid sou vryspring vanweë ’n korrekte aanwending van die Chartaprops-verweer ingevolge waarvan ’n onafhanklike kontrakteur, en nie die uitbesteder nie, aanspreeklik gehou word vir die delikte van sy werknemers.
Daar bestaan min twyfel dat regter Gamble die Chartaprops-verweer nie korrek toegepas het nie en hom laat lei het deur die uitspraak in Probst waarin die vroeëre benadering van ons howe tot “gly-en-val”-gevalle weerspieël word (Heyman 2021:1). Hierdie uitspraak sal beslis in die kraam pas van inkopiegangers wat daagliks supermarkte besoek, maar is slegte nuus vir winkeleienaars. Dit is ook in ooreenstemming met die mening van Midgley en Leinius (2002:123), wat hul bespreking van die Monteoli-saak waarin die winkeleienaar geseëvier het, soos volg afsluit:
Shops should be encouraged to enhance consumer safety, but the impact of the majority view will be not to do so. In our view, when balancing the four policy considerations influencing the assessment of negligence – the degree of risk created, the gravity of the consequences, the utility of the conduct and the burden of eliminating the risk ... – it is better to err on the side of the consumer. In any event, shops are in a far better position to deal with the loss allocation in such instances for, unlike the consumers, they are in a position to insure against such events.
Gelykluidend is die kritiek van Heyman (2021:1) op Chartaprops:
It is submitted that the correct policy is the one Nugent JA articulated on behalf of the minority in Chartaprops: an owner or manager of a shopping mall who invites the public to frequent that mall will be expected to ensure that the floors of the premises are reasonably safe. The reason is that a visitor to the mall is entirely reliant upon the person in control of the premises to ensure that reasonable precautions are taken.
Soos vroeër aangetoon (parr. 1 en 3.4 in fine ante) is daar egter wel omstandighede waar die prinsipaal aanspreeklik gehou kan word vir die onafhanklike kontrakteur se delikte. Dit behoort die vermelde besware teen Chartaprops in ’n ruim mate te besweer. Daar kan egter nie ontken word nie dat die uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl in Chartaprops aan winkeleienaars en -bestuurders ’n besondere bruikbare verweer verskaf het wat buitendien in ooreenstemming is met die gesonde beginsel dat ’n prinsipaal nie aanspreeklik is vir die delikte van die werknemers van ’n onafhanklike kontrakteur wat hy of sy aangestel het nie.
In finale instansie is dit te betreur dat regter Gamble se uitspraak twyfel kan werp oor die korrekte wyse waarop die Chartaprops-verweer aangewend moet word, veral in die lig van Checkers Supermarket v Lindsay (sien par. 3.4 ante) waarin die uitslag van die Hoogste Hof van Appèl se uitspraak ooreenstemming vertoon met dié van die saak onder bespreking. Die taak van ’n prokureur wat voortaan regsadvies moet verskaf aan die slagoffer van ’n “gly-en-val”-voorval as gevolg van ’n blote stortsel, is beslis onbenydenswaardig!
Bibliografie
Collins English Dictionary. https://www.collinsdictionary.com/dictionary/english/restatement (geraadpleeg 25 September 2023).
Heyman, I. 2021. Delictual liability of an owner and/or manager in a “spillage” case. https://mphela.co.za/delictual-liability-for-an-owner-and-or-manager-in-a-spillage-case (geraadpleeg 18 September 2023).
Loubser, M. en R. Midgley. 2017. The law of delict in South Africa. 3de uitgawe. Kaapstad: Oxford University Press.
Midgley, R. en D. Leinius. 2002. Supermarkets and customer safety. Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 65(1):119–23.
Neethling, J. 2022. Vonnisbespreking: Deliktuele aanspreeklikheid weens ’n gladde winkelvloer – Holzhausen v Cenprop Real Estate (Pty) Ltd 2021 4 SA 221 (WKK). LitNet Akademies (Regte), 19(1):577–85.
Neethling, J. en J.M. Potgieter. 2009(1). Delictual liability of employer (mandator) for damage caused by independent contractor. Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 72(4):661–7.
—. 2009(2). The law of delict. Annual Survey of South African Law, 786–90.
—. 2020. Law of delict. 8ste uitgawe. Durban: LexisNexis.
Scott, J. 2009. The possibility of a principal’s liability for the delict of an independent contractor. Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 72(4):667–77.
—. 2018. ’n Resente toepassing van die nuwe onregmatigheidstoets vir deliktuele aanspreeklikheid – gewens of afkeurenswaardig? Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 906–26.
—. 2020. Klantveiligheid in supermarkte: Caveant winkeleienaars. Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 547–62.
—. 2023(1). Slippery floors: a pain in the neck for shopping mall owners and managers. Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 86(3):383–93.
—. 2023(2). Liability for an omission in terms of section 60(1)(a) of the South African Schools Act – a comfortable victory against the state. Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 547–64.
Van der Walt, J.C. en J.R. Midgley. 2016. Delict. Law of South Africa volume 15. 3de uitgawe. Durban: LexisNexis.
Van den Heever, P. en N. Lawrenson. 2015. Inference of negligence – is it time to jettison the maxim res ipsa loquitur? De Rebus, July, 32–5.
Williams, G.L. 1956. Liability for independent contractors. Cambridge Law Journal, 14(2):180–98.
- Hierdie artikel se fokusprent is geskep deur Eduardo Soares en is verkry op Unsplash.
LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.