Vital remains deur Amos van der Merwe: ’n resensiebespreking

  • 5

Foto van Winston Wicomb: Gerrit Rautenbach

Vital remains
Amos van der Merwe/Winston Wicomb
ISBN: 978-0-928316-91-9
Naledi

Twee broers, twee boeke

As twee inwoners met ons wortels diep in Stellenbosch het ek en Randall Wicomb ’n sterk band gehad deur ons gesamentlike passie vir die woord en die musiek. Eie aan ons dorp was ontmoetings op straat aanleiding tot wedersyds inspirerende en vreugdevolle gesprekke; die bevestiging van ons geesverwantskap. ’n Telefoniese navraag oor ’n onbekende gedig wat hy wou toonset vir sy CD, “Êrens is jy”, het gelei tot ’n lang kuier een aand by my aan huis. Ons het die gedigte in die boekie wat by die CD ingesluit moes word, woord vir woord, leesteken vir leesteken nagegaan en tot my verrassing het ek ontdek dat ons ook ’n ongeneeslike perfeksionisme deel. En toe stel ek die mees ontersaaklike vraag om een of ander duistere rede: “Terloops, Randall, wanneer verjaar jy?”, en ek kry die verbysterendste antwoord: “Ek weet nie.” Op my reaksie van hoe dit moontlik is om nie jou verjaarsdagdatum te ken nie, was sy eenvoudige reaksie: “Jy ken tog my storie.”

Ja, ek het sy storie geken, en nee, ek het nie. Toe Rapport in Mei 1990 verkondig dat Randall Wicomb inderwaarheid van gemengde afkoms is, was die reaksie by my en my kollegas van die Departement Afrikaans en Nederlands uitsluitend skok oor die pers se sensasiebelustheid. Ek glo ons en die algemene publiek se reaksie was dieselfde as dié van sy vriend Neville Neveling, ’n kunshandelaar in Windhoek, na wie Randall hom op dié rampspoedige Sondag gewend het: “So what?” (2015:97). Nogtans staan Rapport se berig as die sensasie wat dit was in die teken van Afrikaners se onwetendheid van die pyn en vernedering wat mense van kleur aangedoen is. By Randall se besoek aan my het sy verklaring van sy onsekerheid oor sy geboortedatum my iets van die donker kant van sy lewensverhaal laat besef. Hoe sy ma haar kinders by herhaling geregistreer het om by ongewenste rasseklassifikasie verby te kom en hulle weggehou het van familie wat hy te kenne gegee het vir hom ’n voelbare gemis was. Hoe hy as bevoorregte kind aan die hoogaangeskrewe Kaapstadse Afrikaanse skool Jan van Riebeeck altyd bang was dat hy deur iemand met die bewys dat hy nie “wit” is nie, van die skool weggehaal sou word. Hy het verwys na sy broer met sigbare pigment as gevolg waarvan hy na ’n Engelse skool in Woodstock moes gaan, omdat Engelstaliges minder kleurbewus was as Afrikaners.

Randall se verhaal in die kleine het gelei tot die uiteindelike vanselfsprekende vraag, komende van my: “Waarom skryf jy of iemand anders nie jou verhaal nie?” Sy antwoord was dat iemand besig was om dit te doen. Die skrywer het hy gevind in Amos van der Merwe, aan wie alle lesers met ’n belangstelling in biografiese en outobiografies geskrifte nou twee boeke oor twee broers te danke het: Randall Wicomb se verhaal, Kleur: my lewe, my lied; en Winston Wicomb se verhaal, Vital remains: The story of the coloured boy behind the wardrobe. Albei boeke het my enduit geboei en albei het ek pas herlees. Dié twee boeke vorm ’n tweeluik en momente in die verskillende lewens van die Wicomb-broers speel op mekaar in en is die aanleiding tot groter begrip van albei se lewensverhale.

Die gesprek tussen dié twee boeke deur ’n woordvaardige skrywer in twee verskillende tale gee besondere sin aan die bespreking van hierdie Engelse boek op LitNet. Maar my opdrag is om Vital remains te bespreek en om in eerste instansie reg te laat geskied aan sowel die verhaal van Winston Wicomb as die gestaltegewing daaraan deur Amos van der Merwe. Net waar verwysings na Randall se verhaal sy broer s’n verhelder, bring ek dit ter sprake.

Vital remains: ’n besonderse narratiewe prosateks

Die inleidende sin van Amos van der Merwe se voorwoord lui dat Winston Wicomb gebore is toe die ontwikkelende apartheidsideologie van die regerende party aan die einde van die veertigerjare van die vorige eeu aan die ontwikkel was. Hy vervolg dat hy Winston se storie gaan vertel oor hoe hy grootgeword het as te “donker” om binne sy gesin as “wit” beskou te word en hoe hy bo sy knellende omstandighede uitgestyg en roem verwerf het. Met so ’n inleiding beklemtoon Van der Merwe die aktualiteit en die historiese werklikheid waarin Winston Wicomb se verhaal afspeel. Hy motiveer ook sy keuse om die verhaal in die eerste persoon te vertel deur daarop te wys dat hy sodoende Winston se eie outentieke stem kon behou en die gebeure wat sy lewe gevorm het, onvervals kon weergee. Die outentisiteit van dié lewensbelangrike gebeure self dank Van der Merwe daaraan dat hy kon delf uit Winston se memoires; sy jare lange gedetailleerde optekening van sy herinneringe. Hy gee ook erkenning aan vriende van Winston se bydrae om sy weergawe so waarheidsgetrou as moontlik te maak.

Waar Van der Merwe beklemtoon dat hy seker gemaak het dat die historiese feite in sy narratief korrek is, erken hy egter terselfdertyd dat hy in sy weergawe daarvan sy kreatiwiteit ’n sekere mate van vrye spel toegelaat het “soos wat die verhaal ontvou het” (2017:xiii). Hy kon inderdaad nie anders nie as om deur sy verbeelding gesprekke en herinneringe te herskep wat geen mens woordeliks sou kn onthou nie. Dit is juis ’n pluspunt van die boek. Sy teks het ook veel gemeen met fiksie, mits die woord reg verstaan word en nie soos in die woordeboekbetekenis en algemene gebruik as ’n verbeelde teks nie. Fiksie het, soos Heilna du Plooy tereg konstateer, “tradisioneel ’n noue verband met die werklikheid” (1992:129). ’n Mens kan jou maar net weer herinner aan Gustav Flaubert se beroemde uitspraak oor sy groot roman: “Madame Bovary, c’est moi” (“Madame Bovary is ek”). Du Plooy wys ten regte daarop dat dit ’n “verenging van die begrip fiksie” is om dit net te betrek op narratiewe tekste soos die roman, kortverhaal en novelle (1992:129).

Wat sowel Vital remains as Kleur: my lewe, my lied beslis nie is nie, is “fiksionele biografie wat as ’n verbeeldingsryke rekonstruering van die eienskappe en ervaringe van ’n werklike mens gemaak en as roman aangebied word” ( Du Plooy 1992:129; my kursivering). Vital remains het ontstaan uit Van der Merwe se besondere eie kreatiwiteit as ’n boeiende en aangrypende narratiewe prosateks waaraan hy vorm gegee het soos wat alle fiksietekste vereis. Die boek kan miskien die noukeurigste omskryf word as ’n outobiografie by monde van ’n ek-verteller wat nie die skrywer is nie, maar met wie die skrywer hom volkome identifiseer.

’n Bestemde lewe

Van der Merwe het sy narratief bewus gestruktureer en elke hoofstuk ’n titel gegee wat die kerngedagte daarin uitdruk, dikwels met ’n daarby aansluitende sprekende aanhaling; meermale uit die poësie. Die subtitel van die boek lig die deurlopende tema van die verhaal uit: “The story of the Coloured Boy behind the wardrobe”. Die simboliese betekenis van die klerekas in die verhaal word deur dié subtitel gesuggereer en vind nog meer eksplisiet uitdrukking deur Winston se opdrag aan sy vrou voor in die boek: For Jeanne for removing the wardrobe. Die boek begin egter nie by die aanvang van die ek-verteller se verhaal as die bruin seuntjie agter die klerekas nie, maar by ’n proloog wat inderdaad die epiloog van die boek word en die gebeure saamvoeg tot ’n sluitende geheel.

In die proloog bevind Winston hom in ’n klein vliegtuigie wat ruk en skud in ’n skrikwekkende storm en op ’n heldersiende oomblik begryp hy waarom sy lewe ontvou het soos dit het. Saam met drie kollegas op ’n blinde vlug in ’n kwesbare vliegtuig, met ’n gebreekte lugdraad en sonder radioverbinding, is hy nie seker of in plaas van om mediese geskiedenis te maak, hy nie dalk bestem is vir ’n ander einddoel nie. Al beskik die leser oor die vooraf kennis dat dit nie Winston se lot is nie, neem die skrywer die leser se aandag met dié spannende proloog gevange en behou dit enduit. Die afloop van sy onderneming is immers nog onbekend. Die sin wat Winston se lewe vir hom maak in sy momentele konfrontasie met sy moontlike einde in ’n lugramp, is sy insig in die gepredestineerdheid van alles, goed en sleg, wat tot op dié tydstip met hom gebeur het. Daarop berus Van der Merwe se strukturering van die opeenvolgende gebeure wat die essensiële inhoud van Winston Wicomb se lewensverhaal uitmaak.

Van kind tot jong seun agter die klerekas

In plaas van ’n proloog skryf Amos van der Merwe ’n inleiding tot Randall se lewensverhaal wat ’n besondere perspektief daarop gee. Ná ’n diagnose van kanker besef Randall dat sy identiteit meer is as net dié van ’n “troebadoer met sy kitaar” en maak hy die uitspraak dat “identiteit belangriker is as kultuur of ras of politiek” (2015:xviii). Dié uitspraak kan bevraagteken word, want identiteit maak jou wel uniek, maar is nou verbonde aan kultuur, terwyl ras juis die kern van Randall se identiteitskrisis was. In die eerste hoofstuk, “My reënboogfamilie”, blyk die hegte band van Randall met sy ma wat hy deurgaans Wicky noem. Die sterkste invloed op sy lewe het van haar uitgegaan. Hy spreek sy begrip uit vir haar “fanatiese vasklou aan die ‘wit’ etiket om haar kinders aan die armoede waarin hulle groot­geword het, te laat ontsnap en voeg by: “My broer, wat ’n bietjie donkerder as ek is, word na ’n Engelse skool gestuur waar rasbewustheid van die ou Suid-Afrika nie so intens was nie” (2015:8). Daar steek ’n mate van waarheid in die suggestie dat dit Winston ’n kans in die lewe gegee het, maar dit is nogtans ’n verdoeseling van die struikelblok wat Engelstalige onderwys aanvanklik op sy weg gelê het. Dit weerspreek ook die feit dat Randall wit genoeg was om ’n leerling aan die Kaapstadse wit Afrikaanse prestigeskool te wees.

Ten diepste het ’n mens begrip vir Randall se geïmpliseerde skuldgevoel oor sy bevoorregting as kind binne en buite gesinsverband. Hy wy trouens ’n hele hoofstuk, “Winston – Hartman”, aan sy broer waarin hy Winston se suksesverhaal vertel, maar met ’n understatement wat ’n mens soos ’n skoot water tussen die oë tref ná die lees van Vital remains. In sy hoofstuk oor sy broer sê Randall: “Dat mens voorheen benadeel is (soos toe Winston soms weggesteek moes word sodat die polisie nie agterkom sy velkleur is witter as Wicky s’n nie, en soos ek moes veg om bloot aan die lewe te bly terwyl asma my bors toetrek), beteken nie dat jy op ’n ashoop moet gaan sit en jou seerplekke krap soos arme ou Job nie” (2015:17).

Sonder geringskatting van die probleme van die kind Randall as asmalyer en dat hy noodwendig ook in armoede moes grootword, is dit onteenseglik waar dat hy, anders as sy broer, eers laat in sy gelukkige lewe as bekende en gewilde sanger met ’n identiteitskrisis gekonfronteer is. By Winston het dit begin by die klein seuntjie agter die klerekas. Aanvanklik het hy geglo sy ma vra van hom “soos alle ma’s” om agter die klerekas te bly as daar besoekers kom. Hy het dit aan sy donker vel gewyt wat mense kon laat dink hy is “vuil”. Dié gewaande vuilheid het hy probeer afwas en afskrop tydens badtyd, maar sy velkleur het ’n aanstoot, ’n verleentheid en ’n ergenis gebly. In ’n klein huisie in Epping moes hy gereeld agter die klerekas in by besoeke van ’n amptenaar van die registrasiekantoor van geboorte en sterftes. In sy later lewe het hy gewonder of sy vriend of vyand was. Met die Wicomb-gesin se verhuising na Woodstock het die hangkas saamgegaan van garage tot vervalle woonstel tot huis; die swaar houtmonster waaragter hy later self verdwyn het sonder dat sy ma dit vra.

Wat die Wicomb-broers gemeen gehad het, was hulle haat vir hulle pa, Daniel, wat hulle verskree en hulle genadeloos geslaan het. Ironies genoeg was hy die motorbestuurder van die eerste minister, JG Strijdom, en ná Strijdom se dood het hy ‘n busbestuurder in die Kaapstadse tremdiens geword. Uit sy betaling is die klerekas en spieëltafel vervang en het Winston ’n goedgeventileerde wegkruiplek gekry waar hy maklik gesprekke kon afluister en na homself in die spieël teenoor hom kon kyk sonder om sy vel, soos hy gehoop het, te sien ligter word.

Skooljare: die steiltes uit

Terugskouend besef Winston dat ’n bekommerde ma hom die dag toe hy vir die eerste keer skool toe moes gaan, daarheen geneem het. Die goedbewaarde beeld na buite van ’n wit gesin was op die spel as by ’n blik op hom net ’n enkele wenkbrou sou lig. Afrikaans was sy huistaal en die klaarblyklike aanleiding vir sy ma se opdrag aan hom om “glad nie te praat nie, anders sal mense weet hoe onnosel jy is” (2017:13). Dié wrede woorde, hoe begryplik ook al, het in hom bly steek vir die res van sy lewe. Al wat hy nodig gehad het om te sê, was “yes” of “no” en verder moes hy net luister. Meteens het sy ma gaan staan en iets in Engels aan hom gesê. Hy het in Afrikaans geantwoord dat hy nie ‘n woord verstaan het van wat sy gesê het nie. Sy het ten hemele geroep, hom aan die oor beetgekry en daaran getrek asof sy dit wou afskeur. Die eerste dag in die klas van ’n onderwyseres wat hom nie een keer vreemd aangekyk het nie, was veel minder traumaties as die pad daarheen. Ook was dit nie vir hom nodig om sy Engelse woordeskat van twee woorde te gebruik nie.

Mettertyd het sy Engels verbeter en sy woordeskat vergroot. Die slegte kant daarvan was dat hy moes leer om die rassistiese skimpe van die witter kinders op hul meer gepigmenteerde klasmaats te verduur. Dit was erg genoeg om tuis ’n buitestander te wees; om dit ook op skool te wees, het gestyg tot ’n punt waar dit ondraaglik geword het en toe het die wonder gebeur: ’n maat het sy opwagting gemaak in die persoon van Kenny Williams, ’n bietjie ligter van kleur as hy self en ook ’n buitestander, omdat hy as seun van ’n predikant nie gevloek het nie. Gedeelde buitestanderskap was die begin van ’n vriendskap van ’n leeftyd. Winston se vernederendste ervaring as skoolseun het tot sy selfbehoud gelukkig in die teenwoordigheid van Kenny afgespeel.

Winston kon nie in enige kerk ’n tuiste vind nie, maar die Anglikaanse kerk was naby hulle huis en het ook die plaaslike Boy Scouts-groep gehuisves. Die kombinasie van godsdiens en avontuur het na ’n goeie idee geklink en hy en Kenny het besluit om dié moontlikheid te ondersoek. Hulle is met die trap op na die ontspanningsentrum op die solder bokant die kerksaal. Aan die een kant was ’n groep Boy Scouts om ’n volwassene geskaar en aan die anderkant was die lywige mevrou Van Brakel wat met hulle die vereiste onderhoud vir aansluiting by die Boy Scouts moes voer. Sy het na Winston gestaar en hy het die doel van hul besoek verklaar. Op haar vraag waarom hulle wil aansluit, het hy gestamel dat hulle “daarvan hou om mense te help” (23). Haar abrupte antwoord aan Kenny was om hom by die Cubs aan te sluit en met ’n nog meer verstarde staar was haar woorde aan Winston: “En jy kan huis toe gaan” (23). Toe hy vra waarom, het sy net geantwoord “Omdat ...”, terwyl sy haar groot liggaam van die klein stoeltjie af lig en haar rug op hom draai. Terwyl hy bewend van frustrasie en woede bewus word van al die blikke op hom, sien hy Kenny na hom aangehardloop kom en kon hy net Kenny se opmerking dat hy nie meer ’n Scout wou wees nie, bevestig. Buite het Kenny sy arm om die nog rukkende skouers van sy vriend geslaan.

Dit was ’n oomblik wat Winston vir die res van sy lewe sou koester, maar daarbenewens sou die vernederende ervaring elke keer as hy ’n Anglikaanse kerk betree, weer in sy gees afspeel. Vir hom was dit ook sy breuk met geïnstitusionaliseerde godsdiens. Die kerk het vir hom ’n simbool van segregasie geword deur mevrou Van Brakel, maar sy en die kerk het nie God verteenwoordig nie en hy het getwyfel of die predikers wat sê dat hulle net God se boodskap verkondig, dit werklik van Hom gehoor het. Winston se nadenke oor God spreek van volwassenheid wat beswaarlik met hom op dié leeftyd van sy vernedering deur mevrou Van Brakel vereenselwig kan word. Maar as die uitstekende skrywer wat hy is, slaag Van der Merwe daarin om deur die “opskorting van ongeloof” die leser van die geloof­waardigheid van Winston se gedagtes te oortuig. Sy bespiegelinge oortuig verder ook deurdat dit ’n verband aangaan met sy kinderlike besluit om self met God te praat, en wel in die begraafplaas. Dit, besluit hy, is waar God moet wees, omdat die kerk die lewe ná die dood soveel beklemtoon en dié denkbeeld in elke preek insluit. Met die uitblaas van ons laaste asem is ons by God.

Die trefkrag van die gesprek wat die seun Winston ’n Sondagnag om twaalfuur – die waarskynlike tyd wanneer hy veronderstel God in die begraafplaas moet wees – met Hom voer, lê in die humor daarvan. Die vraag oor waarom God, wat die mens na sy beeld geskape het, hom “swart en lelik” gemaak het, bly in die lug hang. Uit die bloute tref dit hom dat as God nie bestaan nie, dan bestaan die duiwel ook nie, maar sy binnestemmetjie sê hy is verkeerd: die duiwel wag hom tuis in. In sy haas om van die duiwel te ontsnap, stamp hy sy kop teen die vensterbank as hy in sy kamer in tuimel. Dis egter nie die duiwel nie, maar sy woedende pa wat sy verskyning maak en hom vir ’n skobbejak uitskel wat in die donker uitsluip en niks sal word nie. Winston se slotsom is: “Hy is alleen – geen vader, geen God” (27). Dié hoofstuk eindig by die verledetyds­perspektief waaruit dié hele episode vertel is. Jare later het die volwasse Winston by ’n venster van die Groote Schuur Hospitaal uitgekyk na die begraafplaas waar hy dié gesprek met God gevoer het en het die ironie daarvan hom getref. Presies op daardie oomblik, het hy gedink, het God vir hom gelag.

Die mislukte gesprek met God het Winston op ander paaie as dié van die godsdiens gestuur om vas te stel of die lewe inderdaad sin het. Hy het homself as ’n alleenloper ontdek en begin om besoeke aan die skoolbiblioteek te bring en begin lees. Fiksie het hy verwerp as romantiese verhale om aan die werklikheid te ontsnap en vir hom was Woodstock en sy gesinslewe die onverbiddelike, harde werklikheid van die daaglikse lewe. Dit was ensiklopedieë wat vir hom wêrelde oopgemaak het, en soos niks anders nie het die ingewikkelde biochemiese werkinge van die brein hom gefassineer, hoe min hy ook al daarvan kon begryp. By dié belangstelling het sy skoolwerk nie gebaat nie en steeds benede peil gebly, maar sy Engels-onderwyser, meneer Williams, het daardeur persoonlik by hom betrokke geraak en sy lewe beslissend beïnvloed.

Meneer Williams het hom nie minagtende opmerkings oor sy toetse gespaar nie, maar nie sonder om hom aan te moedig nie. Op ’n dag het hy in die biblioteek langs Winston kom sit en opgemerk dat om op te lees oor neuroanatomie hom nie sy eksamen sou laat slaag nie. Winston het in sy ontoereikende Engels probeer verduidelik dat om daaroor te lees hom “goed laat voel”. Dit het van sy onderwyser se menslikheid getuig dat hy Winston gevra het wat hy ná voltooiing van sy skoolloopbaan wou doen. Op sy antwoord dat hy ’n filosoof wou word om uit te vind wat die rede vir die menslike bestaan is, het meneer Williams geantwoord dat dit inderdaad belangrik is om vas te stel waarom ons is, wie ons is en wat ons is. Wat ons is, het hy gesê, is die maklikste ondersoek van dié drie en gewys op die voortgaande navorsing van selle en biochemie wat plaaslik in Kaapstad gedoen word en waarby tallose mense betrokke is. Hy het gevra of Winston dit geweet het en toe sy sin wat met “miskien eendag …” begin het, doodloop, het hy gesê dat die land navorsers nodig het wat alles ondersoek van politiek tot biochemie en bygevoeg: “Miskien moet jy daaroor dink?” (31).

Die gesprek is voortgesit toe meneer Williams hulle klas ’n vraelys laat invul het wat, in sy eie woorde, hulle toekoms kon bepaal. Die vrae het inderdaad gegaan oor wie en wat elkeen was, en tot Winston se verrassing het meneer Williams, wat geweet het van sy huislike omstandighede en dat sy skoolprestasie tot die laagste in die klas behoort, hom daarop gewys dat hy ’n hoër doel moes nastreef as om ’n motorwerktuigkundige te word. Uit sy antwoorde het dit volgens meneer Williams geblyk dat hy ’n beroep op die terrein van die medisyne moes oorweeg. Dit was profetiese woorde aan ’n verbysterde Winston. Ten slotte het meneer Williams hom ook verseker dat daar geen grense bestaan vir iemand wat sy lewensideaal wil verwesenlik nie, mits hy volhou, uithou en oor geduld en vasbeslotenheid beskik. Winston het die daarmee gepaard gaande vereiste verstaan: “Studeer, studeer en nogmaals studeer” (43). Hy het ook erns gemaak met die versiende voorstel van die onderwyser dat hy moet leer tik, wat onwillekeurig sy gebruik van die woord en sy beheersing van Engels ten goede gekom het.

Van die uiters onkonvensionele Engels-onderwyser, ’n digter met die bynaam Perseus, wat binne twee dae ontslaan is, kon Winston begrypenderwys niks anders oorhou as ’n “vlugtige romanse met die poësie” nie. Die liedjie “A whiter shade of pale” het hom geïnspireer tot sy eie weergawe wat meneer Williams afgemaak het as “kaf” waarop Winston sy tyd mors. Die teleurgestelde onderwyser het in sy begryplike oorreaksie gewys op die gevare van “rock and roll”, waarop Winston – vir wie dit weer eens ’n voorbeeld van verwerping was – kennelik ook oorreageer het (45). Dit het gelei tot ’n ongemak tussen leerling en onderwyser in die skool se gange tydens Winston se laaste twee skooljare. Uit sy fassinasie met die poësie het hy egter Thomas Gray se “Elegy written in a country churchyard” oorgehou, en veral een strofe (40):

Full many a gem of purest ray serene
The dark unfathomed caves of ocean bear:
Full many a flower born to blush unseen
And waste its sweetness on the desert air.

Op ’n paradoksale wyse het meneer Williams se negatiewe houding net so sterk soos sy prysende woorde Winston aangespoor om ’n noemenswaardige sukses van sy lewe te maak; om nie ongesiens te blom nie. Uiteindelik sou hy meneer Williams net met dankbaarheid as sy eerste mentor onthou. Dit word bevestig in Vital remains deur die afdruk van meneer Williams se brief van 1 Desember 1981 aan Winston. Daarin wens hy hom geluk met die sukses van sy navorsing as lid van dr Chris Barnard se hartspan en voeg by: “It’s good that the dreams you used to dream at Queen’s Park … had at last come true.” Meneer Williams was die menslike en inspirerende onderwyser wat vir Winston Wicomb ’n stewige vastrapplek gegee het teen die steiltes van sy jeug uit.

Hanlie Retief en Winston Wicomb tydens US Woordfees 2018 (Foto: Gerrit Rautenbach)

’n Stelsel van onreg: ’n Jongman se verset

In Winston se finale jaar op skool het Randall aan die Universiteit Stellenbosch studeer en al die voordele van ’n wit student geniet. Geen opoffering was te groot om hom in die verwesenliking van sy gawes te laat slaag nie. Van Winston is verwag om sy kar, gekoop met die geld wat die diens van Volkswagens hom besorg het, aan Randall af te staan. Minstens een lid van die gesin moes die kans gegun word om vry te kom van die wit skynlewe wat hulle gelei het. Wat te voorsien was, het gebeur. Randall, aantreklik en met ’n pragtige tenoorstem, het verlief geraak op Koba de Swardt saam met wie hy in die universiteits­koor gesing het. Die gevoel was wederkerig, maar Koba se pa was nie gelukkig oor die verhouding nie. By dié wete het Randall se ma dadelik besef dat haar gesin se brose veiligheid bedreig word.

In sy strukturering van die verhaal van Winston vertel Van der Merwe die gebeure rondom Randall en Koba se verhouding soos in die res van die boek vanuit Winston se perspektief. Dit stel hom in staat om ’n persoonlike dimensie aan apartheid te gee wat dit blootlê as ’n stelsel van ontmensliking wat mense van mekaar vervreem en wedersydse medemenslikheid ondermyn het. Terugskouend onthou Winston die besoek van ’n amptenaar van die kantoor van rasseklassifikasie toe hy nege of tien jaar oud was. Die verhaal wat hom afspeel in die gemoed van die volwasse Winston asof dit in die hede gebeur, boei en ontroer en oortuig weer eens as ’n voorbeeld van die “suspension of disbelief”. Die gevaar wat die Wicomb-gesin geloop het om as nieblank geherklassifiseer te word, was veral die bepaling dat iemand “wit” is as hy/sy “in die algemeen so aanvaar word”. Hoe dié bepaling geïnterpreteer moes word, het van die amptenaar afgehang. Winston is deur sy pa voorberei op die besoek van die amptenaar en aangesê om op vrae aan hom net te sê: “Ek weet nie” (49). Dié woorde was in wese dieselfde as sy ma s’n aan hom op pad skool toe op sy eerste skooldag.

Winston was die teiken van al die vrae van die amptenaar: “Jou seun lyk nie besonder wit nie, of hoe?” (50). Dit was ’n valstrik en Daniël het geantwoord dat Woodstock ’n snaakse plek is waar baie kinders nie besonder wit lyk nie, maar wel so aanvaar word. Die seuntjie Winston het tot sy verbasing gewonder of sy gewelddadige pa hom beskerm. Die daarop­volgende vreemde vraag was: “Speel hy met wit of swart kinders?” (51). Die amptenaar se laaste opmerking het gelui dat dit ’n imperatief was “om met wit kinders te speel, andersins kan dit ongelukkige gevolge vir die Wicomb-gesin inhou” (51). Die amptenaar het na die deur geparadeer sonder om te groet en die Wicombs het hom nooit weer gesien nie. Maar tien jaar later was Winston weer die teiken wat gevaar voorspel het vir die voortsetting van Randall en Koba se verhouding deur die egpaar De Swardt se voorgenome besoek aan die Wicombs.

Randall se ma was beangs dat haar goue seun sou seerkry in sy verhouding met Koba, ondanks sy versekering dat haar pa niks aan die verhouding kon doen nie. Hulle was immers albei studente aan die Universiteit Stellenbosch en lede van die befaamde universiteits­koor. In die teenwoordigheid van Winston het Randall wel erken dat daar ’n probleem kan wees as Koba se hardvogtige en hardnekkige pa en sy vrou hulle sou besoek en met ’n veelbetekenende blik op sy broer gesê: “Dis net dat …” (51). Sy ma wou weet wat hy bedoel en weer het hy na Winston gekyk. Maar Winston was nie meer die klein seuntjie agter die klerekas nie. Later in sy lewe het hy dit gehaat om daardie oomblik te onthou.

Die bedreiging van die De Swardt-egpaar se besoek het werklikheid geword toe hulle volgens afspraak op ’n Sondagmiddag opdaag. Winston moes inderhaas op sy ma se versoek agter die kas gaan staan. Opstandig dat dit van hom as ’n volwasse man verwag word, het hy gehoorsaam en in sy vertroude wegsteekplek sy siedende emosies tot bedaring probeer bring. Vrees, liefde en haat het mekaar afgewissel; vrees om die dag vir sy naastes te bederf, liefde vir sy broer wie se geluk hy nie in gevaar wou stel nie, en verstikkende haat vir ’n politieke stelsel wat hom dwing om agter ’n klerekas weg te kruip (53).

Die aanvanklike gesprek oor alledaagshede het Koba se pa kortgeknip en reg afgestuur op die doel van sy besoek met die vraag: “Waar is Randall se broer?” (53). Winston het al die ontwykende antwoorde aangehoor en die De Swardts het onverrigter sake vertrek, maar dit het mnr De Swardt nie van sy sending laat afsien nie. Hy het sy ondersoek voortgesit en deur die tersaaklike dokumente in die bevolkingsregistrasiekantoor die waarheid vasgestel. Dit het nie die Wicomb-gesin se blanke fasade vernietig soos hulle gevrees het nie, maar die uiteinde was dat Randall en Koba in die huwelik getree het terwyl haar ouers oorsee was en Koba deur haar vader onterf is. Winston het sy broer se skoonouers nooit weer gesien nie. Hulle het vir hom alles verteenwoordig wat hy in die landspolitiek verag het. Hy kon hom egter identifiseer met Koba, wat verwerping soortgelyk aan syne ervaar het.

Mnr De Swardt se vraag: “Waar is Randall se broer?” het noodwendig in Randall se lewe geresoneer. Ná die De Swardts se besoek moes hy hom onwillekeurig afgevra het: “Waar is my broer in my lewe, behalwe agter die klerekas?” Randall se lewe het ondanks omstandighede wat hy met sy gesin gedeel het, vlot verloop deur sy suksesvolle loopbaan as ’n alom gewilde en geliefde sanger. In teenstelling met hom het sy broer teen strawwe steiltes uit die hoogtepunt van sy loopbaan bereik. Die leser van die lewensverhaal van beide broers sal die volle implikasies begryp van wat Randall oor die betekenis van Winston se bywoning van sy konsert in Calgary in Kanada in sy lewensverhaal sê. Deur suggestie en understatement in sy woorde staan daar meer geskrywe as wat woordeliks daar staan. Die inleidende sin oor dié gebeurtenis lui: “Seker die grootste kompliment wat ek nog ontvang het, het van Winston af gekom” (2015:17). “(M)y broer vlieg van Seattle af om na my te kom luister. Die organiseerders reserveer vir hom plek reg voor in die saal en ek is verbaas oor my ongewone senuweeagtigheid. Hy is tog my broer en ons het saam grootgeword” (17; my kursivering). Die ironie is dat hulle inderwaarheid in twee wêrelde grootgeword het. Eweneens is Randall se toeskrywing van die “vreemdheid” wat tussen hulle “ontstaan” het aan hulle verskillende persoonlikhede, die “kreatiewe hippie” en die “klinies korrekte doktor” en die “afstand tussen Suid-Afrika en Amerika” seker nie onwaar nie, maar dit is Winston wat die volle waarheid uitspreek. Sy kort antwoord op Randall se vraag wat hy van die vertoning gedink het, lui: “Fokkit! Ek kan nie glo jy’s my broer nie!” (17). Wat hy eintlik sê is: Weg met dít wat ons van mekaar vervreem het; dis die verlede! Ons is mos broers en ek is trots op jou.

Op daardie oomblik van Winston se erkenning van sy broer se sukses en sy eie suksesvolle loopbaan het twee ooreenkomstige vernederende episodes tydens sy eerste naskoolse jare agter hom gelê. Dit sou ’n wesenlike deel van sy lewensverhaal bly; nie net omdat sy menswaardigheid daardeur misken is nie, maar veral omdat dit aan hom die weerbaarheid en deursettings­vermoë geskenk het om die hoogste sport in sy beroep te bereik. In albei het sy ID-dokument in konflik gekom met sy pigment; die eerste op ’n treinreis na Pretoria en die tweede gedurende sy verpligte militêre opleiding.

Sonder die nodige fondse en met sy ondergemiddelde prestasie in die skooleindeksamen was daar nie vir Winston die vooruitsig van tersiêre studie nie. Die noodsaak om geld te verdien, het hom van een onbevredigende werk na die ander gestuur. Eindelik het hy werk gekry as klerk by ‘n mnr Reed, die hoof in beheer van die betaling en reise van werk­nemers van die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens. Op ’n dag het mnr Reed die moontlikheid van verdere buitemuurse studie geopper wat ’n geruime tyd reeds deur Winston se gedagtes gespeel het. Mnr Reed het deeltydse studie aan die Universiteit van Suid-Afrika voorgestel en Winston is aanvaar vir die BSc-graad met fisika en chemie as hoofvakke. Hoe moeilik dit ook al was om studie en werk te kombineer, het hy besluit om na Pretoria te reis en die eksamen te skryf.

Dié onderneming is abrup beëindig deur dié noodlottige reis. Winston se reisgenoot se blou oë het gerek toe hy die kompartement binnekom. Hy het gaan sit en oogkontak vermy met Winston, wie se poging om die ongemaklike stilswye te verbreek deur te vra of sy reisgenoot ook Pretoria toe gaan, geïgnoreer is. Eweneens sy tweede vraag of hy daar woon. Hulle het in swye gaan slaap. Die volgende oggend het gelei tot die afsydige reisgenoot se gebreekte neus ná sy opmerking: “No k****** allowed on white trains” (2017:17). Winston het geweier om ’n uitgeworpene te wees tydens die gesprek met die stasiemeester by die volgende stasie. Toe die stasiemeester en die spoorwegpolisieman klaar gestaar het na die magiese “00” op sy ID-dokument, wat “blanke” voorgestel het, kon albei passasiers in die volgende trein in verskillende waens die reis na Pretoria toe voortsit. Winston was hopeloos te laat om sy eksamen te skryf. Die reis na Pretoria was ’n ontsenu­ende en teleurstellende ervaring. Hy het besluit Kaapstad was ’n kultureel veel diverser en vriendeliker plek. As hy weer die geleentheid sou kry om verder te studeer, sou dit daar wees.

Tydens sy diensplig het ’n soortgelyke episode as op die treinreis na Pretoria weer by Winston ’n gewelddadige reaksie ontlok. ’n Sekere Jan du Plessis het hom saam met sy makkers as “Blackie” begroet en gevra hoe dit moontlik was dat “iemand soos hy” vir militêre diens opgeroep is . Soos deur sy medepassasier op die trein na Pretoria, is hy weer op die k-woord genoem (94). Winston was woedend, seergemaak, verneder en bang, maar het besef dat hy nie kon huil nie, want dit sou sy militêre opleiding ondraaglik maak. Dit het vir hom net een opsie gelaat: hy moes ’n einde maak aan Du Plessis se treitering. Woede het hom uiteindelik sy humeur laat verloor. Die skeldwoorde het vanself gekom: “So, I look black to you, huh? Well, fuck you, you pig!” (95). Winston kon homself sien skop in die man se ribbes, hy kon sy oë sien rek van verbasing en hom hoor skree van pyn. Jare se hoon en gefluister, al die vernederende opmerkings, die reismaat op die trein, die skuilhou, en wat nog daarby gevoeg kan word, was in daardie skop. Sersant Brits het hom beveel om vier maal om die paradeterrein te draf terwyl hy sy geweer bo sy kop hou.

Toe hy en Du Plessis deur sersant Brits verhoor word, fluister Du Plessis weer die k-woord. Dié keer het hy ’n stamp van Winston se geweerkolf in sy maag gekry. Winston se straf van afsondering in ’n tent het net vier uur geduur. Dié klein opstandjie het vir hom ’n sekere mate van respek van sy mededienspligtiges besorg. Hy sou ook uiteindelik sersant Brits se respek verdien. In sy verset teen die stelsel het Winston besluit om sersant Brits se rigiede skedule te ontwrig deur oor sy middagete te sloer as dit tyd was vir die daaglikse marsjeer. In die gestoei met die vier gewapende soldate wat hom gaan haal het, kon hy deur sy fiksheid aan hulle grypende hande ontsnap en dit het soveel respek by sersant Brits gaande gemaak dat Winston bevorder is tot die rang van korporaal. Aan die einde van sy diensplig het sersant Brits erken dat hy beïndruk was deur die karakter wat Winston getoon het en dat hy ’n goeie korporaal was. Winston kon die leër verlaat met die besef dat hy nie toegegee het aan haat nie, al het hy die leër verafsku. Hy kon die leër verlaat as ’n sterker mens as by sy aankoms. Daarbenewens sou hy nooit vergeet dat die moeilike en pynlike situasies waarin die lewe jou laat beland, ten goede omgekeer kan word nie.

Bakens op die weg uit apartheid

Die uitdaging van sersant Brits se gesag spreek van die waagmoed waaroor Winston beskik het. Die opwaartse gang van sy verdere lewe is bepaal deur sy menslike aard as ’n “risiko-aanvaarder”; ’n “waaghals” sonder die konnotasie van roekeloosheid. Mettertyd het hy homself as sodanig leer ken en elke geleentheid aangegryp om van sy lewe ’n sukses te maak. Die struikelblokke op sy weg na tersiêre studie was geld en Engels. Die Universiteit Kaapstad het voorwaardelik toegestaan dat hy lesings bywoon, maar sy punte in Engels was te laag vir toelating tot eksamens. Geld was die minste van die twee kwessies. Hy en sy vriend, Keith Williams, Kenny se broer, het begin met ’n werkswinkel vir die herstel van Volkswagens in die agterplaas van Keith se ouerhuis. Toe daar op ’n dag ’n welgeklede heer uit ’n splinternuwe BMW klim, was Winston en Keith seker hy het verdwaal, maar dit was nie die geval nie. Hy het homself voorgestel as mnr Standish. Op Winston se dapper vraag of werk aan die motor nodig is, het die eienaar gesê dit is inderdaad desperaat nodig. Net ses maande vandat hy die BMW besit, hoor hy ’n geluid soos ’n “gestotter” in die enjin Dit was nog onder waarborg, maar die handelaar na wie hy dit reeds vier maal terug­geneem het, kan geen fout ontdek nie. Hy het sy deftige motor in Keith en Winston se hande gelaat vir ’n week waartydens hy vir sake weg sou wees en het saam met ’n mooi vrou in haar motor vertrek. Die twee “mekanieks” het vyf dae lank geswoeg om die enjin uitmekaar te haal en dit weer presies soos dit was weer aanmekaar te sit.

Al wat Keith ontdek het, was net twee los vere, wat hy weer gekoppel het. Die moontlikheid het bestaan dat dit losgekom het by die uithaal van die enjin, maar toe Winston die motor aanskakel, het dit onmiddellik gevat en kon Keith die “stotter” nie hoor nie. Om daarvan seker te maak, het hulle besluit op ’n rit, maar helaas kon nie een van hulle die motor in rat kry nie. Die ontstellende waarheid was dat daar niks aan te doen was nie, behalwe om mnr Standish se terugkeer af te wag en te maak of hulle van niks weet nie. Die verwagte tirade van die ontstoke eienaar het nie uitgebly nie en die BMW is ná ’n telefoonoproep op ’n vragmotor weggery. Maar ’n week later was mnr Standish glimlaggend terug met ’n tjek van R200 – ’n noemenswaardige bedrag vir dié tyd. Die motor het nie meer gestotter nie en die probleem met die ratte het die werktuigkundiges in ’n kits reggemaak – dit was een of ander los veer.

Dié gebeurtenis was ’n beslissende moment in Winston se lewe, al moes hy nog ’n lang pad aflê voordat hy dit geweet het. Wat die BMW-episode by hom gevestig het, was die besef dat as ’n geleentheid hom voordoen, jy dit moet aangryp en dat jy om ’n ideaal te verwesenlik nie altyd die pad van die minste weerstand kan volg nie. Om ’n voltydse bona fide-student aan die Universiteit Kaapstad te word, het hy hom by die naderende laaste semester weer by Queen’s Park, sy ou hoërskool, ingeskryf. Niemand gaan ná matriek terug skool toe nie, maar hy het dit gedoen en Engels goed genoeg geslaag om as voltydse student deur die Universiteit Kaapstad aanvaar te word en in alle erns met sy studie te begin.

Dit spreek van die knapheid van Amos van der Merwe as skrywer dat hy ook die komiese ervarings in Winston se lewe weergee, en van Winston se humorsin. Alles in sy lewe was beslis nie swaarwigtige erns nie. Een kostelike insident was toe hy met die hulp van ’n vriend, Alex Muir, mossels wat hy benodig het vir sy dierkundeprojek, gaan uithaal het op die kort kusstrook tussen Agulhas en Kaappunt. Toe hulle hul buit tel en by 856 mossels kom met ’n tekort van slegs 144 voordat hulle die vereiste 1 000 sou hê, het ’n stem opgeklink: “Dit beteken vyf jaar gevangenisstraf” (2017:86). Inspekteur Zerk van die afdeling Omgewingsbeskerming van die Departement van Seevisserye het kennelik die gesag geniet wat dit hom besorg het om oortreders op ’n beskermde stuk van die kuslyn te betrap. Sowel die dialoog tussen hom en Winston as dié tussen die regter en Winston tydens die hofsitting het skreeusnaakse momente. Die vonnis was vyf dae tronkstraf of R50 boete. Winston het die boete betaal en hom versoen met die universiteit wat hom nie tot hulp wou kom nie. Daar is ’n stille glimlag verskuil in die les wat hy in die hof geleer het: vat jou slae as jy moet en veg dié gevegte wat jy kan wen. En: “Also, do not try to be clever in court” (90).

Een van die grootste risiko’s en seker die belangrikste wat Winston in sy lewe geloop het, was met die meisie aan wie hy sy hart verloor het en met wie hy tot op hede nog getroud is. Naas studie het hy geglo dat die smet van pigment wat hom aankleef, sou verdwyn as hy ’n wit meisie het. Hy het gedroom van die dag wat hy met ’n blonde skoonheid straat-af sou stap. As Randall dit kon doen, kon hy ook. Deur ’n vriend het hy Jeanne ontmoet. Sy was inderdaad blond en beeldskoon en by die eerste aanblik het hy smoorverlief geraak op haar. Dié gevoel was wedersyds, maar die liefde is selde ’n gelyk pad. Jeanne was vasbeslote om ’n ander deel van die wêreld te ontdek en in Londen te gaan werk. Die dag van haar vertrek was die donkerste van sy lewe. Terwyl hy die vliegtuig agterna kyk, het die ou woede weer by hom posgevat. Hy het hom afgevra: “Waarom moet ek hierdie leegheid, hierdie gevoel van vervreemding in my geboorteland ervaar? Waarom kon Randall lustig flankeer en ’n bedrywige sosiale lewe geniet? Is ons nie van die dieselfde vlees en bloed nie? Net omdat ek meer pigment het, is ek die een wat verwerping moes verduur. Moes ek nie my swaar verdiende geld bestee om sy universiteitsloopbaan te vergemaklik nie, selfs deur my motor aan hom af te staan?” (2017:142). Hy het egter gou ingesien dat hy eintlik kwaad was omdat Jeanne vertrek het en homself vermaan om nie die woede van die verlede met dié van die hede te verwar nie.

Toe hy sy liefdesverdriet deel met ’n vriend, Noel Ziady, wat ’n magnetiese aantrekkingskrag vir meisies gehad het, was Noel se onmiddellike voorstel dat hy Jeanne moet gaan haal. Dit het gelei tot hulle kort oorsese besoek en Jeanne het inderdaad saam met Winston teruggekeer en by hulle aankoms na die blou lug bo Kaapstad gekyk en gesê dat hy reg was; dis hier waar sy hoort. Ook by haar ouers was daar ’n sekere weerstand teen haar verhouding met Winston wat oorkom moes word. Hulle huis in die Transkei is immers deur lede van die Pan African Congress, aangespoor deur Robert Sobukwe, tot op sy fondament afgebrand toe hulle vir ’n naweek weg was en is eiehandig deur haar pa herbou (2017:156). Desondanks is Jeanne en Winston op 12 Julie 1980 getroud (244). Jeanne was deurentyd die krag in Winston se lewe op sy pad boontoe, die steiltes uit.

Winston het werk gemaak van sy besluit om hom uit apartheid uit te studeer. Die sosiale omgang binne die studentegemeenskap was gemakliker as wat hy dusver in sy lewe ervaar het en hy het ‘n vriendskap gesluit met ’n medestudent, Roberto Piemontesi, wat vir sy studie betaal het deur snags in die lykshuis te werk. Rob het ingewillig dat Winston ’n keer op sy ronde saam met hom kon gaan, maar daarop gewys dat dit ’n makabere ervaring is. By die ingang na die koelkamer het bordjies “Whites” na links en “Non-Whites” na regs verwys. Tot in die dood, het Winston gedink, handhaaf die regering rasseskeiding (2017:111). Rob se eerste verwydering van die horingvlies van ’n oog het Winston met afgryse vervul, maar nadat hy Rob meerdere kere vergesel het, het Winston langsamerhand sy vrees en walging verloor. By sy eie eerste eie besoek aan die lykshuis is hy vergesel deur sersant Seargeant en het hy hom teen nadoodse segregasie in die koelkamer vasgeloop, skreiender as die bordjies by die ingang. Sersant Seargeant was in beheer van al die niewit liggame en is nie toegelaat om aan ’n blanke liggaam te raak nie.

Dood en sterwe en die gedagte dat die versamelde horingvliese diegene wat sonder sig is, weer sal laat sien, was die ontstellende werklikhede waarmee Winston geworstel het. Dood was kennelik nie absoluut op die oomblik van sterwe nie. Al het die hart ophou klop en die brein ophou funksioneer, het sekere liggaamsdele vir ’n aansienlike periode “lewend” gebly. Terwyl dié gedagtes hom besig gehou het, moes hy nog as ’n motorwerktuig­kundige werk om ’n bydrae tot Jeanne se gereelde inkomste te lewer. Intussen het hy vir die BSc Honneursgraad studeer wat hom met die vooruitsig op die frustrasie van lang ledige ure gelaat het. Uiteindelik het hy probeer om werk te kry in een van die navorsingslaboratoriums van die universiteit. Op die ou end was daar net twee departemente oor om te nader: chemiese patologie en die hartoorplantingseenheid. Winston het hom tot eersgenoemde gewend en is hartlik deur ‘n dr Harley ontvang. Winston het vertel waarmee hy besig is en dat hy graag vir ’n tydjie betrokke wou raak by navorsing. Toevallig was so ’n aanstelling moontlik, maar sonder betaling en met lang werksure. Oorstelp van vreugde is Winston met dié blye tyding huis toe.

Vir Winston was dit ’n verbasende prestasie om in dr Harley se laboratorium te werk, net vier deure van die groot en beroemde dr Chris Barnard af. Dit het sy medewerking aan dr Harley se navorsing sonder betaling meer as geld werd gemaak. Hy het sy navorsing geniet en in sy gedagtes geïdentifiseer met die seuntjie Jonathan wie se lewe daarvan afgehang het of hulle die manier sou vind om ’n sekere ensiem wat die rooi selle in sy bloedstroom afbreek, te stop.

En toe volg die verpletterende slag. Dr Harley vra dat Winston hom kom spreek. As die geleentheid hom voordoen, sou die seun van dr Harley se bure in Engeland onder hom vir sy doktorsgraad kom studeer en in sy laboratorium werk. Dit was ’n belofte en hy het geen ander opsie gehad as om die belofte na te kom nie. Ondanks die betuiging van sy opregte spyt, kon dr Harley nie die slegte nuus vir Winston versag nie; hy het dit inteendeel, sonder dat dit sy bedoeling was, geïntensiveer met die mededeling dat klein Jonathan die vorige nag gesterf het. Terwyl die trane oor sy wange stroom, het Winston van die gebou af weggehardloop.

Hanlie Retief, Winston Wicomb en Amos van der Merwe tydens US Woordfees 2018 (Foto: Gerrit Rautenbach)

Die triomf van ’n waaghals

Winston kon niks anders doen as om weer as motorwerktuigkundige te werk nie. Jeanne het verduur, bemoedig en ondersteun.

En toe alles hopeloos lyk, het die lewe weer eens sy onvoorspelbaarheid getoon. Winston het deur die kampus van die mediese fakulteit gery met die hoop om meer klante te werf toe hy die goue Mercedes-Benz aan die kant van die pad sien staan. Almal op die kampus het geweet aan wie dié motor behoort en langs die motor het die beroemde eienaar, dr Chris Barnard, gestaan, een hand op sy heup, terwyl hy die ander hand in radeloosheid deur sy hare trek – ’n toonbeeld van ellende. Winston het stilgehou, sy asem diep ingetrek, uitgeklim en gevra of hy kon help. Op dié vraag het Barnard veelbetekenend na hom gekyk: “You?” Winston het onthou dat dit algemene kennis was dat Barnard in beheer wou wees en het die eerstepersoonsmeervoud gebruik: “Yes, sir. If you’ll get in and crank the engine, we can start getting an idea” (2017:176).

Die enjin was net so ingewikkeld soos die een van mnr Standish se BMW, en Winston het nie geweet waar hy moes kyk en wat hy moes doen nie, en toe sien hy die los draad van die spoel. Toe hy vra of Barnard wil hê dat hy die probleem moet oplos, het hy ten hemele geroep en ’n lang uitgerekte “Yesss!” laat hoor (176). Die kar het dadelik gevat en Barnard het na Winston gekyk asof hy hom vir die eerste keer sien. Hy het hom byna skugter bedank en wou weet wat ’n motor­werktuig­kundige nou eintlik op die mediese kampus doen. Winston het kennelik besef hoeveel van sy antwoord afhang. Barnard het te hore gekry dat hy belang stel in dr Losman se navorsing, wonder of hy dalk hulp nodig het en dat hy in dr Harley se laboratorium gewerk het. Dit het vir Winston gevoel of Barnard van agter die stuurwiel lank na hom staar voordat hy gevra het wie hy is. Hy het geantwoord dat hy Winston Wicomb van Woodstock is en die wit leuentjie bygevoeg dat hy “in sy vrye tyd motors herstel” (176). Daarop het Barnard gegroet en gesê dat hy binnekort met hom sou praat.

Winston het die voorval aan Jeanne vertel en hulle het heerlik daaroor gelag, maar die alledaagse eise van die lewe het weer hulle tol geëis totdat, meer as ’n week later, die telefoon lui. Dit was die sekretaresse van Chris Barnard wat hom in kennis stel dat dr Barnard hom onmiddellik wou spreek. Op sy verbysterde reaksie,

“I beg your pardon?” het sy gevra of hy Engels verstaan en beklemtoon dat dr Barnard met hom wou praat – “Onmiddellik. Nie môre nie. Nie oor ’n week nie. Nou” (177). Dit het die allerbelangrikste gesprek van Winston se lewe geword. Barnard het begin deur te sê dat hy navraag oor Winston by sy kollegas gedoen het en dat hulle ’n hoë dunk van hom het en vervolg: “Ek dink jy is iemand wat kanse waag; iemand wat grense wil verlê. Ek bewonder mense wat die moed het om nuwe dinge uit te toets, selfs as dit risiko’s behels” (178). Hy het sy woorde laat insink: “So here is a new risk for you. I would like to offer you a position in my department. Would you be interested?” (178).

Of hy belang stel? Dit was ’n kans vir Winston Wicomb om met albei hande aan te gryp. Barnard het verduidelik dat hy wil hê Winston moet in beheer wees van sy navorsingsprojek. Hy het verduidelik dat sy belangrikste doelwit op dié tydstip was om ’n bewaringstelsel te ontwerp vir ’n skenkerhart om van enige stad in Suid-Afrika na Kaapstad gevlieg te word; behoue vir oorplanting. Sy en dr Losman se verhouding, het hy verduidelik, het versleg en Losman het weggaan, en hy wou iemand in sy plek aanstel. ’n Verstomde Winston het gewonder hoe Chris Barnard hom, ’n onlangs-gegradueerde en ’n agterplaasmekaniek, wou aanstel in die pos van ’n gekwalifiseerde torakschirurg. Barnard het Winston se besware op ’n vermanende toon onderbreek met “Winston, Winston” en gesê dat hulle albei “kansvatters” is, ’n hoedanigheid wat nie aangeleer kan word nie: “Riskers are born, you can’t teach a man to become one. It’s a rare quality to find in an educated person. Anyway, if you can fix cars, you can fix hearts” (179).

Die onervare Winston wat die leiding moes neem by die navorsing wat aan hom toegesê is, het daarin geslaag om die lede van die span met wie hy moes saamwerk, aan sy kant te kry. Chris Barnard het besef dat die probleem om ’n hart vir oorplanting lewend te hou nadat dit uit die skenker se liggaam verwyder is, verband hou met biochemie. Dit was Winston se vakgebied en Barnard het hom aangeraai om sy studie in biochemie voort te sit. Ná ’n lang gesprek met sy eertydse mentor, prof Gevers, kon Winston hom oorhaal om die studieleier te wees vir die PhD in biochemie. Intussen was sy opdrag om in samewerking met sy spanlede die vloeistof saam te stel en die pomp wat dit deur die skenkerhart moes sirkuleer te ontwerp. Barnard se vraag aan hom by die besigtiging van sy werk was of hy dink dit sal slaag by gebruik op mense. Winston het gewonder hoe hy daar kon staan met ’n glimlag en met selfvertroue kon antwoord, terwyl hy sy grootste waagstuk ooit gaan aandurf. Nogtans het hy selfversekerdheid geveins en gesê hulle kon tog nie vir altyd in die laboratorium bly nie. Sy beloning was ’n wrang glimlag van Chris Barnard.

Op die middag van Vrydag 2 Oktober 1981 was ’n matriekleerling van die Dan Pienaar Hoërskool in Uitenhage, Marius Minnie, in ’n motorongeluk betrokke en het die dokters in die provinsiale hospitaal van Port Elizabeth die stryd om sy lewe gewonne gegee en hom breindood verklaar. Toe Groote Schuur die volgende dag, Saterdag 3 Oktober, verwittig word dat Minnie se ouers hulle seun se organe beskikbaar gestel het vir oorplanting, het die lotsbeslissende oomblik in die lewe van Winston Wicomb aangebreek. ’n Vliegtuig het by die Kaapstadse lughawe gereed gestaan vir hom en twee van sy navorsingsgenote, David Cooper en Dimitri Novisky, om hulle na Port Elizabeth te vlieg. Met hulle aankoms by die lughawe was al drie reeds hoogs gespanne en by die aanblik van die ambulansvliegtuig, Spirit of Rotary, met sy ses sitplekke, het hulle spanningsvlakke nog hoër gestyg. Hulle het mekaar probeer gerusstel en die vlieënier het hulle verseker dat hy, ná tallose vlugte, dié vliegtuig met sy lewe vertrou.

Die vlug word nogtans ’n nagmerrie, soos die leser uit die proloog weet, en soos die titel van dié hoofstuk, “Nightmare in the sky”, ook reeds vooraf te kenne gegee het. Die lugdraad van die Spirit of Rotary is deur die wind in die storm waarin hulle beland, losgeruk en alle radiokontak van die vlieënier met die Port Elizabeth-lughawe is verbreek. Wat Amos van der Merwe in ’n neutedop in die proloog vertel, herskep hy tot ’n lewende werklikheid deur die dialoog tussen die vlieënier en sy drie passasiers en deur wat in sy hoofpersonasie, Winston, se gees afspeel. Die doodsberig oor sy sterwe in ’n aaklige vliegramp sou nooit verskyn nie. Die vliegtuig het veilig geland.

Waaroor die leser nie vooraf kennis het nie, is wat die verloop van die gebeure in die operasiesaal van die Groote Schuur-hospitaal sou wees. Dit is voorafgegaan deur die verwydering van die lewende hart uit die liggaam van Marius Minnie in die provinsiale hospitaal in Port Elizabeth deur dr Cooper en Novisky. Winston se taak was om die hart oor te plaas in ’n glasfles, omhul deur beskermende isolerende skuimrubber. Ys is rondom die fles gepak om te verhoed dat die hart warm word en op sy beurt is dit in ’n vlekvrye staalhouer geplaas. Terwyl die terugvlug na Kaapstad nie ’n riller was soos die heenvlug na Port Elizabeth nie, was die drie insittendes nogtans hoogs gespanne, veral Winston. Hy was die kleinste passasier en moes om die gewigslading in die vliegtuig reëlmatig te versprei, saam met die staalhouer in die beperkte ruimte in die neus van die vliegtuig die vlug meemaak. Ondanks die ongemak, het dit geblyk dat dié reëling ’n bedekte seën was. Deur die loergaatjie bo-op die staalhouer kon hy inloer en kennis neem van die krisis dat die hart, weens die afwesigheid van lugdruk in die vliegtuig, nie deur die vloeistof in die boonste deel van die pomp gevoed word nie. Winston kon die probleem beheer, hulle het geland en die wedloop teen die tyd het begin.

As iemand wat as uroloog en kankersjirurg gepraktiseer het, verstaan Amos van der Merwe uiteraard die aard en funksie van Winston se uitvinding perfek, en dit strek hom tot eer dat hy dié kennis vir lekelesers so toeganklik moontlik weergee. Hy doen dit met behoud van spanning wat ’n essensiële komponent van alle prosagenres is; in besonder van die speurverhaal, maar ook van die kortverhaal en die roman. In die voorlaaste hoofstuk van die boek, “Making history”, is spanning tot die uiterste grondliggend aan al die gebeure wat daarin afspeel en die hoogte­punt van Winston se verhaal tot op dié tydstip verteenwoordig. In sy weergawe daarvan maak die skrywer treffende gebruik van dialoog en Winston se innerlike selfgesprek. Soos in ’n goeie speurverhaal by die klimaks hou die leser asem op saam met almal wat by die hartoorplanting in die teater aanwesig is.

Die oomblik wanneer die enigste manier om uit te vind of die vervoerde hart in die ontvanger se liggaam gaan klop, aanbreek, sê Chris Barnard dat hulle moet kyk of die man wat sy motor herstel het, net so ’n goeie koerier as ’n mekaniek is: “Now, let’s have that heart, if you please, Mister Wicomb?” (238). Die spanning styg hemelhoog by die swak fibrillasie van die hartspier; dit moes reg, ritmies, sterk saamgetrek het. Deur die sweetdruppel wat weens spanning in sy oog geloop het, moes Winston sy oë ’n paar keer knip. Toe die gedempte hartklop in die ontvanger se bors duidelik hoorbaar word en Winston sy sig herwin, kon hy die blydskap in Chris Barnard se oë sien. Met ’n trilling van trots in sy stem het hy gesê: “Ischaemic time: sixteen hours forty-five minutes, Professor.” Barnard het twee maal sy kop geknik soos ’n resiesperd in die wennersirkel (239).

Slot: Die hoogtepunt van ’n bestemde lewe

Die slothoofstuk, soos die titel wat ook die titel van die boek is, “Vital remains”, te kenne gee, is Amos van der Merwe se kort same­vattende oorsig oor die lewe van Winston Wicomb soos hy dit vertel het, maar dis ook meer as dit. Op die oomblik toe die skenkerhart van Minnie in die ontvanger, Anderson, se borskas begin klop, het alles in Winston se lewe wat daarop afgestem was, bymekaar gekom en ’n sinvolle geheel gevorm. Dit was ’n oomblik van hoop wat vlerke aan drome gegee het. Die emosie van dié oomblik was so intens dat hy op die vloer van die teater moes gaan sit om na te dink oor sy lewensreis tot op daardie oomblik.

Wat onthou ’n mens op so ’n intense oomblik? Die vertaling in Afrikaans van “vital remains” as “vitale herinneringe” is ontoereikend en die meer idiomatiese Afrikaanse ekwivalente vertalings eweneens. Die Oxford Concise Dictionary sê presies wat remain beteken: “1. be left over after others or other parts have been removed or used or dealt with. 2. be in the same place and condition during further time; continue to exist or stay...” Op die oomblik van verwesenliking van jou hoogste ideaal, behoort dié dinge wat struikelblokke op jou weg na sukses was, tot jou verlede; is hulle afgehandel. Chris Barnard het met ’n glimlag op Winston afgekyk, hom gelukgewens en gesê dat hy op dié dag die loop van die geskiedenis verander het. “Ja, Professor, inderdaad,” het Winston geantwoord. Barnard het na die hartoorplanting verwys; Winston nie. Hy het gedink aan die dinge uit sy verlede – die “vital remains” – wat hom gebring het na waar die onmoontlike werklikheid geword het.

Van der Merwe sluit die verhaal van Winston Wicomb op daardie oomblik af met die perfekte slotreël: “My days behind life’s wardrobe were finally over” (241).

Dit bring my ten slotte terug by Randall se lewensverhaal. Winston het geweet toe hy sy broer se biografie gelees het, dat ook Randall teen vlae van depressie moes stry; dat hy sy eie demone gehad het om te beveg (2017:173). By sy bywoning van sy ma se begrafnis het Randall sy groot familie van bruin bloedverwante ontdek en was sy verdriet nie net om sy geliefde Wicky nie. In dié laat stadium wou hy uitreik na sy bruin familie en bruin mense. Sy slotsom is: “Suid-Afrika mag miskien steeds sukkel om ’n reënboognasie te word, maar die Wicombs is lankal ’n reënboogfamilie” (2015:9). Die losstaande ironiese slotsin is dubbel ironies ná die lees van sy broer se lewensverhaal: “Ek hoort by my mense” (2015:9).

Dié ironie was onbekend aan my voor die lees van Van der Merwe se lewensverhale van Randall en Winston Wicomb. Nou herken ek dit in die nadoodse segregasie in ’n lykshuis. Terugskouend op apartheid vra ek my onwillekeurig af hoeveel ons weet van diegene wat aan die ontvangkant van apartheid was en hoe ver ons wat dit gespaar gebly het, op pad na die reënboognasie is. Ek het niks geweet van die Rasseklassifikasiewet van 1950 nie; nou weet ek van die wig wat dit in gesinne ingedryf het. Ek is ’n digter en daarom het die vernederinge wat Winston weens pigment aangedoen is, vir my ’n voorbeeld geword van wat die digter SV Petersen in sy gedig “Bede” noem die “vloekstraf van ’n donker huid”.

Ek wil graag glo dat Winston se kort verkenning van die “koninkryk van die letterkunde” (2017:41), nie sy afskeid van die poësie was nie, maar net betrekking het op sy poging om self gedigte te skryf. Hy het immers inspirasie geput uit ’n reël uit Thomas Gray se beroemde elegie wat hom vasbeslote gemaak het om nie die blom te wees “to blush unseen/ And waste its sweetness on the desert air” nie. Daardie enkele reël, het hy gesê, het sy lewe verander (2017:40). Sy triomf was weliswaar dié van ’n waaghals, maar ’n waaghals wat hard gewerk het om hoogtes te bereik. Daarom vergun ek myself om ’n gesegde van die Amerikaanse digter Henry Wadsworth Longfellow, waarmee my poësieliefhebbende vader sy drie dogters geïnspireer het, op Winston te betrek wie se aangrypende en besielende verhaal Amos van der Merwe so uitmuntend vertel: “The heights by great men reached/ and kept, were not attained/ by sudden flight, but/ they, while their companions slept,/ were toiling upwards in the night.”

So het Winston Wicomb hoogtes bereik.

Bibliografie

Cloete, TT (red). 1992.

Du Plooy, Heilna. Fiksie. In Cloete (red) 1992.

Van der Merwe, Amos. 2015. Kleur: my lewe, my lied. Tygervallei: Naledi.

—. 2017. Vital remains: the story of the coloured boy behind the wardrobe. Tygervallei: Naledi.

  • 5

Kommentaar

  • Estelle Neethling

    'n Absoluut boeiende resensie! Weer eens bewys dat niefiksie dikwels meer interessant as fiksie kan wees.

  • Chris Marnewick SC

    Ai, 'n wonderlike resensie van 'n ou skoolmaat (Hoërskool Piet Potgieter) en eens op 'n tyd my uroloog se boek. Ek glo dat daar in elke persoon se lewe tyd is vir 'n tweede of selfs derde loopbaan, en ek sal voortaan Amos gebruik as stawing vir my teorie.

  • Leonie Grobler

    Absoluut aangrypend! Rsa se hartverskeurende rassegeskiedenis so briljant oorvertel.In pragtige Afrikaans.
    Dit gryp aan my hart.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top