Volkswagen-bussie

  • 0

Wie onthou die oorspronklike Volkswagen-bussie? Die met so ’n effe ronderige neus en deure wat jy na jou moes trek wanneer jy dit oopmaak. Dit was lank voor David Kramer en sy vellies probeer het om ’n Volksie-bussie teen die berge aan te durf. Baie van die sogenaamde Kramer-bussies word in Pretoria, veral in Atteridgeville en Mamelodi, as taxis gebruik.

Maar die hoeka-toeka-weergawe het my gedagtes op ’n reis na 1974 geneem. Daardie dae was die Ben Schoeman die hoofroete tussen Pretoria en Johannesburg. Halfway House het bestaan ... geen Midrand. En jy kon ook aftrek om ’n rustige piepie te neem.

En dit het juis by my ’n gunsteling-oomblik wakker gemaak. Een Sondag het ons gesinslede in Johannesburg gaan kuier. Riverlea om presies te wees. En  die bussie loop so teen 35 myl per uur. En wanneer jy daardie bult net voor die Shell Ultra City bereik, was daar ’n lekker lowergroen boom met daardie wit sitplekke en tafel waar enigeen kom aftrek en eet. Ons maak so. Eet en gesels en durf die tog verder aan. Verkeer was ook minder as vandag.

Sommige mense sal dink dat die Volksie dalk op Noag se ark hoort. Tog het iemand, wie weet waar, so ’n kombi gerestoureer en ewe spoggerig in Pretoriusstraat afgejaag. Tot die cops was verbaas en het dit ewe oopmond agterna aanskou.

En hier in die Moot is manne wat hul classics ken ... en met groot liefde restoureer.

Ek is versot op klassieke karre en dink nog ... ’n Buick of ’n Valiant?

Yuri

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top