
Foto: Canva
Vleuels van ’n moeë eggo
Op die vleuels van ’n moeë eggo
weerklink die uitroep
om hulp –
van die groot moeg
wat moedeloos sukkel
om deur die doolhof
van verwarring te strompel
om die regte pad te kry
omdat die strik styf gespan is
oor ’n rustelose gemoed
wat met verlange
na rus en vrede roep
terwyl die skote knal
deur die vallei
van stry en stryd
soos die rook uittrek
wat die teken is
van weerloosheid
van ’n slegte besluit
wat met ’n kruk loop
oor ’n baie ongelyke vloer
waar rot en kokkerot skarrel
om weg te kom
van waarheid af
nadat die leuen
die slegte nuus
oorgedra het
aan die aasvoëls
van die skindertonge
wat met vloeke kwaad saai
uit hulle kerkdoppe uit
sonder om te besef
dat hierdie onreg
gemaai gaan word
deur hulle –
om die las van die vloek
op hulle self neer te bring.

