|
Abstract
Bully gets a beating: Should the school have come to the rescue?
In Gora the court had to decide whether a school’s general duty to protect its pupils applied to an instance where one of its learners had been assaulted by a classmate in circumstances where the class teacher had been temporarily absent. The incident in question occurred after the 15-year-old assailant smashed the plaintiff’s glasses with his fist, causing him serious eye damage, after the latter had badgered the former for some time.
The court experienced no difficulty in finding that the school’s failure to arrange proper supervision in the boys’ class at the crucial moment constituted a wrongful omission. This was done based on a concession by the defendant, absolving the court from providing an accurate explanation for its finding of wrongfulness. It is suggested that the most feasible justification for this decision is to be found in the rules dealing with actionable omissions, more particularly those applying to one of the stereotyped instances of breach of a legal duty by a defendant to act positively to prevent harm, namely the school’s failure to protect its learners on potentially dangerous premises under its control.
The crux of the court’s ratio decidendi is to be found in its treatment of the element of negligence. After quoting the classic negligence test formulated in the leading case of Kruger v Coetzee 1966 2 SA 428 (A) the court proceeded to apply it to the facts of the case, in the process providing a survey of four judgments on similar facts to illustrate how the reasonable foreseeability and preventability tier of the negligence test, as well as the question whether the principal defendant had failed to take reasonable steps to prevent the plaintiff’s harm, should be approached. Unfortunately the basis of the court’s finding absolving the defendants from negligence is not clear at all: Although it initially found that the harm in question was not reasonably preventable by the school authorities (application of the second and third tiers of the negligence test), the court ultimately decided that the harm was in fact not reasonably foreseeable (application of the first stage of the test). Logically speaking, this negative answer to the foreseeability question rendered the court’s prior decisions on the second and third tiers of the negligence test nugatory. Be that as it may, the judgment provides an interesting example of the application of some of the factors applicable to the reasonable preventability stage of the negligence test, in particular the nature and extent of the risk inherent in the defendant’s conduct and the cost and difficulty attached to precautionary measures. Finally, it would appear to follow the normal route of establishing the presence or absence of negligence by means of the normal diligens paterfamilias test whenever the conduct of a teacher has caused harm to a pupil under his or her charge, thereby not applying the criterion of a reasonable teacher (reasonable expert) mooted by most commentators as being more appropriate under similar circumstances.
Keywords: delict; duty to protect learners; education; negligence; wrongfulness
Trefwoorde: beskermingsplig teenoor skoliere; delik; nalatigheid; onderwys; onregmatigheid
1. Inleiding
Hoe meer dinge verander, hoe meer bly hulle dieselfde. Hierdie ou lewenswaarheid blyk ook op die gedrag van hedendaagse hoërskoolleerlinge van toepassing te wees. Die idilliese ou tonele van skoolklaskamers en -speelgronde waar ondeunde, lewenslustige seuns hul verskille menigmaal bygelê het deur mekaar kaalvuis by te dam – so vreemd aan die moderne opvoedkundige etos – blyk in werklikheid nie heeltemal die wyk te geneem het nie, ten minste nie indien die feite van die onderhawige saak in oënskou geneem word nie. Anders as in vervloë dae, wil dit egter voorkom of die gevolge van ’n fisieke aanranding deesdae ernstiger gevolge het: destyds sou die letsels van ’n fisieke botsing tussen twee gesonde seuns op hul skoolterrein nouliks die onderwerp van litigasie gevorm het; trouens, uit eie ondervinding, vele dekades gelede opgedoen aan skole in die destydse Oranje-Vrystaat, Kaapland en Transvaal, kan die skrywer hiervan verklaar dat vroeëre geswore vyande na ’n behoorlike wedersydse loesing dikwels, ten spyte van blou oë, ’n stukkende gebit, of ’n gebreekte neus boesemvriende word. Dat die reg van so iets kennis sou neem, was vir gewone kinders, hul ouers en die betrokke skool nouliks denkbaar: die ergste gevolg was waarskynlik ’n pak slae in die hoof se kantoor, ’n paar houe van Pa op die sitvlak, of ’n ernstige vermaning van Ma dat Boetie se barbaarse gedrag skande oor die huis gebring het.
In ons huidige verligte era word alle vorme van geweld egter van staatsweë met so ’n mate van afkeer bejeën dat selfs matige ouerlike lyfstraf onlangs in die ban gedoen is (Freedom of Religion South Africa v Minister of Justice and Constitutional Development [2019] ZACC 34). Indien die dagpers enigsins rigtinggewend sou wees, vervul die huidige vlaag van gesins- en geslagsgeweld regdenkende lede van die gemeenskap met soveel weersin dat dit onwaarskynlik is dat daar enigsins ’n gesindheidsverandering oor die laakbaarheid van enige vorm van fisieke geweldstoevoeging te wagte kan wees. Juis daarom behoort diegene wat deur enige ongelukkige afloop van geweldstoediening op die skoolterrein geraak kan word, besonder waaksaam te wees oor die moontlike regsgevolge daarvan, ten einde leerders te sensitiseer oor die risiko’s wat onverantwoordelike gedrag kan inhou, asook om voorsorgmaatreëls teen moontlike regsaanspreeklikheid te tref indien nadeel daaruit sou voortspruit. Die gedeeltes van ons reg wat in hierdie verband aan die orde kan kom, is die delikte-, kontrakte-, onderwys- en strafreg. Laasgenoemde is vir doeleindes van ons bespreking irrelevant, terwyl die onderwysreg, naas velerlei afdelings van die privaat- en publiekreg, komponente van sowel die delikte- as die kontraktereg bevat. Vir doeleindes van hierdie bespreking geniet slegs die delikteregsaspekte aandag.
Die onderwyspersoneel en bestuursliggame van skole behoort in die besonder daarop bedag te wees dat aanspreeklikheid kan volg indien daar nagelaat sou word om behoorlik na die veiligheid van skoliere om te sien. In die gewone loop van sake sal ’n skool se versuim om veiligheidsmaatreëls nougeset na te kom ’n hof maklik tot die gevolgtrekking laat kom dat sodanige nalate op die skending van ’n regsplig teenoor leerders neergekom het en as sodanig onregmatig was (soos in die onderhawige beslissing), ofskoon ander faktore ook ’n rol sou kon speel ter bepaling van ’n skool se regspligte teenoor sy skoliere, soos die feit dat daar beheer uitgeoefen word oor potensieel gevaarlike eiendom, die personeel subjektief daarvan bewus was dat nadeel skoliere kon tref en daar ’n besondere verhouding tussen ’n skool en sy skoliere bestaan (Neethling en Potgieter 2015:65 e.v.; Van der Walt en Midgley 2016:147 e.v.; Loubser en Midgley 2017:270 e.v.; Van der Merwe en Olivier 1989:42 e.v. (ofskoon lg. skrywers aanspreeklikheid weens ’n late onder die handelingselement tuisbring); sien verder Pro Tempore Akademie CC v Van der Merwe 2018 1 SA 181 (HHA); Haweka Youth Camp v Byrne 2010 6 SA 83 (HHA) 90I–91B). Soos aanstons duideliker sal blyk, wentel die vraag na skoolaanspreeklikheid in die geval van beserings van skoliere dikwels meer om die nalatigheidsaspek (sien bv. Transvaal Provincial Administration v Coley 1925 AD 24; Rusere v The Jesuit Fathers 1970 4 SA 537 (R); Knouwds v Administrateur Kaap 1981 1 SA 544 (K); Minister of Education v Wynkwart 2004 3 SA 577 (K) 580A–C). Ten einde te bevind dat ’n skool se onregmatige versuim nalatig is, moet daar dan aangetoon word dat die betrokke nadeel wat die skolier gely het, vir die redelike persoon redelikerwys voorsien- en voorkombaar was en dat die skool versuim het om redelike stappe te doen om sodanige nadeel te voorkom (die nalatigheidstoets neergelê in die toonaangewende saak van Kruger v Coetzee 1966 2 SA 428 (A) 430E–G vorm nog steeds die grondslag van enige beoordeling van nalatigheid in ons howe). In hierdie verband behoort daar ook in ag geneem te word dat ons reg groter sorgvuldigheid van die redelike persoon vereis wanneer hy of sy met jong kinders te doen het (Neethling en Potgieter 2015:160–1 en gesag aangehaal in vn. 172), veral in die lig daarvan dat kinders se neiging tot impulsiewe gedrag hulle meer geredelik aan gevaar blootstel (Knouwds 553D–554D; sien verder Neethling en Potgieter 2015:148–51; Loubser en Midgley 2017:169–70; Boberg 1984:355–7).
2. Feite en uitspraak
Die eiser, Lusakhanya Gora (G) en ene Daniel Moore (M), graad 9-leerlinge aan die spogskool Kingswood College in Grahamstad (deesdae Makhanda), was klasgenote. Hul geskiedenisonderwyseres, me. Sullivan (S), het op 12 Februarie 2014 aangekondig dat sy die volgende dag nie vir haar klas sou opdaag nie, maar dat sy reëlings sou tref vir ’n plaasvervanger. Ofskoon S beweer het dat sy ingevolge normale skoolprosedure (die sg. batting procedure) aan mnr. Opperman (O), die direkteur van akademiese studies, kennis van haar voorgenome afwesigheid gegee het, het O beweer dat hy geen sodanige vooraf waarskuwing ontvang het nie en derhalwe nie gesorg het dat ’n plaasvervangende leerkrag die betrokke klas sou waarneem nie. Die gevolg hiervan was dat daar op 13 Februarie ’n algehele gebrek aan toesig bestaan het in die graad 9-geskiedenisklas, waar daar tussen 20 en 30 leerlinge aanwesig was. Ongeveer ’n halfuur nadat die betrokke periode begin het, het G vir M, ’n groentjie aan die skool, begin treiter deur sy pen te gryp en daarmee deur die klas te hardloop. Volgens G se weergawe van die insident wou hy maar net vir M terg en daardeur nader met hom kennis maak, terwyl M beweer het dat G hom al twee weke lank geboelie het. Nadat M vir G vasgekeer het en na bewering met ’n potlood in die hand gesteek het, het G ingestem om M se pen aan hom terug te besorg sodra hulle weer hul plekke ingeneem het. ’n Kort rukkie nadat hulle gaan sit het (G se bank was agter M s’n), het iemand M met ’n potlood in die rug gesteek. M het aanvaar dat dit G se toedoen was, ofskoon G dit later ontken het. Die situasie het toe skielik handuit geruk toe M omdraai en na bewering G vingerwysend toegesnou het: “If you touch me I will kill you.” M het egter ontken dat hy ooit die word “kill” geuiter het, maar toegegee dat hy gedreig het om G te slaan (“hit”) as hy hom weer met die potlood sou steek. Toe G vervolgens M se hand wegstoot, het M hom met die vuis bygedam en sy bril flenters geslaan. Die baie ernstige besering wat G aan sy regteroog opgedoen het, het tot permanente inkorting van sy gesigsvermoë aanleiding gegee (165H–166D).
G het vervolgens ex delicto skadevergoeding gevorder van Kingswood College, asook van die amptelike trustee van die Kingswood College Trust as tweede verweerder en die skoolraad as derde verweerder. M is later as ’n bykomende party tot die geding gevoeg (163E–164A). Die verweerders se uiteindelike toegewing dat daar ’n regsplig op die onderwysers van die skool gerus het om deur positiewe optrede te verhoed dat hul leerlinge as gevolg van enige ongeluk fisieke nadeel ly, het dit vir die hof eenvoudig gemaak om te aanvaar dat die skool se versuim om toesig vir die klas te reël onregmatig was (vgl. 164D). Die kardinale vraag het derhalwe om die nalatigheidskwessie gedraai. In die lig daarvan dat daar dikwels situasies in ’n skool ontstaan waartydens kinders sonder toesig gelaat word en desnieteenstaande slegs twee gevalle van fisieke geweldstoediening oor ’n periode van 12 jaar aangemeld is, asook die feit dat hierdie nie ’n geval was waar jong kinders onder die ouderdom van tien jaar betrokke was nie, maar die dramatis personae albei 15 jaar oud was, kom regter Pickering tot die volgende slotsom (172E):
In my view therefore it was not reasonably foreseeable that an incident such as the present would occur and the conduct of the school employees in leaving the class unattended did not amount to negligence.
Die hof bevind vervolgens dat selfs indien hy sou gefouteer het en die eiser wel nalatigheid aan die kant van die skool bewys het, dit nie aanspreeklikheid tot gevolg sou gehad het nie, weens die bestaan van ’n aanspreeklikheidsuitsluitingsooreenkoms wat G en sy ouers tydens sy toelating met die skool aangegaan het. Die ooreenkoms sou toepaslik wees slegs waar ’n bevinding van nalatigheid gemaak sou word, dog nie indien growwe nalatigheid bevind sou word nie. Die hof beslis egter dat die feite geen afleiding regverdig dat daar enige sprake van growwe nalatigheid aan die skool se kant was nie (172F–173A). Die eiser se vordering is gevolglik van die hand gewys.
3. Kritiese evaluering
3.1 Inleiding
Die geval onder bespreking is nie problematies in die sin dat hier ’n ontwikkeling, aanpassing of verfyning van die grondbeginsels van deliktuele aanspreeklikheid plaasgevind het nie, soos dikwels die geval is wanneer ’n mens te doene kry met aanspreeklikheid vir die veroorsaking van suiwer ekonomiese verlies (sien bv. Country Cloud Trading CC v MEC, Department of Infrastructure Development 2006 3 SA 151 (HHA); Itzikowitz v Absa Bank (Ltd) 2016 4 SA 432 (HHA)), of waar daar ’n gekompliseerde feitestel voorkom wat probleme skep betreffende die bepaling van byvoorbeeld onregmatigheid (soos in Telematrix (Pty) Ltd t/a Matrix Vehicle Tracking v Advertising Standards Authority SA 2006 1 SA 461 (HHA)) of juridiese kousaliteit (soos in Lee v Minister of Correctional Services 2013 2 SA 144 (KH)). Die hof is hier gekonfronteer met ’n feitestel wat nie meer vereis het as die blote toepassing van goedgevestigde, bestaande regsbeginsels nie. Soos welbekend, verskaf die toepassing van duidelik uitgekristalliseerde regsbeginsels egter soms probleme in die praktyk, soos onlangs geblyk het in gevalle van aanspreeklikheid weens nadeel wat huisdiere veroorsaak het (sien veral die volgende twee uitsprake oor die actio de pauperie: Kohl v Grobbelaar (4962/2017) ZAECGHC (22 Mei 2017) en Cloete v Van Meyeren 2019 2 SA 490 (OKP)). Vir regspraktisyns en lede van die publiek is ’n behandeling van uitsprake soos dié wat tans onder bespreking is, meestal van groter belang as ’n esoteriese ontleding van blote regsbeginsels. In die lig hiervan is die bespreking van die Gora-uitspraak oorwegend daarop gemik om ’n praktiese evaluasie te verskaf wat selfs vir onderwysowerhede (wat skoolhoofde, onderwysers en bestuursliggame insluit), asook die ouers en voogde van leerlinge nuttig sal wees.
Die vyf vereistes waaraan daar voldoen moet word ten einde met ’n deliktuele skadevergoedingsvordering te slaag, is goed gevestig (Neethling en Potgieter 2015:4; Van der Merwe en Olivier 1989:24; Loubser en Midgley 2017:25–6): uit die feite blyk voldoening aan die handelings-, kousaliteits- en skadevereistes duidelik. Die hof het hom derhalwe nie eens oor enige van hierdie drie vereistes (of “elemente”) uitgelaat nie. Die tipiese problematiek wat hom in hierdie saak voorgedoen het, is dié rakende die skuldelement – meer bepaald die nalatigheidselement asook dié van moontlike growwe nalatigheid – waaraan die hof die meeste van sy aandag bestee het (169E–173A). Waarskynlik onder die invloed van die onlangse beslissing van die Hoogste Hof van Appèl in Stedall v Aspeling 2018 2 SA 75 (HHA) 79C waarin daarop gewys is dat onregmatigheid ’n “essential and discrete element” van enige delik is en beoordeling daarvan nooit agterweë moet bly nie (vir kommentaar sien Scott 2018:910–12; sien verder Neethling en Potgieter 2018:498–501), het die hof uitdruklik ’n bevinding daaroor gemaak (164D–F).
3.2 Die onregmatigheidselement
Die blote feit dat daar namens die verweerders toegegee is dat die versuim van die skool om toesig vir die graad 9-geskiedenisklas tydens die afwesigheid van die onderwyseres (S) te reël onregmatig was, het die hof nie daarvan weerhou om in die bestaande regspraak steun vir sodanige toegewing te soek nie (164D–E). Die volgende aanhaling uit regter Desai se uitspraak in Minister of Education v Wynkwart 580A–C het luidens regter Pickering ’n voldoende grondslag vir die toegewing verskaf:
It was not in dispute that the respondent’s minor son R was injured at school while under the control and care of the appellants’ employees and it was fairly and properly conceded that teachers owe young children in their care a legal duty to act positively to prevent physical harm being sustained by them through misadventure. It was submitted that in this instance, as in many other delict cases, the real issue is “negligence and causation and not wrongfulness”.
Eerstens verdien die feit dat die saak onder bespreking duidelik van die Wynkwart- beslissing onderskei kan word, kommentaar: die kind in daardie saak was maar nege jaar oud, terwyl die twee seuns in die Gora-saak albei vyftienjariges was. Dit behoef geen betoog nie dat skoolowerhede se sorgsaamheidsplig veel groter sal wees teenoor negejariges as teenoor vyftienjariges. Die toepaslikheid van die Wynkwart-beslissing kom enigsins hierdeur in die gedrang. ’n Verdere noemenswaardige feit is dat daar in laasvermelde saak op geen stadium melding van die onregmatigheidsvereiste gemaak is nie en dit op sigwaarde wil voorkom of regter Desai se bovermelde uitlatings slegs op die nalatigheidselement van toepassing is. Jare gelede, toe dit nog hoogmode was om nalatigheid as ’n verbreking van die sogenaamde “duty to take care” te tipeer (sien bv. Cape Town Municipality v Paine 1923 AD 207, 216, 223; McKerron1970:26 e.v.), sou die eerste vraag na die bestaan van die “duty” (regsplig) gewees het en ’n positiewe beantwoording daarvan tot die stel van die tweede vraag, naamlik of sodanige regsplig verbreek is, gelei het (wat met ’n ompad dieselfde resultaat bereik het as die redelike- person-toets vir nalatigheid (Van der Merwe en Olivier 1989:129 e.v.). Sou regter Desai derhalwe bedoel het om hom uitsluitlik oor nalatigheid uit te laat, getuig sy benadering van die toepassing van ’n uitgediende metodiek om die aan- of afwesigheid van daardie delikselement te bepaal en, wat meer is, sou regter Pickering se beroep op die Wynkwart-beslissing as gesag vir sy beslissing oor onregmatigheid ontoepaslik wees. Dat regter Desai hom egter wel deeglik met die onregmatigheidselement bemoei het, blyk uit sy verwysing (580B) na BOE Bank Ltd v Ries 2002 2 SA 39 (HHA), waar appèlregter Schutz hom oor die problematiek rakende die onregmatigheidselement uitgelaat het, ofskoon hy in die verbygang ’n mening uitgespreek het wat tans in die lig van die Stedall-beslissing nie meer navolging verdien nie, naamlik dat “[i]n most delict cases that come before the courts the element of wrongfulness is uncontentious and may not deserve a mention, the only real issues being negligence and causation” (46H). Verder blyk dit duidelik dat die Hoogste Hof van Appèl hierdie einste aanhaling van regter Desai later wel as toepaslik op die onregmatigheidselement beskou het, waar appèlregter Brand hom in die Haweka Youth Camp-beslissing (91H–J) uitdruklik daarop beroep het om tot ’n gevolgtrekking te kom dat die verweerder in daardie saak onregmatig opgetree het, voordat hy sy ondersoek na nalatigheid begin het (vir ’n kritiese bespreking sien Maithufi 2012:139–45). Dit verduidelik meteen ook waarom regter Pickering sy beslissing rakende onregmatigheid met ’n verwysing na hierdie gedeelte van die Haweka Youth Camp-uitspraak afgesluit het (164F).
Dit is verblydend dat die hof in sy hantering van die onregmatigheidsaspek nie sy toevlug geneem het tot die “nuwe” onregmatigheidstoets wat sedert die Telematrix-beslissing telkemale in ons regspraak opduik nie, dog hom op gevestigde regsbeginsels beroep het ten einde te bepaal of daar ’n regsplig op die verweerders gerus het om positief op te tree ten einde die eiser se veiligheid te verseker. Die stereotiepe faktor wat hier daarop gedui het dat daar wel ’n regsplig op die verweerders gerus het om positiewe stappe ter beveiliging van kinders te doen, is die feit dat hulle beheer uitgeoefen het oor ’n potensieel gevaarlike situasie, saak of persoon – in hierdie geval die skoolterrein waarop ’n veeltal skoliere teenwoordig was (sien hieroor veral Neethling en Potgieter 2015:65–8; Loubser en Midgley 2017:265–6; Van der Walt en Midgley 2016:147). ’n Verdere faktor wat moontlik daarop sou kon dui dat daar ’n regsplig op die verweerders gerus het om die eiser deur middel van positiewe stappe teen besering te beveilig, is die feit dat daar ’n besondere verhouding tussen ’n leerling en skool bestaan wat laasgenoemde onder sodanige verpligting stel (sien veral Neethling en Potgieter 2015:72; Loubser en Midgley 2017:266–7; Van der Walt en Midgley 2016:147; Boberg 1984:212). Die regspraak bied egter geen voorbeelde waar hierdie faktor in die onderhawige tipe geval aanwending gevind het nie.
Die enigste punt van kritiek wat teen die hof se toepassing van die regspligbenadering ter beoordeling van die onregmatigheid van ’n late geopper kan word, is dat daar versuim is om uitdruklik te vermeld dat onregmatigheid fundamenteel in die verbreking van ’n regsplig bestaan. Dit is inderdaad merkwaardig dat die regters in die saak onder bespreking, asook in die aangehaalde beslissings van Wynkwart en Haweka Youth Camp, deurgaans nagelaat het om hierdie logiese vereiste te vermeld. Dit is waarskynlik daaraan toe te skryf dat hul aandag primêr daarop toegespits was om te bepaal of daar wel ’n regsplig op die verweerder(s) vis-à-vis die eiser gerus het. ’n Positiewe bevinding van die bestaan van sodanige plig is egter maar die eerste stap ter bepaling van onregmatigheid en beteken nie dat die verweerder onregmatig opgetree het nie; alleen ’n verbreking van sodanige plig dui op die onregmatigheid van die verweerder se gedrag (late), welke feit vir doeleindes van teoretiese suiwerheid uitdruklik vermeld behoort te word (vgl. Neethling en Potgieter 2015:61).
3.3 Die nalatigheidselement
Soos in menige uitspraak waarin ’n hof moes bepaal of ’n dader op nalatige wyse nadeel veroorsaak het, neem regter Pickering die beskrywing van hierdie element wat sedert die sleuteluitspraak van appèlregter Holmes in Kruger v Coetzee 430E algemene aanvaarding geniet, as basis vir sy uiteensetting. Hiervolgens tref die nalatigheidsverwyt ’n dader indien die redelike persoon in sy of haar posisie die ingetrede nadeel redelikerwys sou voorsien het en redelike stappe sou gedoen het om dit te voorkom en die dader versuim het om sodanige stappe te doen. Indien ’n mens daardie hof se opmerking in ag neem dat “[t]his has been constantly stated by this Court for some 50 years” (430F), kom dit daarop neer dat hierdie beskrywing van nalatigheid al 103 jaar lank in ons reg feitlik deurgaans geld. Neethling en Potgieter (2015:144 en gewysdes in vn. 68 aangehaal) wys daarop dat enkele afwykende regterlike uitsprake tot die teendeel geen afbreuk gedoen het aan die status van Kruger v Coetzee as gesag vir die omskrywing van nalatigheid nie. Hier is dus een gedeelte van ons deliktereg (en strafreg) waaroor daar ’n buitengewone mate van regsekerheid bestaan. Die bestaande regspraak insake nalatigheid handel oorwegend oor die toepassing van hierdie uiteensetting op die feite van ’n besondere geval en nie oor die omskrywing van die nalatigheidselement nie.
Die hof verskaf vervolgens ’n oorsig van uitsprake waarin die nalatigheidstoets in soortgelyke gevalle toegepas is. Die eerste hiervan was Minister of Education v Wynkwart. Die feite was kortliks soos volg: ’n Negejarige leerling is ernstig beseer toe hy ten spyte van herhaaldelike waarskuwings oor ’n onbewaakte geslote hek geklim het en geval het omdat sy broek aan die hekdraad vasgehaak het. Sy vader se skadevergoedingsaksie teen die skool was aanvanklik suksesvol (Wynkwart v Minister of Education 2002 6 SA 564 (K)), maar die Minister se appèl is uiteindelik gehandhaaf. Regter Desai se uitspraak het gefokus op die uitkoms van die laaste twee vrae wat ingevolge die toets van Kruger v Coetzee beantwoord moet word, naamlik of die redelike persoon stappe sou gedoen het om die nadeel te vermy en die verweerder versuim het om sodanige stappe te doen (580C–D). Dit wil voorkom of daar bloot aanvaar is dat die tipe nadeel wat die kind gely het, redelikerwys voorsienbaar was, waarskynlik onder die invloed van die hof se bevinding dat onderwysers aan jong kinders in hul sorg ’n positiewe beskermingsplig verskuldig is om te verhoed dat hulle beseer word (580A–B; sien die bespreking onder par. 3.2 hier bo). Die hof spreek hom vervolgens soos volg uit oor die beantwoording van die voorkombaarheidsbeen van die redelike-persoon-toets: Eerstens is daar bevind dat ’n mens nie kan verwag dat alle leerlinge in ’n skool deurlopend onder die toesig van onderwysers hoef te wees nie; die graad van toesig sal afhang van die besondere risiko’s waaraan die leerlinge blootgestel is (582H–J; sien ook Neethling en Potgieter 2015:157–8). Tweedens wys die hof daarop dat die beseerde kind hom op bekende terrein bevind het waar die skool nie ’n nuwe gevaartoestand geskep het nie (583F). Derdens beklemtoon die hof dat die skool kinders op gereelde basis gewaarsku het om nie oor heinings en hekke te klouter nie (583G). In die vierde plek word bevind dat daar ’n behoorlik-gereguleerde toesigsisteem by die skool bestaan het om die kinders aan die einde van die skooldag die skoolterrein te laat verlaat (ibid.). Die hof se uiteindelike beoordeling na aanleiding van hierdie bevindings is soos volg:
The degree of supervision to be exercised in a particular case would depend upon a great variety of circumstances. … To guard against the possibility of a single pupil slipping away, climbing over a gate or fence and suffering injuries would require that each pupil should be kept under continuous supervision. It would not be reasonable to expect the appellants to have taken such steps in this instance. (583H–I; sien verder Minister of Safety and Security v Van Duivenboden 2002 6 SA 431 (HHA) 448F–G; Pretorius 2002:294–5.)
Dit blyk duidelik uit regter Pickering se heel bondige verwysing na en toepassing van die Wynkwart-saak dat hy hom hier slegs oor die voorkombaarheidsbeen van die redelike- persoon-toets uitgelaat het, wat die indruk – altans voorlopig – wek dat hy sonder meer aanvaar dat die nadeel wat G gely het, voorsienbaar was, want indien dit nie so was nie, sou dit onnodig gewees het om vir voorkombaarheid te toets.
Die volgende saak waarop die hof hom beroep, is Rusere v The Jesuit Fathers waarin die volgende feitestel hom voorgedoen het: ’n Agtjarige kosskoolleerling het sy oog verloor toe hy op die skoolterrein tydens ’n “cowboys and Indians”-speletjie deur ’n graspyltjie in sy oog getref is. Die voorval het laat een middag direk na ’n sokkeroefening plaasgevind, toe die seuntjies ’n speeltydjie benut het voor hul aandgebedesessie sou begin. Daar is namens die beseerde eiser aangevoer dat die skool nalatig was om kinders tussen die ouderdomme van sewe en tien jaar toe te laat om ’n aansienlike tyd lank sonder toesig te speel (539E). Regter Beck stel uit die staanspoor die beskermingsplig van onderwysers teenoor hul skoliere gelyk aan dié van ouers teenoor hul kinders, wat neerkom op dit wat ’n redelike persoon in die besondere omstandighede sou gedoen het. Opmerklik is die meer Engelsregtelike “duty of care”-benadering (539D) ter oorweging van die nalatigheidsvereiste, in die sin dat die hof nie duidelik tussen die voorsienbaarheids- en voorkombaarheidsbeen van die nalatigheidstoets onderskei nie, maar hom eerder beroep op konkrete voorbeelde van beslissings rakende die gedrag van skoolowerhede, veral uit die Engelse reg (sien veral 540A–H). Dat regter Pickering hierdie uitspraak waarskynlik as gesag vir sy beslissing oor die voorkombaarheidsbeen van die nalatigheidstoets beskou, blyk uit die feit dat hy ’n gedeelte daaruit aanhaal waarin die bestaan van ’n besondere risiko – ’n erkende faktor wat die redelike voorkombaarheid van nadeel help bepaal – beklemtoon word (539F; 170E van die Gora-beslissing):
In my opinion, however, the duty to keep children of this age under constant supervision depends essentially upon the risks to which they are exposed in their particular surroundings.
Regter Pickering betuig ook sy instemming met die sentiment dat ’n onderwyser in beheer van jong kinders op die strand, anders as op die skoolterrein, waarskynlik nalatig sou wees indien hy nie deurlopende toesig uitoefen nie (en ’n kind byvoorbeeld sou verdrink) (Rusere 539F–G; Gora 170E–F). Die onmoontlikheid om inderdaad konstant beheer oor kinders uit te oefen, is in die Rusere-beslissing beklemtoon (540G) met ’n beroep op ’n treffende aanhaling uit die Engelse saak van Camkin v Bishop 1941 2 All ER 713 716:
If every master is to take precautions to see that there is never ragging or horse-play among his pupils, his school would indeed be too awful a place to contemplate.
Die voorsienbaarheidsbeen van die nalatigheidstoets blyk derhalwe ook nie pertinent in die Rusere-beslissing aangespreek te gewees het nie.
Voorts beroep die hof hom op die uitspraak in Knouwds v Administrateur, Kaap 1981 1 SA 544 (K). In daardie geval het ’n elfjarige meisie haar regterduim verloor toe sy gestruikel en teen ’n brandstofaangedrewe grasmasjien geval het terwyl dit voor skool deur ’n werker van haar laerskool gebruik is om gras te sny. Die skoolopsigter wat veronderstel was om toesig te hou oor die grassnyery wat in die teenwoordigheid van talle spelende kinders plaasgevind het, was nie op die toneel toe die kind, wat tydens ’n reisiesjaery deur een van haar maatjies gestamp is, met haar hand op die grasmasjien beland het nie. Die kind se moeder het op basis van die werker, die skoolopsigter en die skoolhoof se nalatigheid met haar vordering geslaag. Dit is opvallend dat die hof destyds geen melding van enige voldoening aan die onregmatigheidsvereiste vermeld het nie, wat die indruk wek dat dit op dieselfde grondslag as die handelings- en kousaliteitsvereistes vir deliktuele aanspreeklikheid benader is (d.w.s. dat dit gewoon as bewese aanvaar is) en dat daar slegs op die materiële regsvereiste van nalatigheid gekonsentreer is. Regter Friedman baseer sy ondersoek na die aan- of afwesigheid van die nalatigheidsvereiste suiwer op die bovermelde uiteensetting in Kruger v Coetzee en bestee gevolglik eerstens aandag aan die voorsienbaarheidsbeen van die toets. Hy ondervind geen moeite om te bevind dat sowel die skoolhoof as die skoolopsigter en werker as redelike persone die ingetrede nadeel moes voorsien het nie. Die belangrikste oorwegings wat hier gegeld het, was die feit dat dit welbekend is dat kinders dikwels impulsief, onvoorspelbaar en onverantwoordelik optree. Die gevaarlike aard van die grasmasjien en die feit dat die betrokke ampsdraers van die skool redelikerwys moes voorsien het dat kinders daardeur beseer kon word, was ’n verdere bepalende faktor vir die bevinding van voorsienbaarheid (553D-H). Vervolgens bevestig die hof die tweede vraag van die nalatigheidstoets, te wete of die skade voorkombaar was, sonder meer (553H). Die laaste vraag, te wete of die verweerder se werknemers nagelaat het om voldoende veiligheidsmaatreëls te tref, is moeiteloos bevestigend beantwoord. Die volgende faktore is in die beoordelingsproses oorweeg: die feit dat die leerlinge by verskeie geleenthede deur die skoolhoof gewaarsku is om versigtig te wees vir grassnyers op die skoolterrein (554A); dat die enigste veiligheidsmaatreël wat op die betrokke dag getref is, die plasing van die opsigter by die grassnytoneel was, welke maatreël uiteindelik nie gematerialiseer het nie (ibid.); die futiliteit van die voorgenome veiligheidsmaatreël, gesien die getal jong kinders wat teenwoordig was (554B); dat die tydstip waarop die gras gesny is, vir die skool die gerieflikste was (554C); en dat dit nie nodig is vir skoolpersoneel om kinders in hul sorg elke dag onafgebroke onder streng toesig te hou nie (554G). Die hof beoordeel uiteindelik die meriete van hierdie oorwegings deur twee van die erkende faktore wat ’n rol te speel het by beoordeling van die redelike voorkombaarheid van die relevante nadeel, te wete die koste en moeite verbonde aan voorkomende handelinge en die aard en omvang van die risiko inherent in die dader se optrede (Neethling en Potgieter 2015:157–60), teen mekaar af te weeg (554D):
Die koste en ongerief wat daaraan verbonde was om ’n alternatiewe reëling te tref met betrekking tot die sny van die gras , was, myns insiens, minimaal in vergelyking met die risiko waaraan die kinders blootgestel was deur die besluit om die gras op daardie tydstip te sny.
Regter Friedman se werkswyse bied ’n goeie voorbeeld van hoe die relatiewe gewigte van die vermelde faktore bepaal word. In die saak onder bespreking hou regter Pickering die uitspraak in die Knouwds-saak voor as ’n voorbeeld van waar daar ’n positiewe bevinding oor sowel die voorsienbaarheid as die voorkombaarheid van skade was, waar die risiko-element ’n deurslaggewende rol gespeel het (171H–I). Hieruit kan ’n sterker afleiding gemaak word dat die hof die nadeel wat G gely het, as redelik voorsienbaar beoordeel het.
Die laaste saak waarna daar verwys is, is Long v Jacobs [2012] ZASCA 58, waarin die nagmerrie-omstandighede waarin menige onderwyser in Suid-Afrika hom of haar tans bevind, geskets word. In hierdie geval het ’n onderwyseres ’n dertienjarige graad 8-leerling wat tydens klastyd nie sy werk na behore verrig het nie, gekonfronteer. Tot haar ontsteltenis het sy opgemerk dat hy in sy werkboek ’n nagemaakte doodsertifikaat vertoon het wat in haar naam uitgemaak is. Sy het hom onmiddellik na die skoolhoof se kantoor geneem, waar laasgenoemde hom van die feite vergewis het. Die hoof het die betrokke leerling vervolgens versoek om buite sy kantoor te wag totdat hy hom weer sou ontbied. Die leerling het egter na die klas teruggekeer waar hy die onderwyseres met ’n hamer aangeval en ernstig beseer het. Die onderwyseres het in die Wes-Kaapse Afdeling van die Hoë Hof met haar vordering teen die skoolhoof en die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys geslaag (Jacobs v Chairman, Governing Body, Rhodes High School 2011 1 SA 160 (WKK); sien vir ’n deeglike ontleding Neethling en Potgieter 2011:747–52), waarna daar appèl aangeteken is. Die Hoogste Hof van Appèl het die appèl van die hand gewys. In sy uitspraak wys waarnemende appèlregter Petse pertinent daarop dat die skoolhoof se optrede sowel onregmatig (par. 14) as nalatig was, laasgenoemde weens die redelike voorsienbaarheid en voorkombaarheid van die nadeel (par 21). Regter Pickering verwys uitdruklik na die positiewe bevindings rakende voorsienbaarheid, asook voorkombaarheid van skade (171D–E). Die Jacobs-saak is op sigwaarde nie werklik toepaslike gesag nie, want die beseerde in daardie geval was ’n onderwyseres en nie ’n leerling nie. Indien ’n mens egter die feite in ’n geringe mate aanpas, kan jy jou voorstel dat die hamerswaaier byvoorbeeld na sy eerste verskyning in die hoof se kantoor ’n medeleerling kon aangeval het, wat dit tog grondliggend tot gesag verhef.
Teen die agtergrond van die vier sake waarna hy verwys, beklemtoon regter Pickering die volgende: (a) Daar word nie deurlopende toesig oor leerlinge verwag nie, maar alleen sodanige toesig as wat deur die aanwesige risiko’s vereis word (171F). (b) Anders as in die Knouwds-saak, was daar niks in die betrokke klaskamer wat ’n inherente risiko vir die leerlinge ingehou het nie (171G). (c) Die betrokke skool, Kingswood College, is een van Suid-Afrika se vooraanstaande privaatskole waar daar ’n streng gedragskode en missieverklaring bestaan (171H–172C). (d) Die skoolkampus word uitermate goed bestuur en ofskoon dit gereeld voorkom dat leerlinge vir langer periodes sonder toesig gelaat word, is daar oor ’n tydperk van 12 jaar slegs twee gevalle aangemeld waar leerlinge handgemeen geraak het (172C–D). (e) Anders as in die aangehaalde gesag was G en M nie jong kinders nie, maar opgeskote seuns van 15 jaar van wie verwag kon word om volwasse en verantwoordelik op te tree in ’n veilige klaskameromgewing (172E). Ietwat uit die bloute kom die hof uiteindelik tot die volgende slotsom (ibid.):
In my view therefore it was not reasonably foreseeable that an incident such as the present would occur and the conduct of the school employees in leaving the class unattended did not amount to negligence.
Indien hierdie bevinding rakende die eerste stap van die nalatigheidstoets (voorsienbaarheid) uit die staanspoor gemaak sou gewees het, kon die hof hom die moeite gespaar het om hoegenaamd oor die tweede (voorkombaarheid) en derde (versuim van die verweerder) stappe uitspraak te gee. Die verwysings na veral die Wynkwart- en Rusere-saak was dus streng gesproke oorbodig.
Regter Pickering sluit ongelukkig sy bevindings rakende nalatigheid met die volgende vreemde stelling af (172F):
Even were I to be wrong in coming to this conclusion and were it to be found that in fact the defendants were negligent, this, in my view, would in no way assist the plaintiff. In order to succeed in his claim and to avoid the operation of the indemnity he would be obliged to prove gross negligence.
Die woorde “this conclusion” skyn in die huidige konteks slegs na sy direk voorafgaande bevinding dat die nadeel nie voorsienbaar was nie, te verwys. Letterlik uitgelê beteken hierdie stelling dus dat nalatigheid enkel en alleen deur die uitslag van toepassing van die voorsienbaarheidsbeen van die nalatigheidstoets bepaal moet word: is die gevolg redelik voorsienbaar, bestaan daar nalatigheid. Dit is egter ondenkbaar dat regter Pickering sodanige betekenis in gedagte sou gehad het, veral in die lig van sy voorafgaande bevindings dat G se besering nie redelikerwys deur die verweerders voorkombaar was nie. Daar moet dus noodgedwonge aanvaar word dat “this conclusion” op sy bevindings rakende die redelike voorsienbaarheid en voorkombaarheid van G se nadeel betrekking gehad het.
Vir diegene wat die mening toegedaan is dat ons reg ’n hoër mate van sorg van onderwyspersoneel teenoor hul leerlinge vereis as dié van die diligens paterfamilias, te wete dié van die redelike onderwyser (redelike deskundige), sal hierdie uitspraak waarskynlik teleurstellend wees (sien veral Potgieter 2005:413–9; 2008:193–200; 2013:13–26; Davel 2003:412, 414; Neethling en Potgieter 2015:152 en verdere gesag in vn. 124 aangehaal). Dit wil voorkom of die voorkeur vir die redelike-onderwyser-maatstaf wat appèlregter Brand in die Haweka-uitspraak 93F geopenbaar het, nie hier weerklank gevind het nie; die hof het hom streng gebonde gehou aan die diligens paterfamilias-uitgangspunt soos in Kruger v Coetzee verwoord. Die feite van hierdie saak het ook nie werklik vir die hof die geleentheid geskep om te besin oor die sogenaamde in loco parentis-leerstuk nie, naamlik of die moontlik laer maatstaf van die redelike ouer (wie se plek in skoolverband deur die onderwyser ingeneem word) hoegenaamd aanwending behoort te vind (sien veral Potgieter 2005:416–8; vgl. die minderheidsuitspraak van wnd. AR Griesel in die Haweka-saak 95H-96A). Die mees onlangse uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl in hierdie verband in die Long-saak, parr. 15–20, skyn ook die geykte redelike persoon as die ware maatstaf vir die bepaling van onderwyspersoneel se nalatigheid voor te hou. Op die keper beskou, sou die aanwending van die strenger “redelike-onderwyser-toets” in hierdie geval waarskynlik geen verskil gemaak het nie, bloot omdat die feite hulle nie daartoe geleen het nie. Daar was geen buitengewone situasie wat ’n hoër mate van sorgsaamheid van die betrokke onderwyspersoneel vereis het nie: ’n geskiedenisklas met leerlinge 15 jaar oud is sonder toesig gelaat. Die feit dat een van die seuns die ongewone stap gedoen het om ’n brildraende klasmaat met die vuis in die gesig te slaan, sou waarskynlik vir die redelike onderwyser (die deskundige) net so onvoorsienbaar en onvoorkombaar gewees het as vir die redelike persoon wat niks van onderwyssake weet nie. Die prentjie sou waarskynlik anders daar uitgesien het indien dit ’n wetenskaplaboratorium was waarin opgeskote seuns sonder toesig op onverantwoordelike wyse met gevaarlike chemikalieë sou kon eksperimenteer en beseer kon word (die onversigtige hantering van bv. fosfor of kalium kan heel ernstige liggaamlike letsels veroorsaak), of indien dit ’n gimnastieksaal was waarin apparaat was wat sonder die nodige toesig groot gevaar inhou (soos ’n trampolien of ’n bok). ’n “Normale” redelike-onderwyser-toets sou in sodanige omstandighede ook nie heeltemal doeltreffend wees nie, maar verder verfyn moet word tot ’n “redelike-wetenskaponderwyser”- of “redelike-gimnastiekonderwyser”-toets ooreenkomstig die spreuk imperitia culpae adnumeratur (“onbedrewenheid word as nalatigheid beskou”; sien veral Scott 1982:124–62).
Daar word in finale instansie aan die hand gedoen dat die feite van hierdie geval nie eens die geringste moontlikheid gebied het vir ’n bevinding van growwe nalatigheid aan die verweerders se kant nie. Die hof se bondige oorweging van die moontlike aanwesigheid van growwe nalatigheid (172G–173A) bied derhalwe niks meer nie as ’n skoolvoorbeeld van ’n oorbodige uiteensetting uit oormaat van voorsorg (ex abundanti cautela).
4. Gevolgtrekking
Daar kan volmondig met die hof se bevinding akkoord gegaan word dat die verweerders geensins nalatig teenoor G opgetree het nie. Indien die hof tot die teendeel sou beslis het, sou dit uitermate ernstige gevolge vir skoolowerhede ingehou het: Afgesien van die byna bomenslike taak van ons moderne opvoeders om ’n snelgroeiende leerlingbevolking in ons skole behoorlik te onderrig en te orden, sou die bykomende las om alle moontlike vorme van geweldsuitoefening – selfs onder ouer leerlinge – te antisipeer en te voorkom hierdie las vir alle praktiese doeleindes ondraaglik gemaak het. Die bestaande regspraak het ’n stewige basis verskaf waarop die verweerders hul saak kon bou en dit val enigsins vreemd op dat die eiser hom tot die hof gewend het.
Ofskoon die uiteindelike beslissing byval behoort te vind, is dit jammer dat die hof nie meer sistematies te werk gegaan het in sy ratio decidendi rakende die toepassing van die heldere formulering van die nalatigheidstoets in Kruger v Coetzee nie. Daar is aangetoon dat regter Pickering nie deurgaans die logiese volgorde van die vermelde toets gevolg het nie en daardeur nie duidelik laat blyk het presies welke stap van die toets die deurslag vir sy uiteindelike uitspraak oor nalatigheid gegee het nie. Dit wil voorkom of daar soms nog onsekerheid daaroor bestaan of appèlregter Holmes se formulering van die nalatigheidstoets in werklikheid inhou dat nalatigheid kan bestaan slegs indien positiewe antwoorde op drie vrae verskaf kan word: (a) Sou die redelike persoon die skade redelikerwys kon voorsien het? Indien nie, kan nalatigheid nie bestaan nie. Indien wel, kom die volgende vraag ter sprake: (b) Sou die redelike persoon redelike stappe gedoen het om die skade te voorkom? Indien die antwoord ontkennend is, is daar geen nalatigheid nie. Indien die antwoord bevestigend is, volg die laaste vraag: (c) Het die dader versuim om redelike stappe te doen? Slegs indien daarop bevestigend geantwoord kan word, is ’n bevinding van nalatigheid geregverdig. ’n “Nee”-antwoord kelder ’n bevinding van nalatigheid. Daar word gehoop dat hierdie basiese uiteensetting dit selfs vir die leek maklik sal maak om tot ’n (voorlopige) beslissing oor moontlike nalatige optrede te kom.
Van veel groter belang is die praktiese riglyne wat die hof verskaf het aangaande faktore wat by toepassing van veral die voorkombaarheidsbeen van die redelike-persoon-toets vir nalatigheid in aanmerking geneem moet word, soos die ouderdom van die betrokke partye, die inherente risiko’s wat die besondere geval kenmerk, die koste en moeite van maatreëls om moontlike nadeel te voorkom, en veral die relatiewe belangrikheid van sodanige faktore. Hierdie uitspraak verdien daarom bloot ’n plek as verwysing in ons standaardhandboeke oor die deliktereg en die onderwysreg.
Bibliografie
Boberg, P.Q.R. 1984. The law of delict volume I: Aquilian liability. Kaapstad: Juta.
Davel, C.J. 2003. The standard of care applicable to educators: the reasonable educator. De Jure, 36(3):405–14.
Joubert, D.J. (red.). 1982. Petere fontes: LC Steyn-gedenkbundel. Die Vereniging Hugo de Groot, Pretoria: Heer Drukkers.
Loubser, M. en R. Midgley (reds.). 2017. The law of delict in South Africa. 3de uitgawe. Kaapstad: Oxford University Press.
Maithufi, I.R. 2012. Vicarious liability of the state for wrongful and culpable acts of its employee teachers. Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 75(1):139–45.
McKerron, R.G. 1970. The law of delict. 7de uitgawe. Kaapstad: Juta.
Neethling, J. en J.M. Potgieter. 2011. Law of delict. Annual Survey of South African Law. 747–52.
—. 2015. Neethling-Potgieter-Visser deliktereg. 7de uitgawe. Durban: LexisNexis.
—. 2018. Sorgsaamheidsplig van ouers teenoor kinders. LitNet Akademies, 15(2):496–506. https://www.litnet.co.za/vonnisbespreking-sorgsaamheidsplig-van-ouers-teenoor-kinders.
Potgieter, J.M. 2005. Onsekerheid oor die toets vir deliktuele nalatigheid in skoolverband. De Jure, 38(2):413–9.
—. 2008. Deliktuele aanspreeklikheid vir nalatige optrede in skoolverband. De Jure, 41(1):193–200.
—. 2013. Steeds meningsverskil oor die deliktuele-nalatigheid-toets vir onderwysers. LitNet Akademies, 10(2):13–26. https://www.litnet.co.za/vonnisbespreking-steeds-meningsverskil-oor-die-deliktuele-nalatigheid-toets-vir-onderwyser/.
Pretorius, D.M. 2004. Law of delict. Annual Survey of South African Law, ble. 294–5.
Scott, T.J. 1982. Die reël imperitia culpae adnumeratur as grondslag vir die nalatigheidstoets vir deskundiges in die deliktereg. In Joubert (red.) 1982.
—. 2018. ’n Resente toepassing van die nuwe onregmatigheidstoets vir onregmatigheid – gewens of afkeurenswaardig? Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 4:906–26.
Van der Merwe, N.J. en P.J.J. Olivier. 1989. Die onregmatige daad in die Suid-Afrikaanse reg. 6de uitgawe. Pretoria: Van der Walt.
Van der Walt, J.C. en J.R. Midgley. Delict. 2016. The law of South Africa. Vol 15. 3de uitgawe. Durban: LexisNexis.
LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.