Vonnisbespreking: Spoedoortredings: Erkennings wat by die aanbieding van ’n pleit van skuldig vereis word

  • 0

Vonnisbespreking: Spoedoortredings: Erkennings wat by die aanbieding van ’n pleit van skuldig vereis word

S v Phuzi 2019 2 SASV 648 (FB)

Pieter du Toit, Fakulteit Regte, Noordwes-Universiteit

LitNet Akademies Jaargang 18(1)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Abstract

Speed offences: Admissions required for a plea of guilty

S v Phuzi is an important judgment in that it provides clarity regarding the issue as to whether a conviction for the offence of exceeding the speed limit on a public road may be based on strict liability. The issue has hitherto been shrouded in uncertainty. A full court held that fault is indeed a requirement and that negligence will suffice. The case, however, also deals with an important procedural aspect relating to the admissions to be made by a person accused of having committed a speeding offence before he or she may be convicted by a court of law following a plea of guilty. This procedural issue is the focus of the case note. The court held, among others, that the accused must admit the recorded speed, the proper functioning of the speed measuring device, and the competence of the traffic officer to set up and operate the speed measuring device. In this note it is argued that the court’s approach was too rigid. The court failed to duly distinguish between the different purposes of evidential material and admissions to be presented in a trial in cases where the accused pleads not guilty on the one hand, and admissions made in cases where the accused pleads guilty, on the other. The court further elevated evidentiary material usually presented by state to an element of the offence. The court also failed to distinguish between those cases in which the accused enjoys legal representation and cases in which the accused elects to conduct his or her own defence. It is settled law that courts are more inclined to accept admissions to facts falling outside the personal knowledge of an accused in the former situation. It is submitted that the technical approach followed in Phuzi does not promote the purpose of the procedural requirements for a plea of guilty and may be counterproductive to the efficiency of the criminal justice system.

Keywords: exceeding the speed limit; formal admissions; plea of guilty; road traffic offences; section 59(4) of the National Road Traffic Act 93 of 1996; section 112 of the Criminal Procedure Act 51 of 1977

Trefwoorde: artikel 59(4) van die Nasionale Padverkeerswet 93 van 1996; artikel 112 van die Strafproseswet 51 van 1977; formele erkennings; oorskryding van die spoedbeperking; padverkeersoortredings; pleit van skuldig

 

1. Inleiding

In S v Phuzi het die volle hof van die Vrystaatse Afdeling van die Hooggeregshof twee belangrike aangeleenthede oorweeg wat verband hou met die misdaad van oorskryding van die algemene spoedgrens deur motoriste op openbare paaie.

Die eerste het te make met die materiële strafreg, naamlik die vraag of strenge aanspreeklikheid as ’n basis kan dien vir strafregtelike aanspreeklikheid weens ’n spoedoortreding. In hierdie verband lewer die hof ’n belangrike uitspraak, aangesien daar tot op hede geen duidelikheid hieroor in die Suid-Afrikaanse reg bestaan het nie. Die hof kom tot die gevolgtrekking dat skuld inderdaad vereis word en dat nalatigheid ’n voldoende skuldvorm daarstel. Hoctor (2019:389–93) het hierdie aangeleentheid elders deeglik ontleed en die benadering van die hof verwelkom. Hierdie aangeleentheid sal nie in hierdie bespreking aandag geniet nie.

Die tweede saak waarop hierdie bydrae wel fokus, is prosesregtelik van aard en het te make met die vereiste erkennings wat by die aanbieding van ’n pleit van skuldig in ’n geregshof gemaak behoort te word alvorens ’n skuldigbevinding aan hierdie misdryf kan volg. Die volle hof is juis saamgestel om oor hierdie kwessie te beslis, aangesien teenstrydige uitsprake hieroor in die betrokke afdeling van die Hooggeregshof gelewer is. Aan die een kant is daar beslis dat die beskuldigde spesifieke erkennings rakende die akkuraatheid van die spoedmetingsapparaat moet maak. Aan die ander kant is beslis dat sodanige vereiste die oogmerke van die prosedure wat by die pleit van skuldig gevolg word, eerder sal verydel en dat dit onnodig onbuigsaam is. Hierdie aspek word in paragraaf 4 hier onder hanteer. Die oogmerk met hierdie bydrae is om die bevindings van die hof ten aansien van hierdie strafprosesregtelike kwessie krities te ontleed.

Alvorens die aandag na die saak verskuif, is dit nodig om as agtergrond kortliks te verwys na die aard van die misdryf ter sprake en die bepalings van die Strafproseswet wat met die pleit van skuldig verband hou.

 

2. Die misdryf

Artikel 59(4) van die Nasionale Padverkeerswet 93 van 1996 plaas ’n verbod op verskeie handelinge algemeen bekend as spoedoortredings. Hierdie artikel verbied eerstens die bestuur van ’n voertuig op ’n openbare pad teen ’n snelheid hoër as die algemeen voorgeskrewe snelheidsgrens wat ten opsigte van daardie pad geld (art. 59(a)). Die algemene snelheidsgrens vir verskillende gebiede word bepaal deur die regulasies uitgevaardig kragtens die Nasionale Padverkeerswet. Tweedens verbied die wet die bestuur van ’n voertuig teen ’n snelheid hoër as die snelheidsgrens wat ingevolge ’n padverkeersteken ten opsigte van ’n pad aangetoon word (art. 59(4)(b)). Laastens word die oorskryding van die snelheidsgrens wat ten opsigte van ’n bepaalde klas voertuig geld, gekriminaliseer (art. 59(4)(c)). ’n Persoon wat skuldig bevind word aan enige van hierdie oortredings, kan ’n boete of gevangenisstraf van hoogstens drie jaar opgelê word (art. 89(3)). Indien artikel 1(1)(a) van die Wet op die Aanpassing van Boetes 101 van 1991 in ag geneem word, beteken dit dat die maksimum boete wat opgelê mag word, inderdaad R120 000 is.

Die oorskryding van die spoedgrens, gepaard met dronkbestuur en voetgangergedrag, is een van die belangrikste bydraende faktore tot padsterftes in Suid-Afrika (Road Traffic Management Corporation 2016:26). In S v Orton 2001 1 SASV 433 (O) 436B–437F verwys regter Hancke na ’n aantal faktore wat in ag geneem behoort te word om die erns van spoedoortredings, en die vraag in hoeverre die belange van die gemeenskap in ’n bepaalde geval in sake van hierdie aard na vore tree, te bepaal. Hierdie faktore is die aard van die pad (bv. die geskiktheid daarvan vir hoë snelhede), die aard van die motorvoertuig (m.a.w. die relatiewe veiligheid daarvan teen hoë snelhede); die verkeersvolume op die pad; die weersomstandighede tydens die pleging van die misdryf; en die afmetings wat die betrokke misdaad aanneem. In casu (437F-G) word beslis dat die vasstelling van spoedgrense primêr ten doel het om verkeersveiligheid te bevorder. Alhoewel spoed ’n belangrike bydraende faktor tot verkeersongelukke is, is dit nie die enigste faktor nie. Die potensiële gevaar wat die oorskryding van die spoedgrens inhou en die gepaardgaande erns van die misdryf moet nie in isolasie beoordeel word nie, maar moet gesien word in die lig van die faktore wat in die uitspraak uitgestippel is. In S v De Vos 2008 1 SASV 175 (N) het die beskuldigde ’n motorfiets teen 295 km/h bestuur op ’n pad waar ’n algemene snelheidsgrens van 120 km/h gegeld het. Die hersieningshof (177D-F) beskryf die gedrag van die beskuldigde as uiters roekeloos met verwysing na tipies Suid-Afrikaanse realiteite, naamlik die feit dat die betrokke pad huise in ’n landelike gebied geskei het, dat voetgangers soms van die paaie gebruik gemaak het, en dat diere van tyd tot tyd daarop aangetref kon word. Die Wêreldgesondheidsorganisasie beklemtoon hoë snelhede as ’n risikofaktor in padongelukke en padongelukbeserings en moedig die inwerkingstelling van maatreëls ter bekamping daarvan aan (World Health Organisation 2017:1–13 en Global Road Safety Partnership 2008:1–164).

 

3. Die pleit van skuldig: prosedure

Artikel 112 van die Strafproseswet 51 van 1977 maak voorsiening vir drie moontlikhede in gevalle waar die beskuldigde skuldig pleit aan die misdryf wat hom of haar ten laste gelê word. Eerstens: Waar die hof van oordeel is dat die misdryf nie ’n boete van meer as R5 000 of gevangenisstraf sonder die keuse van ’n boete, of enige ander vorm van aanhouding, regverdig nie, kan die hof die beskuldigde op sy of haar blote pleit van skuldig en sonder enige verdere formaliteite skuldig bevind en met die vonnisfase voortgaan (art. 112(1)(a) en GN R 62 in SK 36111 van 30 Januarie 2013; sien in hierdie verband ook Du Toit 2020:488–9). Tweedens: Indien die hof van oordeel is dat die toepaslike vonnis bovermelde perk sal oorskry, of indien daartoe versoek deur die aanklaer, moet die voorsittende beampte die beskuldigde rakende die feite van die saak ondervra ten einde vas te stel of hy of sy inderdaad die bewerings teen hom of haar erken. Hierdie prosedure sal tipies gevolg word in daardie gevalle waar die beskuldigde nie regsverteenwoordiging geniet nie. Derdens kan die beskuldigde, of sy of haar regsverteenwoordiger, in plaas van die ondervraging ’n skriftelike verklaring aanbied waarin die feite uiteengesit word wat die basis uitmaak van die pleit van skuldig (art. 112(2)). Indien die hof in enige stadium twyfel oor die beskuldigde se strafregtelike aanspreeklikheid, moet die hof ’n pleit van onskuldig aanteken en die aanklaer aansê om met die vervolging voort te gaan (art. 113). Artikel 112 van die Strafproseswet is daargestel om die noodsaaklikheid van getuienisaanbieding uit te skakel in sake waar dit duidelik is dat die beskuldigde al die bewerings in die aanklag teen hom of haar begryp en al die elemente van die misdryf erken. Die artikel het ten doel om te verseker dat die beskuldigde teen ’n ongeregverdigde of oningeligte pleit van skuldig beskerm word (S v Naidoo 1989 2 SA 114 (A) 121E-G; S v Mshengu 2009 2 SASV 316 (HHA) par. 5). Artikels 112(1)(b), 112(2) en 113 het hoofsaaklik met die feite van die saak te make. Die voorsittende beampte moet verseker dat die beskuldigde inderdaad skuldig is aan die misdryf waarop hy of sy skuldig pleit en dat ’n gepaste vonnis ooreenkomstig die feite van die saak opgelê word. Verder stel dit die aanklaer in staat om vas te stel of die weergawe van die beskuldigde strook met die feite tot beskikking van die staat (S v Witbooi 1978 3 SA 590 (T) 594H-595A). Die prosedure soos vervat in artikel 112 moet beskou word teen die agtergrond van die grondwetlike reg op ’n billike verhoor. Hierdie reg is bepalend vir die omvang van die vrae wat aan die beskuldigde gestel moet word. Die hof wat die beskuldigde kragtens artikel 112(1)(b) ondervra, moet vasstel of die feitelike bewerings wat deur die beskuldigde gemaak word, voldoende gronde daarstel vir ’n skuldigbevinding aan die beweerde misdryf (S v Shiburi 2018 2 SASV 485 (HHA) par. 18). Hierdie hof moet omsigtig te werk gaan. Die beskuldigde behoort uitgenooi te word om sy of haar weergawe voor die hof te plaas. Die voorsittende beampte moet so min as moontlik vrae stel. Die vrae moet daarop gemik wees om onduidelikhede wat spruit uit die weergawe van die beskuldigde op te klaar of om relevante kwessies te oorweeg wat nie deur die beskuldigde geopper is nie. Leidende vrae moet vermy word (S v Mkhize 1981 3 SA 585 (N) 586H). Die voorsittende beampte mag nie die ontkenning van enige element van die misdaad met agterdog bejeën nie. Die vrae mag byvoorbeeld nie die vorm van kruisondervraging aanneem in ’n poging om die beskuldigde daartoe te dwing om sekere erkennings te maak nie (S v Williams 2008 1 SASV 65 (K); vir ’n volledige bespreking van hierdie aspekte sien Kruger 2008:17-1–17-9; Theophilopoulos e.a. 2020:299–301).

 

4. Die teenstrydige uitsprake

Soos vroeër vermeld, moes die hof in Phuzi op teenstrydige uitsprake in die Vrystaat rakende spoedoortredings antwoord. Die eerste uitspraak ter sprake is S v Khambule FB R 177/2018 (ongerapporteerde hersieningsuitspraak van die Vrystaatse Hooggeregshof gelewer op 16 Augustus 2018 – hierna Khambule). Aangesien hierdie saak nie gerapporteer of op Saflii beskikbaar is nie, is die baie kort opsomming van die tersaaklike gedeeltes daarvan gebaseer op dit wat in Phuzi daaroor gesê is. In Khambule is die regsverteenwoordigde beskuldigde, ’n mediese dokter, in die landdroshof aan ’n spoedoortreding op sterkte van sy pleit van skuldig, skuldig bevind. Sy regsverteenwoordiger het ’n skriftelike verklaring ingevolge artikel 112(2) van die Strafproseswet aan die hof voorgehou. Die verrigtinge is egter op hersiening tersyde gestel omdat die beskuldigde se verklaring, aldus die hersieningshof, nie die nodige erkennings rakende die opset om die misdaad te pleeg, gemaak het nie. Die verrigtinge is tersyde gestel onder meer omdat daar nie in die verklaring erken is dat die verkeersbeampte behoorlik gemagtig of bevoeg was om die apparaat waarmee die spoed van die voertuig vasgestel is, te beheer nie (Phuzi par. 3).

In S v Mtyhole (R255/2018) 2018 ZAFSHC 156 (18 Oktober 2018) kom regter Daffue tot die gevolgtrekking dat die benadering in Khambule verkeerd is en nie gevolg moes word nie. In Mtyhole word bevind dat die bevoegdheid van die verkeersbeampte om die spoedapparaat op te stel nie een van die wesenlike elemente vir die misdryf van die oorskryding van die spoedgrens daarstel nie. Alhoewel spoedoortreders van tyd tot tyd hul sake op hierdie basis beveg, is dit duidelik dat die beskuldigde in Khambule nie hierdie perd wou opsaal nie (Mtyhole par. 25). Regter Daffue bevind dat die benadering in Khambule te formalisties is en dat dit ’n onnodige las op laerhowe sou plaas indien dit van ’n beskuldigde verwag sou word om meer feite voor die hof te plaas as wat nodig is ten einde ’n skuldigbevinding uit te bring. Beskuldigdes wat die spoedgrens oortree het en dan skuldig pleit, neem aan dat verkeersbeamptes behoorlik gemagtig en opgelei is om hul pligte uit te voer en dat die spoedmetingsapparaat behoorlik gefunksioneer het – juis daarom is hulle bereid om skuldig te pleit. Die hof het verder daarop gewys dat dit hoogs waarskynlik is dat in gevalle waar die verhoorhof vrae aan die beskuldigde stel rakende kwessies wat buite sy of haar persoonlike kennis lê, die beskuldigde nie bereid sal wees om sodanige formele erkennings te maak nie. Verdere ondervraging oor hierdie kwessies kan meebring dat die beskuldigde nie sodanige erkennings wil maak nie. Dit kan lei tot die notulering van ’n pleit van onskuldig, wat die onnodige verspilling van hoftyd en hulpbronne kan meebring (Mtyhole par. 28).

 

5. Die Phuzi-beslissing

In Phuzi verwys adjunkregterpresident Musi na S v Skele 1974 4 SA 386 (T) waar bevind is dat ten einde te bewys dat die beskuldigde die spoedgrens oorskry het, daar getuienis voor die hof geplaas moet word wat die hof bo redelike twyfel tevrede stel dat die apparaat wat gebruik is om die spoed te bepaal, betroubaar is en dat dit die spoed korrek bepaal en geregistreer het. Om hieraan te voldoen, moet die getuienis ten minste aantoon dat die betrokke apparaat betroubaar is vir die doel waarvoor dit aangewend word; korrek opgestel is; voor en na die spoedlokval getoets is en behoorlik en korrek gefunksioneer het; en dat die geregistreerde spoedlesing dié van die motorvoertuig is wat die spoedgrens na bewering sou oorskry het (Phuzi par. 27). Die hof bevind dat dit ook vanselfsprekend is dat slegs behoorlik opgeleide persone die apparaat mag opstel (par. 29). Daar kan nie geregtelik kennis geneem word van die feit dat ’n persoon wat die apparaat opgestel het, behoorlik daarin opgelei is of dat alle verkeersbeamptes sodanig opgelei is nie. Die hof kan voorts nie geregtelik kennis neem van die feit dat die spoedapparaat behoorlik gefunksioneer het nie (par. 30). Die hof bevind dat die bevoegdheid van die beampte om die spoedmetingsapparaat op te stel nog altyd een van die integrale elemente van die misdryf ter sprake was. Ten einde die betroubaarheid van die spoedlesing te bewys, moet daar bewys word dat die apparaat behoorlik opgestel en aangewend is (Phuzi par. 32). Die hof keur ook die bevinding in Mtyhole af dat ’n persoon wat op ’n spoedoortreding skuldig pleit, aanneem dat die betrokke verkeersbeamptes behoorlik gemagtig en opgelei is om hul verpligtinge na te kom en dat spoedmetingsapparate behoorlik funksioneer. Die hof bevind dat daar geen gronde vir so ’n gevolgtrekking bestaan nie (Phuzi par. 33).

Die hof verwys ook na S v Thysma Carstens (saaknr. 143/2011, ’n ongerapporteerde hersieningsuitspraak van die Vrystaatse Hooggeregshof gelewer op 25 Augustus 2011), waarin daar met verwysing na radarapparate beslis is dat die betroubaarheid daarvan afhanklik is van hoe gereeld dit gekalibreer word. Indien die apparaat nie gereeld volgens die instruksies van die vervaardiger gekalibreer word nie, sal dit nie behoorlik funksioneer nie. Dit is daarom belangrik om van die onverteenwoordigde beskuldigde wat skuldig pleit vas te stel of hy of sy erken dat die apparaat behoorlik gefunksioneer het en of die kalibrasiesertifikaat aan hom of haar getoon is. Indien dit nie getoon is nie, moet hy of sy gevra word of hy of sy erken dat dit inderdaad so gekalibreer was. Die beskuldigde moet ook gevra word of die verkeersbeampte behoorlik opgelei was om die apparaat op te stel (Phuzi par. 34). Die hof bevind dat die aannames in Mtyhole die doel van die artikel 112(1)(b)-ondervraging sal ondermyn. Die doel daarvan is om eerstens vas te stel of die beskuldigde al die bewerings in die klagstaat erken en tweedens om die voorsittende beampte in staat te stel om hom- of haarself tevrede te stel dat die beskuldigde skuldig is aan die misdryf waarop skuldig gepleit is. Die voorsittende beampte kan net na ’n behoorlike ondervraging rakende die elemente van die misdryf so tevrede wees (Phuzi par. 35).

Die hof bevind dus dat waar ’n beskuldigde kragtens die bepalings van artikel 112 van die Strafproseswet ondervra word, die beskuldigde die volgende moet erken: (i) die spoed wat geregistreer is; (ii) die behoorlike funksionering van die spoedapparaat; en (iii) die bevoegdheid van die verkeersbeampte om die spoedmetingsapparaat op te stel en te beheer (Phuzi par. 39).

Sedert hierdie uitspraak is die verrigtinge in verskeie sake in die Vrystaat wat nie aan hierdie vereistes voldoen het nie, op hersiening tersyde gestel: S v Motlibeli (R88/2018) 2019 ZAFSHC 160 (19 September 2019); S v Thakanyane (R29/2019, 882/18) 2019 ZAFSHC 99 (28 Junie 2019); S v Tsotetsi; S v Thinyane; S v Tladi (R272/2018; R352/2018; R353/2018) 2018 ZAFSHC 212 (28 Desember 2018); S v Ramahetlane (7/2019; 24/2019) 2019 ZAFSHC 19 (7 Februarie 2019). Laasgenoemde aangeleentheid het op 18 verskillende sake betrekking.

 

6. Bespreking

Die ondervraging van die beskuldigde in Phuzi deur die landdros het inderdaad nie genoegsame feite openbaar waarop ’n skuldigbevinding gebaseer kon word nie. Die beskuldigde het bloot erken dat hy teen 166 km/h in ’n 120 km/h-sone gery het (par. 40). Daar was geen grondslag vir die erkenning gelê nie. Die hof kon hom dus nie vergewis van die betroubaarheid van die erkenning nie. Die beskuldigde het nie regsverteenwoordiging gehad nie en dit was noodsaaklik dat hy teen ’n ongeregverdigde pleit van skuldig beskerm moes word. Die benadering in Phuzi met betrekking tot die erkennings wat uit die ondervraging van die beskuldigde deur die voorsittende beampte moet blyk, en desondanks ook uit ’n skriftelike verklaring kragtens artikel 112(2) van die Strafproseswet, is egter steeds vatbaar vir kritiek. Daar word aan die hand gedoen dat die hof se benadering te onbuigsaam is. Die rede hiervoor is deels daarin geleë dat die hof bewysmateriaal wat normaalweg deur die staat gebruik word om ’n spoedoortreding te bewys, verkeerdelik tot ’n element van die misdaad verhef. Sodoende is die feite wat bewys verskaf (facta probantia), gelykgestel aan die feite wat die staat moet bewys (facta probanda) (sien Schwikkard en Van der Merwe 2015:19–20). Die wesenselemente van die misdaad ter sprake is inderwaarheid: (1) wederregtelikheid; (2) bestuur; (3) ’n motorvoertuig; (4) ’n openbare pad; en (5) skuld (Burchell 2014:794–6) – ten minste in die vorm van nalatigheid, soos bevind in Phuzi.

Voortvloeiend hieruit blyk dit dan dat die hof moontlik van mening is dat die feitelike erkennings wat op ’n pleit van skuldig moet volg, van dieselfde aard en omvang moet wees as feite wat in ’n strafsaak deur die staat bewys moet word. S v Vorster 2002 1 SASV 379 (N) werp lig op hierdie kwessie en volg ’n gesonde-verstand-benadering. Ongelukkig is hierdie uitspraak nie in Phuzi oorweeg nie. In Vorster weier die hof om die formalistiese benadering in twee vroeëre uitsprake van die Oos-Kaapse Hooggeregshof (S v Lourens 2000 2 SASV 164 (OK) en S v Lindhorst 2000 2 SASV 161 (OK)) te volg met betrekking tot erkennings wat vereis word by die pleit van skuldig weens die misdryf van die bestuur van ’n voertuig terwyl die alkoholpersentasie in die beskuldigde se bloed die toelaatbare vlak oorskry het. In Vorster 388D-G waarsku regter Hugo dat die metode wat gebruik moet word om die staat se saak te bewys in daardie gevalle waar die beskuldigde onskuldig pleit, nie met erkennings wat by die pleit van skuldig vereis word, verwar moet word nie. Hy beslis dat in gevalle waar daar ’n pleit van skuldig in die Suid-Afrikaanse akkusatoriese stelsel aangebied word, daar nie langer ’n lis of verhoorbare dispuut tussen die partye in die strafsaak bestaan nie. Met verwysing na artikel 112 van die Strafproseswet word bevind dat die wetgewer wel oor die jare heen maatreëls ingestel het om beskuldigdes te beskerm teen die aanbieding van ’n foutiewe of ongegronde pleit van skuldig, veral in daardie gevalle waar redelik swaar vonnisse opgelê kan word. Daar word nie voorsiening gemaak vir sodanige beskerming by betreklik minder ernstige misdrywe nie (’n duidelike verwysing na artikel 12(1)(a) van die Strafproseswet waar die beskuldigde bloot op sterkte van die pleit van skuldig en sonder verdere ondervraging skuldig bevind mag word). Kragtens artikel 112(1)(b) van die Strafproseswet moet die voorsittende beampte die beskuldigde ondervra ten einde vas te stel of hy of sy die bewerings in die klagstaat erken waarop hy of sy skuldig gepleit het. Regter Hugo wys egter daarop dat dit verkeerd sou wees om te aanvaar dat hierdie voorskrifte van die Strafproseswet ’n lis of geskilpunt tussen die staat en die beskuldigde skep. Die voorsittende beampte moet hom- of haarself op grond van die ondervraging van die beskuldigde tevrede stel dat die beskuldigde inderdaad skuldig is. Die voorsittende beampte hoef nie te delf in die getuienis wat die staat moontlik kan aanvoer nie. Dit is immers slegs na ’n volledige verhoor dat die hof die getuienis wat die staat aangebied het, kan evalueer en kan bevind of die elemente van die misdryf bewys is of nie. Die artikel 112(1)(b)-ondervraging is nie gerig op die getuienis wat in die saak aangebied behoort te word nie, maar op die bewerings wat in die klagstaat vervat is (Vorster 382D-F). In Vorster het die hof daarop gewys dat daar skynbaar twee redes bestaan waarom beskuldigdes skuldig pleit: Eerstens omdat hulle glo dat hulle inderdaad skuldig is en dus nie hul geld of die hof se tyd met ’n uitgerekte verhoor wil verspil nie (artikel 112 (1)(b) beskerm beskuldigdes wat ’n verkeerde opvatting in hierdie verband het). Die tweede rede waarom mense skuldig pleit, is eenvoudig om ’n goedkoop en vinnige metode te vind om van die saak ontslae te raak. Hulle kan selfs twyfel of hulle werklik skuldig is, maar hulle besef dat die verhoorproses waartydens die staat hul skuld moet bewys, uitgerek kan wees en in elk geval op ’n skuldigbevinding kan uitloop. Hierdie persone pleit dan juis skuldig om tegniese en uitgerekte regsprosesse te vermy. Regter Hugo is van oordeel dat artikel 112(1)(b) nie ontwerp is om sodanige beskuldigdes te ontmoedig om skuldig te pleit nie, mits dit natuurlik uit die ondervraging blyk dat die beskuldigde inderdaad al die elemente van die misdryf erken. Daar kan nie van die beskuldigde verwag word om meer te erken as die bewerings in die klagstaat of meer te erken as wat die staat moet bewys indien hy of sy onskuldig gepleit het nie (Vorster 382I–383A). Die deurslaggewende vraag behoort te wees of die beskuldigde enige rede het om te glo dat die apparaat nie die voorgeskrewe apparaat was nie, nie gekalibreer was nie en nie ’n akkurate lesing verskaf het nie (387J–388A). Regter Hugo dui byvoorbeeld aan dat die erkenning deur die beskuldigde dat hy of sy drank gebruik het, op sigself in gepaste omstandighede ’n aanduiding daarvan kan wees dat hy of sy vertroue het in die akkuraatheid van die apparaat wat die alkoholvlak in die asem meet (Vorster 388E–G).

So gesien, is die basis vir die erkenning rakende die spoedmetingsapparaat ook nie uitsluitlik in die erkennings wat deur die hof in Phuzi vereis word, te vinde nie. Trouens, die aard van die erkennings wat deur die hof in Phuzi vereis word, hou verband met ’n hoogs gekompliseerde elektroniese apparaat (selfs waar die bevoegdheidsertifikate en kalibreringsertifikate vooraf tot die beskuldigde se beskikking gestel word), en dit is te betwyfel of sodanige erkennings ooit volkome ingelig sal wees. Indien die beskuldigde nie die aangetekende spoed in geskil plaas nie, of nie aandui dat hy oor die akkuraatheid daarvan twyfel nie, behoort die hof tevrede te wees dat daar ’n voldoende basis vir die erkenning bestaan. Waar ’n onverteenwoordigde beskuldigde met bestuurservaring byvoorbeeld erken dat die oorskryde spoed soos vermeld in die klagstaat ooreenstem met die spoed wat hy op die betrokke pad afgelê het soos aangedui deur sy of haar voertuig se spoedmeter, sal dit ’n voldoende basis vir die erkenning daarstel. In gevalle waar die hof ’n pleit van onskuldig aanteken omdat daar twyfel bestaan oor die basis van die erkennings oor die spoedmeting, kan die staat byvoorbeeld getuienis verskaf deur gebruik te maak van beëdigde verklarings van deskundiges kragtens artikel 212 van die Strafproseswet. Dit beteken egter nie dat hierdie getuienis by die pleit van skuldig formeel voor die hof geplaas hoef te word nie. By die pleit van skuldig behoort dit ook aanvaarbaar te wees as die staat die toepaslike bevoegdheids- en kalibrasiesertifikate aan die beskuldigde en die hof toon en die beskuldigde tydens die ondervraging deur die hof die akkuraatheid daarvan aanvaar (S v Goras 1985 4 SA 411 (O)). Die hof moet uiteindelik oortuig wees dat die erkenning tereg gemaak is. Daar is nie ’n vaste reël nie en elke saak het sy eie omstandighede. In hierdie konteks kom die kwessie van die erkenning van feite wat buite die beskuldigde se persoonlike kennis val ook ter sprake. Dit is gevestigde reg dat ’n beskuldigde erkennings mag maak aangaande aangeleenthede wat buite sy of haar persoonlike kennis val. Sodanige erkennings sal meer geredelik deur die hof aanvaar word in gevalle waar die beskuldigde regsverteenwoordiging geniet. (Vir ’n volledige bespreking van hierdie kwessie sien Du Toit e.a. 1987:17-21–17-23; Schmidt en Rademeyer 2003:7-7–7-8). Die waarde wat aan sodanige erkennings geheg word, sal afhang van die omstandighede van elke saak, in die besonder enige ander inligting wat voor die hof geplaas is (S v Nkhabelani 1990 2 SASV 497 (B); S v Martins 1986 (4) SA 934 (T) 944 H; S v Nongabe 1990 2 SASV 522 (O) (526 I–J). Die waarde van die erkennings by die pleit van skuldig verg egter nie uitsluitlik dat die beskuldigde erkennings mag maak slegs met betrekking tot daardie getuienis tot die staat se beskikking wat moontlik vir ’n suksesvolle vervolging aangewend sal word nie.

Daar moet verder beklemtoon word dat die hof in hierdie stadium van die verrigtinge nie oorweging hoef te skenk aan die geloofwaardigheid van die antwoorde van die beskuldigde nie, en die verduideliking van die beskuldigde moet as die waarheid aanvaar word. Die hof moet oorweging daaraan skenk of die beskuldigde se verduideliking ’n moontlike verweer openbaar. Indien die hof twyfel of die beskuldigde wel skuldig is, moet ’n pleit van onskuldig kragtens die bepalings van artikel 113 van die Strafproseswet aangeteken word (Shiburi par. 19; Joubert e.a. 2020:363; Cowling 1995:144–51).

Die hof in Vorster wys ook, soortgelyk aan die sentimente van regter Daffue in Mtyhole, op bepaalde praktiese oorwegings. Waar die beskuldigde skuldig pleit omdat hy werklik glo dat hy of sy skuldig is, nie enige aspek van die staat se saak wil aanveg nie en die verrigtinge so spoedig moontlik wil afhandel sonder om herhaaldelik in die hof te verskyn, maar die verrigtinge nietemin om tegniese redes tersyde gestel word, bring dit aansienlike ongerief vir hom of haar mee. Dit sluit in die neem van verlof, reiskostes en tyd wat verspil word. Die hof behoort dus nie ’n oormatige tegniese benadering te volg nie (Vorster 309I–310A). In die kritiek wat deur regter Daffue in Mtyhole op Khambule uitgespreek het, wys hy dan ook daarop dat die beskuldigde in Khambule duidelik deur ’n ervare strafregpraktisyn verteenwoordig is en dat dit duidelik uit die gedetailleerde verklaring geblyk het dat hy skuldig wou pleit. Die tersydestelling van skuldigbevinding in Khambule het hierdie doel verydel en die regter het bygevoeg dat hy verbaas sou wees as die dokter nie weer skuldig sou pleit indien die vervolging van nuuts af aan ingestel sou word nie (Mtyhole par. 23).

Die noodsaak van doeltreffende strafregpleging en die spoedige finalisering van strafsake in Suid-Afrika is vanselfsprekend. Geen strafregstelsel is volmaak nie. Die reg op ’n billike verhoor bring nie mee dat die beskuldigde altyd voordeel moet trek uit allerlei tegniese punte en altyd op die mees voordelige wyse behandel hoef te word nie (National Director of Public Prosecutions v King 2010 2 SASV 146 (HHA) par. 5). Alhoewel artikel 112 van die Strafproseswet daarop gemik is om beskuldigdes te beskerm, is dit nie vir die howe nodig om ekstra moeite te doen om ’n verweer te vind vir beskuldigdes wat hulle volkome versoen met hul strafregtelike aanspreeklikheid nie.

In hierdie verband is dit ook nodig om daarop te wys dat hersieningsverrigtinge daarop gemik is om te bepaal of geregtigheid geskied het, en nie soseer daarmee te make het of daar streng aan elke regsvoorskrif voldoen is nie. Die belange van regspleging en die belange van beide die staat en die beskuldigde moet ook oorweeg word (S v Nteleki 2009 2 SASV 323 (O) par. 7).

 

7. Gevolgtrekking

Alhoewel artikel 112 van die Strafproseswet daarop gemik is om beskuldigdes, veral onverteenwoordigde beskuldigdes, te beskerm, is dit nie vir die voorsittende beampte nodig om inligting rakende elke stukkie getuienis wat die staat moontlik sou kon aanbied, vas te stel nie. In Shiburi het die Hoogste Hof van Appèl dit duidelik gemaak dat die hof moet vasstel of daar ’n voldoende basis bestaan vir die skuldigbevinding aan die misdryf wat in die klagstaat vervat is. Die hof kan die weergawe van die beskuldigde as die waarheid aanvaar. Veral by misdade waar die staat se saak tipies op die uitslag van elektroniese apparate berus, behoort die deurslaggewende vraag te wees, soos in Vorster verduidelik, of die beskuldigde enige rede het om te glo dat die apparaat nie ’n akkurate lesing verskaf het nie. Die basis vir die erkenning hoef verder nie uitsluitlik gevind te word in die erkenning van die toelaatbaarheid of betroubaarheid van die feite tot beskikking van die staat nie. Die howe hoef nie op ’n byna kunsmatige wyse ’n verweer te skep vir die beskuldigde wat aandui dat hy of sy nie met die staat in geding wil tree nie.

 

Bibliografie

Burchell, J. 2013. Principles of criminal law. 4de uitgawe. Kaapstad: Juta.

Cowling, M.G. 1995. Altering a guilty plea – some new developments in regard to section 113 of the Criminal Procedure Act. South African Journal of Criminal Justice, 8(2):144–51.

Du Toit, E., F. de Jager, A. Paizes en S.E. van der Merwe. 1987. Commentary on the Criminal Procedure Act. Diensuitgawe 64. Kaapstad: Juta.

Du Toit, P. 2020. Recent cases: Criminal procedure. South African Journal of Criminal Justice, 33(2):480–92.

Global Road Safety Partnership. 2008. Speed management: A road safety manual for decision-makers and practitioners. Genève: World Health Organisation.

Hoctor, S. 2019. Recent cases: General principles and specific offences. South African Journal of Criminal Justice, 32(3):387–98.

Joubert, J.J., D. Ally, G.P. Kemp, M.T Mokoena, J.P. Swanepoel, S.S. Terblanche en S.E. van der Merwe. 2020. (Redakteur J.J Joubert.) Strafprosesreghandboek. 13de uitgawe. Claremont: Juta.

Kruger, A. 2008. Hiemstra’s criminal procedure. Diensuitgawe 13. Durban: LexisNexis.

Road Traffic Management Corporation. 2016. Traffic Offences Survey December 2016. https://www.rtmc.co.za/images/rtmc/docs/tos/Traffic%20Offence%20Survey%20(TOS)%20Report%20-%20December%202016.pdf (31 Januarie 2021 geraadpleeg).

Schmidt, C.W.H. en H. Rademeyer. 2003. Law of evidence. Diensuitgawe 18. Durban: LexisNexis.

Schwikkard, P.J. en S.E. van der Merwe. 2016. Principles of evidence. 4de uitgawe. Kaapstad: Juta.

Theophilopoulos, C., Z. Hlope, C. Marumoage, K. Naidoo, J. Omar, S. Singh, A. Steenberg, B. Tshehla en A. van der Merwe. 2020. (Redakteur C. Theophilopoulos.) Criminal procedure in South Africa. Kaapstad: Oxford University Press South Africa.

World Health Organisation. 2017. Managing speed. Genève: World Health Organisation.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top