Vonnisbespreking: Risikoskepping en die middellike aanspreeklikheid van werkgewers: ’n belangrike ontwikkeling

  • 0

Vonnisbespreking: Risikoskepping en die middellike aanspreeklikheid van werkgewers: ’n belangrike ontwikkeling
Stallion Security v Van Staden (526/2018) [2019] ZASCA 127 (27 September 2019)

Johann Neethling, Departement Privaatreg, Universiteit van die Vrystaat

LitNet Akademies Jaargang 16(3)
ISSN 1995-5928

 

Abstract

Risk creation and the vicarious liability of employers: an important development

In this case the Supreme Court of Appeal developed the common law with regard to the vicarious liability of employers by recognising that the creation of risk of harm by an employer may, in an appropriate case, constitute a relevant consideration in giving rise to a sufficiently close link between the harm caused by the employee and the business of the employer. This approach is fully supported, has been propagated by Neethling and Potgieter (1993:500 ff.) for more than 25 years and constitutes an important milestone in the development of our law concerning the vicarious liability of employers. This approach should especially be considered in instances of intentional wrongdoing by an employee. As a general guideline it is submitted that an employer should be liable for an (intentional) delict of his employee if his appointment and work conditions enabled him to commit the delict (and hence created a heightened risk of prejudice) in such a manner that it should be imputed to the employer on grounds of reasonableness, fairness and justice. Such a heightened risk of prejudice is present in particular where employees have been placed in a position of trust or authority, creating the possibility of abuse. This was clearly the position in Stallion and the employer was therefore justly held vicariously liable for the delict (murder) committed by its employee. In this respect the fact that the employee was on duty when the delict was committed should be prima facie indicative of liability. This factor should be of increasing weight the more the employee used the “trappings” of his work while committing a delict on duty. Where the employee was not on duty, vicarious liability should be imposed only if there are sufficient other factors which persuade the court that the delict should notwithstanding be imputed to the employer, as was the case in Stallion.

Keywords: employer-employee; intentional delict; legal principles; policy considerations; risk creation; risk theory; standard test; strict liability; sufficiently close link; vicarious liability

Trefwoorde: beleidsoorwegings; middellike aanspreeklikheid; opsetlike delik; regsbeginsels; risikoskepping; risikoteorie; standaardtoets; strikte aanspreeklikheid; voldoende noue verband; werkgewer-werknemer

 

1. Inleiding

In hierdie beslissing het die Hoogste Hof van Appèl deur middel van ontwikkeling van die gemenereg vir die eerste keer erkenning daaraan verleen dat risikoskepping deur die werkgewer ’n faktor is wat in ag geneem kan word by die beantwoording van die vraag of die werknemer by delikspleging binne die perke van sy diensbetrekking opgetree het en, indien wel, die werkgewer bygevolg middellik aanspreeklik kan stel. Die oogmerk met hierdie bespreking is om die beslissing van die Appèlhof onder die loep te neem, veral in die lig daarvan dat dit voorkom of risikoskepping ’n drieledige rol kan vervul. Vooraf is dit dus wenslik om as agtergrond ’n oorsig van die posisie van risikoskepping by die middellike aanspreeklikheid van werkgewers te skets.

 

2. Agtergrond

Middellike aanspreeklikheid kan heel algemeen omskryf word as die skuldlose aanspreeklikheid van een persoon vir die onregmatige daad van ’n ander (vgl. Galand-Carval 2003:289; Rogers 2003:64; Neethling en Potgieter 2015:400; Neethling 2003:217; Neethling 2009:887). Dit is gevestigde reg dat waar ’n werknemer, handelende binne die perke van sy diensbetrekking, ’n delik pleeg, sy werkgewer strik ten volle middellik vir die skade aanspreeklik is (sien Scott 1983:199 e.v.; Van der Merwe en Olivier 1989:500 e.v.; Neethling en Potgieter 2015:499 e.v.; Loubser en Midgley 2017:467 e.v.; Van der Walt en Midgley 2016:53–7). Alhoewel daar verskeie teorieë aangevoer word as regverdiging vir die werkgewer se middellike aanspreeklikheid (sien Neethling en Potgieter 2015:401), word algemeen aanvaar dat werkgewers deur hul werknemers ’n risiko van benadeling vir derde partye skep en dat sodanige risikoskepping die ware regverdiging bied. Dit blyk egter dat risikoskepping ’n drieledige rol kan vervul (sien hieroor Neethling 2009:882 e.v.).

Eerstens kan dit ’n verklaring vir die beginsel van strikte middellike aanspreeklikheid verskaf. Risikoskepping bied feitlik deurgaans ’n bevredigende verklaring vir die meeste gevalle van skuldlose aanspreeklikheid wat in ons reg bestaan (sien Neethling 2009:882–4), en word beskou as ’n belangrike – indien nie dié belangrikste nie – rede vir middellike aanspreeklikheid (vgl. Loubser en Midgley 2017:468). In Feldman (Pty) Ltd v Mall 1945 AD 733, 741 word dit soos volg gestel:

[A] master who does his work by the hand of a servant creates [for his own ends] a risk of harm to others if the servant should prove to be negligent or inefficient or untrustworthy; that, because he has created this risk for his own ends he is under a duty to ensure that no one is injured by the servant’s improper conduct or negligence in carrying on his work. 

Vgl. ook Ess Kay Electronics Pte Ltd v First National Bank of Southern Africa Ltd 2001 1 SA 1215 (HHA) 1218; Commissioner South African Revenue Service v TFN Diamond Cutting Works (Pty) Ltd 2005 5 SA 113 (HHA) 117; Minister of Police v Rabie 1986 1 SA 117 (A) 134−5. Hierbenewens word die nuttigheidsfunksie en praktiese waarde van risiko-aanspreeklikheid in gepaste gevalle deur die Hoogste Hof van Appèl onderstreep (sien Loriza Brahman v Dippenaar 2002 2 SA 477 (HHA) 485). 

Tweedens kan dit as ’n onafhanklike grondslag vir middellike aanspreeklikheid dien (sien Neethling 2009:884–7; Neethling en Potgieter 2015:407–8). Scott (1983:15) toon oortuigend aan dat risikoskepping die ware regverdiging vir die werkgewer se aanspreeklikheid verskaf. Die werk wat aan ’n werknemer toevertrou word, skep naamlik bepaalde risiko’s van benadeling (die pleeg van delikte) waarvoor die werkgewer op grond van billikheid en regverdigheid teenoor benadeelde buitestanders aanspreeklik gehou behoort te word. Daarom moet risikoskepping volgens hom die basis of grondslag vir middellike aanspreeklikheid vorm (sien Scott 1983:35–68; sien ook Scott 1979:44 e.v.). Die aanvoorwerk hiervoor in die regspraak is in Minister of Police v Rabie 1986 1 SA 117 (A) 134 gedoen waar appèlregter Jansen die volgende sê:

By approaching the problem whether [an employee’s] acts were done “within the course or scope of his employment” from the angle of creation of risk, the emphasis is shifted from the precise nature of his intention and the precise nature of the link between his acts and [his] work, to the dominant question whether those acts fall within the risk created by [his employer].

Waar appèlregter Jansen (135) hom nie oor die grense van aanspreeklikheid gegrond op risikoskepping wou uitspreek nie, beslis die hof in Minister van Wet en Orde v Wilson 1992 3 SA 920 (A) 927–8 op die feite tog dat die gedrag van die dader so ver verwyderd was van enige risiko wat deur sy aanstelling as polisieman geskep is dat die staat nie middellik aanspreeklik kan wees nie. Volgens Scott (1983: 48 e.v.) behoort ’n werkgewer nietemin net aanspreeklik te wees indien die optrede (delik) van die werknemer redelikerwys voorsienbaar was (sien egter Minister of Police v Mbilini 1983 3 SA 705 (A) 716–7). Hoe ook al, die Appèlhof (sien Minister of Law and Order v Ngobo 1992 4 SA 822 (A) 828–834; Macala v Maokeng Town Council 1993 1 SA 434 (A) 441) was in latere beslissings teësinnig om risikoskepping as selfstandige basis vir middellike aanspreeklikheid uit te bou. In Ess Kay Electronics Pte Ltd v First National Bank of Southern Africa Ltd 2001 1 SA 1215 (HHA) 1219 word trouens verklaar dat die risikoteorie bloot ’n verklaring vir die middellike-aanspreeklikheidsbeginsel bied en nie ’n formulering van die beginsel self daarstel nie.

Derdens kan risikoskepping direk verband hou met, en is daarom bloot ’n faktor wat ’n rol kan speel by, die ondersoek of die werknemer binne die perke van sy diensbetrekking gehandel het (sien Neethling 2009:887–93). Dit vervang dus nie die standaardtoets in hierdie verband nie. Volgens hierdie toets tree die werknemer binne die perke van sy diensbetrekking op indien hy in die uitvoe­ring van sy verpligtinge inge­volge die dienskontrak handel. Daarteenoor tree hy buite bedoelde perke op indien hy hom heeltemal van sy diensbetrekking losmaak en uitsluitlik sy eie doelstellings of belange nastreef of dien. Die beoordeling in hierdie verband is enersyds subjektief en andersyds objektief van aard (sien Rabie 134; Neethling en Potgieter 2015:404–5; Loubser en Midgley 2017:473–6; Van der Walt en Midgley 2016:53–5). Die werkgewer kan middellike aanspreeklikheid ontkom slegs indien die werknemer nie alleen, subjektief gesien, uitsluitlik sy eie belange nagestreef het nie, maar ook, objektief beskou, hom geheel en al van sy dienskontraktuele verpligtinge losgemaak het (sien Kasper v André Kemp Boerdery CC 2012 3 SA 20 (WKK) 27). In laas­genoemde verband is dit veral belangrik dat daar nie ’n voldoende noue verband tussen werknemer se optrede en sy werk moet bestaan het nie. Die vraag of daar so ’n verband bestaan, is problematies veral in gevalle van die werknemer se opsetlike delikspleging (sien bv. die sake in Neethling en Potgieter 2015:405 vn. 148), aangesien hierdie tipe gedrag die antitese is van ’n handeling wat binne die perke van die diensbetrekking begaan is, en dus nie geredelik onder die standaardtoets tuisgebring kan word nie (sien Minister of Finance v Gore 2007 1 SA111 HHA) 123). Gevolglik was die tradisionele siening, afgesien van ’n paar uitsonderings, dat middellike aanspreeklikheid vir opsetlike delikspleging uitgesluit word. Nietemin het die pendulum in die rigting van ’n meer liberale benadering begin swaai, wat op die spits gedryf is deur die rigtinggewende uitspraak van die Konstitusionele Hof in K v Minister of Safety and Security 2005 6 SA 419 (KH), waar die hof bevind het dat die staat middellik aanspreeklik vir polisieverkragting is (sien bv. ook F v Minister of Safety and Security 2012 1 SA 536 (KH) 549 e.v.; Minister of Defence v Von Benecke 2013 2 SA 361 (HHA) 364–7; Giesecke & Devrient Southern Africa (Pty) Ltd v Minister of Safety and Security 2012 2 SA 137 (HHA) 150; Minister of Safety and Security v Luiters 2006 4 SA 160 (HHA) 165 (2007 2 SA 106 (KH) 112–3, 115); Gore 123–4; sien verder Loubser en Midgley 2017:476–80; Neethling en Potgieter 2015:405–6). Daar word aan die hand gedoen dat risikoskepping ten minste as ’n faktor oorweeg moet word by die beantwoording van die vraag of die werknemer binne die perke van sy diensbetrekking opgetree het, soos reeds in die regspraak plaasgevind het (sien bv. Macala 441; F v Minister of Safety and Security 2010 1 SA 606 (WKK) 625–6; Scott 2011:135 e.v.). In Minister of Safety and Security v F 2011 3 SA 487 (HHA) 503 aanvaar die hof dat hierdie idee ver van dood is, soos duidelik blyk uit buitelandse beslissings wat die hof aanhaal (sien ook Neethling en Potgieter 2015:408 vn. 164).

 

3. Beslissing

3.1 Feite

Die moordenaar (K) van die oorledene (V) was in diens van ’n sekuriteitsonderneming (S) wat sekuriteitsdienste gelewer het aan kliënte, onder andere die maatskappy (M) waar V as finansiële bestuurder by die hoofkantoor werksaam was. K het die spreekwoordelike leer van bevordering vinnig geklim en is aangestel eers as perseeltoesighouer en later as perseelbestuurder van die drie persele van M waar S sekuriteitsdienste in die vorm van kontrole oor toegang tot die persele moes lewer. Uit hoofde van sy posisie het K toegang deur middel van ’n biometriese sekuriteitstelsel tot die hoofkantoor van M gehad. As perseelbestuurder is K ook toegerus met ’n systap- of omwegsleutel (“bypass or override key”) wat toegang tot die kantore in die hoofgebou gebied het sonder dat die biometriese stelsel gebruik moes word. ’n Maand voor die moord het K se gedrag by die werk versleg en is hy op siekverlof geplaas. Dit blyk dat sy ongesteldheid en sy onregmatige optrede daarna toegeskryf kon word daaraan dat hy geleende geld nie kon terugbetaal nie en dat die leners begin het om hom “seer te maak”. Op die gewraakte dag het K, gewapen met ’n vuurwapen, na die hoofkantoor gegaan waar hy geweet het V werk, met die systapsleutel sy kantoor bereik en ’n som geld van hom geëis. Omdat V nie die geld uit ’n kluis kon bekom nie, het hy ’n deel daarvan uit sy rekening elektronies na K se rekening oorbetaal. Daarna het K vir V uit die gebou na sy geparkeerde motor begelei en hom beveel om na ’n sekere area te ry, waar hy hom doodgeskiet en toe weggehardloop het. K is kort daarna gevange geneem, maar het later uit aanhouding ontsnap. Volgens verdere inligting is daar vermoed dat hy dood is (sien parr. 2−11).

V se eggenote (E) stel ’n eis teen sowel K as S in vir skadevergoeding vir verlies van onderhoud weens haar man se dood. Die eis teen S is gebaseer op middellike aanspreeklikheid vir die onregmatige daad wat deur K gepleeg is. Om verstaanbare redes is die eis egter net teen S voortgesit (par. 12). Appèlregter Van der Merwe, wat die uitspraak van die Appèlhof lewer, vat die beslissing van die verhoorhof soos volg saam (par. 13):

The court a quo, quite correctly, held that the intentional wrongs of Mr Khumalo were committed entirely for his own purposes. Citing authority that I shall return to, it held that the killing of the deceased was nevertheless sufficiently linked to Mr Khumalo’s employment with Stallion for it to be held vicariously liable for the loss suffered by Ms Van Staden. In this regard the court a quo essentially relied on the strong causal link between the employment of Mr Khumalo and the murder of the deceased, the risk of abuse created by his employment and the contractual duties that Stallion owed to Bidvest through Mr Khumalo. The quantum of damages having been agreed, the court a quo granted judgment in favour of Ms Van Staden in the amount of R1 680 000, interest thereon and costs of suit. The appeal lies against this order.

3.2 Tersaaklike regsbeginsels

Ten aanvang wys die hof (par. 14) op die algemene beginsel dat ’n werkgewer middellik aanspreeklik is vir ’n delik wat sy werknemer binne die perke van sy diensbetrekking begaan het, dat die werkgewer skuldloos aanspreeklik is, dat hierdie beginsel uit die Romeinse reg stam en op beleidsoorwegings gegrond is. In hierdie verband moet nietemin daarop gewys word dat die beginsel vanuit die Engelse reg in ons reg ingeburger is, soseer dat Boberg (1966:169) dit beskryf as “perhaps the most comprehensive and far-reaching innovation we have taken from English law” (sien ook Loubser en Midgley 2017:466 en die bronne waarna daar verwys word). Appèlregter Van der Merwe (par. 15) vervolg dat in gevalle waar die werknemer die delik pleeg terwyl hy net of gedeeltelik met sy werk doenig is, middellike aanspreeklikheid in die algemeen nie probleme oplewer nie. Probleme ontstaan egter waar die werknemer ’n opsetlike onregmatige daad uitsluitlik vir eie doeleindes pleeg. Hy verwys (par. 16) in hierdie verband na die standaardtoets wat in Rabie 134 soos volg omskryf word (sien ook hier bo par. 2): 

It seems clear that an act done by a servant solely for his own interests and purposes, although occasioned by his employment, may fall outside the course or scope of his employment, and that in deciding whether an act by the servant does so fall, some reference is to be made to the servant’s intention (cf Estate van der Byl v Swanepoel 1927 AD 141 at 150). The test is in this regard subjective. On the other hand, if there is nevertheless a sufficiently close link between the servant’s acts for his own interests and purposes and the business of his master, the master may yet be liable. This is an objective test.

Soos hier bo uitgewys (par. 2), beklemtoon die regter (parr. 17–8) ook hier die belangrikheid van die beslissing in K deur te wys op die intensiewe oorsig van leidende Suid-Afrikaanse en buitelandse regspraak deur regter O’Regan, en veral haar ontwikkeling van die basis van gemeenregtelike middellike aanspreeklikheid wat in Rabie gelê is. Die gevolg was universele goedkeuring in daaropvolgende beslissings van die Hoogste Hof van Appèl. Ter wille van ’n beter begrip van die rigtinggewende beslissing in K, is dit wenslik om ’n kort oorsig daarvan te gee (sien ook Loubser en Midgley 2017:478−9): Die eiseres, ’n jong vrou, het laatnag gestrand geraak en drie polisiebeamptes, geklee in volle uniform, het aangebied om haar in die polisiemotor huis toe te neem. Op pad word sy om die beurt deur al drie verkrag. In teenstelling met K v Minister of Safety and Security 2005 3 SA 179 (HHA) (vir ’n kritiese bespreking sien Neethling en Potgieter 2005 TSAR 595 e.v.) beslis regter O’Regan dat die staat middellik aanspreeklik is vir die polisiemanne se optrede. Volgens haar (435–7, 441–4) was daar, indien die standaardtoets soos geformuleer in Rabie 134 (sien hier bo) en toegelig deur die grondwetlike Handves van Regte, toegepas word, ’n voldoende noue verband (“sufficiently close connection”) tussen die polisie se optrede en hul werk om hul werkgewer middellik aanspreeklik te stel: Daar was ’n statutêre plig op die polisiebeamptes om misdaad te voorkom en lede van die publiek te beskerm; die polisiemanne het aangebied om die eiseres te help en sy het redelik opgetree deur die aanbod te aanvaar en haar vertroue in hulle te plaas; en die optrede van die polisiemanne het tegelykertyd bestaan uit ’n commissio (die brutale verkragting) en ’n omissio (hul versuim om haar teen die verkragting te beskerm).

Hierop laat appèlregter Van der Merwe (par. 19) volg:

It bears emphasising that a sufficiently close link must exist between the wrongful act of the employee on the one hand and the business or enterprise of the employer on the other. This supple concept accords with the objective nature of the second part of the test. The purpose of the development of the law in Rabie and K was to provide redress to a victim against an employer even though the wrongful act did not in any manner constitute the exercise of the duties or authorised acts of the employee, if it was objectively sufficiently linked to the business or enterprise of the employer. Thus, references to a link with the duties, authorised acts or employment of the employee should in this context be avoided.

Die vraag is egter wanneer daar ’n voldoende noue verband met die werk by opsetlike delikspleging sal bestaan (parr. 20−1). ’n Gerieflike beginpunt is volgens die regter dat die werkgewer nie aanspreeklik sal wees bloot omdat sy werk die werknemer die geleentheid gebied het om ’n delik te pleeg nie: “The enquiry may not be reduced to a mere ‘but for’ causation analysis.” Iets meer as bedoelde geleentheid is nodig, en dit sal afhang van die relevante feitelike omstandighede en normatiewe oorwegings van elke besondere geval of aanspreeklikheid verder ontwikkel moet word. Dit bring die hof by ’n oorweging van die rol wat die skep van ’n risiko van nadeel by die besigheid van die werkgewer behoort te speel.

3.3 Regsontwikkeling

Regter Van der Merwe (parr. 22–5) siteer eerstens die welbekende diktum in Feldman 741 (hier bo par. 2 aangehaal) dat ’n werkgewer deur middel van ’n werknemer “creates a risk of harm to others if the servant should prove to be negligent or inefficient or untrustworthy”; en daarna die ewe bekende diktum in Rabie 134 (ook hier bo par. 2 aangehaal) dat as gevolg van die werkgewer (hier die staat) se aanstelling van ’n besondere werknemer “the State created a risk of harm to others, viz the risk that [the employee] could be untrustworthy and could abuse or misuse those powers for his own purposes”. In Ngobo 831 staan die hof egter krities teenoor die benadering in Rabie, en wel soos volg: 

Put another way, having regard to [the employee’s] intention and the facts proved, “approaching the problem ... from the angle of risk” would appear to be the only basis on which vicarious liability could be said to arise from [the employer’s] misconduct. But what is regarded as an underlying reason – perhaps the main one – for attaching vicarious liability to the employer, namely, the creation of risk (also known as “risk liability”), has hitherto never been regarded in our law as the consideration which determines whether such liability is proved.

Hiermee stem appèlregter Van der Merwe (parr. 26–7) egter nie saam nie. Volgens hom het Rabie nie beslis dat risikoskepping die enigste faktor is wat in ag geneem moet word nie. Ook is daar geen rede waarom risikoskepping nie sowel die beleidsrede vir middellike aanspreeklikheid as die kriterium vir die aanwending van hierdie beginsel kan wees nie (anders as wat by implikasie in Ess Kay 1219 te kenne gegee is). Hierdie siening word aanvaar deur hoogste howe in Kanada en die Verenigde Koninkryk waarna die hof (parr. 28–30) vervolgens verwys. Ter toeligting word hier net die volgende diktum in Bazley v Curry [1999] 2 SCR 534 siteer, wat ook in K 439 aangehaal is:

(2) … Vicarious liability is generally appropriate where there is a significant connection between the creation or enhancement of a risk and the wrong that accrues therefrom, even if unrelated to the employer’s desires. Where this is so, vicarious liability will serve the policy considerations of provision of an adequate and just remedy and deterrence. Incidental connections to the employment enterprise, like time and place (without more), will not suffice …
(3) In determining the sufficiency of the connection between the employer’s creation or enhancement of the risk and the wrong complained of, subsidiary factors may be considered. These may vary with the nature of the case. When related to intentional torts, the relevant factors may include, but are not limited to, the following:
(a) the opportunity that the enterprise afforded the employee to abuse his or her power;
(b) the extent to which the wrongful act may have furthered the employer’s aims (and hence be more likely to have been committed by the employee);
(c) the extent to which the wrongful act was related to friction, confrontation or intimacy inherent in the employer’s enterprise;
(d) the extent of power conferred on the employee in relation to the victim;
(e) the vulnerability of potential victims to wrongful exercise of the employee’s power.

Die beslissings in Kanada en die Verenigde Koninkryk toon dat dit nou beslis ingeburger geraak het dat risikoskepping ’n belangrike oorweging is by die vraag of daar ’n genoegsame noue verband tussen die optrede van die werknemer en sy werk bestaan om middellike aanspreeklikheid te vestig. Volgens die hof (parr. 31–2) is die redenasie van die beslissings oortuigend en verskaf waardevolle riglyne vir die ontwikkeling van ons reg op dié gebied. Met verwysing na Neethling en Potgieter (2015:407–8) verklaar appèlregter Van der Merwe voorts dat ook leidende Suid-Afrikaanse akademiese kommentators hierdie benadering steun. Om hierdie oorwegings moet ons reg, soos dit in Rabie en K daargestel is, verder ontwikkel word “to recognise that the creation of risk of harm by an employer may, in an appropriate case, constitute a relevant consideration in giving rise to a sufficiently close link between the harm caused by the employee and the business of the employer”. Of die werkgewer ’n risiko van nadeel geskep het, moet objektief beoordeel word.

3.4 Toepassing van die reg op die feite 

Aangesien K die moord uitsluitlik vir sy eie doeleindes gepleeg het, is die enigste vraag volgens die hof (parr. 33–4) of die moord desnieteenstaande genoegsaam verband gehou het met S se besigheid. Die feit dat K met siekverlof was tydens die moord en nie die moord by sy werkplek gepleeg het nie, dra daartoe by om die verband tussen S se besigheid en die dood van V te verminder. Ook was daar geen verbintenis tussen S se besigheid en die vuurwapen in K se besit nie.

Aan die ander kant het S vir K meer as ’n blote geleentheid gebied om die gewraakte optrede te pleeg. Dit het hom in staat gestel om die kantoorarea sonder enige bespeuring te betree en te verlaat. Dit is moontlik gemaak deur sy intieme kennis van die uitleg en die sekuriteitsdienste op die perseel; sy opdrag om onaangekondigde besoeke op die perseel te eniger tyd te maak; sy wete dat V laat sou werk; en die belangrikste, sy besit van die systapsleutel na die kantoorarea. Hierdie spesiale posisie het ’n wesentlike risiko geskep dat K sy magte kon misbruik en sodoende vir V aan die roof en bygevolg die moord blootgestel (sien par. 36). Hierbenewens was S kontraktueel verplig om 24-uur-toegangskontrole oor die persele van M te verskaf ten einde M se personeel by die werkplek en sy eiendom te beskerm. S het K in bevel geplaas om hierdie verantwoordelikheid uit te oefen. Hierdie faktor verskaf volgens die hof (par. 3.7) ’n belangrike normatiewe skakel tussen S se besigheid en die nadeel wat E gely het.

Op grond hiervan besluit appèlregter Van der Merwe (par. 38) dat die verhoorhof nie fouteer het deur te beslis dat daar ’n voldoende noue verband tussen die besigheid van S en die dood van V aanwesig was nie. Die appèl teen hierdie beslissing word gevolglik van die hand gewys.

 

4. Slotsom

Hierdie beslissing van die Hoogste Hof van Appèl om deur middel van ontwikkeling van die gemenereg vir die eerste keer erkenning daaraan te verleen dat risikoskepping deur die werkgewer ’n faktor is wat in ag geneem kan word by die beantwoording van die vraag of die werknemer by delikspleging binne die perke van sy diensbetrekking opgetree het en, indien wel, die werkgewer bygevolg middellik aanspreeklik kan stel, word volkome sonder voorbehoud onderskryf. Hierdie benadering word vir meer as 25 jaar al deur Neethling en Potgieter (1993:500 e.v.) voorgestaan en stel ’n belangrike mylpaal daar in die ontwikkeling van die reg aangaande die middellike aanspreeklikheid van werkgewers in ons reg.

Daar word aan die hand gedoen dat hierdie benadering veral in gevalle van opsetlike delikspleging deur die werknemer oorweeg behoort te word (sien Neethling en Potgieter 2015:408 vn. 163; Neethling 2009:892–3). Dit geld in die besonder waar die werkgewer aanspreeklik gehou word vir die werknemer se “improper modes” van werkverrigting, aangesien risikoskepping ’n beter verklaring vir sodanige aanspreeklikheid bied. As algemene riglyn word voorgestel dat ’n werkgewer aanspreeklik behoort te wees vir ’n (opsetlike) delik van sy werknemer as sy aanstelling en werksomstandighede hom op sodanige wyse in staat gestel het om die delik te pleeg (en dus ’n verhoogde risiko van benadeling geskep het) dat dit die werkgewer op grond van redelikheid, billikheid en regverdigheid toegereken kan word. Sodanige verhoogde risiko van benadeling is in die besonder aanwesig waar werknemers in ’n posisie van vertroue of gesag, wat die moontlikheid van misbruik skep, geplaas is. Dit was klaarblyklik die geval in Stallion en daarom is S tereg aanspreeklik gestel. In hierdie verband behoort die feit dat die werknemer aan diens was toe die delik gepleeg is, prima facie aanduidend van aanspreeklikheid te wees. Hierdie faktor behoort swaarder te weeg hoe meer die werknemer tydens delikspleging aan diens gebruik gemaak het van die tooisels (“trappings”) van sy werk. Waar die werknemer egter nie aan diens was nie (soos in Stallion), behoort middellike aanspreeklikheid te volg net indien daar genoegsame ander faktore is wat die hof oortuig dat die delik desnieteenstaande aan die werkgewer toegereken moet word, soos klaarblyklik in Stallion die geval was (sien verder Neethling 2009:892; Neethling en Potgieter 2015:408 vn. 163; Neethling en Potgieter 1993:504; Loubser en Midgley 2017:468, 478).

 

Bibliografie

Boberg, P.Q.R. 1966. Oak tree or Acorn: Conflicting approaches to our law of delict. South African Law Journal, 83(2):150.

Galand-Carval, S. 2003. Comparative report on liability for damage caused by others. In Spier (red.) 2003.

Loubser, M. en R. Midgley. 2017. The law of delict in South Africa. 3de uitgawe. Kaapstad: Oxford University Press.

National and Kapodistrian University of Athens, Faculty of Law (reds.). 2009. Essays in honour of Konstantinos D. Kerameus; Festschrift für Konstantinos D. Kerameus. Athene: Sakkoulas.

Neethling, J. 2003. Liability for damage caused by others under South African law. In Spier (red.) 2003.

—. 2009. Risk-creation and the vicarious liability of employers under South African law. In National and Kapodistrian University of Athens (reds.) 2009.

Neethling, J. en J.M. Potgieter. 1993. Risikoskepping by middellike aanspreeklikheid. Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 56(3):500–8.

—. 2003. Onsekerheid in die hoogste hof van appèl oor middellike aanspreeklikheid vir oneerlike werknemers. Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 66(2):323–8. 

—. 2005. Middellike aanspreeklikheid van die staat vir verkragting deur polisiebeamptes. Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 3:595–602.

—. 2015. Neethling-Potgieter-Visser deliktereg. Durban: LexisNexis.

Rogers, W.V.H. 2003. Liability for damage caused by others under English law. In Spier (red.) 2003.

Scott, T.J. 2011. Middellike aanspreeklikheid van die staat vir misdadige polisie-optrede: Die heilsame ontwikkeling duur voort. Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 1:135−47.

Scott, W.E. 1979. The theory of risk liability and its application to vicarious liability. The Comparative and International Law Journal of Southern Africa, 12(1):44–64. 

—. 1983. Middellike aanspreeklikheid in die Suid-Afrikaanse reg. Durban: Butterworth.

Spier, J. (red.). 2003. Unification of tort law: Liability for damage caused by others. Den Haag: Kluwer Law International. 

Van der Merwe, N.J. en P.J.J. Olivier. 1989. Die onregmatige daad in die Suid-Afrikaanse reg. 6de uitgawe. Pretoria: Van der Walt.

Van der Walt, J.C. en J.R. Midgley. 2016. Principles of delict. 4de uitgawe. Durban: LexisNexis. 

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top