Volmaanpiekniek met foto-uitstalling by die Taalmonument

  • 0

Piekniekliefhebbers moenie die laaste volmaanpiekniek van die somerseisoen by die Afrikaanse Taalmonument op Paarlberg, op Vrydag 9 Maart, misloop nie. Dié pieknieks is gewild onder plaaslike inwoners én oorsese besoekers, wat veral die sonsondergang en naguitsig van die vallei geniet.

Die maan sal Vrydag 99.4% vol wees (maanopkoms is om 19:38 en sonsondergang is om 19:12). ’n Begeleide toer van die monument sal om 18:30 en weer om 19:30 aangebied word, en die monument sal tot om 22:00 oop wees.

’n Foto-uitstalling van landskapfoto’s met die volmaan sal binne-in die monument besigtig kan word.

Besoekers is welkom om hul eie piekniekmandjies saam te bring of een by Volksmond Koffiewinkel te bestel (tel. 021 863 2800 of volksmond@taalmuseum.co.za). Volksmond sal tot om 22:00 oop wees vir koffie en ligte verversings.

Die toegangsfooi by die hek beloop R15 vir volwassenes, R10 vir studente en R5 vir kinders. Geen besprekings is nodig nie. Besoekers moet onthou om flitse en warm klere saam te bring. Geen honde en vure word toegelaat nie. Veilige parkering is beskikbaar en toegang word beheer.

Die monument sal in die somerseisoen vanaf Oktober tot Maart 2011 tot 20:00 oop wees. Vir verdere inligting oor geleenthede by die Taalmuseum of Taalmonument, skakel 021 872 3441 of besoek www.taalmonument.co.za.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top