Voetspore – Johan Badenhorst

  • 0

Titel: Voetspore
Skrywer: Johan Badenhorst
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781869198978


Koop Voetspore by Kalahari.com
.

Johan Badenhorst, aanbieder en vervaardiger van die gewilde Voetspore-reeks, se dagboek van hulle reis gedurende 2012 op die Afrika-vasteland is ’n luilekker rusbank-reisgeleentheid vir ieder en elk. Van die voorwoord af, waar ’n kykie agter die skerms van die beplanning van ’n Voetspore-reis gegee word, tot die naskrif, waar Johan bespiegel oor moontlike toekomstige reise, sal die leser voel dat hy saam met die ses Voetspore-manne in die Volkswagen Amaroks deur Afrika reis.

Nes met vorige Voetspore-reise word daar op ’n tipe epiese tog besluit. Van die Kaap tot Kaïro is al gedoen, Gansbaai tot Gaboen ook. Agulhas tot Alexandrië is volgende aan die beurt. Die reis begin by Kaap Agulhas, die mees suidelike punt van Afrika, met sy eie weergawe van die vuurtoring in Alexandrië – wat dan ook die eindpunt van die reis is. Daar word deur tien lande, Suid-Afrika ingesluit, gereis en elke land bied sy eie uitdagings en brûe (letterlik en figuurlik) om te oorkom.

Die boek is egter nie net ’n reisgids van punt A na punt B nie. Die reis word so beplan dat hulle by sekere besienswaardighede stilhou, aktiwiteite langs die roete geniet en die plaaslike bevolking van elke land wat hulle as buitelanders besoek, leer ken. Dit maak die boek meer ’n vertelling van die roete as wat dit ’n roete is wat puntsgewys gevolg moet word. So werk dit uit dat daar nie net trompop deur ’n land gejaag word sonder om te sien wat die land jou as toeris en reisiger kan bied nie. Daar is ook, nes met vorige Voetspore-ekspedisies, ’n berg in die pad. Berg Kenia, die tweede hoogste berg in Afrika, dien as halfpadmerk en dit word ook te voet deur die span verower.

Johan kry dit reg om die leser te betrek by die aksie deur die res van die span as persoonlike vriende voor te stel en regdeur die boek so voor te hou. Nie een keer op die 95-dag-reis word daar genoem dat die manne omgekrap raak met mekaar nie, en dit sal mens net onder vriende wat deur dik en dun saamstaan, kry.

Elkeen van die 95 dae word in genoeg besonderhede vertel dat jy sal voel jy weet wat hulle gedoen het, maar ook terselfdertyd nie te veel besonderhede om die leser wat dit net vir vermaak lees, te verveel nie. Dit is waar dat daar op sommige dae meer gebeur as op ander dae – daar is byvoorbeeld die lang gewag in Aswan in die suide van Egipte vir hulle voertuie om deur die doeaneproses te gaan. Daar kan ook net soveel oor die plaaslike souk (mark) en die mense wat hulle leer ken, vertel word. Dan is daar weer die moddergesukkel in Kenia wat mens dalk voel in meer besonderhede vertel kon gewees het.

Die foto’s vanuit die kamera van Gideon du Preez Swart illustreer die reis ook goed, alhoewel mens soms voel daar kon hier en daar ’n foto geplaas gewees het van die hoogtepunt van die dag, en nie net ’n foto wat bloot mooi is nie. Oor die algemeen bereik die boek visueel egter sy doel as koffietafelboek met die foto’s wat volop deur die boek verskyn.

Die kaart aan die begin van elke hoofstuk sou baie meer effektief as ’n verwysingsmiddel gebruik kon word as dit die verskillende bestemmings en stilhouplekke duideliker uitwys. Maar ’n ware Afrika-entoesias sal die tekortkoming maklik miskyk en heerlik saamreis in sy gedagtes, al is hy nie heeltemal seker waar hy hom tans bevind nie.

Die boek is nie bedoel om as ’n verhaal met ’n begin, klimaks en einde gelees te word nie. Dié lesers wat bekend is met Voetspore en wat die span al vorige kere aangepak het, sal dit sien as ’n ou vriend wat weer kom kuier en van sy vakansie vertel. Lesers wat onbekend met die Voetspore-span is, en tog belangstel in Afrika-ekspedisies, sal die boek as ’n waardevolle beginpunt vind vir verdere verkenning vanuit die rusbank en dalk moontlik eendag op hulle eie deur Afrika stoom.

Die geykte sê-ding dat die boek beter is as die fliek, of in hierdie geval die televisiereeks, is hier ook waar. Die televisiereeks prop in ’n paar episodes al die inligting in wat Johan gesukkel het om op nagenoeg 200 bladsye neer te pen. Beperkings met lugtyd en videomateriaal wat nie altyd Hollywood-kwaliteit is nie, maak dat die televisiereeks dalk kortskiet om vir die kyker dieselfde ervaring te gee as wat die boek doen. Die boek gee egter ook, anders as fiksie, nie vir die leser vrye teuels om sy eie idee te skep van hoe en waar die reis trek en wat die manne doen nie. Daar is net een manier om te beleef hoe ’n reksprong die springer in die water van die Nylrivier doop, en dit is om dit te sien. Maar as die boek en TV-reeks in tandem gelees en gekyk word, maak dit ’n heel nuwe perspektief vir die leser en kyker oop.

Daar moet ook met die lees van die boek in ag geneem word dat dit Johan se persoonlike dagboek, ervarings en menings is. Daar is vyf ander manne op reis saam met hom wat dalk die reis anders ervaar het. Die ideaal sou wees dat elkeen se dagboek bygewerk sou word om ’n sesledige perspektief van ’n drie-maande transkontinentale reis deur Afrika te kry.

As jy hou van avontuur wat regtig gebeur, en drama wat nie gemanipuleer word om ’n goeie storie te maak nie, sal hierdie reisverslag reg in jou kraal val. Selfs al droom jy om eendag ook jou eie Afrika-ekspedisie aan te pak, sal die ekstra inligting wat jy in die boek kry oor die geskiedenis, gebruike en beginsels van reis deur Afrika, nuttig te pas kom.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top