Vis

  • 0

op die bed is jy ’n vis
blink van skub op ’n bord
in die middel van ’n tafel

sy hand wat na jou uitreik
word ’n vismes reg vir die afkrap

die huiswerker gaan jou skubbe kry
tussen die lakens die grate
wat vas bly steek in die slope
die geknoopte string binnegoed
in een van sy pantoffels
met die reuk van varsgesoute vis
in die slaapkamer

hy sal jou bloed onder die kraan afwas
sy lyf inseep
die spore van die see afspoel

jou vinne sal die huiswerker
saam met die oorpluisies en stukkies watte
uitskud in die vullisblik
jou kop met die drillerige oog
kook vir bouillabaisse

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top