Vonnisbespreking: Die beskerming van die identiteit van minderjariges by volwassenheid

  • 3

Vonnisbespreking: Die beskerming van die identiteit van minderjariges by volwassenheid
Centre for Child Law v Media 24 Ltd 2018 2 SACR 696 (HHA)

Windell Nortje, Fakulteit Regte, Universiteit van Wes-Kaapland

LitNet Akademies Jaargang 16(2)
ISSN 1995-5928

 

Abstract

The protection of the identity of minors at adulthood

The Constitution of 1996 emphasises the importance of protecting children's rights and that the best interests of the child should always be protected. However, the media’s constitutional right to freedom of expression is also important. The media play a significant role in reporting crimes as well as informing the community about recent events. The rights of the media are limited by the Criminal Procedure Act 51 of 1977 which provides for the protection of the identity of minors during criminal proceedings. This act protects child witnesses, victims and offenders. Consequently, the media are prohibited from disclosing the identity of minors, as it is important to protect the best interests of the child. Children affected by a crime must deal with the consequences of the crime in their lives. The disclosure of their identity causes further pressure and/or stress and can therefore not be justified. The fact that this protection expires when a child reaches the age of 18 was therefore questioned in the case under discussion by the Centre for Child Law. However, in Centre for Child Law v Media 24 Ltd 2017 2 SACR 416 (GP) the court held that the identity of minor witnesses, victims and offenders will not be protected after they reach the age of 18. The Supreme Court of Appeal agreed with this decision, but the Centre’s application for leave to appeal was granted. The matter will be further deliberated before the Constitutional Court. This paper critically analyses the importance of protecting the identity of minors upon their reaching adulthood as opposed to the media’s right to freedom of expression.

Keywords: adult; child development; emotional damage; media coverage; minors; non-disclosure of identity; publicity; Zephany Nurse

Trefwoorde: 18-jarige ouderdom; emosionele skade; kinderontwikkeling; mediadekking; minderjariges; ontwikkelingsfase; publisiteit; volwasse; verswyging van identiteit; Zephany Nurse

 

1. Inleiding

Minderjarige getuies, slagoffers en beskuldigdes verskyn daagliks in ons howe. Dit is belangrik dat die reg voorsiening maak vir die beskerming van hul regte voor en na strafregtelike verrigtinge. Dit sluit in die reg op die beskerming van hul identiteit, wat onder meer bepaal dat die media verbied word om hul identiteit in die media te versprei (sien bv. art. 154(3) van die Strafproseswet 51 van 1977). Van Niekerk (2017:61) lê klem daarop dat “[w]hen working with victimised children, particularly those who have experienced sexual abuse of any kind, disclosure of the abuse or neglect that they have experienced is particularly difficult and painful”. Inderdaad is dit nie net minderjarige slagoffers en getuies wie se reg op privaatheid en menswaardigheid geskend word wanneer hul identiteit bekend gemaak word nie. Die bekendmaking van die identiteit van ’n minderjarige beskuldigde by volwassenheid kan moontlik ook lei tot verdere stigma en trauma. Kfoury (1991:56) verduidelik dat “[p]ublication of a juvenile offender's identity is also criticized because it is seen as an attempt to inflict a form of punishment on the juvenile”. Hierdie punt word geïllustreer in verskeie Suid-Afrikaanse sake waar veral die beskuldigde se identiteit deur die media versprei is, wat direk daartoe gelei het dat die beskuldigde gevoel het asof hy of sy gestraf word. Hierdie praktyk moet ten alle koste vermy word.

Verskeie voorskrifte in die Strafproseswet, die Kinderwet 38 van 2005, asook internasionale reg bepaal dat die identiteit van minderjariges wat betrokke is by strafregtelike verrigtinge nie bekend gemaak mag word nie (art. 74 van die Kinderwet; art. 153(2) van die Strafproseswet handel oor getuies en art. 154(3) van die Strafproseswet oor beskuldigdes). Die beskerming van die identiteit van minderjarige getuies en oortreders onder die ouderdom van 18 jaar is onlangs deur die Noord-Gautengse Hooggeregshof in 2017 bevestig (Centre for Child Law v Media 24 Ltd 2017 2 SACR 416 (GP)). Die hof het beslis dat die beskerming wat minderjarige getuies en beskuldigdes geniet, verval wanneer hulle 18 jaar oud word. Die Sentrum vir Kinderregte het aansoek gedoen om verlof tot appèl teen die laasgenoemde aspek van die hof se uitspraak en die Hoogste Hof van Appèl het op 28 September 2018 sy uitspraak in Centre for Child Law v Media 24 Ltd 2018 2 SACR 696 (HHA) gelewer.

Die primêre oogmerk met hierdie bydrae is om vas te stel of minderjarige getuies, slagoffers en oortreders se identiteit by volwassenheid beskerm moet word. Vervolgens word die Suid-Afrikaanse regsposisie in hierdie verband ontleed. Hierna word die feite van die Centre for Child Law-saak (HHA) onder die loep geneem. Dan word die meerderheidsuitspraak met die minderheidsuitspraak vergelyk. Die artikel sluit af met ’n ontleding van die moontlike gevolge wat die bekendmaking van hul identiteit op minderjariges by volwassenheid het en hoe die kwessie voortaan benader kan word.

 

2. Suid-Afrikaanse wetgewing

Die Strafproseswet asook die Child Justice Act 75 van 2008 maak voorsiening vir die beskerming van die identiteit van minderjariges wat in strafregtelike verrigtinge betrokke is. Artikel 154(3) van die Strafproseswet, saamgelees met artikel 63(6) van die Child Justice Act,1 bepaal soos volg:

Niemand mag op enige wyse hoegenaamd enige inligting publiseer wat die identiteit openbaar of kan openbaar van ’n beskuldigde onder die ouderdom van agtien jaar of van ’n getuie by strafregtelike verrigtinge wat onder die ouderdom van agtien jaar is nie: Met dien verstande dat die voorsittende regter of regterlike amptenaar die publikasie van soveel van bedoelde inligting kan magtig as wat hy goedvind indien die publikasie daarvan na sy oordeel regverdig en billik en in belang van ’n bepaalde persoon sal wees. (Sien algemene bespreking in S v Pastoors 1986 4 SA 222 (W); sien ook Du Toit (Service 59) 2017:22−S; Joubert 2017:315.)

Die Strafproseswet soos dit tans daar uitsien, maak nie voorsiening vir die beskerming van die identiteit van slagoffers onder die ouderdom van 18 jaar nie, maar net van beskuldigdes en getuies. Hierdie posisie in die Strafproseswet was een van die kwessies wat die Sentrum van Kinderregte bevraagteken het en wat deur die Hoogste Hof van Appèl aangespreek moes word. Daarbenewens is dit problematies dat die Strafproseswet en die Child Justice Act nie voorsiening maak vir die beskerming van die identiteit van minderjariges wanneer hulle 18 jaar oud word nie. Sodra ’n persoon wie se identiteit deur die wet beskerm word, 18 jaar oud word, verval daardie persoon se reg op beskerming van sy/haar identiteit (sien oor die algemeen Joubert 2017:315; Du Toit (Service 59) 2017:22−42T).

Die relevante wetgewing verskaf geen riglyne met verwysing na die posisie van minderjarige beskuldigdes en getuies sodra hulle 18 jaar oud word nie. Daar word aangeneem dat hierdie kwessie oorgelaat word aan die minderjarige getuie of beskuldigde se regspan indien hulle wil aansoek doen om ’n verdere verbod op die bekendmaking van die betrokke meerderjarige se identiteit, soos die geval was in die Centre for Child Law-saak (sien oor die algemeen die hof a quo). Alhoewel die wetgewer die voorsittende beampte se rol met betrekking tot die bekendmaking van die identiteit van minderjarige getuies en beskuldigdes uiteensit, word daar geensins verwys na die rol wat voorsittende beamptes moontlik kan speel in die beskerming van die identiteit van minderjarige getuies en beskuldigdes sodra hulle 18 jaar oud word nie. Dit is verder onduidelik of die voorsittende beampte ’n beslissing kan maak wat die uitwerking sal hê dat die individu se identiteit beskerm word selfs nadat die individu 18 jaar oud geword het.

Internasionale reg bied ook geen riglyne aan ten opsigte van die beskerming van die identiteit van persone wat 18 jaar oud word nie. Nóg die Verenigde Nasies se Minimum Standaard Reëls vir die Administrasie van Kindergeregtigheid2 nóg die Konvensie oor die Regte van die Kind3 bevat enige bepalings rakende die bekendmaking of verdere verswyging van die identiteit van persone wanneer hulle die ouderdom van 18 jaar bereik nie.

Teen hierdie agtergrond is dit duidelik dat die reg nie beskerming verleen ten opsigte van die bekendmaking van die identiteit van minderjarige getuies, beskuldigdes en slagoffers by meerderjarigheid nie. Soos aangedui, het die Sentrum vir Kinderreg hierdie posisie in ons wetgewing in die Hoogste Hof van Appèl bevraagteken.

 

3. Feite

Die feite in die Hoogste Hof van Appèl is gebaseer op die feite soos vervat in die hof a quo. Zephany (hierna “die slagoffer”) was drie dae oud toe sy in 1997 uit die Groote Schuur Hospitaal in Kaapstad deur haar grootmaakma ontvoer is (Centre for Child Law (GP) par. 5). “Zephany” is die naam wat haar biologiese ouers vir haar gegee het. Die naam wat haar grootmaakouers vir haar gegee het, word tans beskerm. Die slagoffer se grootmaakma het haar as haar eie kind grootgemaak. Sy ken dus die persoon as haar ma, en is terselfdertyd baie lief vir haar grootmaakpa, wat geensins bewus was van die ontvoering nie. Hy was onder die indruk dat die slagoffer sy vrou se eie kind is – sy het almal om die bos gelei en hulle laat glo dat dit haar eie kind is (sien Petersen 2016). Na bewering het sy haar eie kind verloor toe sy nog vier maande swanger was. Sy het beweer dat die slagoffer se biologiese moeder die baba vir haar gegee het. Hierdie weergawe is deur die Wes-Kaapse Hooggeregshof verwerp en daar is aanvaar dat sy die slagoffer ontvoer het.

Nietemin, die slagoffer se grootmaakouers het haar blootgestel aan ’n omgewing waar sy beskerm en beskut gevoel het. Meer as 17 jaar na die ontvoering het die Nurses gehoor dat hul jongste dogter op skool bevriend geraak het met ’n meisie wat baie soos sy lyk (sien ook oor die algemeen Centre for Child Law (GP) par. 5). DNS-toetse het bepaal dat die nuwe vriendin wel haar suster is. Op 21 April 2015 het die Sentrum van Kinderregte in die Noord-Gautengse Hooggeregshof geslaag in hulle aansoek om ’n interim-interdik ten einde die anonimiteit van die slagoffer te beskerm (sien Centre for Child Law v Media 24 Ltd 2015-04-21saaknr. 23871/15 (GP) par. 2.1). Regter Bertelsmann het die publikasie van enige inligting wat die identiteit van die slagoffer bekend sou maak, verbied.

Sy is ook verder beskerm deurdat sy nie in die verhoor teen haar grootmaakma, die beskuldigde, moes getuig nie. Die naam van die beskuldigde is ook van die media weerhou. Die appellante (Centre for Child Law en andere) het in 2017 aansoek gedoen om ’n verklarende bevel by die Noord-Gautengse Hooggeregshof dat minderjarige getuies, slagoffers en oortreders se identiteit beskerm moet word by volwassenheid, iets waarvoor die wet nie voorsiening maak nie. Regter Hughes het in sy uitspraak beslis dat die beskerming wat artikel 154(3) bied, slegs op kinders toepaslik is en dat volwassenes hierby uitgesluit word (sien Centre for Child Law (GP) par. 68). Die appellante het hierdie uitspraak betwis en dit is hierdie appèl wat vervolgens bespreek word.

 

4. Beslissing

4.1 Meerderheidsuitspraak

Appèlregter Swain het die meerderheidsuitspraak gelewer (Van der Merwe en Maya ARR het saamgestem). Die uitspraak fokus op twee regsvrae, soos uiteengesit deur die Sentrum vir Kinderreg. Eerstens, moet artikel 154(3) van die Strafproseswet minderjarige slagoffers ook insluit? Tweedens, moet die identiteit van minderjariges wat beskerming geniet ingevolge artikel 154(3), ook beskerm word wanneer hulle 18 jaar oud word?

Die eerste regsvraag, alhoewel belangrik, word hier nie indringend bespreek nie, aangesien hierdie artikel op die tweede vraag fokus. Desnieteenstaande spreek appèlregter Swain (par. 29) hom soos volg daaroor uit:

Although the section grants anonymity to an accused and a witness at criminal proceedings who are under the age of 18 years, it offers no protection at all to the victim at criminal proceedings, who is also under the age of 18 years. The exclusion of child victims from the provisions of s 154(3) of the CPA, is irrational and in breach of s 9(1) of the Constitution, which guarantees the right to equal protection and benefit of the law to everyone. The denial of equal protection to child victims, who are equally vulnerable, cannot be justified.

Regter Swain bevind dus dat artikel 154(3) ongrondwetlik is in sover dit nie die identiteit van minderjarige slagoffers beskerm nie. Die wetgewer moet gevolglik hierdie wysiging aanbring, alhoewel die Konstitusionele Hof dit ook nog moet bevestig.

Die tweede regsvraag het te doen met die sogenaamde “adult extension”. Die “adult extension” verwys na die vraag of die identiteit van minderjarige beskuldigdes, getuies en slagoffers ook beskerming moet geniet as hulle 18 word – dus ’n verlenging van hul anonimiteit.

Regter Swain (par. 24) beantwoord hierdie vraag deur te verwys na die media se reg op vryheid van uitdrukking en dat volwassene-verlenging hierdie belangrike reg van die media moontlik kan skend. Waar die meerderheidsuitspraak verwys na die reg van die media, beklemtoon die minderheidsuitspraak weer die reg op privaatheid van die minderjarige wat volwasse raak. Die meerderheidsuitspraak verwys geensins na die reg op privaatheid van die minderjarige nie.

Regter Swain ontleed hierdie beperking op die media se reg op vryheid van uitdrukking krities ingevolge art. 36 van die Grondwet.4 Grondwetlike regte is nie absoluut nie en kan beperk word ingevolge ’n algemeen geldende regsvoorskrif. Die beperking moet onder meer ook redelik en regverdigbaar wees in ’n oop en demokratiese samelewing. In S v Makwanyane 1995 6 BCLR 665 (KH) par. 104 beslis die Konstitusionele Hof dat “[t]he limitation of constitutional rights for a purpose that is reasonable and necessary in a democratic society involves the weighing up of competing values, and ultimately an assessment based on proportionality”.5

Die mededingende regte in hierdie saak is: die media en pers se reg op vryheid van uitdrukking ingevolge artikel 16(1)(a) van die Grondwet tesame met die beginsel van ope geregtigheid (“the open justice principle”) enersyds, en andersyds die verlenging van die beskerming van die identiteit van minderjarige beskuldigdes, getuies en slagoffers wanneer hulle 18 jaar oud word (Centre for Child Law (HHA) par. 14). Hierdie oorweging, soos hier bo omvat in Makwanyane, is ’n proses wat gebaseer is op proporsionaliteit. Met ander woorde, regter Swain moet dus bepaal watter van die twee mededingende regte meer gewig dra in ’n oop en demokratiese samelewing en of die beperking van die grondwetlike reg redelik en regverdigbaar sou wees.6

Die appellante voer aan dat artikel 154(3) van die Strafproseswet problematies is, aangesien minderjariges die beskerming van hul identiteit verloor wanneer hulle 18 jaar oud word (Centre for Child Law (HHA) par. 10). Die appellante baseer hul argument op die beginsel dat “childhood actions or experiences that are felt in adulthood are also the proper concern of s 28(2) of the Constitution” (ibid). Artikel 28(2) van die Grondwet bepaal dat die beste belang van ’n kind ’n deurslaggewende rol moet speel in elke aspek van ’n kind se lewe. Die appellante beweer dat die insluiting van die “volwassene-verlenging”-beginsel sou verseker dat minderjarige beskuldigdes, getuies en slagoffers wat 18 jaar oud word, beskerm sou word teen die negatiewe effekte van die bekendmaking van hul identiteit (ibid). Daar word aan die hand gedoen dat dit inderdaad wel in die beste belang van enige kind is om nie blootgestel te word aan intense media-aanslae nie. ’n Praktiese voorbeeld hiervan is dat dit in die beste belang van Zephany Nurse was om nie haar ware identiteit bekend te maak toe sy 18 geword het nie.

Die mediarespondente voer daarteenoor aan dat artikel 154(3) slegs ten opsigte van kinders onder die ouderdom van 18 jaar toepassing vind en dat ’n volwassene-verlenging nie moontlik is nie (Centre for Child Law (HHA) par. 11). Regter Swain aanvaar hierdie argument en beslis dat artikel 154(3) baie duidelik uiteengesit is en nie beskerming verleen aan persone wat ouer as 18 jaar is nie (ibid; sien ook die bespreking in Du Toit (Service 59) 2017:22-42U).

Soos alreeds genoem, het die appellante verder beweer dat artikel 154(3) ongrondwetlik is weens die feit dat dit nie die identiteit van minderjarige beskuldigdes, getuies en slagoffers beskerm wanneer hulle 18 jaar oud word nie(Centre for Child Law (HHA) par. 13). Om hierdie bewering aan te spreek lê regter Swain sterk klem op die belangrikheid van die media en pers se reg op vryheid van uitdrukking in teenstelling met die reg van minderjariges om hul identiteit te beskerm wanneer hulle 18 jaar oud word. Hy verwys na verskeie sake waar die belangrikheid van die pers en die media se reg op vryheid van uitdrukking beklemtoon is. In Islamic Unity Convention v Independent Broadcasting Authority 2002 4 SA 294 (KH) par. 27 stel die Konstitusionele Hof dit uitdruklik soos volg:

Notwithstanding the fact that the right to freedom of expression and speech has always been recognised in the South African common law, we have recently emerged from a severely restrictive past where expression, especially political and artistic expression, was extensively circumscribed by various legislative enactments. The restrictions that were placed on expression were not only a denial of democracy itself, but also exacerbated the impact of the systemic violations of other fundamental human rights in South Africa.

Die pers en die media se grondwetlike reg om nuus te publiseer het teen ’n hoë prys gekom en die media is dus altyd vasbeslote om hul grondwetlike reg uit te oefen. In Johncom Media Investments Ltd v M 2009 4 SA 7 (KH) par. 28 het die Konstitusionele Hof beslis dat ’n beperking op die pers en media se reg op vryheid van uitdrukking nie net die media affekteer nie, maar ook die algemene publiek se reg om inligting te ontvang.7

Devenish (1996:58) waarsku egter dat

[r]obust and vigorous freedom of expression is fundamental to liberal democracy, but it does however precipitate enigmatic jurisprudential issues and complex and contentious problems that require dispassionate examination and a judicious weighing up of competing interests in a democratic body politic.

Dit is vanselfsprekend dat komplekse probleme ontstaan wanneer die media hul reg op vryheid van uitdrukking wil uitoefen ten opsigte van hofsake waar kinders betrokke is. Aan die een kant moet daar agting gegee word aan die regte van die media terwyl daar ook geensins afskeid geneem word van die beste belang van die kind nie.

Regter Swain sê verder dat ook die ope-geregtigheid-beginsel belemmer word deur die “adult extension”(Centre for Child Law (HHA) par. 26). Milo en Winks (2013:306) verklaar dat “[t]he principle of open justice has played an important part in marking South Africa’s historic transition from a repressive regime sustained by secrecy and tyranny to a democratic state founded on the values of ‘accountability, responsiveness and openness’” (sien ook art. 1 van die Grondwet; Currie en De Waal 2013:7−22). Ope geregtigheid word deur die Grondwet beskerm en die hof is van mening dat die volwassene-verlenging teenstrydig is met die grondwetlike waardes van openlikheid en geregtigheid soos vervat in artikel 1 van die Grondwet.8 Nietemin, die algemene beginsels met betrekking tot ope geregtigheid, soos ’n publieke verhoor, moet nie verwar word met die reg op vryheid van uitdrukking van die pers om die identiteit van individue tydens strafregtelike verrigtinge bekend te maak nie (Geis 1962:156).

Na aanleiding van die bogenoemde argumente en regsbeginsels beslis regter Swain (par. 27) soos volg:

It is clear that the adult extension severely restricts the right of the media to impart information and infringes the open justice principle. In the absence of any limitation on the nature and extent of the adult extension, the relief sought by the appellants is overbroad and does not strike an appropriate balance between the rights and interests involved. Accordingly, the proposed limitation on the right of the media to impart information is neither reasonable nor justifiable, in terms of s 36 of the Constitution. The constitutional challenge to the provisions of s 154(3) of the CPA on this basis, must accordingly fail.

Alhoewel regter Swain (par. 33) die appellante se saak van die hand gewys het, het hy wel genoem dat die kwessie rakende die “adult extension” van artikel 154(3) deur die wetgewer in die toekoms oorweeg kan word. Die hof (ibid.) was ook van mening dat dit nie die howe se plig is om wysigings aan wette aan te bring nie en dat die skeiding van magte gerespekteer moet word.

Daar word aan die hand gedoen dat die meerderheidsuitspraak meer klem kon gelê het op die beste belang van ’n kind en die moontlike impak wat die bekendmaking op kinders het. Dit wil voorkom of die hof liewer hierdie taak aan die wetgewer wou oorhandig. Dit is teleurstellend, aangesien die Hoogste Hof van Appèl die bevoegdheid het om te beslis of ’n sekere wet ongrondwetlik is of nie. Die minderheidsuitspraak het nietemin hierdie kwessie deeglik ontleed.

4.2 Minderheidsuitspraak

Appèlregter Willis lewer die minderheidsuitspraak (Mocumie AR het saamgestem). Die meerderheidsuitspraak en die minderheidsuitspraak verskil in verskeie opsigte.

Regter Willis (par. 40) beklemtoon dat die appellante nie ’n algehele verbod op die bekendmaking van die identiteit van minderjariges versoek nie. Artikel 154(3) van die Strafproseswet bepaal dat ’n voorsittende beampte ’n diskresie het om ’n bevel te maak wat die media toestemming gee om die identiteit van ’n minderjarige te publiseer (ibid.). Hy voer aan dat die appellante self erken dat elke saak op sy eie meriete aangehoor moet word en dat “practical difficulties, making the law cumbersome and burdensome, may arise if the net, requiring court authorisation of publication of the identity of the child victim is too widely cast” (par. 41).

Regter Willis verwys daarna kortliks na die mediarespondente se argumente. Eerstens maak hulle dit duidelik dat die beginsel van ope geregtigheid in ons land geld en dat dit ook ’n grondwetlike beginsel is soos verklaar deur die Konstitusionele Hof in Independent Newspapers (Pty) Ltd v Minister for Intelligence Services: In Re Masethla v President of the Republic of South Africa 2008 8 BCLR 771 (KH) par. 43 (sien ook Centre for Child Law v Media 24 Ltd 2018 2 SACR 696 (HHA) par. 56). Artikel 152 van die Strafproseswet asook artikel 32 van die Wet op Hoër Howe 10 van 2013 maak voorsiening vir die beginsel van ope geregtigheid. Die respondente argumenteer dat daar nie ’n balans gehandhaaf kan word tussen die beskerming van die identiteit van persone wat 18 jaar oud word en die regte van die media en ope geregtigheid nie (par. 55). Regter Willis (par. 56) aanvaar merendeels die argumente van die respondente ten opsigte van die belangrikheid van ope geregtigheid en dat hierdie beginsel noukeurig deur die regterlike gesag toegepas word.

Tweedens voer die respondente aan dat die voortdurende beskerming van die identiteit van minderjariges by volwassenheid baie wyd is (par. 57). Hulle meen dat indien so ’n verbod goedgekeur word, daar in sekere gevalle geen inligting oor die kind of die kind se familie gepubliseer mag word nie, al is die publikasie tot voordeel van die kind wat meerderjarigheid bereik (ibid.). Die net sal so wyd versprei moet word dat byvoorbeeld ook kinders wat betrokke is in motorongelukke, en kinders wat heldedade verrig het, se identiteite beskerm moet word (parr. 57−8). Hulle beweer ook dat die voorgestelde verbod nie net die pers en media in die geheel affekteer nie, maar ook ander middele waardeur die identiteit van die persoon gepubliseer kan word (par. 57).

Alhoewel die respondente geldige punte genoem het, het hulle nie die volle impak van misdaad op minderjarige getuies, slagoffers en oortreders oorweeg nie. Dit is juis hierdie kwessie wat regter Willis verder in sy uitspraak ontleed.

Hy verwys na die uitspraak in Teddy Bear Clinic for Abused Children v Minister of Justice and Constitutional Development 2014 1 SACR 327 (KH)par. 1 waar dit uitdruklik gestel is dat “children merit special protection legislation that guards and enforces their rights and liberties”. Artikel 28(2) van die Grondwet lê klem daarop dat die beste belang van die kind van kardinale belang is in enige saak waarby ’n kind betrokke is.9 Regter Willis (par. 65) verwys vervolgens na die appellante se argumente wat konkrete voorbeelde ingesluit het wat die kompleksiteit van die kwessie rakende die beskerming van die identiteit van minderjariges by volwassenheid beklemtoon.

Die eerste voorbeeld (ibid.) is dié van die persoon wat aangekla was van die destydse moord op Eugène Terre’Blanche. Die persoon was nog ’n minderjarige toe hy gearresteer is. Hy word vrygespreek van die moord ’n dag voordat hy 18 geword het. Die media het ’n dag na die uitspraak sy identiteit wyd gepubliseer (ibid.). Gevolglik het die persoon weens rassespanning en ’n vrees vir sy lewe sy tuisdorp, Ventersdorp, verlaat en spoorloos verdwyn (ibid.).

Die tweede geval (par. 66) is die alombekende saak van die Griekwastad-moordenaar wat sy hele familie vermoor het in 2012 toe hy slegs 15 jaar oud was (sien S v DD 2015 1 SACR 165 (NK); sien oor die algemeen Steenkamp 2014). Sy identiteit is tot meerderjarigheid beskerm. Op die dag van sy 18de verjaarsdag het verskeie mediahuise sy naam bekendgemaak, met een nuusartikel wat gelui het: “Meet [DS], the Griekwastad Killer”.

Die laaste geval (par. 68) was dié van “MVB”, ’n tienermeisie, wie se hele familie deur haar broer vermoor is. Sy het die voorval wonderbaarlik oorleef. Die media het eksklusief oor haar identiteit, haar skool, en waar sy behandeling ontvang het, berig (ibid.). Haar kurator, advokaat Louise Buikman, het ’n beëdigde verklaring ingedien wat die meisie se ervarings met betrekking tot die media se aanslae, asook haar emosionele skade beskryf het (ibid.). Ten spyte van ’n hofbevel en verskeie klagtes by die Mediaraad word die intieme besonderhede van die meisie steeds wyd in die media gepubliseer (ibid.).

Hierdie voorbeelde illustreer die kompleksiteite waarmee minderjariges wat volwassenes word, gekonfronteer word wanneer hulle betrokke is by misdade en waar nuus oor hierdie misdade wyd versprei word deur die media of slegs deur die plaaslike koerant gepubliseer word. Elke saak moet op sy eie meriete beoordeel word.

Regter Willis (par. 70) bespreek dan die belangrikheid van die pers se reg op vryheid van uitdrukking in teenstelling met die regte op menswaardigheid en privaatheid asook die beste belang van die kind. Die reg op vryheid van uitdrukking vervul ’n belangrike rol in die geval van minderjariges en meerderjariges wat 18 jaar oud word. Die regter (ibid.) verwys na verskeie gevalle waar die pers wel ’n invloedryke rol kan speel in die verspreiding van belangrike inligting waarby minderjariges betrokke is. Dit is byvoorbeeld belangrik om die gemeenskap in te lig oor die moontlike gevare van die ontvoering van babas by hospitale, soos gesien met die publikasie van inligting in die Zephany Nurse-geval. Bowendien, die publikasie van gevalle waar kinders betrokke is in seksuele misdade kan die gemeenskap bewus maak van die gevare wat hierdie misdade vir die welstand en ontwikkeling van kinders inhou (ibid.).

Hoewel die media ’n belangrike rol speel om die gemeenskap oor nuusgebeure in te lig, fokus hulle ook baie op sensasie en om hul lesers of kykers te vermaak (par. 71). In die konteks van die beste belang van die kind maan regter Willis (ibid.) dat “[t]here is, however, to be no ‘entertainment’ in such matters.” Hierdie stelling benadruk die belangrikheid van die beskerming van die identiteit van ’n kind in gevalle waar dit ooglopend is dat die wydverspreide publikasie van inligting oor die identiteit van ’n kind ’n negatiewe impak kan laat op die algehele ontwikkeling van die kind. Soos voorheen aangedui, is hierdie kwessie deur die meerderheid verwerp.

Dit moet nietemin ook hier genoem word dat die beste belang van ’n kind ingevolge artikel 28(2) nie ’n absolute reg is nie en ook beperk kan word deur artikel 36 van die Grondwet.10 Daar word aan die hand gedoen dat een van die primêre redes waarom appèlregter Swain die beginsel van die beste belang van ’n kind in hierdie saak van die hand gewys het, is dat die appellante ’n verlenging van die beskerming van die anonimiteit van 18-jariges gesoek het (oftewel van meerderjariges en volwassenes) en nie van “kinders” nie. Die probleem met hierdie benadering is dat kinders steeds ontwikkel nadat hul meerderjarigheid bereik en dat die bekendmaking van hul identiteit wanneer hulle 18 jaar oud word, ernstige nadelige effekte vir hierdie kinders kan inhou.

Nieteenstaande die belangrike rol wat die media in die samelewing vervul, kan hul grondwetlike reg op vryheid van uitdrukking in sekere gevalle beperk word. Daar moet in gedagte gehou word dat die appellante se aansoek nooit daarop gerig was om ’n algehele verbod te versoek teen die respondente nie, maar dat daar gefokus moet word op die beskerming van die identiteit van minderjariges wanneer die media oor hulle berig. Hierdie is ’n sensitiewe kwessie wat met privaatheid, omsigtigheid en respek gehanteer moet word. Regter Willis (par. 71; sien ook Johncom parr. 42−5) beskryf dit soos volg:

The appellants do not seek a blanket ban on reporting on the victims of crime. What they ask for is protection of their identity. It is this protection of identity – rather than a total ban on news reporting – that is so important and which strikes the balance between the freedom of expression, on the one hand and the aggregate of the rights to dignity, privacy and the best interests of the child, on the other.

Boonop, dit is nie die appellante se argument om die identiteit van alle minderjariges wat volwassenheid bereik te beskerm nie, maar net in sekere gevalle.

Een van die belangrikste oorwegings in die saak was om te beslis watter mededingende regte meer gewig dra in die spesifieke geval: die reg op vryheid van uitdrukking van die media of die reg op beskerming van die identiteit van kinders. Die respondente voer aan dat die hof dit in Johncom (parr. 30−1; sien ook Centre for Child Law (HHA) par. 72) duidelik gestel het dat die regte van die media met betrekking tot ope geregtigheid voorkeur geniet bo die regte van kinders wat hul identiteit wil beskerm. In Johncom het die hof gekyk na die kwessie of daar ’n algehele verbod moet wees op die publikasie van egskeidingsverrigtinge en watter impak dit op die beste belang van kinders sou hê. Alhoewel die hof die verbod van die hand gewys het, is regter Willis (par. 72) van mening dat die Johncom-uitspraak nie relevant is nie, aangesien dit uitsluitlik na egskeidingsverrigtinge verwys.

Regter Willis beklemtoon ook die belangrikheid van die reg op menswaardigheid en die reg op privaatheid soos in die Grondwet vervat en verwys na verskeie sake waar die verhouding tussen hierdie twee regte ontleed is. In Centre for Child Law v Minister of Justice and Constitutional Development (National Institute for Crime Prevention and the Re-Integration of Offenders as Amicus Curiae) 2009 11 BCLR 1105 (KH) bevind die hof onder meer dat die reëls met betrekking tot minimum strafoplegging nie op kinders van toepassing is nie;11 en in J v National Director of Public Prosecutions 2014 7 BCLR 764 (KH) par. 43 (sien ook Centre for Child Law v Media 24 Ltd 2018 2 SACR 696 (HHA) par. 77) voer die hof aan dat ’n volwassene beskerming geniet teen die insluiting van daardie persoon se naam in die register van seksuele misdrywe indien daardie persoon die misdrywe as ’n kind gepleeg het.

’n Persoon wat 18 jaar oud word se reg op menswaardigheid en privaatheid word nie beperk net omdat daardie persoon volwasse is nie. ’n Persoon se geestelike ontwikkeling duur voort jare na die persoon 18 jaar geword het; daar moet dus gewaak word daarteen om 18-jarige persone in dieselfde kategorie te plaas as volwassenes met verwysing na die ontwikkeling van die brein asook hul vermoë om belangrike keuses te maak (sien oor die algemeen Arain e.a. 2013; Wallis 2013). Hierdie argumente steun die posisie van die appellante en die uitspraak van regter Willis met verwysing na die verlenging van die beskerming van die identiteit van minderjariges by volwassewording. In Suid-Afrika huiwer die pers en die media nie om verslag te lewer oor kwessies wat die gemeenskap beïnvloed nie. Daar word wel aan die hand gedoen dat die pers en die media nuusgebeure met betrekking tot kinders en jong volwassenes met sensitiwiteit moet benader, om sodoende die regte van die betrokke partye te beskerm, want dit is nie altyd duidelik hoe ’n saak die geestelike ontwikkeling van die jong persoon sal beïnvloed nie. Dit is veral pertinent in Suid-Afrika, waar kinders en vrouens gereeld slagoffers van gesinsgeweld is.

Die beskerming van die identiteit van minderjariges by volwassenheid is wel nie uitsluitlik ’n Suid-Afrikaanse kwessie nie. Regter Willis verwys na etlike voorbeelde uit buitelandse wetgewing en regspraak, ’n regsaspek wat die meerderheidsuitspraak nie aangespreek het nie. Artikel 15A(1) van die Children’s Criminal Procedure Act 1987 in Australië bepaal dat die publikasie van die identiteit van diegene wat as kinders betrokke was in strafregtelike verrigtinge summier verbied word, selfs wanneer hulle volwassenes word (sien Centre for Child Law (HHA) par. 78). Die howe in Nieu-Seeland (sien R v Mcdonald [2015] NZHC 511) en Engeland (sien R v Secretary of State for Justice [2016] UKSC) bied konkrete regspraak wat bepaal dat dit noodsaaklik is in sekere gevalle om die identiteit van ’n kind wat volwassenheid bereik, te beskerm (sien ook Centre for Child Law (HHA) parr. 78−80). In JXMX v Dartford and Gravesham NHS Trust [2015] EWCA Civ 96 par. 34 (sien ook Centre for Child Law (HHA) par. 79)het die Engelse appèlhof aangevoer dat die anonimiteit van kinders hoër gestel moet word as die opegeregtigheidsbeginsel in gevalle waar die kind in strafverrigtinge betrokke is.

In nog ’n Engelse saak (T v the United Kingdom – 24724/94 [1999] ECHR and V v the United Kingdom – 24888/94 [1999] ECHR par. 7; sien ook Smith en Sueda 2008:6−7) het twee 10-jarige seuns, Jon Venables en Robert Thompson, in 1993 die tweejarige James Bulger naby Liverpool ontvoer en vermoor. Die twee beskuldigdes is skuldig bevind aan moord en ontvoering en is tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis (par. 20). Die Britse publiek asook die media het die aksies van die beskuldigdes skerp gekritiseer en dit het gelei tot ’n verandering in die Britse wetgewing ten opsigte van kindergeregtigheid (sien Venables & Thompson v News Group Newspapers Ltd[2001] EWHC 32 (QB); sien ook Davis en Bourhill 1997:29; Smith en Sueda 2008:5−6). Die beskuldigdes was bang dat hulle deur die publiek aangeval sou word na hul vrylating weens verskeie dreigemente teen hulle. Voor hul vrylating in 2001 beslis ’n Engelse hof dat hul identiteit permanent beskerm moet word en bevind dat die beskuldigdes se reg op lewe voorrang geniet bo die media se reg op vryheid van uitdrukking (ibid.). Die hof het gevolglik beslis dat die twee beskuldigdes nuwe identiteite moet ontvang. Hierdie beskerming geld lewenslank en die media is verbied om hul identiteite te publiseer (ibid.). In hierdie saak word die beskuldigdes se reg op lewe, en tot ’n sekere graad menswaardigheid en privaatheid, hoër geag as die reg van die media op vryheid van uitdrukking.

Die bespreking van buitelandse wetgewing en regspraak deur die Hoogste Hof van Appèl beklemtoon die belangrikheid van die regte van kinders in teenstelling met die regte van die media op vryheid van uitdrukking. Die voorbeelde illustreer verder hoe belangrik dit is om te verseker dat die kind se regte op menswaardigheid en privaatheid nie geskend moet word nie. Die regters in die minderheidsuitspraak was dus wel bevoeg om te verwys na die beskerming van die identiteit van minderjariges in ander lande en hoe Suid-Afrika moontlike lesse uit die regsvergelykende regspraak kan leer. Dit is jammer dat die meerderheidsuitspraak buitelandse regspraak vermy het.

Een van die pertinente regsvrae waarmee die hof geworstel het, is of die kind se regte op privaatheid en menswaardigheid beperk moet word wanneer daardie persoon volwassenheid bereik. Die meerderheidsuitspraak beslis dat hierdie regte wel beperk moet word, want die media se reg op vryheid van uitdrukking kan nie in dié geval beperk word nie. Regter Willis (par. 81) is egter van mening dat ’n kind se grondwetlike regte nie verval wanneer die kind 18 word nie en verklaar:

As a general rule, the passage of time does not, in and of itself, change rights. There may, of course, be exceptions. Access to secret material (“classified information”) in State archives would be an obvious example.

In sy meerderheidsuitspraak meen regter Swain dat die wet slegs voorsiening maak vir die beskerming van die identiteit van minderjariges en nie nadat hul volwassenes word nie. Regter Willis (par. 97) voer egter aan:

It is that the relevant time, which is determinative of the issue, is the time that the person was a child and not the time from which the child has become an adult. In my opinion it is obvious that if, in balancing the competing interests at stake in this matter, the fulcrum is the question of onus, the scales must tilt in favour of those who have become adults but were the victims of crime at a time when they were children.

Kinders wat betrokke is by misdade, moet saamleef met die gevolge daarvan en tyd kan ook nie daardie gebeure uitvee nie. Die media kan die lewe van so ’n persoon werklik ondraaglik maak en dit moet nie toegelaat word nie. Alhoewel die slagoffer, getuie of oortreder altyd daartoe kan instem dat die media sy of haar identiteit publiseer, beklemtoon regter Willis (par. 82; sien ook art. 9 van die Grondwet) dat “[t]he law prefers to come to the aid of the weak and vulnerable rather than the strong and powerful.”

Dit is voldoende om te sê dat hierdie opmerking van regter Willis ’n waterdigte lyn trek tussen die regte van die mediarespondente en die appellante. Die appellante se grondwetlike regte behoort hoër geag te word as die regte van die media, selfs wanneer die individu ’n volwassene word. Regter Willis (par. 83) verklaar verder:

A default position in law that allows for a retrospective intrusion into a person’s victimhood of crime as a child would, in my opinion, violate that person’s constitutional right to dignity. The knowledge, as a child, that one’s identity as a victim of crime may be revealed upon the attaining of one’s majority, may haunt that child, causing her considerable emotional stress. In my opinion, it verges on cruelty to sanction torment such as this.

Hierdie beskrywing skets ’n prentjie waar die media se voortdurende reg op publikasie van die identiteit van minderjariges by volwassenheid ’n negatiewe impak op die verdere ontwikkeling van so ’n persoon sal hê. Die grondwetlike reg van die media op vryheid van uitdrukking mag beperk word indien dit redelik en regverdigbaar is ingevolge artikel 36 van die Grondwet. Regter Willis (par. 86) verklaar dat dit inderdaad redelik en regverdigbaar is dat die identiteit van minderjarige getuies, slagoffers en oortreders beskerm moet word by volwassewording. Indien die media se reg op vryheid van uitdrukking in hierdie konteks beperk word, vereis dit ’n minimale opoffering van die media. Regter Willis (ibid.) meen dat die identiteit van kinders wat volwassenheid bereik, nie relevant in die publieke sfeer is nie. Daar word aan die hand gedoen dat dit ’n opoffering is wat redelik en regverdigbaar is in vergelyking met die reg op menswaardigheid en privaatheid van die minderjarige wat volwassenheid bereik. Soos aangedui, het die appellante nooit aangevoer dat ’n algehele verbod verklaar moet word ten opsigte van die identiteite van minderjarige slagoffers, getuies en oortreders nie.

Indien die minderheidsuitspraak die meerderheidsuitspraak sou vervang, sou die volgende relevante verklarings gegeld het: (1) Artikel 154(3) van die Strafproseswet is ongrondwetlik omrede dit nie die identiteit beskerm van kinders wat volwassenheid bereik in strafregtelike verrigtinge nie. (2) Die parlement word versoek om die volgende bepaling by artikel 154 van Strafproseswet te voeg:

(3A) Children subject to subsection 3 above do not forfeit the protections afforded by that subsection upon reaching the age of eighteen years but may, upon reaching adulthood, consent to publication of their identity. (Sien Centre for Child Law (HHA) par. 104.)

Die Sentrum vir Kinderregte het teen die beslissing van die Hoogste Hof van Appèl geappelleer. Verlof tot appèl is toegestaan en die saak sal deur die Konstitusionele Hof beslis word. Die net van beskerming sal baie wyd versprei word indien elke minderjarige getuie, slagoffer en oortreder wat volwassenheid bereik se identiteit beskerm word. Die identiteit van ’n kind wat ’n sjokolade gesteel het toe hy 16 was, sal waarskynlik nie deur die media bekend gemaak word wanneer daardie persoon 18 word nie. Hierdie kwessie is slegs van toepassing op kinders wat betrokke is by sensasionele sake wat uit die aard van die saak die meeste van die tyd die media se aandag gaan trek. Daar word aan die hand gedoen dat elke saak op meriete beslis moet word. Die ideaal is dat die media moet besef dat hulle nie die identiteit van kinders wat betrokke was by strafregtelike verrigtinge, bekend kan maak nie, al word daardie kind 18 jaar oud.

 

5. Die gevolge van die bekendmaking van sy/haar identiteit op die ontwikkeling van die minderjarige by volwassewording

Terwyl regter Willis die negatiewe effekte van die bekendmaking van die identiteit van minderjarige beskuldigdes, getuies en slagoffers bespreek het, het regter Swain verkies om hierdie onderwerp eerder te vermy. Daar word aan die hand gedoen dat hierdie aspek van die saak nie onder die mat gevee kan word nie. Soos in die minderheidsuitspraak bespreek, word kinders wat 18 jaar oud word nie ewe skielik volwassenes net omdat hulle 18 jaar oud word nie. Hulle is nog besig om te ontwikkel. In Centre for Child Law v Minister for Justice and Constitutional Development 2009 2 SACR 477 (KH) parr. 35, 39 voer die hof aan dat “[j]uveniles are still engaged in the process of defining their own identity.” Die hof (par. 39) verklaar verder dat “[t]here is no intrinsic magic in the age of 18, except that in many contexts it has been accepted as marking the transition from childhood to adulthood.” Hierdie gesag beklemtoon die belangrike punt dat persone wat 18 jaar oud word, steeds ontwikkel en dat die ouderdom van 18 jaar nie beteken dat kinders ten volle ontwikkel is wanneer hulle die ouderdom bereik nie. Dus kan die bekendmaking van die identiteit van minderjariges by volwassenheid daartoe lei dat die individue nie ’n kans gegun word om ten volle te ontwikkel of om werklik te verstaan wat hulle gedoen het nie, soos in die geval van die Griekwastad-moordenaar (sien Hamman en Nortje 2016:738) en die ander gevalle wat hier bo bespreek is.

Die Hoogste Hof van Appèl moes bepaal of dit in die beste belang van die kind is om die identiteit van die kind by volwassewording bekend te maak. Daar word aan die hand gedoen dat die omstandighede van die kind ook in ag geneem moet word wanneer die kind se identiteit bekend gemaak gaan word. (Sien die bespreking in Gillespie en Bettinson 2007:119, waar die skrywers sekere Engelse hofsake ontleed waar die howe ook versuim het om die omstandighede van die kind in ag te neem.) Terselfdertyd moet die hof ook die reg van die pers en die media op vryheid van uitdrukking oorweeg het. Hierdie toets van proporsionaliteit kan nie eensydig toegepas word net omdat meerderjarige beskuldigdes, getuies en slagoffers nie die beskerming ingevolge artikel 28(2) van die Grondwet en artikel 154(3) van die Strafproseswet geniet nie. Die feit dat artikel 154(3) nie beskerming verleen aan minderjariges wat volwassenheid bereik nie, is problematies en vatbaar vir kritiek.

Gillespie en Bettinson (2007:119) verwys na die positiewe verpligting wat op die staat rus om te verseker dat die persoonlike integriteit en menseregte van elke individu beskerm moet word. Hierdie verpligting kom veral na vore wanneer die pers en die media die identiteit van ’n individu wil bekend maak met die gevolg dat die moontlike bekendmaking die integriteit en menseregte van die individu kan skend (ibid.). Dus is die feit dat artikel 154(3) nie beskerming verleen aan die identiteit van kinders wat meerderjarig raak nie, nie op een lyn met die Grondwet nie. Artikel 1 van die Grondwet bepaal onder meer dat menswaardigheid sentraal is tot die fondament waarop Suid-Afrika gebou is. Daar word aan die hand gedoen dat die menswaardigheid van kinders geskend word wanneer hul identiteit bekend gemaak word by meerderjarigheid waar dit duidelik is dat die bekendmaking ernstige nadelige gevolge vir die persoon inhou. Dieselfde argument geld met betrekking tot die kind se reg op privaatheid.

Die voortdurende beskerming van die identiteit van meerderjariges kan ook geregverdig word omdat die vrees dat hul identiteit as volwassenes bekend gemaak kan word, hulle benadeel wanneer hulle nog kinders is. Om die regte van die pers en die media bo die regte van ’n kind in so ’n situasie te ag, is ondenkbaar en moet krities heroorweeg word.

Soos alreeds genoem, is minderjariges wat meerderjarig raak, nog besig om geestelik te ontwikkel. Dit is ’n kwessie wat die reg in ag moet neem, al klassifiseer kinders as volwassenes wanneer hulle 18 jaar oud word en oor dieselfde kam geskeer word as volwassenes wat baie ouer as hulle is. Arain e.a. (2013: 451; sien oor die algemeen ook Gavin e.a. 2009) voer aan dat

there are characteristic developmental changes that almost all adolescents experience during their transition from childhood to adulthood. It is well established that the brain undergoes a “rewiring” process that is not complete until approximately 25 years of age.

Die Griekwastad-moordenaar, asook die ander gevalle wat deur regter Willis ontleed is, het almal een kwessie gemeen: Die betrokke individu wat 18 jaar oud geraak het, het nie uitgesien na die dag wanneer sy of haar identiteit in die media bekend gemaak sou word nie. Hierdie vrees ontstaan juis omdat die individu in ’n kritieke fase van sy of haar geestelike ontwikkeling is en dit moeilik vind om te aanvaar dat hy of sy deur die media verneder sal word. Hierdie vernedering is ongegrond en moet veroordeel word. Die Griekwastad-moordenaar sal vir ewig gebrandmerk word as ’n moordenaar. Daar is duisende ander kinders wat dieselfde lot in die gesig staar. Indien Zephany se identiteit blootgestel word, sal sy bekend wees as die baba wat ontvoer is uit ’n hospitaal en die persoon wat haar ontvoer het as haar werklike moeder aanvaar het − iets wat die media bloot as sensasionele nuus beskou. Die media se reg op vryheid van uitdrukking kan nie belangriker geag word as die reg van die persoon om anoniem te bly nie.

Dit is vanselfsprekend dat nie elke minderjarige wat meerderjarig word se identiteit beskerm sal word nie, omrede daar duisende gevalle is waar kinders misdade pleeg en hierdie misdade nie in die media gedek word nie. Dit is slegs ernstige misdade wat die media se aandag trek. Kfoury (1991:66) verduidelik dat “[v]iolent juvenile crime and serious property offenses seem to be the particular targets of firm policies favoring exposure of juvenile offenders”. Die Griekwastad-moorde asook die Van Breda-moorde is voorbeelde van gevalle wat altyd mediadekking sal geniet. Dit is daarom belangrik om veral in hierdie gevalle te verseker dat enige minderjariges wat by hierdie misdade betrokke is, met sensitiwiteit hanteer moet word. Die vraag ontstaan of hierdie minderjariges steeds in wol toegedraai moet word wanneer hulle 18 jaar oud word. Ek is van die mening dat hulle steeds hierdie beskerming moet geniet wanneer hulle meerderjarigheid bereik, aangesien hul regte op menswaardigheid en privaatheid ingevolge die Grondwet andersins geskend sou word. Veral in die geval van minderjarige beskuldigdes wat meerderjarig raak, maak dit nie sin om hierdie groep persone se identiteite bekend te maak indien dit hul rehabilitasie gaan belemmer nie (Kfoury 1991:67). Dit word nie net as ’n mislukking van die kant van die regterlike gesag beskou nie, maar ook van die staat in sy geheel, aangesien die staat ’n verantwoordelikheid teenoor elke gevangene ten opsigte van rehabilitasie het.

’n Moontlike oplossing vir hierdie dilemma word kortliks soos volg ontleed. Dit kom voor of die toepassing van ’n weerlegbare vermoede wel in hierdie verband toepassing kan vind. In Suid-Afrika bestaan daar byvoorbeeld ’n weerlegbare vermoede dat ’n kind tussen die ouderdom van 10 en 14 nie toerekeningsvatbaar is nie (art. 7(2) van die Child Justice Act; sien ook Schoeman 2016:36−7; Burchell 2016:259−62; Kemp 2012:157−160; Snyman 2012:184−7). Die onus rus nietemin op die staat om te bewys dat die kind wel toerekeningsvatbaar is; dit het tot gevolg dat die staat wel die minderjarige kan vervolg (art. 7(2) van die Child Justice Act). In die geval van minderjarige beskuldigdes, getuies en slagoffers van misdade, word die volgende weerlegbare vermoede aan die hand gedoen: Daar bestaan ’n weerlegbare vermoede in strafregtelike verrigtinge dat minderjarige beskuldigdes, getuies en slagoffers wat 18 jaar oud word se identiteite hoegenaamd nie op enige wyse gepubliseer mag word nie.

Dit beteken dus dat die pers en die media die identiteit van ’n meerderjarige kan publiseer slegs indien hulle die vermoede kan weerlê dat die identiteit van die meerderjarige wel bekend gemaak moet word. Hierdie voorstel verseker ook dat die beste belang van die meerderjarige asook die pers en die media se reg op vryheid van uitdrukking in ag geneem word. Die pers se reg op vryheid van uitdrukking word sodoende nie ten volle beperk nie. Die finale beslissing behoort by die howe te rus.

 

6. Gevolgtrekking

Die bekendmaking van die identiteit van minderjarige getuies, slagoffers en oortreders by volwassenheid val wel binne die grondwetlike regte van die media, maar die 18-jarige se grondwetlike regte word terselfdertyd in sekere gevalle geskend waar die persoon se identiteit alombekend is en wydverspreid gepubliseer word. Die media hou verskeie gevare in vir die ontwikkeling van minderjarige getuies, slagoffers en oortreders nadat hulle 18 jaar oud word. Howe is dus onder toenemende druk om die regte van minderjarige jeugdiges by volwassewording te beskerm, soos gesien in die Zephany Nurse-geval, terwyl hulle terselfdertyd die grondwetlike regte van die media moet oorweeg (art. 16 van die Grondwet; Currie en De Waal 2005:343; sien ook oor die algemeen New York Times Co v United States 403 US 713 (1971)).

Hierdie bydrae ondersteun die minderheidsuitspraak van die Hoogste Hof van Appèl. Minderjarige getuies, slagoffers en oortreders se identiteit ontwikkel tot na hulle volwassenheid bereik, en om hulle oor te laat aan die media se genade is nie in die beste belang van ’n minderjarige wat volwassenheid bereik nie. Kinders wat betrokke is by strafregtelike verrigtinge behoort dieselfde regte te geniet as enige ander individu, en die gepaardgaande beskerming van hul identiteit moet voorrang geniet indien dit sigbaar is dat die betrokke kind nadelig beïnvloed gaan word deur die bekendmaking van sy of haar identiteit. Alhoewel die artikel fokus op die bekendmaking van die identiteit van minderjariges by meerderjarigheid, moet daar ook klem op gelê word dat meer gedoen kan word om die media te verbied om die identiteit van minderjarige beskuldigdes, getuies en slagoffers te publiseer. Daar word gehoop dat die Konstitusionele Hof oor dié kwessie in die voetspore van die Hoogste Hof van Appèl se minderheidsuitspraak sal volg om sodoende beskerming te verleen aan ’n spesifieke groep jong mense wat nog besig is om hul identiteit te vind.

 

Bibliografie

Arain, M. e.a. 2013. Maturation of the adolescent brain. Neuropsychiatric Disease and Treatment, 9:449−61.

Burchell, J. 2016. Principles of criminal law, 5de uitgawe. Kaapstad: Juta.

Currie, I. en J. de Waal. 2013. The Bill of Rights handbook, 6de uitgawe. Kaapstad: Juta.

Davis, H. en M. Bourhill. 2007. “Crisis”: The demonization of children and young people. In Scraton 2007.

Devenish, G.E. 1998. A Commentary on the South African Constitution. Durban: Butterworths.

Du Toit, E. e.a. 2015. Commentary on the Criminal Procedure Act, Volume 2. Kaapstad: Juta.

Fitz-Gibbon, K. en W. O’Brien. 2017. The naming of child homicide offenders in England and Wales: The need for a change in law and practice. The British Journal of Criminology, 57:1061−79.

Gavin, L. e.a. 2009. Sexual and reproductive health of persons aged 10–24 years – United States, 2002–2007. Morbidity and Mortality Weekly Report, 58(6):1–58.

Geis, G. 1962. Publication of the names of juvenile felons. Montana Law Review, 23(2):141−57.

Gillespie, A.A. en V. Bettinson. 2007. Preventing secondary victimisation through anonymity. The Modern Law Review Limited, 70(1):114−38.

Hamman A. en W. Nortje. 2016. Die bekendmaking van die identiteit van anonieme minderjariges by meerderjarigheid: regverdigbaar of nie? LitNet Akademies, 13(2):730−52.

Joubert, J.J. (red.). 2017. Criminal procedure handbook, 12de uitgawe. Kaapstad: Juta.

Kemp, G. e.a. 2012. Criminal law in South Africa. Kaapstad: Oxford University Press.

Kemp, G., S.S. Terblanche en M.M. Watney. 2017. Strafprosesreg vonnisbundel, 2de uitgawe. Kaapstad: Juta.

Kfoury, P.R. 1991. Confidentiality and the juvenile offender. New England Journal on Criminal and Civil Confinement, 17:55−67.

Milo, D. en B. Winks. 2013. Homeland: The development of the principle of open justice to protect South Africans from abuse of their asylum system. Journal of Media Law, 5(2):306−21.

Petersen, T. Zephany Nurse mom betrayal will sting, says judge. News24. https://www.news24.com/SouthAfrica/News/zephany-nurse-mom-betrayal-will-sting-says-judge-20160815 (8 April 2019 geraadpleeg).

Schoeman, M.I. 2016. Determining the age of criminal capacity: Acting in the best interest of children in conflict with the law. SA Crime Quarterly, 57:35−42.

Scraton, P. 2007. “Childhood” in “crisis”?. Londen: Routledge.

Smith D. en K. Sueda. 2008. The killing of children by children as a symptom of national crisis: Reactions in Britain and Japan. Criminology and Criminal Justice, 8(1):5−25.

Snyman, C.R. 2012. Strafreg, 6de uitgawe. Durban: LexisNexis.

Steenkamp, J. 2014. The Griekwastad murders: The crime that shook South Africa. Cape Town: Penguin Random House.

Terblanche S.S. 2016. A guide to sentencing in South Africa, 3de uitgawe. Durban: LexisNexis.

Trasen, J.L. 1995. Privacy v. public access to juvenile court proceedings: Do closed hearings protect the child or the system? Boston College Third World Law Journal, 15(2):359−84.

Van Niekerk, J. 2017. Should minors be identified after turning 18? Servamus, 110(10):61.

Wallis, L. 2013. Is 25 the new cut-off point for adulthood? BBC News. https://www.bbc.com/news/magazine-24173194 (7 April 2019 geraadpleeg).

 

Eindnotas

1 Die hoofdoel van The Child Justice Act is om ’n aparte strafregstelsel vir kinders te skep. Indien die Child Justice Act nie ’n spesifieke behoefte van ’n saak waar ’n kind betrokke is, kan aanspreek nie, sal die ekwivalente bepalings van die Strafproseswet in die aangeleentheid geld. Sien Kemp, Terblanche en Watney (2017:451). Sien ook oor die algemeen De Vos NO v Minister of Justice and Constitutional Development 2015 2 SACR 217 (KH).

2 United Nations Standard Minimum Rules for the Administration of Juvenile Justice, 1985. Die Beijing-reёls is op 29 November 1985 deur die Algemene Vergadering Resolusie 40/33 gepromulgeer.

3 Die verdrag is op 20 November 1989 gepromulgeer en op 2 September 1990 bekragtig.

4 Art. 36 van die Grondwet bepaal: “Die regte in die Handves van Regte kan slegs kragtens ’n algemeen geldende regsvoorskrif beperk word in die mate waarin die beperking redelik en regverdigbaar is in ’n oop en demokratiese samelewing gebaseer op menswaardigheid, gelykheid en vryheid, met inagneming van alle tersaaklike faktore, met inbegrip van – (a) die aard van die reg; (b) die belangrikheid van die doel van die beperking; (c) die aard en omvang van die beperking; (d) die verband tussen die beperking en die doel daarvan; en (e) ’n minder beperkende wyse om die doel te bereik.”

5 Sien ook Johncom Media Investments Ltd v M 2009 4 SA 7 (KH) par. 24, waar die hof bepaal dat “[t]he process of determining whether a limitation is reasonable and justifiable within the contemplation of s 36 involves the balancing of competing interests. It entails taking account of the considerations enumerated in s 36. This process has been described as a proportionality analysis.” Sien verder Currie en De Waal (2013:163); Devenish (1996:91).

6 Devenish 1996:46 verklaar dat “[t]he 1996 Constitution, as well the position with the interim Constitution, does not provide for an express hierarchy of rights and the courts are therefore called upon to judiciously balance the competing interests and values and determine the precedence of one right over another in the context in which the clash occurs by reference to the standard of boni mores of the community. Sien ook Gardener v Whitaker 1995 2 SA 672 (OK); Mandela v Falati 1995 1 SA 251 (W).

7 Sien ook Joubert (2017:314); Currie en De Waal (2013:343–4). In Holomisa v Argus Newspapers 1996 2 SA 588 (W) parr. 855−6 verduidelik Cameron R dat die pers en die media, in vergelyking met gewone individue, nie ’n verhoogde vorm van grondwetlike beskerming geniet nie.

8 Die beginsel van ope geregtigheid word ook beskerm deur art. 35(3)(c) van die Grondwet wat bepaal dat “[e]lke beskuldigde persoon [...] die reg [het] op ’n billike verhoor, waarby inbegrepe is die reg – (c) op ’n openbare verhoor voor ’n gewone hof”. Sien ook Joubert (2017:314); Currie en De Waal (2013:795).

9 Sien De Reuck v Director of Public Prosecutions, Witwatersrand Local Division 2004 1 SA 406 (KH) par. 65. Die algemene beginsel van die beste belang van ’n kind is alreeds voor die aanvang van die Grondwet in Fletcher v Fletcher 1948 1 SA 130 (A) deur wetgewing bespreek asook gereguleer, nl. deur die Child Care Act 74 van 1983. Sien Devenish (1996:75); Currie en De Waal (2013:619−21). Sien ook Burchell (2016:26).

10 Sien oor die algemeen Centre for Child Law v Minister of Justice and Constitutional Development 2009 2 SACR 477 (KH) par. 25; Minister of Welfare and Population Development v Fitzpatrick 2000 3 SA 422 (KH) par. 17. Sien ook Terblanche (2016:358); Joubert (2017:315); Du Toit (Service 59) 2017:22-42U).

11 Sien ook Centre for Child Law v Minister of Justice and Constitutional Development (National Institute for Crime Prevention and the Re-Integration of Offenders as Amicus Curiae) 2009 2 SACR 477 (KH) parr. 24−38; Centre for Child Law v Media 24 Ltd 2018 2 SACR 696 (HHA) par. 77.

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Gustaf Pienaar

    Dankie vir 'n interessante en verdienstelike artikel. Wat my interesseer is wat die posisie behoort te wees indien 'n minderjarige wat - sê - kort voor ouderdom 18 skuldig bevind word aan 'n misdryf, ná mondigwording uit eie wil teen sy skuldigbevinding appèl aanteken: Behoort sy identiteit steeds beskerm te word? Dit wil so lyk, want sy appèl kan natuurlik suksesvol wees ... En wat as hy nié op appèl slaag nie?

  • Pingback: Recent articles and research - August 2019 - De Rebus

  • Windell Nortje
    Windell Nortje

    Liewe Gustaf

    Baie dankie vir die belangrike vraag.

    Ek het nie eers na die aspek gekyk nie, so baie dankie dat jy dit uitlig.

    Onder die relevante omstandighede bied die Wet geen beskerming vir individue wat 18 jaar oud word nie, dus as die beskuldigde 18 word verval sy reg op anonimiteit al is sy appèl suksesvol al dan nie. My argument sal wees dat die persoon se identiteit beskerm moet word omdat hy nogsteeds deel is van die strafregtelike verrigtinge en hy 'n reg het om appèl aan te teken. Enige bekendmaking of publikasie van die persoon se identiteit wat sopas 18 geword het in hierdie spesifieke konteks moet skerp gekritiseer word aangesien dit die beskuldigde kan benadeel (op soveel vlakke).

    Baie dankie vir die punt.
    Windell

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top