’n Draakvoël het dit gebring
van ver anderkant anderste wêreld af –
oor berg, land en see
tussen mense
het dit stywevlerk gesweef
en Prometheus teen sy klipkrans gekry,
vir Sisyphus aan’t worstel met sy klip:
bergop, bergaf, valleie
deurkruis.
Tot hy sy giftand in ieder mens kon slaan.
Alles tot stilstand dwing.
Binne reikafstand, dog soos kaf uitgewan
na hul binneruimtes van vrees en vlam.
Die draakvoël se woede wat nou
’n durende afstand bring
tussen mens
en mens
in sy aparte skuiltes van krip en stal –
Niemand weet wat hierna gebeur het nie.
Want soos ooreengekom
was die aarde nou weer woes
en leeg
in afwagting op die gees
om oor waters heen
elders ’n heenkome te vind.


