Volbloedliefde deur Marilé Cloete, ’n resensie

  • 1

Titel: Volbloedliefde
Skrywer: Marilé Cloete
ISBN: 9781779871008
Uitgewer: Romanza 

Marilé Cloete is die skuilnaam van Alta Cloete. Onder geen van hierdie name het die skrywer geen bekendstelling nodig nie. Sy is een van ’n handjievol skrywers wie se boeke ek van die rak af haal sonder om eers die lokteks op die agterblad of ’n paar openingsparagrawe te lees.

Haar stories is altyd weldeurdag, goed beplan en net ’n leesplesier. Sy weet wat haar lesers wil hê en geniet dit gate uit om vir hulle romanse te skryf. Volgens haar kort bio bied dit vir haar nuwe energie, ’n heerlike uitdaging en baie vervulling.

Hier volg net ’n paar voorbeelde van Romanza's op haar kerfstok: Volbloedman (2025), ’n Lêplek vir die hart (2024), Veilige hawe vir die hart (2024), Herberg vir die hart (2023) en Tuiskoms van die hart (2023).

Ek het pas Volbloedliefde uit Marilé se pen gelees en dit heel aangenaam gevind. Die hoofkarakters se beroepe het dadelik my aandag getrek: Alicia van Aarde is ’n professionele rofstoeier en Ruben Retief ’n operasanger. Albei is Suid-Afrikaners maar woon en werk al vir etlike jare in Nederland. Hulle paaie kruis omdat hulle onderskeie families in Suid-Afrika by mekaar betrokke raak. Alicia se kleinboet, Alex, en Ruben se sussie, Lexi, is verlief en verlore en boonop gaan Alicia se ma, Elizabeth, en Ruben se oom Danny met mekaar trou. Alicia en Ruben moet albei die huwelik in hulle vaderland gaan bywoon.

Alicia en Ruben is karakters waaroor lesers mal sal wees. Hulle breek stereotipes en vooroordele af, want moenie vir een oomblik glo dat ’n rofstoeier nie sag en vroulik en ’n operasanger nie sterk en manlik kan wees nie. Lesers woon deur die loop van die storie ’n stoeigeveg by en ervaar ook ’n aandjie uit by Amsterdam se Nationale Opera & Ballet om ’n opvoering van Rigoletto te kyk. Deur bogenoemde word lesers ingetrek in die karakters se leefwêrelde en verstaan hulle waarom hul die beroepe waarin hulle staan, gekies het.

Die hoofkarakters, hoewel goeie mense met mooi harte, word nie as engeltjies uitgemaak nie. Alicia is byvoorbeeld soms knorrig en sê iets bitsig. Sy sê byvoorbeeld vir Ruben iets oor Lexi (wat sy op daardie stadium nie ken nie): “... sy klink vir my na enetjie met ’n redelike los mond.” Sulke impulsiewe aanmerkings laat haar telkemale in die sop beland. Dit maak ook dat lesers meer met die karakters identifiseer, want hulle is bloot menslik en beslis nie perfek nie. Alicia is darem ook vinnig om verskoning te vra: “Ja, ja, oukei, ek is jammer.” (54)

Marilé se beskrywings van die karakters se omgewing is goed. Sy skryf byvoorbeeld só van ’n aand in Amsterdam: “Rondom hulle lê die laatsomernag koel en klam met ligte wat in die kanaal weerkaats en toeriste en locals wat steeds partytjie hou, al is dit amper middernag. Dis nie net New York wat nooit slaap nie; Amsterdam in die somer is nie ver agter nie. Nie dat die somer meer lank gaan duur nie. Die goue gloed van herfs word elke dag meer sigbaar, meer tasbaar in die nat blare in die strate wat ’n mens se fiets so maklik laat gly.” (33)

Die dialoë is nie orals in suiwer Afrikaans nie. Die karakters gebruik hier en daar ’n Engels woord. Ek het dit nie steurend gevind nie maar funksioneel. Dit is immers hoe mense praat, of ons dit nou wil erken of nie. Hier is twee voorbeelde: “Jy't gesê jou ouers is nie baie hands-on nie.” (74) “Is dit vir jou ’n issue, Ruben?” (88)

Marilé is ’n ou hand wanneer dit oor die beskrywing van karakters se lyflike bewuswording van mekaar gaan. “Alles in haar word sag en vloeibaar. Dit voel asof sy in ’n stroom afdryf. As ’n mens in ’n stroom kan afdryf terwyl jou hele lyf aan die brand is.” (89) Dis lekker om te lees hoe Alicia en Ruben al hoe meer romanties aangetrokke tot mekaar voel. “As Ruben nog ’n enkele mooi ding sê, gaan sy haar hand op sy bobeen sit en haar kop op sy skouer neerlê. Dis hoe sy graag saam met hom wil ry, soos ’n paartjie, soos twee mense wat by mekaar hoort en gereeld vir mekaar mooi dinge sê.” (157)

Die storie gaan nie net oor Alicia en Ruben nie, maar ook oor hulle families. Die dae voor Elizabeth en Danny se groot dag word met familiekuiers gevul. Dit bring selfs meer dinamika na die verhaal wat ook verdere insae in die hoofkarakters se optrede en denkwyses bied.

Daar is wel ’n paar kleinighede wat pla, soos ’n woord wat verkeerd afgekap is (an-twoord pleks van ant-woord) of sinne wat ’n woord kort. Voorbeelde: “Of dalk is hy maar net van nature so voor op die wa dat dit vir hom niks snaaks is om in ’n vreemdeling se kombuis rond te nie.” (18) Daar kort ’n woord tussen “rond” en “te”. “Hy het wel al van Lexi se kleurvolle vertellings afgelei Alex se ma ’n formidabele vrou is.” (19) Daar kort ’n woord tussen “afgelei” en “Alex”.

Ek het die afgelope ruk heelwat boeke gelees waar een van die karakters seergekry het en versorging benodig. Natuurlik help die persoon op wie hulle verlief raak dan uit. In Volbloedliefde is dit dan ook só. Dit pas perfek in die storielyn in en gee die karakters kans om baie in mekaar se geselskap te wees en mekaar te leer ken. Máár, ek dink skrywers kan gerus maar ander, meer opwindende scenarios begin uitdink as die nou reeds geykte griep of gips.

Marilé Cloete se Volbloedliefde is ’n heerlike boek. Dit is ook as e-boek beskikbaar.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top