Vonnisbespreking: Die doodskoot vir of slegs die verwonding van die eis teen die derdeparty-egbreker?

  • 1

Vonnisbespreking: Die doodskoot vir of slegs die verwonding van die eis teen die derdeparty-egbreker?
RH v DE 2014 6 SA 436 (HHA)

Marita Carnelley,  dekaan: Navorsing, College of Law and Management Studies, Universiteit van KwaZulu-Natal

LitNet Akademies Jaargang 12(2)
ISSN 1995-5928

 

Abstract

Deathblow or mere injury to the claim against the third-party adulterer?

The judgment of the Supreme Court of Appeal in RH v DE abolished the common law third-party adultery claim for delictual damages, based on the actio iniuriarum, as a result of the changing morals of the South African society. The judgment is analysed in light of the common law position and the opposing opinions of the applicable legal principles that developed over the past few decades. The analysis includes a discussion of the pertinent issues, gaps and anomalies arising from the judgment. The focus of the discussion is on the court’s lack of application of section 39(2) of the Constitution, the lack of guidance with regard to similar actions as done previously, as well as the court’s superficial legal comparative approach. Although the author agrees with the final finding of the court that the claim against the third party should be abolished, the conclusion of the discussion is that this judgment cannot be the last word spoken in the courts about the action. Although there was a difference of opinion about the pre-RH common law legal position, there was legal certainty. The supreme court of appeal unfortunately undermined this by ignoring the constitutional principles and not weighing up the common law legal principles against the mores of society and the constitutional principles as required by the Constitution.

Keywords: actio iniuriarum; adultery; claim against third party; damages; RH v DE

Trefwoorde: actio iniuriarum; eis teen derde party; owerspel; RH v DE; skadevergoeding

 

1. Inleiding

Die morele waardes en regsoortuigings van die gemeenskap het verander. Die tyd het aangebreek dat die gemeenregtelike deliktuele skadevergoedingsaksie teen ’n derdeparty-egbreker, gebaseer op die actio iniuriarum, afgeskaf word. Met hierdie uitspraak is ’n gevestigde Romeins-Hollandse regsbeginsel deur die hoogste hof van appèl in 2014 in RH v DE (par. 40) verwerp.

Tot hierdie uitspraak is die regsgevolge vir die derdeparty-egbreker konsekwent deur die Suid-Afrikaanse howe toegepas soos dit in ’n regstelsel waar die stare decicis-beginsel geld, verwag kan word (Bruwer v Joubert 1966 3 SA 334 (A) 337; De Swart v Van der Water 2014-10-01 saaknr. 12537/12 (GP); Viviers v Kilian 1927 AD 449; Wiese v Moolman 2009 3 SA 122 (T) 3). Die laaste keer wat die regsbeginsels van hierdie eis weens veranderende regsoortuigings van die gemeenskap fundamenteel gewysig is, was toe die eis uitgebrei is om die onskuldige vroue-eggenoot as moontlike eiser in te sluit (Foulds v Smith 1950 1 SA 1 (A) 7), en voor dit toe owerspel as misdaad afgeskaf is (Green v Fitzgerald 1914 AD 88, 103).

’n Kort oorsig van die gemeenregtelike regsreëls rakende die derdeparty-eise voortspruitend uit owerspel tot voor die RH-uitspraak is gepas. Owerspel in ’n regskonteks word gedefinieer as die vrywillige seksuele verkeer tussen ’n getroude persoon en iemand anders as sy of haar gade (Voet 24.2.5). Daar was twee deliktuele skadevergoedingseise gebaseer op die actio iniuriarum in die gemenereg. Die eerste eis was vir contumelia wat in die praktyk verkeerdelik, maar konsekwent, aan belediging gelykgestel is (Neethling en Potgieter 2010:352; Harms 2009:20–1; Foulds v Smith 11). Die tweede moontlike eis was vir immateriële en nie-ekonomiese skade weens die verlies aan liefde, vriendskap en morele ondersteuning as deel van die sogenaamde “comfort, society and services” (vertroosting, gemeenskap en dienste) wanneer daar met die huweliksverhouding se consortium omnis vitae ingemeng word (Viviers v Kilian 455). Die consortium omnis vitae tussen die huwelikspartye verwys na “intangibles, such as loyalty and sympathetic care and affection, concern etc.; as well as the more material needs of life, such as physical care, financial support, the rendering of services in the running of the household or in a support-generating business” (Peter v Minister of Law and Order 1990 4 SA 6 (OK) 9; sien ook Grobbelaar v Havenga 1964 3 SA 522 (N) 525; Sinclair (1996:422); T v T 1968 3 SA 554 (R) 555). Die howe het verskeie riglyne neergelê wat die kwantum van die eis beïnvloed of wat as verweer teen so ’n eis kan dien. (’n Bespreking hiervan val buite die bestek van hierdie bydrae: sien o.m. Church (1979:380); Labuschagne (1986:340).) Dit is egter interessant om daarop te wys dat die konstitusionele hof in Fose v Minister of Safety and Security 1997 7 BCLR 851 (KH) par. 62 met verwysing na Bruwer v Joubert (338C) opgemerk het dat daar aanvaar word dat ’n strafkomponent in die kwantumberekeningvan skadevergoedingseise in geval van owerspel steeds toepaslik is.

Streng gesproke het die verlies aan consortium, met spesifieke verwysing na “wedersydse dienste” ook ’n ekonomiese komponent. Dit word soos volg in Bruwer v Joubert (337) gestel: “materiële skade weens verlies aan toesig oor die huishouding en kinders, erkende pligte van ’n vrou in die huwelik wat weerspieël word in die huweliksformulier van die Afrikaanse kerke waarin ’n vrou beloof om haar wettige man lief te hê en te eer, en haar man behulpsaam te wees in alles wat goed en reg is en oor haar huishouding toesig te hou”. In Diemer v Solomon 1982 4 SA 13 (K) 16 bevind regter Van den Heever egter dat die vermoënsregtelike skade wat as gevolg van die verlies van consortium gely is, in ag geneem behoort te word in die bepaling van ’n gade-onderhoudseis. Hierdie aspek word in die lig van onderhoudsregsbeginselveranderinge sedert 1982 daargelaat.

Neethling se argument vir die uitbreiding van die eis om skadevergoeding om die verlies van die gevoelslewe en die piëteitsgevoel van die onskuldige eggenoot in te sluit, word hier spesifiek buite rekening gelaat, aangesien dit nie deur die hoogste hof van appèl as deel van die Suid-Afrikaanse reg erken is nie – o.a.weens die beweerde onduidelikheid van die konsep (RH par. 36; vir die Neethling-argument sien Neethling (2006:344) en twee hoëhofsake: Seroot v Pieterse 2005 JDR 0821 (T) par. 10 en Wiese 3). Sou die eis teen die egbreker egter in die toekoms voortbestaan, behoort daar aandag aan hierdie aspek gegee te word.

Dit is belangrik om daarop te wys dat daar ook ’n addisionele vermoënsregtelike skadevergoedingseis onder die verlies van vertroosting, gemeenskap en dienste gebaseer op die actio legis Aquiliae is (Wiese 5; Fuller v Viljoen 1949 3 SA 852 (GW); Doyle v Doyle 1957 2 PH F 85). Hierdie moontlikheid het nie die hoogste hof van appèl in RH se aandag ontvang nie en bestaan derhalwe steeds. Die skadevergoeding kan in hierdie geval op sowel opsetlike as nalatige optrede volg (Van der Vyver en Joubert 1985:682).Voorbeelde van ekonomiese skade sluit in mediese uitgawes as gevolg van ’n senuwee-ineenstorting weens die owerspel indien so gepleit is (Fuller v Viljoen), addisionele uitgawes as gevolg van die verlies aan die gade se teenwoordigheid as ’n assistent in die gesinsonderneming (Doyle v Doyle); onderhoud-, mediese en reiskoste vir die bevalling en onderhoud van ’n kind wat uit ’n owerspelige verhouding gebore is; asook ’n bedrag vir die koste van ’n huishoudster om die vrou te vervang (Chapman v Chapman [1977] 4 All SA 424 (NK) 426). Waar die egbrekers medeverweerders in die egskeidingsgeding is, kan ’n kostebevel gesamentlik en afsonderlik by implikasie teen hulle gegee word (Tutt v Tutt 1929 CPD 51, 54; Gower v Killian 1977 2 SA 393 (OK) 395F–G). Waar die egskeidingsaksie en die egbrekersaksie egter geskei is, is die onskuldige party nie op die egskeidingskoste van die derdeparty-egbreker geregtig nie, aangesien die derde party nie ’n party tot die egskeidingsaksie is nie (Fuller v Viljoen 855).

In die lig van die hoogste hof van appèl se houding in RH in 2014, is dit ironies dat die deliktuele owerspel-eis in 2009 in die hoë hof in Wiese aan grondwetlike beginsels gemeet is. Hierdie hof bevind dat die aksie nie met die Grondwet in stryd was nie. Die hof oorweeg die regsoortuigings van die gemeenskap deur die lens van grondwetlike beginsels ten einde die gees, strekking en oogmerke daarvan te bevorder, soos uiteengesit in artikel 39(2) van die Grondwet. Daar word bevind dat die boni mores van die gemeenskap nie sodanig verander het dat owerspel objektief as redelik beskou kan word nie, dat owerspel dus steeds onregmatig is en dat die derdeparty-eis derhalwe in die Suid-Afrikaanse reg behoue moet bly (Wiese 7). Soos reeds gemeld, ondersteun die beslissing van die hoë hof Neethling (2010b:343–6, 352; Neethling, Potgieter en Visser 2005:208) se standpunt.

Die hoogste hof van appèl in RH ondersteun egter die teenoorgestelde standpunt wat reeds in 1944 deur regter Blackwell in Rosenbaum v Margolis (1944 WLD 147, 158) obiter geopper is: “There is something, in my opinion, to be said for the view that an action for damages against an adulterous third party is out of harmony with modern concepts of marriage and should be abolished.” Verskeie Suid-Afrikaanse akademici het ook deur die jare betoog vir die afskaffing van die eis (Carnelley 2010:202–3; Church 1979:380; Goldberg 1991:277; Heaton, Church en Church 2006:59; Hahlo 1980:31; Labuschagne 1986:341; Erasmus e.a. 1983:59 vn. 5). Owerspel word nie noodwendig moreel goedgepraat nie, maar die reg en die howe is nie die gepaste plek om die gevolge daarvan te bestuur nie. Hierdie standpunt is in ooreenstemming met die meeste Westerse regstelsels waar die deliktuele eis óf nooit bestaan het nie (byvoorbeeld die sivielregtelike lande soos Nederland, Frankryk, Duitsland en Oostenryk) óf reeds afgeskaf is as juridies irrelevant – soos in Engeland (1970), Nieu-Seeland (1975), Australië (1975) Skotland (1976) en die meeste provinsies in Kanada, soos Ontario (1978), asook in die meeste state in die VSA (Carnelley 2010:201; RH parr. 24–7).

Dit is teen hierdie agtergrond dat die uitspraak van die hoogste hof van appèl in RH onder die loep geneem word. Die doel van hierdie bespreking is om die uitspraak te ontleed deur die pertinente geskilpunte te ondersoek, die gapings en anomalieë uit te wys en uiteindelik teen ’n wyer agtergrond te plaas. Die slotsom van die bespreking is dat hierdie uitspraak nie die laaste woord kan wees wat in die howe oor die aangeleentheid gespreek word nie. Want alhoewel daar ’n meningsverskil was oor die wenslikheid van die voor-RH gemeenregtelike regsposisie, was daar regsekerheid. Die hoogste hof van appèl het dit ongelukkig nou ondermyn deur onder andere die onderliggende grondwetlike beginsels te ignoreer.


2. Uitspraak van die hoogste hof van appèl

Die feite in die saak is redelik algemeen: ’n huwelik verbrokkel oor ’n tydperk, maar voordat die partye finaal uitmekaar gaan en skei, tree een van die gades in ’n seksuele verhouding met ’n derde. Die onskuldige eggenoot dagvaar die derde party vir skadevergoeding ingevolge die actio iniuriarum vir (a) contumelia weens belediging, hoon en skade aan sy selfrespek en (b) verlies van consortium. Die hof a quo staan beide eise toe vir die gesamentlike bedrag van R75 000 (RH parr. 1–2).

Tydens appèl versoek die regter die partye om spesifiek aan die voortbestaan van die eis teen die derdeparty-egbreker aandag te skenk met verwysing na die artikels van enkele regs-akademici, met inbegrip van Neethling, Church, Carnelley en die uitspraak in Pritchard v Sims [1967] (brief van die waarnemende hoofregistrateur aan die prokureurs Symington en De Kok en Lovius Block gedateer 13 Junie 2014). Die verwysing na die Pritchard-saak is na die uitspraak van die Engelse hof van appèl in Pritchard v Pritchard and Sims ([1966] 3 ALL ER 601 (CA) 609–11) waarin die bestaansreg van die (nou afgeskafte) eis teen die egbreker in die Engelse reg in die lig van veranderde gemeenskapsnorme daar bevraagteken is.

Die feite en feitegeskil aangaande die stand van die verbrokkeling van die huwelik ten tye van die owerspel word in hierdie bespreking buite rekening gelaat, afgesien van drie opmerkings: (i) die koste vir beide partye het ten tye van die appèl reeds meer as a halfmiljoen rand elk beloop (RH par. 39); (ii) die hof het tydens appèl vele van die feitebevindinge van die hof a quo as ongesubstansieer en onregverdig geag en omvergewerp (RH parr 5–11); (iii) in RH bevind die hof dat die verhoorhof gefouteer het in sy toepassing van die gemeenregtelike beginsels deur die aksie op grond van sowel verlies aan consortium as contumelia toe te staan. Appèlregter Brand beslis dat die eis weens verlies van consortium verkeerdelik toegestaan is, maar dat die eis weens contumelia steeds toelaatbaar is in gevalle waar die partye reeds apart woon, maar waar die eiser nog nie permanent alle hoop op die herstel van die huwelik laat vaar het nie. Selfs al was die huwelik dus onherstelbaar verbrokkel, bevind hy dat dit nie ’n absolute verweer teen ’n contumelia-eis is nie (parr. 13–5). Hierdie bevinding is egter vervang deur die latere besluit om die gemenereg af te skaf.

Die kernvraag waaroor die hoogste hof van appèl moes besin, was of die openbare beleid en die morele en regsoortuiging van die gemeenskap steeds die derdeparty-aksie gebaseer op die skuldoorsaak van owerspel erken en of dit afgeskaf behoort te word (RH par. 16).

Regter Brand erken dat daar ’n plig op die hof is om die gemenereg kragtens die Grondwet te ontwikkel sodat die reg die veranderende sosiale, morele en ekonomiese aard van die gemeenskap weerspieël. Indien regsreëls hulle sosiale grondslag verloor (of teen die grondwetlike beginsels indruis), het dit geen bestaansreg meer nie (par. 17 met verwysing na art. 39(2) van die Grondwet; Carmichele v Minister of Safety and Security (Centre for Applied Legal Studies Intervening) 2001 4 SA 938 (KH) par. 36; Du Plessis v De Klerk 1996 3 SA 850 (KH) par. 61).

Aangesien die boni mores van die samelewing ’n kerneienskap van die onregmatigheidselement in die deliktereg vir beide aksies ingevolge die actio iniuriarum is (RH par. 18), en aangesien dieselfde hof vroeër in Van Jaarsveld v Bridges (2010 4 SA 558 (HHA) par. 6) bevind het dat die aksie weens troubreuk deur gemeenskapsmoraliteit verander is (RH parr. 18–9), is die logiese vraag of dit ook die geval met die owerspelaksie onder bespreking is.

Regter Brand volg ’n geskiedkundige en regsvergelykende benadering in sy uitspraak. Ná ’n bespreking van die ontwikkeling van die eise (parr. 20–3) en verskeie buitelandse jurisdiksies (parr. 24–7) voer hy aan dat aangesien Westerse jurisdiksies min of meer dieselfde antwoorde verskaf vir regsprobleme en die Suid-Afrikaanse moraliteit nie merkbaar van dié van daardie lande verskil nie, die gevolge van die regsprobleme hier ook min of meer dieselfde te behoort wees as daar (par. 28). Omdat die eis in die meeste Westerse jurisdiksies nie meer bestaan nie, so voer hy aan, is dit derhalwe ook in Suid-Afrika onvanpas (par. 28).

Die hof besin oor die argumente vir die behoud van die aksie (wat later in meer besonderhede bespreek word): die erkende regbeskerming van die huwelik as instelling in die Suid-Afrikaanse reg (par. 33) en die noodsaaklikheid vir ’n skadevergoedingseis vir die aantasting van die persoonlikheidsregte van die onskuldige gade, ook om selfhelp-optrede te vermy (parr. 35–7). As teenpool stel appèlregter Brand die anomalie van die vryskelding van die skuldige gade van soortgelyke aksie (parr. 29–32), die feit dat die aksie nie aan die afskrikkingsdoelwitte voldoen nie (par. 34), en objektief gesien, dat geen redelike persoon minder van die onskuldige gade sal dink as gevolg van die owerspel nie (par. 35). Die hof bevind die aksies argaïes, uit pas met internasionale tendense en dat dit in die lig van die veranderende mores alle oorredingskrag verloor het(par. 38).

Die hof bevind verder dat selfs al dien die eis steeds ’n regmatige funksie, weeg die negatiewe gevolge daarvan swaarder as enige positiewe aspekte: die kinders word onnodig aan publisiteit en emosionele trauma blootgestel; die getuienis wat gelei word, is ’n verleentheid en vernederend vir die partye; die motief vir die eis is telkemale woede en/of die blamering van ’n ideale sondebok, en nie net gekrenkte gevoelens nie; en die koste verbonde aan die najaag van die salwing vir gevoelens is astronomies (par. 39). Die hof bevind dat die aksie afgeskaf moet word op hierdie gronde alleen en dat dit onnodig is om die grondwetlike norme te bespreek (par. 40).

Ter afsluiting maak regter Brand dit duidelik dat die uitspraak slegs op eise gegrond op die actio iniuriarum van toepassing is en nie die actio legis Aquiliae nie, en laat hom spesifiek nie uit oor aksies vir abduksie, afrokkeling en herberging nie (RH parr. 10–1, 41).


3. Anomalieë, lacunae en restes

Die belangrikste kritiek teen die uitspraak is dat die hof dit onnodig ag om die grondwetlike beginsels in ag te neem by die oorweging van die gemeenskapswaardes en openbare beleid. Die hof verwys na sowel artikel 39(2) van die Grondwet as die Wiese-uitspraak waar na die grondwetlike beginsels en norme verwys word, maar verkies om die aangeleentheid uiteindelik te omseil. In die lig van die bewoording van die Grondwet is dit vreemd. Artikel 39(2) bepaal immers dat “by die ontwikkeling van die gemene reg … moet elke hof … die gees, strekking en oogmerke van die Handves van Regte bevorder”. Die bewoording dui nie op ’n diskresionêre oorweging van die grondwetlike beginsels nie.

Die hoogste hof van appèl het in Van Jaarsveld hierdie grondwetlike plig erken (par. 3). In hierdie uitspraak aanvaar die hof dat die heersende mores en openbarebeleidsoorwegings die hof noop om die gemenereg te wysig (par. 3 met verwysing na Sepheri v Scanlan 2008 1 SA 322 (K) 329G–330H en Sinclair (1996:314 vn. 8)). In hierdie verband was die oorwegings die kontraktuele aard van die verlowingskontrak in ’n breë skuldlose egskeidingsreg; die veranderende posisie van die vroulike geslag en die gemeenskapsbeskouing van haar wanneer ’n verlowing verbreek word; en die afskaffing van soortgelyke eise in ander Westerse jurisdiksies. Die hof heroorweeg spesifiek die aksie weens troubreuk in ’n grondwetlike verband met inagneming van die erkenning van die diverse vorme van intieme persoonlike verhoudings in Suid-Afrika. ’n Mens sou dieselfde in die RH-uitspraak verwag het.

Uit ’n ander hoek kan die uitspraak in RH egter gesien word teen die agtergrond van die breër debat tussen die hoogste hof van appèl en die konstitusionele hof oor die horisontale toepassing van grondwetlike beginsels in die ontwikkeling van die privaatregtelike aspekte van die gemenereg ingevolge artikel 39(2) (Davis 2012:59 e.v.; Fagan 2010:611 e.v.; Friedman 2014:63 e.v.; Roederer 2013:219 e.v.; Van der Walt 2001:341 e.v.). ’n Volledige bespreking hiervan val buite die bestek van hierdie bydrae. Dit is voldoende om te verwys na Currie en De Waal (2013:148) se opmerking dat een van die metodes om grondwetlike beginsels op die gemenereg toe te pas, is deur grondwetlike inhoud aan begrippe soos “openbare beleid” en “contra bonos mores” te gee. Hulle voer aan dat daar by die lees van artikel 39 ten minste ’n deurdrenkingseffek van grondwetlike norme behoort te wees. Die houding van die hof in RH relegeer egter die grondwetlike beginsels tot onbelangrik en verwyderd van die gemenereg – selfs al is die waardes en regsoortuigings van die gemeenskap pertinent ter sprake – en dit is in teenstelling met verskeie uitsprake van die konstitusionele hof (Carmichele v Minister of Safety and Security 2001 4 SA 938 (KH) par. 54; Pharmaceutical Manufacturers Association of South Africa In re: the ex parte application of the Republic of South Africa 2000 2 SA 674 (KH) par. 19; Phumelela Gaming and Leisure Ltd v Gründlingh 2007 6 SA 350 (KH) 363; S v Thebus2003 6 SA 505 (KH) par. 28). Die houding van die hoogste hof van appèl oor hierdie aspek in RH is betreurenswaardig (Bishop en Brickhill 2014:2.3). Indien die saak na die konstitusionele hof verwys word, wat klaarblyklik baie moontlik is, kan hierdie saak bydra tot wat Van der Walt (2001:359) noem die “perception of rivalry between the Constitutional Court and the Supreme Court of Appeal”.

Hoewel die ontwikkeling van die gemenereg deur die howe stuksgewys plaasvind op grond van die gegewe feitestel voor die hof (Masiya v DPP Pretoria 2007 5 SA 30 (KH) par. 31), is die tweede aspek van kritiek teen die uitspraak dat die hof nie obiter enige leiding gegee het met betrekking tot die regsoortuigings van die gemeenskap rakende die suster-eise van abduksie, afrokkeling en herberging nie. Dit is doelbewus van die gesprek uitgesluit, nieteenstaande die feit dat hierdie eise op soortgelyke mores en regsoortuigings van die gemeenskap berus – dié regsoortuigings wat die hof besluit het wesentlik verander het. Hierdie gebrek aan leiding skep regsonsekerheid en is weer eens betreurenswaardig. Dit is ook in kontras met die benadering gevolg deur dieselfde hof in Van Jaarsveld v Bridges (par. 3), waar duidelike riglyne vir toekomstige eise uiteengesit is.

Die effek van die uitspraak in RH is derhalwe onseker in die lig van die spesifieke uitsluitings. Beteken dit dat die bevinding in RH aangaande die boni mores by implikasie nie noodwendig op die actio iniuriarum ten aansien van abduksie, afrokkeling en herbergingvan toepassing is nie? Verder: Aangesien die boni mores ook een van die kernelemente van die actio legis Aquiliae is, hoe moet regter Brand se bevinding in RH op die toepassing van hierdie aksie neerslaan? Die hof het hierdie aspek ook omseil deur te bevestig dat die moontlikheid van ’n vermoënskadelike eis onder die actio legis Aquiliae vir die verlies aan consortium soos vervat in Viviers v Kilian (455) en Media 24 Ltd v SA Taxi Securitisation (Pty) Ltd (Avusa Media Ltd as amici curiae) (2011 5 SA 329 (HHA) par. 7) steeds bestaan.

Die derde kritiek teen die uitspraak is die regsvergelykende gevolgtrekking waartoe die regter kom: aangesien soortgelyke eise óf nooit bestaan het nie óf in Westerse jurisdiksies afgeskaf is, behoort die aksie ook in Suid-Afrika afgeskaf te word, omdat die mores soortgelyk is (RH par.30 e.v). Soortgelyke regsvergelyking is ook gedoen in die obiter-uitspraak rakende die afskaffing van die verlowingseise in Van Jaarsveld v Bridges (par. 3). Maar kan Suid-Afrikaanse regsoplossings noodwendig aan ander Westerse jurisdiksies, wat self onderling verskil, gelykgestel word? Suid-Afrika is immers ’n multikulturele samelewing.

Indien die regsvergelykende net wyer gegooi word in Afrika, lyk die prentjie anders en ondermyn dit die hof se argument. In beide Botswana en Namibië is die toepaslikheid van die eis teen die egbreker onlangs deur die howe bevestig (vir Namibië, met ’n soortgelyke grondwet, sien o.m. Useb v Gawaseb 2014-10-1 saaknr. 1625/2012 (NAHCMD); Jaspert v Siepker 2013-09-30 saaknr. 670/2012 (NAHCMD); en vir Botswana, sien Chifani v Muswere 2010-5-11 saaknr. VHFT-000004-07 (BWHC); Kereemang v Tshabang 2010-8-6 saaknr. CCF-485-01 (BWHC)). In Tanzanië skep artikel 72(1) van die Law of Marriage Act, 1971 ’n skadevergoedingseis teen die derdeparty-egbreker vir owerspel (en afrokkeling). Die bedrag is volgens die hof se diskresie, nie bestraffend van aard nie, en by die bepaling van die bedrag moet die hof die gebruike van die gemeenskap en die saamlewingsaard van die gades in ag neem (art. 74). In Zimbabwe word die eis ook erken, maar nie vir vroue wat ingevolge die gewoontereg getroud  is nie, omdat hierdie huwelike potensieel poligeen is (Gwatidzo v Masukusa 2000 2 ZLR 410 (HC) 423; Mukono v Gwenzi 1999 1 ZLR 117 (SC) 120; Nyakudya v Washaya 2000 1 ZLR 653 (HC) 657).

Kyk ’n mens verder na Indië, ’n multikulturele konstitusionele demokrasie, is die prentjie meer kompleks, met sewe persoonlikeregstelsels: Hindoe, Islamities, Christelik, Parsi, Joods, siviel en gewoonteregtelik (Agnes 2011:1). Slegs die Indian Divorce Act, 1869 het voorsiening gemaak vir ’n skadevergoedingsaksie teen die derdeparty manlike egbreker, maar die wet is in 2001 gewysig en die skadevergoedingsaksie teen die derdeparty-egbreker (art. 34) is afgeskaf (Kusum 2012:51; sien in dié verband ook Diwan 2013:272).

Nog ’n aspek van kritiek teen die RH-uitspraak is die toets wat gebruik is om te besluit of die skadevergoedingseis toegestaan behoort te word. Dit is so dat die gevoelens van die onskuldige gade in moderne tye steeds deur owerspel gekwets word (Wiese 6). Wiese (7)wou nie die indruk gee dat owerspel regmatig is nie, maar wou dit as ’n noodsaaklike uitlaatklep behou vir die heftige gevoelens wat owerspel meebring om die gevaar van eiehulp-uitinge te verhoed. Die hoogste hof van appèl het egter hierdie argument verwerp, en verwag selfbeheersing van egbreker-slagoffers in ’n beskaafde samelewing (RH par. 37). So bevind regter Brand, met verwysing na die Engelse saak Pritchard, dat geen redelike persoon, objektief gesien, minder van die onskuldige gade sal dink as gevolg van die owerspel nie (RH parr. 30–5). Die vraag moet gevra word of dit die regte toets vir ’n skadevergoedingseis in Suid-Afrikaanse verband is. Is die toets nie of die onskuldige subjektief gekrenk is en of, objektief gesien, die gewraakte optrede contra bonos mores is en of die gevoelens van die redelike persoon in die posisie van die onskuldige gade gekrenk sou wees nie?

Hoewel ek dit eens is met die hof in RH se uitspraak dat die aksie afgeskaf behoort te word, is die regsvergelykende gevolgtrekking te eenvoudig. Daar is slegs een manier vir die hof om oor die eis te besin en dit is om die aksies deur die lens van die grondwetlike norme en waardes van die Suid-Afrikaanse gemeenskap te oorweeg – juis dit wat die hof vermy het.

Die gevolg van die uitspraak in RH is dat die oorblyfsels van die eis teen die derdeparty-egbreker tans beperk is tot ’n actio legis Aquiliae (Fuller v Viljoen 855; Doyle v Doyle 85; Chapman v Chapman 426).


4. Argumente vir en teen die behoud van die eis teen die derdeparty-egbreker

Die tradisionele argumente met betrekking tot die aksie teen die derdeparty-egbreker is reeds in die bespreking van RH gelug, maar ’n dieper bespreking is gepas in grondwetlike verband en die uitsprake in Wiese en RH word geriefshalwe naas mekaar gestel.

In Wiese het die verweerder op grond van artikels 10 (waardigheid), 9 (gelykheid), 15 (godsdiens en gewete) en 18 (assosiasie) aangevoer dat die egbrekersaksie ongrondwetlik is, maar die hof het al die argumente verwerp (sien in die algemeen die bespreking van Barratt 2014:310–23; Carnelley 2010:196–201).

Ondersteuning van die reg op menswaardigheid van die egbreker is in Wiese as onvanpas beskou, aangesien die derdeparty-egbreker wel wetend en vrywillig in die huwelik van ’n ander ingemeng het (Wiese 11). In Seroot v Pieterse (2005 JDR 0821 (T) par. 10) bevind die hof dat die skadevergoedingsaksie die onskuldige gade se reg op menswaardigheid beskerm. Het die derdeparty-egbreker dan geen reg op menswaardigheid nie? In Ryan v Petrus (2010-3-27 saaknr. 165/2008 (OKG)) bevestig die hof dat die egbreker nie sy of haar reg op respek en menswaardigheid verbeur nie (Carnelley 2010:200). Almal het die reg op menswaardigheid en in die praktyk gebeur dit dikwels dat die owerspelige partye betekenisvolle verhoudings aanknoop en dat die owerspel die begin van ’n permanente verhouding en later selfs ’n huwelikslewe saam is (Barrett 2014:320).

In Wiese bevind regter Du Plessis dat die derdeparty-egbreker ook nie op die gelykheidsbeginsel kan steun nie, aangesien die konstitusionele hof in Volks v Robinson (2005 5 BCLR 446 (KH) par. 54) bevind het dat die regsonderskeid tussen getroude en ongetroude persone grondwetlik regverdigbaar is. Die teenargument is egter dat indien die huwelik as instelling beskerm moet word, waarom ’n interdik teen die derdeparty-egbreker om hom of haar te verbied om owerspel te pleeg dan nie toelaatbaar is nie (RH par. 34; Carnelley 2010:199 (verwysings in vn. 140)), of waarom owerspel nie strafbaar is nie. Ek wil aan die hand doen dat die situasie in Volks en Wiese/RH onderskeibaar is. In Volks het die hof besin oor die finansiële gevolge van ’n huwelik versus die finansiële gevolge van ’n saamwoonverhouding. In Wiese/RH was die geskilpunt die persoonlike seksuele keuse van die eggenoot wat betref sy of haar liggaam.

Uit hoofde van die regverdigbaarheid van die verskil tussen getroude en ongetroude persone is een van die hoofredes wat aangevoer word vir die behoud van die aksie weens owerspel dat die huwelik as instelling hierdie besondere grondwetlike regsbeskerming geniet (Wiese 4 met verwysing na Dawood v Minister of Home Affairs (2000 3 SA 936 (KH) par. 30–7). Of Dawood van toepassing is in hierdie scenario, is debatteerbaar, aangesien in hierdie saak staatsinmenging in huweliksverhoudings in ’n immigrasieverband aandag geniet het (Barrett 2014:315). Regter du Plessis hamer in Wiese (6) op die feit dat in die huwelik die gades vrywillig ooreengekom het om gedurende die huwelik seksueel eksklusief te verkeer en dat owerspel direk teen daardie onderneming indruis. As teenargument voer appélregter Brand in RH (parr. 33–4) aan dat hoewel die beskerming van die huwelik as instelling belangrik is, die gebruik van hierdie aksie as ’n beskermingsmeganisme duidelik onsuksesvol is: die beskerming van die huwelik kan slaag slegs indien beide gades bereid is om die huwelik te onderhou. Die afskrikkingseffek van die aksie is onsuksesvol en die egskeidingsreg aanvaar dat die oorsake vir die verbrokkeling van ’n huwelik meer kompleks is as net een aspek, soos owerspel, wat meestal ’n simptoom van die verbrokkeling is en nie noodwendig die oorsaak daarvan nie (sien ook Buttner v Buttner 2006 3 SA 23 (HHA) par. 31). Op grond hiervan kom die hof in RH tot die gevolgtrekking dat die voortbestaan van die aksie uit pas met die moderne egskeidingsreg is.

Die vraag kan egter gevra word of dit dan nie juis in onstuimige omstandighede, wanneer die huwelik beskerming nodig het, is dat die gemeenskap verwag dat die reg die huwelik sal beskerm nie. Andersins beteken dit dat die reg net gelukkige huwelike beskerm – huwelike wat nie beskerming nodig het nie. Aan die ander kant: Is dit realisties dat die reg ’n huwelik of ’n huweliksverhouding beskerm? Hierdie vrae sluit aan by die tradisionele argument dat die aksie weens owerspel gebaseer is op ’n sielkundige veronderstelling wat nie op feite berus nie, naamlik dat dit onwaarskynlik is dat ’n persoon in ’n gelukkige huwelik owerspel sal pleeg (Carnelley 2010:202; Church 1979:384). Labuschagne stel dit soos volg (1986:342):

Dit is myns insiens onverdedigbaar aangesien een mens nie moreel gesproke ’n reg op die gebruik van ’n ander se liggaam kan hê nie. Die basiese reg wat ’n mens op sy eie individualiteit en op die gebruik van sy liggaam tot emosionele selfverwesenliking het, word deur die aksie weens owerspel geskend. Dit is nie die taak van die deliktereg om ’n huwelik in stand te hou nie. Persoonlike toegeneentheid (liefde) en respek vir mekaar is die fondamente waarop ’n standhoudende huwelik gebou word en nie regsreëls nie.

Hiermee saam val die argument ten opsigte van die wyer regsetiese dilemma aangaande die wenslike perke van die regulering van persoonlike seksuele moraliteit deur die reg (in hierdie verband is die debatte oor o.m. pornografie en homoseksualiteit van toepassing).

Is die aksie teenstrydig met die partye se vryheid van assosiasie en vryheid van gewete, godsdiens, denke, oortuigings en menings? Daar word aangevoer dat die aksie die reg van volwassenes beperk om vrylik verhoudings aan te knoop met wie hulle wil, en dat dit derhalwe ongrondwetlik is (Woolman 2008:44–51). In Wiese (11) verwerp die hof egter hierdie argument, aangesien dit nie rekening hou met die gades se vrywillige oorspronklike huwelikskeuse nie, naamlik om hulle liggame te gebruik volgens hulle eie oortuigings en keuse, en beskou die aksie as ’n regverdige inperking van die regte van die individu. Hierdie bevinding in Wiese is egter nou, by implikasie, deur die hoogste hof van appèl omvergewerp. Barratt (2014:319) toon tereg aan dat die grondwetlike beskerming bepaal word deur die waarde wat deur die reg aan die verhouding geheg word en nie noodwendig deur die waarde wat die partye daaraan heg nie. Volgens die argument van die hof in Wiese is die huweliksbelofte bepalend en die partye doen by implikasie afstand van verskeie toekomstige fundamentele regte en vryhede nieteenstaande veranderende omstandighede. In RH is die de facto-situasie van die partye bepalend en aanvaar die hof dat omstandighede, die moraliteit en by implikasie die gemeenskapsverwagtinge verander het.

Alhoewel die howe moontlik nie altyd die verslapping van die gemeenskap se morele waardes goedkeur nie, is die meer toegeeflike benadering jeens owerspel reeds in vroeëre sake opgemerk (Daniels v Daniels; Mackay v Mackay 1958 1 SA 513 (A) 532; Van der Westhuizen v Van der Westhuizen 1996 2 SA 850 (K) 852). Die veranderinge in die mores rakende verhoudings, die huwelik en egskeidings word ook gesien in Van Jaarsveld (par. 3), deur die erkenning van verskeie soorte huweliksvorme, met inbegrip van poligene gebruiklike huwelike, die veranderinge ten opsigte van die geslagsgelykheidsbeginsel (Muller v Fink 1972 1 P.H. B2) en die implementering van die skuldlose egskeidingsreg. Die vraag is derhalwe nie óf dit verander het nie, maar in watter mate dit teenoor owerspel verander het. RH bevestig dat dit wel verander het, in teenstelling met Wiese vroeër.

In RH bevind die hof dat die aksie afgeskaf behoort te word, aangesien die eis steeds die oorblyfsels van die argaïese ontstaan bevat waar die een gade (die vrou) as die eiendom van die ander (die man) as die houer van ’n soort pandreg oor haar liggaam beskou kan word (RH par. 38). In Wiese voer die hof aan dat so ’n argument onlogies is, aangesien die aksie ontwikkel het uit daardie oorspronklike bestaansbeginsels en volgens die huidige vorm en inhoud beoordeel moet word (Wiese 12). Die kern bly egter dat die vrye keuse van partye aan bande gelê word.

Nog ’n argument vir die afskaffing van die aksie is die anomalie wat geskep word deurdat ’n aksie teen die derdeparty-egbreker beskikbaar is, maar nie teen die gade-egbreker nie. Regter Brand verklaar in RH dat hierdie anomalie op onduidelike openbare regsbeleidsbeginsels berus, aangesien die egbreker-gade die mees laakbare van die drie persone is (die spreekwoordelike “vark in die verhaal”). Die egbreker-gade kan die moontlike inisieerder van die owerspel wees en selfs, indien die huwelik gered word, voordeel uit die skadevergoedingseis trek indien so ’n gade binne gemeenskap van goedere getroud is (RH par. 30). In Wiese (10) maak die hof in teenstelling gewag van die beskikbare egskeidingsremedies teen daardie gade. In RH (par. 31) wys die hof egter daarop dat alhoewel die onskuldige eggenoot egskeidingsremedies het en potensieel ’n voordeel kan kry deur ’n verbeuring van voordele en/of ’n onderhoudsbevel, hierdie eise beperk is tot spesifieke omstandighede of onvanpas is indien ’n egskeiding nie op die owerspel volg nie.

Neethling (2010a:109) wys daarop dat gades wat buite gemeenskap van goed getroud is, met die uitsondering van ’n delikseis weens owerspel, stante matrimonio vrylik ’n aksie ex delicto (inbegrepe die actio iniuriarum) teen die ander gade as dader of mededader mag instel. Hy voer aan, met verwysing na Wiese, dat dit om openbarebeleidsredes nie vir die onskuldige party gepas blyk te wees om ook ’n eis teen die gade te hê nie, aangesien daar reeds ’n eis teen die derde party is. Sou die onskuldige party egter nie skei nie, voer Neethling aan, val die openbarebeleidsredes weg en behoort die actio iniuriarum teen die gade tot sy of haar beskikking te wees . Die redes wat hiervoor aangevoer word, is dat hoewel dit in die openbare belang is om die gesinseenheid te beskerm (die una carno-beginsel), dit onrealisties en onlogies is om die eis nie toe te staan nie, aangesien die harmonie tussen die gades waarskynlik meer ontwrig sal word indien daar geen remedie vir die gewonde gevoelens is nie – veral in gevalle waar daar geen ander remedie is nie. ’n Eis teen die ander gade sal as afskrikmiddel vir toekomstige oortredings dien. Die onbeskikbaarheid van die delikseis tussen gades is volgens Neethling onlogies en onregverdig in die lig van die feit dat kontraktuele aksies aanvaarbaar is (Neethling 2010a:105–6). Hierdie argument het egter nog nie vastrapplek in die howe gekry nie en beide gades wat binne en buite gemeenskap van goedere getroud is, het tans geen delikseis op grond van owerspel teen die ander nie.

Die vraag moet egter gevra word of eise teen egbrekers werklik gaan oor die salwing van gevoelens of oor iets anders, in die besonder die nut daarvan vir prokureurs in die praktyk. Die fokus van die aksie behoort die gevoelens van die onskuldige gade te wees, maar die aksie in die praktyk ontaard as ’n afpersmiddel of as ’n wapen by die skikking van egskeidingseise gemotiveer deur weerwraak (Tennet 1952:96–7; Van Niekerk v Barnard 2004-10-22 saaknr. 3398/2003 (O) par. 56) en finansiële gewin, aangehelp deur ’n problematiese kwantumberekening wat nie rasioneel bepaalbaar is nie (Barratt 2014:316; Carnelley 2010:202).

In RH (par. 40) bevind die hof ook dat die sosiale nadele van die aksie die positiewe aspekte oortref en dat die voortbestaan van die aksie nie met die moderne begrip van die huwelik ooreenstem nie, met verwysing na die blootstelling van die kinders aan onnodige publisiteit en emosionele trauma, en die vernederende aard van die persoonlike getuienis. Alvorens finaliteit oor die aangeleentheid bereik word, behoort daar ook, in die lig van die vryhede en reg op gelykheid en waardigheid van die drie betrokke partye, oorweging daaraan geskenk te word of die huidige beskikbare regsbeskermingsmeganismes voldoende is om hierdie negatiewe gevolge te beperk.


5. Multikulturele gemeenskap

In Suid-Afrika is daar ’n verskeidenheid intieme verhoudings soortgelyk aan huwelike ingevolge die Huwelikswet 25 van 1961: heteroseksuele of homoseksuele huwelike of burgerlike verbintenisse ingevolge die Civil Union Act 17 van 2006; gebruiklike huwelike ingevolge of buite die Wet op Erkenning van Gebruiklike Huwelike 120 van 1998; juridies onerkende godsdienstige huwelike ingevolge die Joodse, Hindoe- en Moslem-gelowe, asook permanente gevestigde saamwoonverhoudings. In almal behalwe die laaste groep is daar ’n moontlikheid van ’n huwelik, tog is die beskikbaarheid van die aksie beperk tot persone wat die weg van die Huwelikswet en die Civil Union Act volg.

Die owerspel-aksie is van toepassing op burgerlike verbintenisse ingevolge die Civil Union Act. Artikel 13 van dié wet bepaal dat al die regsgevolge van ’n sivielregtelike huwelik ingevolge die Huwelikswet ook, binne verband, van toepassing sal wees op wettige gebruiklike verbintenisse. Wat gebruiklike huwelike betref, is daar nie ’n soortgelyke artikel ingesluit nie. Clark (2011:A3) beweer dat “[e]xclusivity is not a universal characteristic of [such a] marriage; it is a special characteristic of Western civil law and the Anglo-American common law marriage”. Weens die moontlike poligene aard van ’n gebruiklike huwelik is die owerspel-aksie ongekend in hierdie huwelike (Bennett (1994:129)). Slegs indien die huwelik volgens die Huwelikswet voltrek is, is ’n owerspel-eis moontlik (Labuschagne 1986:338; Mwanda v Simeyile 1926 5 NAC 7, 8; Nazo v Lubisi 1946 NAC (K and O) 18). Omdat die reg nie godsdienstige huwelike erken nie, val die gevolge van owerspel soos deur die toepaslike godsdiens bepaal buite die toepassingsveld van die aksie.

Wat die samelewing se houding aangaande die huwelik versus permanente saamleefverhoudings betref, is daar twee verslae van Statistiek Suid-Afrika. Die eerste verslag (2013:65) maak geen onderskeid tussen huishoudings waar die hoof van die huishouding getroud is ingevolge die Huwelikswet en ander huwelike of permanente saamwoonverhoudings nie. Dit dui daarop dat huwelike ingevolge die Huwelikswet per se nie noodwendig meer die hoeksteen van huishoudings in die land is nie.

owerspel_tabel

Hierdie gevolgtrekking word ondersteun deur die verslag van Statistiek Suid-Afrika (2014:22, 29, 33, 37) wat die aantal huwelike wat van 2003 tot 2012 voltrek is, so aandui:

Jaar

Siviele huwelike:
Huwelikswet

Burgerlike verbintenisse: Civil Union Act

Gebruiklike huwelike:
Wet op Erkenning van Gebruiklike Huwelike

Godsdienstige huwelike

2003

178 689

-

17 283

 

 

Nie beskikbaar nie

2004

176 521

-

20 301

2005

180 657

-

19 252

2006

184 860

-

14 039

2007

183 030

80

20 259

2008

186 522

732

16 003

2009

171 989

760

13 506

2010

170 826

888

9 996

2011

167 264

867

5 084

2012

161 112

987

4 555

 

Nieteenstaande die bevolkingsgroei van ongeveer 42 miljoen in 2001 tot 52 miljoen in 2012 volgens die Wêreldbank (2015) neem die aantal huwelike (met inbegrip van burgerlike verbintenisse) van 203 369 in 2007 geleidelik af tot 166 654 in 2012. Daar is logieserwys dus ’n kleiner persentasie van die bevolking wat in die huwelik tree.

Hoe dit ook al sy, die verbrokkeling van enige verhouding, hetsy binne of buite die Huwelikswet voltrek, veroorsaak pyn en hartseer. Al hierdie permanente verhoudings en huwelike, hetsy erken deur ons reg of nie, het ’n soortgelyke consortium omnis vitae. Daar is egter geen oortuigende rede waarom een groep anders as ’n ander behandel moet word in ’n grondwetlike bestel waar gelykheid en menswaardigheid van almal deel van die norme is nie.


6. Gevolgtrekking

Hierdie bespreking het na aanleiding van die RH-uitspraak ontstaan. Hoewel daar met die uiteindelike gevolgtrekking van appèlregter Brand saamgestem word dat die eis teen die derdeparty-egbrekers afgeskaf behoort te word (sien ook Neethling en Potgieter 2015:385–6), is die hantering van die probleem deur die hof gebrekkig en betreurenswaardig. Voor die uitspraak was die gemeenregtelike beginsels duidelik ontwikkel. Hoewel daar twee teenoorgestelde standpunte was, was daar regsekerheid. Die hoëhofuitspraak in Wiese, wat volgens grondwetlike beginsels die aksie ondersteun het, is deur die hoogste hof van appèl in RH ter syde gestel sonder om enige grondwetlike norme en beginsels in ag te neem waar daar duidelike grondwetlike aspekte ter sprake is en boonop deur artikel 39(2) van die Grondwet  genoop word.

Hierdie oorsig (en die gebrek aan leiding deur die hof met betrekking tot die sogenaamde suster-eise) werk verdere onsekerheid in die hand. Soos aangedui, is die regsetiese probleme met betrekking owerspel kompleks – veral in die multihuwelik/saamleefverhouding in die Suid-Afrikaanse situasie – en verdien dit deurdagte ondersoek deur óf die hoogste hof van appèl óf die konstitusionele hof. ’n Blote aanname dat die Suid-Afrikaanse regstelsel die meerderheid Westerse regsoplossings moet aanvaar, is nie ’n voldoende argument binne ’n Afrikaïese en multikulturele verband nie. ’n Spesifieke opweging van die regte en belange van al die partye, ook dié van die owerspelige, behoort deur die hof oorweeg te word met ’n duidelike gevolgtrekking aangaande die beperkinge van regte in die lig van die beginsels soos vervat in die Grondwet en die huidige gemeenskapsbelange. Dit is duidelik dat ’n meer genuanseerde benadering in die opweging van die belange en regte deur ’n hof in die toekoms gewens is – veral in die Suid-Afrikaanse multikulturele samelewing.

Ek is van mening dat die uitslag dieselfde sal wees as in die RH-uitspraak en kan maar net met Tennet (1952:96) saamstem:

[The] action for damages for adultery … is utterly repugnant to modern ideas. … [I]t is wrong that the time of the courts should be taken up in attempting to assess marital fidelity in terms of money.


Bibliografie

Agnes, F. 2011. Family law. Volume I. Family laws and constitutional claims. New Delhi: India.

Barratt, A. 2014. Strange bedfellows? The action for adultery and the South African Bill of Rights. International Journal of Private Law, 7(4):310–27.

Bennett, T.W. 1994. The equality clause and customary law. South African Journal of Human Rights, 10:122–30.

Bishop, M. en J. Brickhill. 2014. Constitutional law. Juta’s Quarterly Review, 3, par. 2.3.

Carnelley, M. 2010. One hundred years of adultery – re-assessment required? In Hoctor en Kidd (reds.) 2010.

—. 2013 Laws on adultery: Comparing the historical development of South African common law principles with those in English law. Fundamina, 19(2):185–211.

Church, J. 1979. Consortium omnis vitae. Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 42(4):376–94.

Clark, B. (red.). 2011. Family law service. Durban: LexisNexis.

Currie, I en J. de Waal. 2013. Bill of Rights handbook. 6de uitgawe. Kenwyn: Juta.

Davis, D.M. 2012. How many positivist legal philosophers can be made to dance on the head of a pin? A reply to Professor Fagan. South African Law Journal, 129(1):59–72.

Diwan, P. 2013 Family law. 10de uitgawe. Faridabad: Allahabad Law Agency.

Erasmus, H.J., C.G. Van der Merwe en A.H. van Wyk. 1983. Lee & Honorè family, things and succession. 2de uitgawe. Durban: Butterworths.

Fagan, A. 2010. The secondary role of the spirit, purport and objects of the Bill of Rights in the common law's development. South African Law Journal, 127(4):611–27.

Friedman, N. 2014. The South African common law and the Constitution: Revisiting horizontality. South African Journal of Human Rights, 30:63–88.

Goldberg, V. 1991. The legal ramifications of adultery – I: Infidelity, AID and divorce. Businessman’s Law, 1:227–30. 

Hahlo, H.R. 1980. South African law of husband and wife. Supplement to the 4th edition. Wynberg: Juta.

Harms, L. 2009. Amler’s precedents of pleadings. 7de uitgawe. Durban: Butterworths.

Heaton, J., J. Church en J. Church. 2006. Marriage. In Joubert (stigtingsred.) 2006.

Hoctor, S.V. en M. Kidd (reds.). 2010. Stella Iuris: Celebrating 100 years of teaching law in Pietermaritzburg. Kenwyn: Juta.

Joubert, W.A. (stigtingsred.). 2006. Law of South Africa. Volume 16. 2de uitgawe. Durban: LexisNexis.

Kusum, P. 2011. Family law lectures. Family law I. 3de uitgawe. Wadhwa Nagpur: LexisNexis Butterworths.

Labuschagne, J.M.T. 1986. “Deïnjuriëring” van owerspel. Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 49(3):336–41.

Neethling, J. 2006. Owerspel, die vervreemding van gevoelens en die erkenning van die reg op gevoelslewe as persoonlikheids- en mensereg. Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 69(2):342–7.

—. 2010a. Delictual actions between spouses. Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 73(1):105–14.

—. 2010b. Owerspel as onregmatige daad – die Suid-Afrikaanse reg in lynregte teenstelling met die Nederlandse reg. Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 73(2):343–6.

Neethling, J. en J.M. Potgieter. 2010. Neethling-Potgieter-Visser law of delict. 6de uitgawe. Durban: LexisNexis.

—. 2011. Adultery. In Visser (red.) 2011.

—. 2015. Neethling-Potgieter-Visser deliktereg. 7de uitgawe. Durban: LexisNexis.

Neethling, J., J.M. Potgieter en P.J.Visser. 2005. Neethling’s law of personality. Durban: LexisNexis.

Roederer, C. 2013. Remnants of apartheid common law justice: the primacy of the spirit, purport and objects of the Bill of Rights for developing the common law and bringing horizontal rights to fruition. South African Journal of Human Rights, 29(2):219–50.

Sinclair, J.D. (bygestaan deur J. Heaton). 1996. The law of marriage. Volume 1. Kenwyn: Juta.

Statistiek Suid-Afrika. 2013. Social profile of vulnerable groups 2002–2012. Pretoria: Statistiek Suid-Afrika.

—.2014. Marriage and divorces 2012. Pretoria: Statistiek Suid-Afrika.

Tennet, B. 1952. Damages for adultery: a criticism of our law. South African Law Journal, 69(1):96–7.

Van der Vyver, J.D. en D.J. Joubert. 1985. Persone- en familiereg. 3de uitgawe. Kenwyn: Juta.

Van der Walt, J. 2001. Progressive indirect horizontal application of the Bill of Rights: Towards a co-operative relation between common-law and constitutional jurisprudence. South African Journal of Human Rights, 17:341–63.

Visser, C. (red.). 2011. Annual Survey of South Africa 2009. Claremont: Juta.

Voet, J. 1698–1704. Commentarius ad Pandectas. Den Haag.

Woolman, S. 2008. Constitutional law of South Africa. Kaapstad: Juta.

Wêreldbank. 2015. Worldbank Data South Africa Online. http://data.worldbank.org/country/south-africa (18 April 2015 geraadpleeg).

 

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top