Volledige Suidoosterfeesgids in BRAVO!

  • 0

Vanjaar word daar in die Wes-Kaap voorbrand gemaak vir die 2009 Suidoosterfees deur die feesprogram vandeesweek saam met die somer-uitgawe van BRAVO! te versprei.

Volgens Karen Meiring, sakebestuurder van BRAVO! is ‘n fees se program die belangrikste komponent. "Dit is opwindend om die program beskikbaar te maak, aangesien dit help met die uitbou van die kunste."

"Die 6de Suidoosterfees, wat vanaf 27 Januarie tot 1 Februarie by Kunstekaap gehou word, gaan kook: letterlik en figuurlik, met die nuutjie van twee kookdemonstrasie vertonings en David Kramer sélf op die verhoog in sy ‘breyani' show" sê voorsitter van die fees, Prof. Jakes Gerwel. Verder spog die fees ook met die première van die wenstuk van die heringestelde Nagtegaal Toneelteksprys, Die naaimasjien, deur Rachelle Greeff.

Behalwe vir ‘n propvol teater- en verhoogprogram is daar ook boekpraatjies en besprekings, gratis musiek in die RSG Tent, ‘n Anant Singh filmfees en selfs ‘n kinderoppasdiens wat inskakel by die produksies van die Wordwise kinderteater.

Die feesprogram is nie die enigste ekstra'tjie in die somer-uitgawe van BRAVO! nie. ‘n Kortverhaalbonus, ‘n uittreksel uit Jackie Nagtegaal se nuwe boek en ‘n introspektiewe blik op die liefde maak deel van die lekker leesstof te vind in dié glansryke kunste-en vermaaktydskrif.

Kaartjies vir die Suidoosterfees is beskikbaar by Shoprite/Checkers en Computicket, of Artscape Bel-'n-Sitplek (021 4217695). Die volledige feesprogram verskyn saam met BRAVO! in CNA, Exclusive Books, en Spar. Vir ‘n volledige verspreidingslys besoek www.bravobravo.co.za.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top