Vonnisbespreking: Die grootte-klassifikasie van kredietfasiliteite ingevolge die Nasionale Kredietwet 34 van 2005

  • 0

Vonnisbespreking: Die grootte-klassifikasie van kredietfasiliteite ingevolge die Nasionale Kredietwet 34 van 2005
Collotype Labels RSA (Pty) Ltd v Prinspark CC (6722/2016) [2016] ZAWCHC 159
(9 November 2016)

Stéfan Renke, Departement Handelsreg, Universiteit van Pretoria

LitNet Akademies Jaargang 16(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Abstract

The categorisation into different sizes of credit facilities subject to the National Credit Act

Collotype, although finding on the facts that the credit agreement before the court was an incidental credit agreement, held with reference to other judgments that a credit facility can constitute a so-called “large agreement” in terms of section 9 of the National Credit Act (the NCA). In this case note it is argued that Collotype, and the other decisions referred to by the court, that based their decisions solely on the amounts involved in the respective principal debts concerned, incorrectly categorised a credit facility, one of the main categories of credit agreements subject to the NCA, as a large agreement. This argument is based on a literal reading of the wording of section 9(4) of the NCA, which categorises credit agreements into large agreements and does not even mention the credit facility. It is further based on the fact that there is no compelling reason for the courts to deviate from a literal interpretation of section 9 of the NCA. The case note also points to the fact that an incorrect categorisation of the size of a credit facility (or of any other credit agreement) can have dire consequences and may result in consumers’ forfeiting the important protection afforded in terms of the NCA.

The case note entails a discussion of the credit facility, the provisions in the NCA categorising credit agreements into different sizes and the reasons for the latter, Collotype, my analysis and evaluation of the judgment and conclusions.

Keywords: categorisation in sizes; consumer; credit guarantee; credit facility; credit provider; credit regulation; credit transaction; definition; examples; exemptions; influence on field of application; interpretation of statutes; juristic person; mortgage agreement; National Credit Act; National Credit Regulations; pawn transaction; reasons; small, intermediate or large.

Trefwoorde: definisie; invloed op toepassingsveld; kategorisering in groottes; klein, middelslag of groot; kredietfasiliteit; kredietgewer; kredietregulering; krediettransaksie; kredietwaarborg; Nasionale Kredietregulasies; Nasionale Kredietwet; pandtransaksie; redes; regspersoon; uitleg van wette; verbandooreenkoms; verbruiker; voorbeelde; vrystellings; wentelkrediet.

 

1. Inleiding

Die doel van hierdie bespreking is om in die lig van die Collotype-beslissing die kategorisering van kredietfasiliteite in verskillende groottes ingevolge die Nasionale Kredietwet 34 van 2005 (die Kredietwet) in oënskou te neem. Dit is van belang weens die gevolge wat ’n verkeerde klassifikasie vir die partye tot ’n kredietfasiliteit (en ander kredietooreenkomste) kan inhou. Hierna volg ’n bespreking van die kredietfasiliteit, die bepalings in die Kredietwet wat kredietooreenkomste in verskillende groottes indeel en die redes vir laasgenoemde, Collotype se feite, beslissing en redes, my ontleding en evaluasie van die uitspraak, en gevolgtrekkings.

 

2. Die kredietfasiliteit

Die kredietfasiliteit is een van die hoofkategorie-kredietooreenkomste wat ingevolge die Kredietwet onderskei word (die ander is die krediettransaksie en die kredietwaarborg: sien art. 8(1); sien ook Kelly-Louw (bygestaan deur Stoop) 2012:52−7 vir ’n bespreking van die kredietfasiliteit). Artikel 1 definieer die kredietfasiliteit as ’n ooreenkoms wat aan die artikel 8(3)-kriteria voldoen. Op sy beurt definieer laasgenoemde subartikel ’n kredietfasiliteit as ’n ooreenkoms waarkragtens ’n kredietgewer onderneem om aan ’n verbruiker, soos van tyd tot tyd deur die verbruiker bepaal, goedere of dienste te verskaf of ’n bedrag of bedrae te betaal. As alternatief kan die lewering van die goedere of dienste of die betaling van die bedrag of bedrae namens die verbruiker, of soos deur die verbruiker aangedui, plaasvind (art. 8(3)(a)(i)). Die kredietgewer moet voorts ingevolge die ooreenkoms onderneem om die verbruiker se verpligting – om enige deel van die koste van die goedere of dienste te betaal, of om enige gedeelte van ’n bedrag aan die kredietgewer terug te betaal – uit te stel (art. 8(3)(a)(ii)(aa)). In stede daarvan om betaling of terugbetaling uit te stel, kan die kredietgewer onderneem om periodiek aan die verbruiker ’n rekening vir die goedere, dienste of bedrag (of deel daarvan) te stuur (art. 8(3)(a)(ii)(bb)). Laastens moet die ooreenkoms voorsiening maak vir die betaling van ’n heffing, gelde of rente ten opsigte van enige uitgestelde bedrag (of ’n bedrag ten opsigte waarvan ’n rekening aan die verbruiker gestuur is maar wat nie binne die tyd wat in die ooreenkoms bepaal is, aan die kredietgewer betaal is nie (die “gedebiteerde bedrag”)) (art. 8(3)(b)(i) en (ii)).

Die definisie van kredietfasiliteit onderskei drie tipes kredietfasiliteite, naamlik koopkontrakte van roerende goed, diensleweringskontrakte en geldleningskontrakte (onderskeidelik ondernemings om goedere, dienste of ’n bedrag of bedrae te verskaf). Die woorde “soos van tyd tot tyd deur die verbruiker bepaal” in die definisie is aanduidend daarvan dat wentelkrediet in die geval van sekere kredietfasiliteite ter sprake is, welke eienskap hierdie fasiliteite van ander tipes koop-, dienslewerings- of geldleningkontrakte kragtens die Kredietwet onderskei. Volgens die definisie van wentelkrediet skep die betaling van paaiemente deur die verbruiker nuwe of bykomende krediet vir die verbruiker (sien Grové en Otto 2002:80 vn. 89). Die kredietfasiliteit word dus na goeddunke deur die verbruiker (binne die limiet wat by wyse van ooreenkoms vir die fasiliteit vasgestel is) aangewend deur die beskikbare krediet of ’n deel daarvan te gebruik, die verskuldigde bedrag of ’n deel daarvan aan die kredietgewer (terug) te betaal en dit dan weer te gebruik. Die uitstel van betaling (of die debitering van die verbruiker) en die betaling van ’n heffing, gelde of rente ten opsigte van die uitgestelde bedrag of die gedebiteerde bedrag is verdere eienskappe van die artikel 8(3)-kredietfasiliteit.

Voorbeelde van kredietfasiliteite wat vir wentelkrediet voorsiening maak, is die koop van goedere op krediet by wyse van winkelkaarte, die aanwending van ’n kredietkaart om geld te leen (hetsy die kaart gebruik word om geld te trek of om vir goedere of dienste te betaal) en ’n oortrokke fasiliteit op ’n tjekrekening (sien Otto 2008:par. 8.2.2; JMV Textiles (Pty) Ltd v De Chalain Spareinvest 2010 6 SA 173 (KZD) parr. 14, 15). ’n Verdere voorbeeld is waar ’n handelaar voorraad van ’n verskaffer bestel en waar betaling ingevolge die ooreenkoms byvoorbeeld binne 30 dae na die datum van die lewering van die voorraad of die datum van die faktuur moet geskied. Indien die ooreenkoms voorts vir die betaling van rente van die eerste dag af voorsiening maak, is ’n kredietfasiliteit voorhande (sien Otto 2015:297). Waar goedere ingevolge ’n voormelde winkelkaart gekoop word, gaan eiendomsreg ingevolge die gemenereg dadelik by die lewering van die goedere aan die verbruiker op laasgenoemde oor (sien Renke, Roestoff en Haupt 2007:231−2; Stoop 2008:356).

Ingevolge die regspraak word die volgende eienskappe ten opsigte van kredietfasiliteite onderskei: (a) die heffing, gelde of rente wat ten opsigte van die uitgestelde bedrag of die gedebiteerde bedrag betaalbaar is, begin ab initio loop; (b) kredietfasiliteite het ’n winsoogmerk; en (c) in die geval van ’n kredietfasiliteit word slegs ’n gedeelte van die bedrag wat aan die kredietgewer verskuldig is, uitgestel (sien JMV Textiles par. 17; Seaworld Frozen Foods (Pty) Ltd v The Butcher’s Block 2011 JDR 1614 (ECG) parr.16, 23).

 

3. Die Kredietwet se grootte-bepalings

Ingevolge artikel 9(1) word elke kredietooreenkoms vir die doeleindes van die Kredietwet as ’n klein, middelslag- of groot ooreenkoms geklassifiseer (sien artt. 7(1)(b), 9 saamgelees met GK 713 in SK 28893 van 1 Junie 2006, die Drempelregulasies; sien ook Otto 2008, par. 8.7).

’n Kredietooreenkoms is ’n klein ooreenkoms indien dit ’n pandtransaksie, ’n kredietfasiliteit met ’n kredietlimiet van R15 000 of minder, enige ander krediettransaksie (behalwe ’n verbandooreenkoms) met ’n hoofskuld van R15 000 of minder, of ’n kredietwaarborg met betrekking tot enige sodanige ooreenkoms is. (Art. 9(2) saamgelees met die Drempelregulasies; sien art. 1 vir die definisies van pandtransaksie, verbandooreenkoms en hoofskuld; sien ook GK R 489 in SK 28864 van 31 Mei 2006, “Nasionale Kredietregulasies”, reg. 39 vir die begrip uitgestelde bedrag. Die begrip kredietwaarborg word in art. 8(5) gedefinieer: ’n kredietwaarborg sluit o.a. ’n borgkontrak in wat m.b.t. ’n kredietfasiliteit of ’n krediettransaksie gesluit word – Firstrand Bank Ltd v Carl Beck Estates (Pty) Ltd 2009 3 SA 384 (T); volgens Kelly-Louw 2012:211 e.v. en Renke 2012:396 vn. 87 word ’n kredietwaarborg ook ingevolge art. 9 in verskillende groottes geklassifiseer.) ’n Kredietooreenkoms is ’n middelslagooreenkoms indien dit ’n kredietfasiliteit met ’n kredietlimiet van meer as R15 000 of enige krediettransaksie (behalwe ’n pandtransaksie of ’n verbandooreenkoms) met ’n hoofskuld van meer as R15 000 en minder as R250 000, of ’n kredietwaarborg met betrekking tot enige sodanige ooreenkoms, is (art. 9(3) saamgelees met die Drempelregulasies). Verbandooreenkomste of enige ander krediettransaksie (behalwe ’n pandtransaksie) met ’n hoofskuld van R250 000 of meer, of ’n kredietwaarborg met betrekking tot enige sodanige ooreenkoms, stel ’n groot ooreenkoms daar (art. 9(4) saamgelees met die Drempelregulasies).

 

4. Die onderliggende redes vir die Kredietwet se groottebepalings

Die doel van die grootteklassifikasie is om die effektiewe regulering van die kredietbedryf moontlik te maak. Verskillende voorooreenkoms-openbaarmakingsvereistes is byvoorbeeld op verskillende groottes ooreenkomste van toepassing (art. 92; sien ook regg. 28, 29 van die Nasionale Kredietregulasies; Renke, Roestoff en Haupt 2007:236; Kelly-Louw 2012:212–3). ’n Verdere rede blyk te wees om in die geval van klein kredietooreenkomste minder vereistes aan ’n kredietgewer te stel en derhalwe die administratiewe las op laasgenoemde ligter te maak. Die voorgenoemde voorooreenkoms-openbaarmakingsvereistes dien as ’n voorbeeld. ’n Verdere voorbeeld is die inhoud van kredietooreenkomste. In teenstelling met ’n middelslag- of groot ooreenkoms hoef ’n klein ooreenkoms nie bykans al die regte wat ingevolge die kredietwet aan die verbruiker gebied word, te bevat nie (art. 93; regg. 30, 31 van die Nasionale Kredietregulasies; Renke 2012:552–5). Die klassifikasie het ook ’n tweeledige invloed op die Kredietwet se toepassingsgebied. In die eerste plek is nie al die bepalings van die Kredietwet op alle groottes ooreenkomste van toepassing nie. Die bepalings aangaande roekelose krediet en onwettige kredietooreenkomste is byvoorbeeld nie op pandtransaksies van toepassing nie (sien artt. 78(2), 89(1) onderskeidelik; Renke, Roestoff en Haupt 2007:236).

Die tweede, en vir doeleindes van hierdie bespreking die belangrikste, geval waar die klassifikasie die Kredietwet se toepassingsgebied beïnvloed, hou met een van die uitsonderings of vrystellings tot laasgenoemde verband. ’n Groot ooreenkoms waarkragtens die verbruiker ten tye van die sluiting van die ooreenkoms ’n regspersoon met ’n batewaarde of jaarlikse omset van minder as R1 miljoen is, word van die Kredietwet se toepassingsgebied uitgesluit (art. 4(1)(b) saamgelees met die Drempelregulasies; sien ook Kelly-Louw 2012:212–3). Die Kredietwet is dus nie op kleiner regspersone wat as verbruikers groot ooreenkomste sluit, van toepassing nie. (Volledigheidshalwe kan vermeld word dat die Kredietwet ook nie van toepassing is op groter regspersoonverbruikers met ’n batewaarde of jaarlikse omset van R1 miljoen of meer ten tye van die aangaan van die ooreenkoms nie – art. 4(1)(a)(i) saamgelees met die Drempelregulasies. In hierdie geval word die gekombineerde batewaarde of jaarlikse omset van die betrokke regspersoon en van verwante regspersone (sien in dié verband art. 4(2)(d)) saam in ag geneem. Dit is egter nie die posisie wat die art. 4(1)(b)-geval hier bo genoem betref nie.) Die grootte van die betrokke kredietooreenkoms speel dus ’n rol in die artikel 4(1)(b)-uitsondering wat hier bo genoem is. Dit is belangrik om daarop te let dat regspersoon ingevolge artikel 1 van die Kredietwet vir doeleindes van die bepalings van laasgenoemde ’n uitgebreide betekenis het. Dit sluit nie net die welbekende regspersone soos maatskappye en beslote korporasies in nie, maar ook vennootskappe, assosiasies of ander verenigings van persone, hetsy ingelyf of oningelyf, of ’n trust, mits die trust drie of meer individue as trustees het of die trustee van die trust self ook ’n regspersoon is.

 

5. Collotype

Die eiser, Collotype Labels RSA (Pty) Ltd (hierna Collotype Labels), het vir summiere vonnis teen die verweerders om die bedrag van R616 652,47 aansoek gedoen. In September 2009 het Collotype Labels en die eerste verweerder, Prinspark CC, ’n ooreenkoms aangegaan ingevolge waarvan Collotype Labels onderneem het om op ’n deurlopende grondslag in die toekoms aan die eerste verweerder sekere produkte te verkoop en verwante dienste te lewer. Hierdie reëling is onderhewig gestel aan die bepalings van ’n oorkoepelende handelsooreenkoms wat op 3 September 2009 gesluit is. Die eerste verweerder het op dieselfde dag om kredietfasiliteite en die opening van die rekening aansoek gedoen. Hoewel die eerste verweerder vir ’n kredietperk van R900 000 en vir betaling binne 60 dae aansoek gedoen het, is ’n perk van R500 000 toegestaan en moes betaling binne 30 dae geskied (parr. 1−3).

Op 23 Oktober 2009 het die tweede en derde verweerders hulself by wyse van ’n skriftelike borgkontrak as borge en medehoofskuldenaars verbind. Gedurende die tydperk 10 Desember 2014 tot Februarie 2015 het Collotype Labels gedrukte etikette aan die eerste verweerder verkoop en gelewer (par. 5). Collotype Labels se eis was slegs vir die betaling van die drukkoste en etikette en is nie in dispuut geplaas nie. Die eerste verweerder het ten spyte van aanmaning deur Collotype Labels versuim om die bedrag van R616 652,47 wat op die fakture aangedui is, te betaal (par. 6). Die eerste verweerder het die betaling van hierdie skulde weerhou en beweer dat Collotype Labels in besit was van “tooling” wat tot ’n teeneis aanleiding sou gee. Die verweerders het gevolglik die aansoek om summiere vonnis teengestaan op grond daarvan dat hulle oor ’n bona fide-verweer en teeneis beskik (parr. 7−8).

Die verweerders het drie verwere geopper. Die eerste verweer is van belang slegs om die uiteindelike beslissing van die hof oor die grootte van die tersaaklike kredietooreenkomste in perspektief te stel. Dit het behels dat die ooreenkoms tussen die partye ingevolge die bepalings van die Kredietwet ’n kredietooreenkoms is, dat die eiser gevolglik ingevolge artikel 40 van die gemelde wet verplig was om as ’n kredietgewer te registreer en dat nieregistrasie die onwettigheid en nietigheid van die kredietooreenkoms (ingevolge art. 89) tot gevolg het (par. 14). Volgens die verweerders was hierdie verweer (en die tweede verweer wat hier onder bespreek word) ook op die borgkontrak, wat ’n aksessore kontrak tot die hoofkontrak is, van toepassing (par. 16). Na oorweging van ’n hele aantal kwessies – artikel 40(1) (wat die verpligting op kredietgewers plaas om as sodanig te registreer), die nuwe drempel wat vanaf 11 November 2016 op die registrasie van kredietgewers van toepassing is (nl. nul rand; sien GK R 513 in SK 39981 van 11 Mei 2016), die fokuspunt van die debat (t.w. of die ooreenkoms tussen die partye ’n kredietooreenkoms vir doeleindes van die wet daarstel), die vrystelling (ingevolge art. 40(1)) van sogenaamde insidentele kredietooreenkomste van die registrasie-verpligting, die eiser se bewering dat die ooreenkoms nie ’n kredietooreenkoms vir doeleindes van die wet daarstel nie, die verweerders se argument dat ’n kredietfasiliteit ter sprake is, die definisies van kredietooreenkoms (in art. 1), kredietfasiliteit (in art. 8(3)) en insidentele kredietooreenkoms (in art. 1), en die onderskeie partye se betoë ─ bevind die hof dat die ooreenkoms in casu ’n insidentele kredietooreenkoms daarstel, wat op sy beurt die verpligting om as kredietgewer te registreer, uitskakel (parr. 18−43). Die korrektheid, al dan nie, van hierdie deel van die beslissing is nie vir doeleindes van hierdie vonnisbespreking van belang nie. Dieselfde geld die derde verweer wat deur die verweerders geopper is.

Die verweerders se tweede en alternatiewe verweer het behels dat indien die hof sou bevind dat die ooreenkoms nie nietig is nie, die ooreenkoms ’n kredietooreenkoms is, die eiser voor die uitreiking van die dagvaarding versuim het om aan die bepalings van artikels 129 en 130 van die Kredietwet te voldoen en dat summiere vonnis gevolglik nie toegestaan kan word nie (parr. 15, 44; artt. 129 en 130 sit die verpligte prosedures uiteen wat ingevolge die Kredietwet nagekom moet word voordat dagvaarding ter afdwinging van die kredietgewer se skuld uitgereik mag word. (Vir meer besonderhede sien Van Heerden 2008, parr. 12.4, 12.7.) Die eiser het op sy beurt beweer (par. 45) dat indien bevind sou word dat die handelsooreenkoms en opvolgende ooreenkomste kredietooreenkomste daarstel, sodanige ooreenkomste weens die kredietperk van R500 000 groot ooreenkomste is en dat die Kredietwet gevolglik nie van toepassing is nie (weens art. 4(1)(b), wat kleiner regspersone as verbruikers wat groot ooreenkomste sluit, van die wet se toepassingsgebied uitskakel: sien par. 4 hier bo). In repliek het die verweerders betoog dat ’n kredietfasiliteit slegs as klein of middelslag geklassifiseer kan word omrede kredietfasiliteite net in artikel 9(2) (klein) en 9(3) (middelslag) (en nie in art. 9(4) wat groot ooreenkomste behels nie) vermeld word (par. 48).

Die hof gaan vervolgens voort om die vraag te beantwoord of ’n kredietfasiliteit ’n groot ooreenkoms daar kan stel, ten spyte van die feit dat die hof reeds beslis het dat die onderhawige ooreenkoms ’n insidentele kredietooreenkoms is. Die beslissing is gedoen met verwysing na die verskillende grootteklassifikasies in artikel 9 (saamgelees met die Drempelregulasies: sien par. 3 hier bo en Collotype parr. 46−7) en regspraak.

Die eerste beslissing waarna die hof verwys, is Nedbank v Wizard Holdings 2010 5 SA 523 parr. 6−8), waar beslis is dat ’n kredietfasiliteit (oortrokke fasiliteite was ter sprake) waarvan die hoofskuld R250 000 oorskry het, ’n groot ooreenkoms is. In Nedbank (par. 6)verwys die hof onder andere na artikel 7(2) van die Kredietwet ingevolge waarvan die hoofskuld (gedefinieer in art. 1) van ’n kredietfasiliteit die kredietperk ingevolge die fasiliteit is.

Standard Bank of South Africa Ltd v Essa (18994/2009) [2012] ZAWCHC 265 (23 Mei 2012), waarin die eiser, Standard Bank, ’n eis ingestel het teen die drie verweerders wat namens ’n maatskappy (Xaler Construction Co. (Pty) Ltd) borg geteken het, het volgende aan die beurt gekom (Collotype par. 52). Xaler, wat onder likwidasie was, was ’n bedrag van R4 793 836,53 “on overdraft” aan Standard Bank verskuldig (Standard Bank par. 1). Regter Binns-Ward beslis dat die “overdraft agreement” tussen die eiser en Xaler as ’n kredietfasiliteit ingevolge artikel 8(3) kwalifiseer en, indien nie, dan as ’n krediettransaksie ingevolge artikel 8(4). Die regter (par. 2) beslis voorts dat die Kredietwet nie op die ooreenkoms van toepassing is nie weens die feit dat ’n groot ooreenkoms, soos in artikel 9(4) bedoel, ter sprake is.

Daarna beslis die hof in Collotype par. 53 dat die argument dat ’n kredietfasiliteit nie ’n groot ooreenkoms ingevolge artikel 9(4) daar kan stel nie, verwerp moet word en dat die term any other transaction in artikel 9(4) wyd genoeg is om ’n kredietfasiliteit in te sluit. Gevolglik, en op die verweerder se eie weergawe gegrond dat die ooreenkoms in casu ’n kredietfasiliteit was, is die hof van mening dat die ooreenkoms ingevolge artikel 9(4) ’n groot ooreenkoms was in omstandighede waar die verbruiker ’n regspersoon soos bedoel in artikel 4(1)(b) was (art. 4(1)(b) handel oor regspersone met ’n batewaarde of jaarlikse omset van minder as R1 miljoen wat ’n groot ooreenkoms sluit: sien par. 4 hier bo). Die hof verwys as verdere gesag na Nedbank Ltd v Tru Essence Products (Pty) Ltd (86612/2104) [2015] ZAGPPHC 1062 (14 Julie 2015) waar beslis is (par. 10) dat dit ooglopend is “from the credit facility and the amount claimed” (’n oortrokke fasiliteit met ’n uitstaande balans van R 3 481 576,84 was ter sprake) dat die ooreenkoms ’n groot ooreenkoms daarstel “which would ipso facto (sic) preclude the applicability of the National Credit Act”. Behalwe deur te vermeld dat die feit dat die ooreenkoms ’n groot ooreenkoms was, nie deur die respondente ontken is nie, is geen verdere redes in Tru Essence Products vir die grootteklassifikasie van die kredietfasiliteit aangevoer nie.

Collotype het verder oor die grootteklassifikasie van die insidentele kredietooreenkoms (in casu) en die eerste verweerder se beweerde teeneis gehandel, aspekte wat nie vir doeleindes van hierdie bespreking van belang is nie. Die uiteinde was dat summiere vonnis teen die verweerders toegestaan is (par. 76).

 

6. Ontleding en evaluasie van Collotype

Die vraag is of die bevinding in Collotype (en die beslissings waarna die uitspraak verwys) dat ’n kredietfasiliteit ’n groot ooreenkoms daar kan stel, korrek is. Indien nie, kan dit die ernstige gevolg vir regspersone wat kredietfasiliteite as verbruikers aangaan, inhou dat sodanige regspersone as gevolg van die bepalings van artikel 4(1)(b) die Kredietwet se beperkte maar belangrike beskerming verbeur (daar moet in gedagte gehou word dat die Kredietwet beperkte toepassing het op daardie regspersone waarop dit wel van toepassing is – sien par. 4 hier bo). Hier moet vermeld word dat die hof in Collotype ook van RMB Private Bank (a division of Firstrand Bank Ltd) v Kaydeez Therapies CC (in liquidation) 2013 6 SA 308 (GSJ) kennis kon geneem het waarin eweneens beslis is dat ’n kredietfasiliteit ’n groot ooreenkoms daarstel. Die rede vir die gemelde klassifikasie in Kaydeez Therapies CC (par. 7) was dat die hoofskuld van die betrokke kredietfasiliteit R250 000 oorskry het. Daar is ook ’n aantal uitsprake ná Collotype waarin die howe, sonder om ’n gewag van redes te maak, beslis het dat kredietfasiliteite groot kredietooreenkomste kan wees (sien o.a. Firstrand Bank Ltd v Roux and Roux ongerapporteer GNP saaknr. 6325/2017; Firstrand Bank Ltd v Two Gees Trading (Pty) Ltd 2018 JDR 1155 (FB)).

Ek is van mening dat ’n kredietfasiliteit nie as ’n groot kredietooreenkoms ingevolge die Kredietwet geklassifiseer kan word nie en derhalwe dat Collotype en die uitsprake waarna in Collotype as gesag verwys word, nie in gemelde opsig korrek beslis is nie. Dieselfde geld natuurlik die ander beslissings waarna hier bo verwys is. My standpunt is op die duidelike bewoording van artikel 9 gegrond. Gemelde artikel (wat in par. 3 hier bo weergegee is) kategoriseer kredietooreenkomste in verskillende groottes en dien dus as die primêre gesag in dié verband. Die grootteklassifikasie van die kredietwaarborg, wat reeds in paragraaf 3 aandag geniet het, word nie hierna verder bespreek nie.

Artikel 9(2), wat vir klein kredietooreenkomste voorsiening maak, maak aparte vermelding van die pandtransaksie wat ingevolge artikel 8(4)(a) een van die krediettransaksies is wat onderhewig aan die Kredietwet is (art. 9(2)(a) wat geen verwysing na ’n spesifieke hoofskuld bevat nie). Artikel 9(2)(b) maak spesifiek vir kredietfasiliteite met ’n hoofskuld van R15 000 of minder voorsiening. Ander krediettransaksies (met uitsluiting van die verbandooreenkoms wat ook ingevolge art. 8(4)(d) ’n krediettransaksie is maar in art. 9(4)(a) apart gelys word) met ’n hoofskuld van R15 000 of minder, is in artikel 9(2)(c) opgeneem.

Die strekking van artikel 9(3), wat sekere kredietooreenkomste as middelslag kategoriseer, is baie soortgelyk aan dié van artikel 9(2). Pandtransaksies word egter nie apart vermeld nie, maar in artikel 9(3)(b) van hierdie grootteklassifikasie uitgesluit. Kredietfasiliteite met ’n hoofskuld bo R15 000 word alleenstaande in artikel 9(3)(a) gelys. Geen melding word van ’n maksimum hoofskuld gemaak nie. Krediettransaksies (behalwe pand- en verbandooreenkomste wat elders aangespreek word) met ’n hoofskuld bo R15 000 maar onder R250 000 word vervolgens as middelslag geklassifiseer (art. 9(3)(b)).

Groot ooreenkomste kom in artikel 9(4) aan die beurt. Dit is insiggewend dat hierdie subartikel geen melding van kredietfasiliteite maak nie. Dit verwys slegs na ’n verbandooreenkoms (art. 9(4)(a), wat geen verwysing na ’n tersaaklike hoofskuld bevat nie) of ander krediettransaksies met ’n hoofskuld van R250 000 of meer (art. 9(4)(b)). Die “ander” verwys na enige ander krediettransaksie as die verbandooreenkoms wat, soos reeds vermeld, eweneens ’n krediettransaksie ingevolge die Kredietwet is. Die pandtransaksie word in artikel 9(4)(b) uitgesluit.

Die volgende gevolgtrekkings kan met betrekking tot krediettransaksies uit ’n letterlike uitleg van artikel 9(4) se bewoording gemaak word:

(a) Pandtransaksies is altyd klein ooreenkomste, ongeag die bedrag van die hoofskuld. 
(b) Verbandooreenkomste is altyd groot ooreenkomste, ongeag die bedrag van die hoofskuld.
(c) Die ander krediettransaksies wat in artikel 8(4) van die Kredietwet gelys word, is afhangende van die bedrag van die hoofskuld klein of middelslag of groot.

Kredietfasiliteite se grootte word insgelyks deur die bedrag van die hoofskuld bepaal, maar hierdie kredietooreenkomste, in teenstelling met krediettransaksies, word duidelik deur die wetgewer as óf klein óf middelslag, en nie as groot nie, beskou. Artikel 9(4) wat vir groot ooreenkomste voorsiening maak, maak geen melding van kredietfasiliteite nie. Dit is in teenstelling met artikel 9(2) en (3) (wat onderskeidelik vir klein en middelslag-kredietooreenkomste voorsiening maak) waarin ’n duidelike onderskeid tussen kredietfasiliteite aan die een kant en krediettransaksies aan die ander kant gemaak word. ’n Kredietfasiliteit met ’n hoofskuld van R15 000 of minder is dus klein en alle ander kredietfasiliteite is middelslag, ongeag die bedrag van die hoofskuld wat betrokke is. Laasgenoemde is die standpunt wat steun geniet (sien o.a. Otto 2008, par. 8.7; Kelly-Louw 2012:213−4; Renke 2012:396; Kelly-Louw (bygestaan deur Stoop) 2012:94).

Die vraag is of die reëls van wetsuitleg nie die howe se standpunt dat kredietfasiliteite groot kan wees, steun nie, met ander woorde of ’n ander uitleg as ’n letterlike uitleg gevolg kan word. In Independent Plumbing Suppliers (Pty) Ltd v Thomas Classen t/a TPC Plumbing (5191/2010) [2014] ZAGPPHC 523 (13 Junie 2014) het die hof, wat moes beslis of ’n transaksie ’n kredietfasiliteit of ’n insidentele kredietooreenkoms ingevolge die Kredietwet is, die tersaaklike interpretasiebeginsels wat deur die hof in ag geneem is, soos volg opgesom: (i) Die betrokke wet se bepalings en die aard en die substansie van die transaksie moet oorweeg word, en nie die onderwerp (“object”) of vorm van die ooreenkoms nie (par. 9). (ii) Ingevolge artikel 3 van die Kredietwet het laasgenoemde onder andere ten doel om die sosiale en ekonomiese welvaart van almal in die kredietmark te bevorder en te beskerm en om verhoudinge tussen verbruikers en kredietgewers te verbeter (par. 9). (iii) Die Kredietwet het oorwegend die verbruiker se beskerming in gedagte, maar beoog ook om ’n effektiewe, volhoubare en doeltreffende kredietbedryf te bevorder en moet holisties binne die raamwerk van konstitusionele regte en norme verstaan en geïnterpreteer word (par. 9, o.a. met verwysing na die beslissings in Sebola v Standard Bank of South Africa Ltd 2012 5 SA 142 (KH) par. 40; Kubyana v Standard Bank of South Africa Ltd 2014 3 SA 56 (KH) parr. 18−21; en Bato Star Fishing (Pty) Ltd v Minister of Environmental Affairs and Tourism 2004 4 SA 490 (KH) par. 72, waar die hof die volgende sê: “The Constitution is now the supreme law in our country. It is therefore the starting point in interpreting any legislation. Indeed, every court ‘must promote the spirit, purport and objects of the Bill of Rights’ when interpreting any legislation”). (iv) Die Kredietwet moet gevolglik met behoorlike inagneming van die doel en in die konteks daarvan geïnterpreteer word (par. 10, met verwysing na art. 2(1) van die wet wat ’n “purposive approach” verg). (v) Die duidelike taal en gewone betekenis van die instrument wat geïnterpreteer word, moet nie mee weggedoen word nie (par. 10, met verwysing na Investigating Directorate: Serious Economic Offences v Hyundai Motor Distributors (Pty) Ltd: In re Hyundai Motor Distributors (Pty) Ltd v Smit NO 2001 1 SA 545 (KH) parr. 23−4; 26). (vi) ’n Wetsbepaling moet, indien moontlik, op so ’n wyse uitgelê word dat aan elke woord betekenis gegee word en dat geen woord, klousule of sin as oorbodig beskou word as dit verhelp kan word nie. Indien enige onduidelikheid in ’n bepaling uit die weg geruim kan word deur na die taal wat gebruik is binne die konteks daarvan te kyk; is daar nie ’n reël van wetsuitleg wat vereis dat effek aan ’n uitleg verleen moet word wat bevind is nie die korrekte een te wees nie, bloot omdat die uitleg minder beswarend op die onderdaan sal wees (par. 10, met verwysing na Glen Anil Development Corporation v Secretary of Inland Revenue 1975 4 SA 715 (A) 726, in fynskrif 727H). (vii) Laastens is ag geslaan op die opsomming in Bothma-Batho Transport v S Bothma & Seun Transport 2014 2 SA 494 (HHA) par. 10 waar die hof met verwysing na Natal Joint Municipal Pension Fund v Endumeni Municipality 2012 4 SA 593 (HHA) par. 18 die huidige stand van die Suid-Afrikaanse reg insake die uitleg van wette en ander dokumente opgesom het (par. 10). Die volgende gedeeltes is van belang:

Interpretation is the process of attributing meaning to the words used in a document, be it legislation...having regard to the context provided by reading the particular provision or provisions in the light of the document as a whole... Whatever the nature of the document, consideration must be given to the language used in the light of the ordinary rules of grammar and syntax; the context in which the provision appears; the apparent purpose to which it is directed...The process is objective, not subjective...Judges must be alert to, and guard against, the temptation to substitute what they regard as reasonable, sensible or businesslike for the words actually used. To do so in regard to a statute or statutory instrument is to cross the divide between interpretation and legislation...The inevitable point of departure is the language of the provision itself, read in context and having regard to the purpose of the provision.

Indien die voorgenoemde beginsels van die uitleg van wette in ag geneem word, blyk daar geen rede te wees om van die letterlike bewoording van artikel 9 van die Kredietwet af te wyk en te bevind dat ’n kredietfasiliteit ’n groot ooreenkoms daar kan stel nie. ’n Groep verbruikers, naamlik kleiner regspersone, word sodoende die beskerming van die wet ontneem, en dit is lynreg teen een van die hoofdoelwitte van die wet. Voorts word ’n spesifieke doel in die Handves van Regte (hfst. 2 van die Grondwet) nie bewustelik deur ’n afwyking van die letterlike uitleg bevorder nie. Daar blyk ook geen rede te wees om van die onvermydelike vertrekpunt – die duidelike taal waarin artikel 9 geskryf is, binne konteks en met inagneming van die doel van die bepaling beskou – af te wyk nie. Die daarstelling van ’n effektiewe en volhoubare kredietbedryf was juis een van die redes vir die duidelik afgebakende grootteklassifikasie in artikel 9 van die Kredietwet en deur van die klassifikasie af te wyk word nie gehoor gegee aan ’n “purposive approach” soos vereis deur artikel 2(1) van die wet nie. Die voorgenoemde redes waarom nie in hierdie geval van die letter van die wet afgewyk moet word nie, is des te meer geldig indien die howe se redes, of gebrek daaraan, vir hul beslissing dat ’n kredietfasiliteit groot kan wees in ag geneem word. Die howe grond hul beslissings duidelik net op die bedrag van die hoofskuld wat elke keer ter sake is. En om te bevind, soos in Collotype die geval was, dat die term any other transaction in artikel 9(4) wyd genoeg is om ’n kredietfasiliteit in te sluit, is ongetwyfeld verkeerd. Soos reeds vermeld, dui any other transaction in artikel 9(4)(b) op ander krediettransaksies as verbandooreenkomste wat in artikel 9(4)(a) genoem word. ’n Kredietfasiliteit en ’n krediettransaksie is eenvoudig nie dieselfde ding nie. Die enigste ooreenkoms tussen gemelde kredietooreenkomste is dat beide hoofkategorie-kredietooreenkomste ingevolge die Kredietwet is (die derde is die kredietwaarborg wat in art. 8(5) gedefinieer word – sien art. 8(1) en par. 3 hier bo). Die kredietfasiliteit en die krediettransaksie is egter afsonderlike kredietooreenkomste wat afsonderlik gedefinieer word (art. 8(3) en (4) onderskeidelik) en wat afsonderlike wesenskenmerke het.

 

7. Gevolgtrekkings

Die doel van hierdie vonnisbespreking is nie om vanuit die gerief van ’n leunstoel die howe te kritiseer nie. Die bewoording van artikel 9 van die Kredietwet is egter duidelik: ’n kredietfasiliteit met ’n hoofskuld van R250 000 of meer is steeds net ’n middelslag-kredietooreenkoms. Dit is nie ’n geval van ’n oorsig deur die wetgewer of van slordige wetsopstelling nie, en die verkeerde interpretasie deur die howe kan ernstige gevolge vir kleiner regspersone as verbruikers inhou. Indien my standpunt oor die grootteklassifikasie van kredietfasiliteite nie korrek is nie, sal ’n beslissing deur die howe met volledige en oortuigende redes verwelkom word.

 

Bibliografie

Grové, N.J. en J.M. Otto. 2002. Basic principles of consumer credit law. Lansdowne: Juta.

Kelly-Louw, M. 2012. Categorising credit agreements, particularly credit guarantees, as small, intermediate or large agreements under the National Credit Act 34 of 2005. SA Mercantile Law Journal, 24(2):211−7.

Kelly-Louw, M. (bygestaan deur P.N. Stoop). 2012. Consumer Credit Regulation in South Africa. Cape Town: Juta.

Nagel, C.J. (red.). 2015. Kommersiële reg. Durban: LexisNexis.

Otto, J.M. 2008. Types of credit agreements. In Scholtz (red.) 2008.

—. 2015. Kredietooreenkomste. In Nagel (red.) 2015.

Renke, S. 2012. An evaluation of debt prevention measures in terms of the National Credit Act 34 of 2005. LLD-proefskrif, Universiteit van Pretoria.

Renke, S., M. Roestoff en F. Haupt. 2007. The National Credit Act: New parameters for the granting of credit in South Africa. Obiter, 28(2):229−70.

Scholtz, J.W. (red.). 2008. Guide to the National Credit Act. Durban: LexisNexis.

Stoop, P.N. 2008. Kritiese evaluasie van die toepassingsveld van die “National Credit Act”. De Jure, 41(2):352−70.

Van Heerden, C.M. 2008. Enforcement of credit agreements. In Scholtz (red.) 2008. 

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top