Visekanselier Adam Habib se perspektief oor die studenteprotes

  • 2

Adam Habib, visekanselier van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) het Woensdagoggend 19 Oktober 2016 in Potchefstroom as hoofspreker by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Institusionele navorsing (SAAIR) sy perspektief oor die huidige studenteonluste gedeel. Hier is die volledige program van die geleentheid.

Victor Correia, 'n dosent by Aros (Akademie vir Reformatoriese Opleiding en Studies), het Habib se lesing bygewoon en deel 'n opsomming hiervan met LitNet se lesers. Sien nog besonderhede omtrent Victor Correia en sy Einstein-kompetisieinskrywing onderaan. Die Einstein-kompetisie is nou gesluit en was aangebied deur LitNet Akademies.


 

Fotobron: https://www.youtube.com/watch?v=lsXXGBEp5sU

Habib meen dat die motiewe van die studente edel is, vanweë studiekoste wat oor die afgelope 10 jaar by verskeie universiteite met dubbelsyfers gestyg het, die stadige pas van transformasie en toenemende kulturele vervreemding.

Universiteite is genoodsaak om hulle gelde te vermeerder omdat studentegetalle in hierdie tydperk vanaf 420 000 na oor ʼn miljoen verdubbel het, terwyl die per kapita-subsidie sedert 1994 vanaf 75% na net oor die 40% verminder het. Meer nog kon baie voornemende studente nie die verhoogde gelde bekostig nie. Habib het die krisis sien kom en namens verskeie universiteitshoofde van die groot banke in Suid-Afrika gaan spreek om vir meer toeganklike studentelenings te beding. In antwoord op ander se kommer oor die plan het Habib geantwoord: “Wil julle eerder geen graduandi hê nie, of eerder graduandi met studieskuld?”

Habib vertel verder dat Wits as ʼn leier op die gebied van transformasie beskou kan word. Wits, wat 75% getransformeer is volgens die Shanghaise gradering van internasionale universiteite, is steeds een van Suid-Afrika se top universiteite. Habib voeg by dat die persepsie dat uitnemendheid en transformasie nie versoenbaar is nie, in Wits se geval nie geldig is nie.

Tog kan daar gevra word waarom betogings in die reël meer gereeld uitbreek op kampusse waar transformasie verder gevorder het. As dinge so voortduur, wonder ʼn mens hoe lank Wits nog een van Suid-Afrika se top universiteite gaan bly.

Hoewel Wits persentasiegewys goed getransformeer het, het die meerderheid swart studente nog vervreem gevoel omdat die universiteit se kultuur, simbole, taal, kurrikulum en werksetiek nog kenmerkend van die vroeë wit nalatenskap was. Reeds voor die betogings uitgebreek het, is ʼn 10-punt-transformasieplan opgestel en deur die universiteitsbestuur goedgekeur.

Wat Habib probeer beklemtoon, is dat universiteitsbesture reeds met die kwessie waaroor studente later sou betoog, besig was voor die betogings van 2015 uitgebreek het. In dié opsig simpatiseer hy met die “edele struggle” van die studente. Habib voeg wel dadelik by dat hy hom egter nie kan vereenselwig met die bedenklike “taktieke” wat deur die beweging gebruik word nie.

Om die punt te illustreer neem Habib ons terug na die begin van die betogings in 2015, waarby hy self intens betrokke was. Van meet af het Habib ingestem om met die studente te onderhandel. Studenteleiers het ʼn 0%-verhoging geëis, waarop hy geantwoord het dat dit onmoontlik is, behalwe as ʼn toegewing deur die regering gemaak word. Kort hierna het die studentebetogings gevolg met die opmars na die parlement. ʼn Regeringsamptenaar het Habib geskakel en gevra of die 0%-verhoging toegestaan moet word, waarop hy instemmend geantwoord het: “Gee dit!”

Die 0%-verhoging het sedertdien baie kritiek ontlok, maar Habib hou vol dat dit wel die positiewe gevolg gehad het dat staatsubsidie aan universiteite vir die eerste keer in 20 jaar verhoog is.

Die toegewing het egter nie die gewenste uitwerking gehad nie. Eerder het dit nuwe woema aan die studentebeweging gegee. Die volgende Maandag was daar nuwe sake waaroor Wits moes besin en aan die begin van die akademiese jaar van 2016 het ʼn aantal studente gratis onderwys geëis. Weer is daar gepoog om met studente te onderhandel, maar dié keer was die studente nie oop om te onderhandel nie.

Op 19 September 2016 het daar ʼn nuwe ronde betogings op Wits uitgebreek wat steeds gekenmerk word deur bedenklike taktieke deur studente. Rassisme, geweld en oneerlikheid van studenteleiers bedek die skynbaar edele motiewe van die huidige betogings in ʼn donker wolk.

Habib vermeld hoe hy privaat met ‘n studenteleier sou onderhandel en dat dieselfde studenteleier dan 10 minute daarna sou verkondig dat die universiteit nie met studente wil onderhandel nie. Verskeie studente skryf ook aan hom dat hulle deur betogende studente geïntimideer word. Habib het ʼn ernstige beroep op studenteleiers gedoen om nie een ding in die privaat en ʼn ander ding in die openbaar te sê nie. Eintlik kom dit net neer op ʼn beroep op studenteleiers om eerlik te wees.

Die huidige werkswyse wat studente volg, naamlik om geweld te gebruik om hul sin te kry, is vir hom nie aanvaarbaar nie en mag die edelheid van die hele beweging verongeluk. “Die uitkoms word nie bepaal deur die edelheid van die doel nie, maar deur die taktiek wat jy gebruik om daarby uit te kom.”

Dit is vir hom onaanvaarbaar dat meer as ʼn miljard rand se skade aangerig is deur studente, sonder dat enige vervolging plaasgevind het. Hy meen dat so iets glad nie tydens apartheid geduld sou gewees het nie. Daar moet fermer teen studente opgetree word en tans word daar ook ʼn poging aangewend om dit te doen.

Die gevolge van die studentebetogings kan Suid-Afrikaanse universiteite in die toekoms duur te staan kom. Habib moes in die afgelope 9 maande drie keer na die VSA vlieg om buitelandse beleggers te verseker dat hul beleggings by Wits veilig is. Die bedrag wat ter sprake is, is R2,5 miljard uit ʼn totale begroting van R5,5 miljard, wat navorsing by Wits tot ʼn skielike stilstand kan bring indien geld in die toekoms elders belê word.

ʼn Ander kommerwekkende tendens is dat bekwame akademici tans in hul massas na die buiteland vlug. Dit hou die gevaar in dat Suid-Afrikaanse universiteite se status stelselmatig sal afneem en uiteindelik dat Suid-Afrika as ʼn land agteruit sal gaan, wat in die proses die gaping tussen ryk en arm verder sal vergroot.

Habib sou wou voorstel dat ʼn mens die rykes belas om die probleem op te los, maar wys daarop dat dit nie moontlik is met Suid-Afrika se klein belastingbasis nie. Buitendien word toegang in lande soos Duitsland en Skandinawië, wat gratis universiteite het, beperk tot ʼn klein deel van die bevolking.

Indien Suid-Afrika gratis onderwys vir ʼn bepaalde groep studente wil gee, sou dit volgens Habib net moontlik wees as dit stelselmatig oor ʼn lang tydperk geïmplementeer word en uiters afhanklik sal wees van positiewe ekonomiese groei.

Verder meen Habib dat die oplossing vir die krisis nie net op universiteite afgewentel kan word nie. Daar moet besluit word hoe fondse die beste bestee kan word en daar moet moeilike keuses gemaak word, byvoorbeeld of daar meer in gesondheid of onderwys belê moet word. Soos wat die ekonomie krimp, sal die keuses al hoe moeiliker word.

Die toekoms van publieke universiteite in Suid-Afrika lê volgens hom in die weegskaal en besonderse leierskap is nodig om te verseker dat die kommerwekkende tendense waarop hier gewys word, omgekeer word.

 


Victor Correiabio

Naam: Victor Correia

Departement: Filosofie

Kompetisie-inskrywing (navorsingstema):
Die multiversiteit ('n universiteit sonder 'n sentrale besielende gedagte) word maklik die slagoffer van verskeie ideologieë.

Studievlak: Meestersstudent

Universiteit: Noordwes-Universiteit

 

Lees nog kompetisie-inskrywings hier. einsteinlogo200

• Die Einstein-kompetisie was ’n nuwe kompetisie – die eerste in sy soort in Suid-Afrika – wat jong navorsers by universiteite uitgedaag het om hulle eie navorsing in 130 karakters of minder op te som.

 


Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies (Opvoedkunde) se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.

This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Regadviseer Soogdier van die Varkerasie Genootskap van Suid-Afrika

    Indien ek rektor sou wees, sou ek aandring dat die betogende studente aan my eerstens bewys dat hulle demokraties verkose is om die betogende student te verteenwoordig; en

    Tweedens sou ek daarop aandring dat hulle hul griewe op skrif stel en dat die verkose verteenwoordigers die griewelys almal onderteken; en

    Indien enige ooreenkoms bereik word, die bepalings van die ooreenkoms skriftelik in 'n ooreenkoms vervat en deur alle partye onderteken word en summier in die openbare domein gepubliseer word; en

    Sodanige ooreenkoms moet klousules bevat dat die betogende studente die regte van die ander nie-betogende studente erken en landswette sal eerbiedig as deel van demokrasie.

    Sodoende kan die risiko dat die doelpale van griewe alewig eindloos verskuif word, verlaag word.

    Wees professioneel in die onderhandelingsproses: regverdig, eerlik en streng.

    Onthou: Die "stille meerderheid"-studente is eintlik die "demokratiese meerderheid"-studente.

  • Mens is bly prof Habib veroordeel die ongemagtigde optrede "namens" studente wat nie geraadpleeg nie, ook die taktiek van geweld en oneerlikheid en 'n onwil om bindende besluite/ooreekomste op skrif te stel. Dis veral verblydend dat daar ook besin gaan word oor die belangrikheid van vakke, vakrigtings wat vir die land, spesifieke universiteite en vakke. So sal daar op meriete en verdienste van studente en hulle bydraes befonds kan word en herhaalde vakke bv nie meer deur die belastingbetaler of skenker gedra word nie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top