Vonnisbespreking: Deliktuele vergoeding weens verlies (“bereavement”) as gevolg van ’n sterfgeval in die familie

  • 0

Vonnisbespreking: Deliktuele vergoeding weens verlies (“bereavement”) as gevolg van ’n sterfgeval in die familie
RK v Minister of Basic Education [2019] ZASCA 192 (18 Desember 2019)

Johann Neethling, Departement Privaatreg, Universiteit van die Vrystaat

LitNet Akademies Jaargang 17(1)
ISSN 1995-5928

 

Abstract

Delictual compensation for bereavement as a result of the death of a family member

In this case the core issue was whether mere emotional shock, bereavement or grief as a result of the death of a family member can ground a delictual cause of action. At common law this can be the case only if the shock or grief caused a recognisable psychological lesion (psychiatric injury or psychological disturbance), the existence of which should, as a rule, be proved by supporting psychiatric evidence. A clear deviation from the common law took place with regard to the Life Esidimeni tragedy when the former DCJ of the Constitutional Court, Dikgang Moseneke, awarded constitutional bereavement damages to each of the families involved for the death of a mentally ill family member who had died as a result of neglect by state officials. In RK S, a five-year-old boy fell into a pit latrine at his school and drowned. S’s parents and siblings instituted action in the High Court claiming damages inter alia for emotional shock and grief. Their claims were dismissed and they appealed to the Supreme Court of Appeal. The court held that in order to succeed with their claims, there was no need to develop the common law to recognise an independent claim for grief and bereavement, as their claims could be accommodated within the existing law (parr. 40–4). The court found that it was clear from the evidence that S’s death had caused each of the plaintiffs to suffer emotional shock and trauma which embrace the psychiatric injuries suffered by them (that is, their post-traumatic stress and depressive disorder), and with which their extended period of grief and sense of bereavement was associated (parr. 45–7). The court awarded damages to each plaintiff in respect of the claim for emotional trauma and shock, which included allowance for their grief and bereavement (parr. 51 ff.). It is unfortunate that the court did not use the opportunity to recommend the development of the common law and recognise the causing of grief and bereavement as an independent delictual cause of action in appropriate cases, as is the position in a number of European systems.

Keywords: actionability; bereavement; constitutional damages; damages; death of next of kin; depression; emotional shock; grief; law of delict; legislation; Life Esidimeni-arbitration; post-traumatic stress disorder; psychiatric injury; psychological lesion

Trefwoorde: deliktereg; depressie; dood van naasbestaande; emosionele skok; gedingsvatbaarheid; grondwetlike vergoeding; psigiatriese besering; psigiese letsel; Life Esidimeni-arbitrasie; posttraumatiese stresverstoring; verdriet; verlies van naasbestaande; vergoeding; wetgewing

 

1. Inleiding

Dit behoef geen betoog nie dat die onnatuurlike sterfte van ’n familielid vir sy of haar naasbestaandes dikwels ernstige emosionele skok, geestelike pyn en lyding, verdriet of smart meebring. Indien die dood deur die onregmatige, nalatige of opsetlike optrede van ’n persoon veroorsaak is, ontstaan die vraag of die betrokke familielede ’n delikseis vir vergoeding van die persoonlikheidsnadeel wat die verlies (“bereavement”) teweeggebring het, tot hul beskikking teen die delikspleger het. Dit was die kernkwessie in RK en die doel van hierdie bespreking is dan ook om die afwysing van so ’n eis in casu van naderby te bekyk.

Nou is dit so dat die enigste persoonlikheidsnadeel wat in hierdie omstandighede tans in ons reg as gedingsvatbaar geag word, die emosionele skok is (sien hieroor Neethling 2000:1 e.v.; Ahmed en Steynberg 2015:181 e.v.; Neethling e.a. 2019:143–5; Neethling en Potgieter 2015:306–12; Van der Walt en Midgley 2016:135–6; Loubser en Midgley 2017:361–7) wat ’n familielid opgedoen het, en dan net as die skok ’n psigiese letsel (psigiatriese besering of psigologiese steuring) daarstel, wat omskryf kan word as enige herkenbare nadelige inwerking op die brein- en senustelsel van ’n persoon (vgl. Barnard v Santam Bpk 1999 1 SA 202 (HHA) 208–9; Road Accident Fund v Sauls 2002 2 SA 55 (HHA) 61; Media 24 Ltd v Grobler 2005 6 SA 328 (HHA) 347, 348; Bester v Commercial Union Versekerings­maatskappy van SA Bpk 1973 1 SA 769 (A) 775, 776). Of sodanige letsel bestaan, moet in die reël deur ondersteunende psigi­atriese getuienis bewys word (sien Barnard 216; Sauls 61).

’n Psigiese versteuring kan uiteraard op verskeie wyses opgedoen word, maar vir huidige doeleindes is die emosionele of senuskok wat weens die dood van ’n naasbestaande opgedoen word, van belang. Dit kan byvoorbeeld geskied deur die waarneming van ’n ontstellende gebeurtenis waarby die oorledene betrokke was (soos in Masiba v Constantia Insurance Co Ltd 1982 4 SA 333 (K) waar die broodwinner aan ’n beroerte oorlede is toe hy op ’n afstand gesien het hoe die verweerder se motor met syne bots); of in Mulder v South British Insurance Co Ltd 1957 2 SA 444 (W) waar die eiseres gesien het hoe haar klein seuntjie se kop deur die wiel van ’n bus vergruis is); of die bewuswording van die familielid se sterfte, soos deur van sy of haar dood te verneem (bv. Waring and Gillow Ltd v Sherborne 1904 TS 340 (gade); Layton and Layton v Wilcox and Higginson 1944 SR 48 (kind); Barnard (kind)). Let nietemin daarop dat die hof in Barnard 208–9 van mening is dat daar “ongetwyfeld veel te sê is vir die standpunt dat ‘senu­skok’ nie net ’n uitgediende benaming sonder enige spesifieke psigi­atriese betekenis is nie, maar ook misleidend kan wees, en dat die enigste tersaaklike vraag is of ’n eiser ’n herkenbare psigiese letsel opgedoen het” (sien ook Loubser en Midgley 2017:363).

Blote emosionele verdriet of smart (bv. weens die dood van ’n kind) word nie as ’n psigiatriese letsel geag nie, en is daarom nie gedingsvatbaar nie (sien Barnard 217; Sauls 61; Western Cape Department of Social Development v Barley 2019 3 SA 235 (HHA) par. 23; Hing v Road Accident Fund 2014 3 SA 350 (WKK) 361; sien verder Loubser en Midgley 2017:363). In Barley is ’n 22 weke oue dogtertjie weens versmoring dood toe sy by ’n dagsorgsentrum van ’n bed afgerol het terwyl sy aan die slaap was. Haar ouers stel ’n eis vir vergoeding in weens hul “psychiatric injuries in the form of severe depressive symptoms, anxiety, post-traumatic stress disorder and emotional disorder”. Die eis word egter van die hand gewys, omdat dit nie deur ondersteunende psigi­atriese getuienis bewys is nie. Appèlregter Dambuza (par. 23) verklaar dat “[t]he extent to which such grief endures, and the impact thereof on the physical and mental wellbeing of the plaintiff, are crucial in proving a damages claim. If the shock is only for a short period and does not have real impact (transient shock) on the health of the plaintiff, it is usually disregarded” (sien ook Potgieter e.a. 2012:110; Neethling 2019:777–8).

Hoe ook al, in Mbhele v MEC for Health for the Gauteng Province (355/2015) [2016] ZASCA 166 (18 November 2016) kom dit voor of daar ’n afwyking van die gemeenregtelike posisie was. Hier is ’n vrou aan ernstige trauma onderwerp toe sy na die stilgeboorte van haar baba gedwonge vir agt ure in ’n kraamsaal aangehou is en daarna ook gedwing is om haar baba in die lykshuis te identifiseer, waar sy flou geval het. Dit was duidelik vir die hof dat sy emosionele skok ondergaan het en dat sy ’n saak daarvoor uitgemaak het (par. 11): “[H]er behaviour months after the death of the baby shows that she had difficulty coping and that she still has not recovered completely. For all those reasons we are satisfied that a case was made for a claim for emotional shock.” Die hof staan vergoeding vir ernstige skok, smart en depressie toe sonder dat daar enige psigiatriese bewys van ’n psigiese letsel voorgelê is (sien ook Mukheibir en Mitchell 2019:14–6).

’n Duidelike afwyking van die status quo het voorgekom met betrekking tot die Life Esidimeni-tragedie, waar die voormalige adjunkhoofregter van die Konstitusionele Hof, Dikgang Moseneke, konstitusionele vergoeding weens die eisers se swaar verlies toegeken het aan elk van die betrokke families vir die dood van ’n geestelik-versteurde familielid wat as gevolg van die nalatigheid van staatsamptenare gesterf het (sien Life Esidimeni Arbitration Award by http://www.saflii.org/images/LifeEsidimeniArbitrationAward.pdf; sien ook Neethling e.a. 2019:44 vn. 511; Mukheibir en Mitchell 2019:17–8).

Dit bring ons by die beslissing in RK.

 

2. RK v Minister of Basic Education

2.1 Feite

Hier het ’n seuntjie (S), wat slegs vyf jaar oud was, ’n hoogs ontstellende en onmenslike dood ondergaan toe hy in ’n putlatrine by sy skool geval en in die rioolslyk en smerige gemors verdrink het. Sy ouers, suster en broer stel ’n eis vir vergoeding in die Hooggeregshof teen die verweerders in vir onder andere emosionele skok en smart. Die eis slaag gedeeltelik, maar word grotendeels verwerp, en die familie beroep hul op die Hoogste Hof van Appèl.

Appèlregter Leach (parr. 9–14) skets ’n skrikwekkende beeld van die omstandighede wat tot S se dood gelei het. Dit blyk dat die puttoilette wat die skool aan die leerders voorsien het, in ’n ontsettende en afstootlike toestand was. Die skool het jare lank klagtes daaroor aan die provinsiale administrasie gerig met die versoek om the toilette te verbeter, maar geen reaksie gekry nie. Ten einde laas, in ’n poging om die probleem op te los, is ’n plaaslike nutsman vyf jaar tevore aangestel om ’n eenvoudige platform met ’n sitplek te ontwerp en oor die putte te installeer. Dit het egter nie lank gehou nie en as gevolg van verroesting en normale slytasie was die toilette weer in ’n ellendige toestand. Alhoewel dit so min as R500 per sitplek sou gekos het om struktureel-behoorlike toilette te laat bou, het die onderwysowerhede in gebreke gebly om op te tree. Die skool is toe op ’n lys geplaas wat geskeduleer was om sanitêre-infrastruktuur-bystand te kry, maar ongelukkig het geen werk ’n aanvang geneem voordat die tragedie met S maande later plaasgevind het nie.

Dit blyk dat S op die betrokke dag sonder toesig na die toilet gegaan het om homself te ontlas toe die sitplek ineengestort en hy in die put geval het. Later, toe hy nie gevind kon word nie, het sy moeder haar in paniek na die skool gehaas en sy liggaam in die toilet gevind waar hy in die smerige drek verdrink en met sy hand uitgestrek gelê het. Die skool het geweier dat sy moeder sy liggaam verwyder, en dit is ure lank, terwyl sy vader naby die toneel gesit het, daar in die menslike ontlasting gelaat totdat nooddienste dit verwyder het.

Dit is begryplik dat die verskriklike omstandighede van S se dood by sy ouers gespook het. Sy moeder het flou geval toe sy S se liggaam in die put sien; albei ouers het erge nagmerries ervaar, is gediagnoseer met posttraumatiese stresverstoring, het vir jare aan slaaploosheid gely en moes psigiatriese berading kry. S se ouer suster en broer is ook swaar getref deur die tragiese voorval. Sy suster, wat ook die lyk in die put gesien het, is op dieselfde wyse as haar moeder geaffekteer en moes ook psigiatriese berading kry. Insgelyks het sy broer simptome van posttraumatiese stresverstoring en swaar verlies openbaar. Dieselfde geld die ander drie jonger kinders.

2.2 Eise

Die eise kan in twee verdeel word (sien parr. 15 e.v.). Die eerste eis is vir vergoeding weens die emosionele skok wat die eisers opgedoen het (gebaseer op die gemenereg soos hier bo uiteengesit); en tweedens eis hulle vergoeding weens die swaar verlies en smart wat hulle moes ly (gebaseer op ’n ontwikkeling van die gemenereg in hierdie verband). Die ander eise, soos vir toekomstige mediese uitgawes en begrafniskoste, word vir doeleindes van hierdie bespreking daargelaat. Wat die Hooggeregshof betref, het die verweerders in die voorverhoorkonferensie toegegee dat die eisers ernstige emosionele skok en trauma ervaar het wat deur kliniese sielkundiges bevestig is en dat hulle verdere berading benodig. Die verweerders het vervolgens die meriete van die deliktuele eis erken en ’n aanbod om skikking gemaak wat egter nie aanvaar is nie. Die verhoor het dus voortgegaan.

Op die eerste dag het die verweerder weer die meriete erken en aanvaar dat hul nalatigheid S se dood veroorsaak het. Hierop laat appèlregter Leach (par. 19) hom soos volg uit:

In the light of this concession and the circumstances surrounding S’s death, if ever a case called out for settlement it was this one. For some reason, however, the respondents did not settle and the trial proceeded, undoubtedly at huge cost to the State. This really ought to have been avoided and the funds better employed in national interest eg by improving sanitation systems at rural schools.

Hoe ook al, nieteenstaande die verweerders se toegewing oor die meriete en die daaropvolgende getuienis van albei eisers en die deskundige psigoloog oor hul geestelike lyding, het die hof a quo – “it is somewhat startling to say the least”, in regter Leach (par. 20) se woorde – die eis vir emosionele trauma en skok van die hand gewys. Die hof het ook die eis vir smart afgewys.

2.3 Beslissing

Appèlregter Leach behandel die twee eisgronde seriatim. Eerstens: Wat die eis vir emosionele skok betref, wys hy (parr. 24–7) daarop dat alhoewel die howe aanvanklik huiwerig was om hierdie tipe eise te erken weens die vrees dat dit tot ’n menigvuldigheid van aksies aanleiding kon gee, het die beslissing in Bester v Commercial Union Versekeringsmaatskappy van SA Bpk 1973 1 SA 769 (A) onomwonde erkenning daaraan verleen dat persoonlikheidsnadeel wat uit die onregmatige en skuldige veroorsaking van ’n psigiatriese besering of emosionele skok resulteer, sonder dat daar van ’n fisieke besering sprake is, in beginsel die aksie weens pyn en lyding fundeer; en in Barnard bevestig die hof dat aanspreeklikheid ook kan volg in sogenaamde hoorsê-gevalle waar ’n persoon emosionele skok opgedoen het deur van iemand se dood te verneem. Hier speel die verhouding tussen die eiser en die slagoffer ’n belangrike rol, en die primêre vraag is of die eiser ’n herkenbare psigiese letsel ervaar het. Hierdie benadering is ook gevolg in Sauls, waar ’n persoon ’n ontstellende gebeurtenis waargeneem het. Hier verklaar appèlregter Olivier (parr. 13, 17):

It must be accepted that in order to be successful a plaintiff ... must prove, not mere nervous shock or trauma, but that she or he had sustained a detectable psychiatric injury. That this must be so is, in my view, a necessary and reasonable limitation to a plaintiff's claim ... I can find no general, “public policy” limitation to the claim of a plaintiff, other than a correct and careful application of the well-known requirements of delictual liability and of the onus of proof.

Na ’n oorsig (parr. 28–31) van die regsposisie aangaande aanspreeklikheid weens emosionele skok in Engeland, gevolg deur die posisie in ander “common law”-lande soos Australië, Nieu-Seeland en Kanada wat die Engelse reg in ’n groot mate weerspieël, kom appèlregter Leach (par. 31) tot die slotsom dat ’n eiser vergoeding weens emosionele skok kan eis net waar dit ’n herkenbare psigiatriese besering veroorsaak het.

Soos die hof uitwys (par. 32), was dit presies die geval in RK, aangesien, soos duidelik uit die bespreking hier bo blyk, die eisers as gevolg van die emosionele skok wat hulle weens S se dood gely het, gediagnoseer is met posttraumatiese stresverstoring waarvoor hulle psigiatriese berading moes kry. Daarom het die hof geen probleem om die regsbasis van die eisers se eis vir emosionele skok te erken nie. “It is a claim long recognised in this country and supported by the other common law jurisdictions” (sien ook die bespreking hier bo, par. 1).

Dit bring appèlregter Leach by die tweede eis (parr. 33–5), naamlik vergoeding weens die swaar verlies en smart wat die eisers moes ondergaan, maar wat nie met ’n herkenbare psigiese letsel gepaard gegaan het nie. Ten aanvang toon hy aan dat nie een van die “common law”-jurisdiksies hier bo vermeld erkenning aan sodanige eis verleen het nie. In byvoorbeeld Engeland verklaar Lord Oliver in Alcock v Chief Constable of South Yorkshire [1992] 1 AC 310; [1991] 4 All ER 907 (HL) 931a-b:

Grief, sorrow, depravation and the necessity for caring for loved ones who have suffered injury or misfortune must, I think, be considered as ordinarily and inevitable incidents of life which, regardless of individual susceptibilities, must be sustained without compensation ... but to extend liability to cover injury in such cases would be to extend the law in a direction for which there is no pressing policy need and in which there is no logical stopping point.

Soos reeds hier bo vermeld (par. 1), is dit ook die benadering in ons reg. Nietemin wys regter Leach (parr. 36–7) daarop dat daar sedert 1982 in Engeland statutêr voorsiening gemaak word daarvoor dat sekere naasbestaandes vergoeding weens “bereavement” in die geval van noodlottige ongelukke kan eis. Insgelyks word in Australië en Kanada statutêr vir soortgelyke eise voorsiening gemaak. Dit het tot op hede egter nog nie in Suid-Afrika gebeur nie en daarom geld die gemeenregtelike toedrag van sake steeds.

Die eisers het egter aangevoer (par. 38), op grond van Mbhele (sien hier bo, par. 1) waar die Hoogste Hof van Appèl vergoeding vir ernstige skok, smart en depressie toegestaan het sonder dat daar enige psigiatriese bewys van ’n psigiese letsel voorgelê is, dat die vereiste van ’n psigiese letsel laat vaar is, en dat die hof in RK ook hierdie benadering moet volg. Appèlregter Leach (par. 39) stem egter nie saam nie. Volgens hom was daar voldoende aanduidings dat die eiseres aan ’n psigiese ongesteldheid (depressie) gely het en ernstige emosionele skok opgedoen het wat aanduidend van ’n psigiese letsel is. Hierbenewens het die hof in Mbhele geensins verwys na die vorige beslissings van die Appèlhof dat blote emosionele verdriet of smart nie gedingsvatbaar is nie. Hy kom tot die volgende slotsom:

Without those cases and the ratio of their decisions having been debated and adjudicated, it cannot be said that they have been overruled by a simple passing comment relating to grief. The decision in Mbhele is therefore no authority for the proposition that our law has changed and that this court has recognised a claim for grief where there is no psychiatric lesion.

Die eisers voer voorts aan (par. 40) dat die gemenereg ontwikkel moet word in die lig van die gees, strekking en oogmerke van die Handves van Regte ten einde ’n eis vir swaar verlies en smart as gevolg van die dood van S te erken sonder dat dit met ’n psigiese letsel gepaard gegaan het, of om sogenaamde grondwetlike vergoeding vir hul smart en verlies toe te staan.

Wat eersgenoemde betref, is regter Leach (parr. 41–4) van oordeel dat daar geen noodsaaklikheid is om die gemenereg te ontwikkel ten einde ’n onafhanklike eis vir smart en swaar verlies te erken nie, aangesien albei eise in casu binne die bestaande deliktereg tuisgebring kan word. Aangesien dit die geval is, sal die toekenning van grondwetlike vergoeding nie as gepaste regshulp ingevolge artikel 38 van die Grondwet beskou word nie. (Sien ook parr. 57–63, waar die hof hoofsaaklik op Fose v Minister of Safety and Security 1997 3 SA 786 (CC) steun. Volgens die hof (par. 62) is die Life Esidimeni-arbitrasietoekenning van grondwetlike vergoeding (sien hier bo, par. 1) nie hier van toepassing nie, aangesien dit nie die bindende gesag van ’n regspresedent het nie en die feite aldaar boonop heeltemal van die feite in RK verskil; sien verder Neethling en Potgieter 2015:21 vn. 162.)

In die lig van die feite in RK kan die eisers se smart en gevoelens van verlies volgens die hof (parr. 45–8) in ag geneem word by die bepaling van hul vergoeding:

It is clear from all of this that the respondents admitted that S’s death had caused each of the appellants to suffer psychiatric injury with which their extended period of grief and sense of bereavement was associated. … [T]he evidence further corroborated that which the respondents had conceded. The psychologist ... explained that the symptoms of depression and post-traumatic stress disorder, suffered as a result of the emotional trauma the appellants had undergone, embraced the grief they had experienced. He explained that their feelings of grief and bereavement were psychological reactions to the significant emotional trauma they had undergone due to the shock caused by the circumstances surrounding S’s death and contributed to their psychiatric injuries. ... The appellants were therefore entitled to claim and recover damages ... for a pathological grief disorder forming part of their psychiatric injury.

Gevolglik is dit volgens die hof (par. 48) nie nodig om die gemenereg in casu verder te ontwikkel ten einde aan die eisers vergoeding toe te ken nie. Bygevolg is dit ook nie nodig om te beslis of die eisers geregtig sou wees op vergoeding vir verdriet as hulle nie ’n psigiatriese besering opgedoen het nie.

Wat die kwantum van vergoeding betref (sien parr. 51–7), bevind appèlregter Leach, in ag genome die emosionele skok, trauma, verdriet en verlies wat die eisers ervaar het, dat dit redelik sou wees om aan die ouers elk R350 000, aan die ouer broer en suster elk R200 000 en aan die drie minderjarige kinders elk R100 000 toe te ken.

 

3. Gevolgtrekking en aanbeveling

Die ratio decidendi van die beslissing in RK verdien instemming. Die hof het hom streng gehou by die gemeenregtelike reëling van aanspreeklikheid weens emosionele skok, naamlik dat emosionele skok gedingsvatbaar is slegs indien dit ’n psigiese letsel (psigiatriese besering of psigologiese steuring) veroorsaak wat in die reël deur ondersteunende psigi­atriese getuienis bewys moet word; en dat blote emosionele verdriet of smart (bv. weens die dood van ’n kind) nie as ’n psigiatriese letsel geag word en daarom nie gedingsvatbaar is nie. Nietemin het die hof aanvaar dat nie net die emosionele skok nie, maar ook die verdriet en swaar verlies weens die dood van S, psigiese letsels tot gevolg gehad het (posttraumatiese stresverstoring en depressie wat deur psigi­atriese getuienis bevestig is) wat deliktuele vergoeding geregverdig het. Daarom is dit begryplik dat dit nie nodig was om die gemenereg in casu te ontwikkel ten einde aan die eisers vergoeding toe te ken nie. Bygevolg was dit ook nie nodig om te beslis of die eisers geregtig sou gewees het op vergoeding vir verdriet as hulle nie ’n psigiatriese besering opgedoen het nie. Maar dit is tog jammer dat die hof nie sy weg oopgesien het om de lege ferenda obiter ’n mening uit te spreek oor dié tipe gevalle nie. Daar kan met redelike sekerheid voorspel word dat die howe in die toekoms te doen sal kry met gevalle waar daar wel swaar verlies en verdriet voorkom weens die dood van ’n familielid sonder dat daar regtens vir die moontlikheid van deliktuele vergoeding voorsiening gemaak word. Ons reg behoort dus ontwikkel te word om hierdie leemte te vul (sien ook Verheij 2004:406–8).

In hierdie verband moet vermeld word dat vele Europese regstelsels deliktuele vergoeding vir swaar verlies (“bereavement” of pretium affectionis) verskaf aan sekere verwante of ander persone wat ’n ferm verhouding of bande van toegeneentheid met ’n oorlede persoon gehad het (soos Frankryk, Switserland, België, Spanje, Griekeland en Italië – sien Verheij 2004:406; Neethling e.a. 2019:44). Onlangs het die wetgewer ook in Duitsland (2017 § 844 (3) BGB) en Nederland (2019 Wet Affectieschade: sien Mukheibir en Mitchell 2019:10–1) vir vergoeding weens swaar verlies voorsiening gemaak. Interessant genoeg word daar nou selfs in “common law”-lande soos Engeland, Australië en Kanada, waar eise vir “bereavement” nie gedingsvatbaar was nie, statutêr voorsiening gemaak daarvoor dat sekere naasbestaandes vergoeding weens “bereavement” in die geval van noodlottige ongelukke kan eis (sien RK parr. 36–7).

Hierdie beskerming wat in gevalle van swaar verlies in soveel Europese lande verleen word, bevestig die pad wat ons deliktereg moet volg. Dat daar ’n behoefte aan sodanige remedie in ons reg is, word duidelik aangetoon deur die Life Esidimeni-arbitrasie waar grondwetlike vergoeding, by gebrek aan die deliktuele aksie weens pyn en lyding, ingespan moes word om die betrokke families te vertroos vir hul swaar verlies weens die dood van ’n geestelik-versteurde familielid wat as gevolg van die nalatigheid van staatsamptenare gesterf het. Mukheibir en Mitchell (2019:28–30) beskou die deliktereg as die geskikte wyse om regshervorming teweeg te bring, terwyl Verheij 2004:406–8 hom nie daaroor uitspreek of die howe dan wel die wetgewer die aangewese voertuig moet wees nie. Daar word aan die hand gedoen dat die Suid-Afrikaanse Regshervormingskommissie die aangeleentheid moet ondersoek en wetgewing moet voorstel ten einde die huidige leemte in ons reg aan te vul, soos onlangs in Nederland gebeur het (sien ook Neethling 2019:7778; en in die algemeen Neethling e.a. 2019:44–5).

 

Bibliografie

Ahmed, R. en L. Steynberg. 2015. Claims for “emotional shock” suffered by primary and secondary victims. Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 78(2):181–99.

Loubser, M. en R. Midgley. 2017. The law of delict in South Africa. 3de uitgawe. Kaapstad: Oxford University Press.

Mukheibir, A. en G. Mitchell. 2019. The price of sadness: Comparison between the Netherlands and South Africa. Potchefstroomse Elektroniese Regsblad, 22:1–36.

Neethling, J. 2000. Deliktuele aanspreeklikheid weens die veroorsaking van psigiese letsels. Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 1:1–11.

─. 2019. Liability of state for psychiatric injury of parents caused by death of baby at day-care centre. Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 4:773–81.

Neethling, J. en J.M. Potgieter. 2015. Neethling-Potgieter-Visser deliktereg. 7de uitgawe. Durban: LexisNexis.

Neethling, J., J.M. Potgieter en A. Roos. 2019. Neethling on personality rights. Durban: LexisNexis.

Potgieter, J.M., L. Steynberg en T.B. Floyd. 2012. Visser & Potgieter law of damages. 3de uitgawe. Claremont: Juta.

Van der Walt, J.C. en J.R. Midgley. 2016. Principles of delict. 4de uitgawe. Durban: LexisNexis.

Verheij, A.J. 2004. Compensation of pretium affectionis – a constitutional necessity? Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 67(3):394–408.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top