Vir wie skryf jy jou gedigte? B

  • 2

vir Johann de Lange

Vir woordfeeste waar, uitgestal
saam met ander “gewilde digters”,
jou optrede verydel word
deur laatkommers of feesgangers
op soek na iets beters
wat die deur oop en
toe laat konsertina?
Vir daardie geliefde wat nooit die gedig
oor jou hunkering en pyn
sal lees nie en net onthou
dat die bed immer haaks was?
Vir ’n vlymbekkige kritikus
’n byltjie aan't slyp
oor ’n onbetaalde rekening
op ’n ander plek en tyd?
Vir skoolkennisse van wie jy nóg die naam,
en nóg minder die bynaam kan onthou,
wat familiêre groete stuur
via ’n ander onbekende siel?
Vir jou pa aan die "ander kant"
wat in drome verskyn
aan jou oudste suster
in ’n blazer en das
en met woorde van vertroosting?
Vir jou ma wat jy versoek
om eerder nie die gedigte te lees nie,
sodat die pyn van ’n troostelose jeug
stiekem kan verbygaan?
Vir jou terapeut met wie jy laatnag-gesprekke
voer oor jou verknoopte psige
en wat jou aanmoedig om tóg aan te hou?
Vir jou vriend wie se kind
selfdood pleeg sonder ’n afskeidsnota?
Vir jou mededigters wat smaal
“die voorlaaste bundel was beter”?
Vir buitelandse digters wat ontsyfer
aan vertalings getransporteer
van een taal na ’n ander, immer in transito? 
Vir jou susterskind
skrywend aan ’n opstel oor jou digkuns
timmer timmer laatnag?

L’envoi

Vergewe die wrang aanslag, liewe leser,
(en ’n gedig wat oop en toe konsertina)
keer terug na Auden, o amateur, en weet:
’n gedig laat niks gebeur!

  • 2

Kommentaar

  • Brett Waterboer

    Goeie dag,

    Adviseer asb: Ek wil graag my pa inskryf iewers om sy gedigte en kortverhale in te dien. Hy geniet dit verskriklik en is skryf baie diep en mooi. Sy woorde laat my vra: ken ek regtig Afrikaans? Hy is verskriklik lief vir Afrikaans.

    Waar of hoe, met wie praat ek daaroor? My pa het een van sy vriende baie gehelp en hierdie vriend werk vandag vir die koerant (anoniem). Die vriend skryf selfs boeke en neem nou deel aan 'n "Hollywood"-fliek wat hy nou skryf.

    Hoor graag van u.

    • Goeiedag en dankie vir jou navraag. Jou pa kan gerus sy drie beste gedigte as voorlegging stuur na ons nuwe skryfwerk-afdeling. Rig 'n e-pos aan skryfwerk@litnet.co.za en heg die voorleggings as Word-dokumente daarby aan. Die betrokke redaksielid sal graag daarna kyk en die skrywes vir publikasie oorweeg. Geen vergoeding is beskikbaar nie, maar LitNet bied graag 'n platform vir nuwe skrywers. Groete, Naomi Meyer, senior inhoudsbestuurder

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top