Vir Thys Human (Pta)

  • 7

Thys, ek verwys na jou kommentaar onderaan my brief van die 4de (wat nou weg is, hoe dit werk weet ek nie. Webvoet?).

Jy klink vir my warm onder die kraag, klink of jy vies is vir ouens soos ek  " ...  wat nie kan of wil verstaan nie". Ek hoop nie jy's 'n onnie nie; ek kry die leerlinge jammer. Jy hou ook aan foeter met “intelligente ontwerp” en “kreasionisme”, so al asof sit die enigste alternatief  is as mens vrae oor die evolusieteorie het.

Wel, dit is nie so nie; ek het al eksplisiet gesê volgens my kan niemand stry dat evolusie wel plaasvind nie; dit is net dat ek nie kan sien hoe lukrake mutasie en seleksie sekere goed verklaar nie. Een van die goed wat ek as 'n gemis gesien het is maklik deur Chris as naïef uitgewys, naamlik die kamikaze-gedrag van bye. Chris het my daarop gewys dat daardie bye niks met voortplanting te doen het nie en dus is sulke gedrag by hulle nie voortbestaan-teenproduktief (as daar nie so 'n woord was nie is daar nou een) nie. Ek moes twee en twee bymekaar gesit het want ek is bekend met Eugéne Marais se organismestorie.

Dalk is die ander goed wat ek as leemtes sien net so maklik opklaarbaar. Om 'n ou te beskuldig dat hy nie kan of wil verstaan nie is, soos ek al gesê het, om die kwessie te systap en ek kan dan nie anders as om te dink die aanvaarding van sekere aspekte van die evolusieteorie is op blinde geloof berus nie.

Deur van die skakels te volg wat Chris, Angus en Thomas aanbeveel het, het ek onder andere afgekom op ene Dr Mohamed Noor waarvan gesê word dat 'n groot deel van sy navorsing daaraan gewy word om die genetiese veranderinge wat uiteindelik lei tot die vorming van nuwe spesies te probeer verstaan. Dit is kennelik nie iets wat al deur Darwin of Dawkins of enige van die groot bioloë uitgepluis is nie, anders sou Dr Noor nie navorsing daaroor gedoen het nie.

Dus, soos in astrofisika, waar die ouens nog stoei met skimmassa en -energie is daar in evolusie ook nog goed wat nie mooi uitgepluis is nie (in enige tak van die wetenskap, om die waarheid te sê, is daar nog goed wat raaisels is). Dr Noor se navorsing is natuurlik op 'n oneindig hoër vlak as my naïewe vrae wat, sou mens dink, maklik deur kundiges soos jy van die tafel gevee kan word eerder as om kwaad te word. Methiks the fundi doth protest too much.

Groetnis

Jan Rap

Wat is weg, Jan? Het Thys Human (PTA) ook ander kommentaar gelewer? Laat weet! - Webvoet

  • 7

Kommentaar

  • Jan Rap: Ek kan nou nie onthou watter boeke al hier aanbeveel is nie. As jy hulle almal koop eindig jy bankrot, maar ek weet ook nie of veel van hulle in enige Suid-Afrikaanse biblioteke beskikbaar is nie. Dit lyk my jou grootste beswaar is die vraagstuk hoe lukrake mutasies, gekombineer met seleksie, tot komplekse strukture kan lei. In my opinie is Richard Dawkins se boeke van die beste om daardie vraagstuk aan te spreek. Sy voortdurende aanvalle op religie kan dalk gelowiges afsit (selfs vele ateïste vind dit irriterend), maar hy is werklik baie goed daarmee om die konsepte agter evolusie te verduidelik.

     
    Twee boeke wat ek sou aanbeveel is "The Blind Watchmaker" en "Climbing Mount Improbable."  In albei spreek hy dieselfde temas aan, en toon aan hoe mutasie plus seleksie in beginsel heel komplekse strukture kan skep. 
     
    Dit is natuurlik so dat daar miljoene spesies op aarde is, en elkeen van hulle het dosyne of honderde komplekse strukture in hulle, dus sal dit vir die volgende paar duisend jaar altyd vir die skeptikus moontlik wees om, nadat die ontstaan van een struktuur aan hom verduidelik is, bloot te wys na die volgende struktuur en weer te vra: "Ja, maar wat van DAARDIE struktuur? Hoe kon HY ontstaan het d.m.v. mutasie en  seleksie?" Dit is sekerlik deels wat navorsing dryf, so dit is nie verkeerd om sulke vrae te vra nie - dit raak net irriterend wanneer mense dit bloot as retoriese tegniek gebruik en skynbaar nie eintlik in die antwoorde geïnteresseerd is nie. 
     
    Ek vermoed dat mens dalk wel in strukture sal vasloop waar mens nie maklik kan uitwerk hoe mutasie en seleksie daardie spesifieke struktuur kon vorm nie, want in vele gevalle het ons nie fossiele van die oorgangsvorme beskikbaar nie, of die betrokke spesie het nie meer naverwante spesies wat vir ons leidrade kan gee nie. Die studie van evolusie is, in essensie, die studie van geskiedenis, en dit is nou maar een van daardie dinge: ons sal nooit absoluut volledige kennis hê van die geskiedenis nie, omdat die nodige getuienis in vele gevalle eenvoudig nie meer bestaan nie. Hoeveel sigare het Winston Churchill gerook die dag toe die oorlog uitgebreek het? Ons sal nooit weet nie want niemand het gebodder om 'n aantekening daarvan te maak nie. Die nodige getuienis is nie beskikbaar nie. Of dit ons moet noop om skepties te wees oor die vraag of Churchill self werklik bestaan het is natuurlik 'n ander vraag - kreasioniste probeer dikwels die indruk skep dat onvolledige kennis basies dieselfde ding is as geen kennis.
     
    Ek lees eenkeer 'n stuk van Stephen Pinker, waarin hy vertel hoe hy en 'n paar ander mense gekyk het hoe 'n spinnekop sy komplekse web spin (dit was in 'n dieretuin of museum of dalk bloot 'n TV-dokumentêr; ek kan die detail nou nie meer onthou nie). In ieder geval, hy hoor toe hoe iemand opmerk: "Hoe kan enigiemand hierdie aanskou en nog steeds evolusie aanvaar?" Hy berig dat dit vir hom snaaks was, want toevallig het hy op presies dieselfde oomblik die teenoorgetstelde gedink: "Hoe kan enigiemand hierdie aanskou en nog steeds natuurlke seleksie verwerp?" 
     
    Die rede waarom hy so voel is dit: daar is eenvoudig geen ander bekende meganisme wat kan lei tot die merkwaardige komplekse ontwerpe wat ons in die natuur sien as mutasie plus seleksie nie. Dalk ontdek wetenskaplikes eendag nog 'n ander meganisme, maar ek betwyfel dit baie sterk. Ek dink ook nie dit is nodig om hard te soek na so meganisme nie omdat die bestaande een tot dusver min of meer alle strukture heeltemal goed kon verduidelik. 
     
    Ek kan nie perssonlik elkeen van jou vrae in detail beantwoord nie want ek is nie 'n professionele bioloog nie. En die wetenskappe het so gespesialiseer geraak dat selfs 'n kenner van evolusie straks sal moet gaan rondlees en rondvra voor hy elke laaste vraag waaraan jy kan dink sal kan beantwoord. Sommige van hulle is dalk nog onbeantwoord: daarom dan dat navorsers nog hulle poste het! 
     
    Kortliks: mutasie plus seleksie is 'n meganisme wat direk waargeneem kan word, en tot dusver suksesvol gebruik is om 'n beduidende deel van die natuur se kompleksiteit bevredigend te verklaar. Geen ander meganisme is bekend wat as dryfveer vir evolusie kan dien nie (of ten misnte dan as dryfveer vir die evolusie van komplekse, funksionele strukture - daar is wel ook min of meer neutrale genetiese drywing, maar dit is nie genoeg om die evolusie van spesifieke, funksionele dinge soos oë of vere te verklaar nie). Siende mutasie plus seleksie so suksesvol was in die opklaar van so baie evolusionêre vraagstukke is dit waarskynlik dat dit die enigste meganisme is in die evolusie van funksionele kompleksiteit, maar natuurlik is geen vraag in die wetenskap ooit finaal beantwoord nie. 
     
    Ek dink die groot probleem wat kreasioniste eintlik het is dit: hulle het 'n uiters lae toleransie vir onsekerheid. Hulle wil absolute sekerheid hê oor alle vraagstukke. Helaas, die wêreld werk nie so nie, en of ons daarvan hou of nie, ons kennis gaan nooit volledig wees nie.
     
  • Thys Human (PTA)
    Na bostaande uitstekende inset van Brianvds is my voorafopgestelde reaksie eintlik oorbodig, maar hier is dit in elk geval. 
     
    Terloops, moderator, ek dink Jan Rap verwys na die feit dat lyne soos hierdie so vinnig verdwyn van die lysie van goed wat net met 'n klik gekry kan word. Ek soek my elke keer simpel om by Thomas se oorspronklike ding van enkele dae gelede oor evolusie uit te kom. Kan daai lysie nie langer wees en langer gehou word nie?
     
    my reaksie:

    Jan rap, jou regte naam is nie dalk Herman nie?  Jy haal presies dieselfde argumente aan en maak presies dieselfde stellings as ene "herman" wat veral op DB se webblad probeer het om my oor evolusie aan te vat.Jy hou nou hier vol dat jy eintlik evolusie aanvaar, maar dan stel jy vrae en bedenkinge wat eintlik die kreasioniste se sieninge weerspieel en dan kom dit voor asof jy eintlik evolusie probeer aftakel. Dis goed om vrae te stel.

     
     Ek self het steeds ernstige vrae oor bv hoe die verskillende rasse in die mensdom ontstaan het, oor die uiters vreemde verskynsel dat baarmoeder- en buideldiere so byna presies eenderse vorme kan voortbring (die rotte van die twee soorte lyk presies eenders!), oor hoe dit kan kom dat sekere diere wat miljoene jare gelede in Suid-Amerika baarmoederdiere was, baie jare later in Australië eindig as buideldiere. Daar is 'n "copycat" ding binne evolusie aan die gang wat die wetenskaplikes nog nie mooi kon verklaar na my mening nie - hoewel hulle self dikwels op die verskynsel wys.Maar ek stel my vrae waar ek kan aan die wetenskaplikes en gaan soek op hulle webwerwe na antwoorde - nie op creation.com nie!
     
    Neem jou verwysing na Mohamed Noor as voorbeeld. Jy stel vrae oor sy navorsing wat wil lyk of jy dit sien as vreemd dat dit nou eers gedoen word en daar bedenkinge is daaroor. Ek het net vinnig op Wiki gaan kyk en toe by Jerry Coyne se webblad  whyevolutionistrue.wordpress.com uitgekom. En Coyne spog met die prestasies en werk van Noor omdat Noor slegs die tweede doktorale student is wat onder sy promoterskap sy graad gekry het.  En as jy die regte goed lees, sal jy sien dat daar 'n byna oneindige getal of reeks goed is waaroor navorsing nog gedoen moet word of indringender gedoen moet word en dat daar gedurig plek is vir mense in verskillende wetenskappe om naam te maak met bevindings. Terloops, Dawkins is nie 'n genetikus nie - en Darwin was nie eens bewus van die werkinge van die genetika nie.
     
    Jou verwysings na astrofisici se werk tov van sg donker massa en donker energie dui ook op 'n totaal ander benadering tot die saak - een wat eerder tuis hoort by kreasioniste. 
     
    Ek is self nie 'n wetenskaplike nie. Inteendeel, ek het in matriek beroerd gevaar in wetenskap! Maar ek is nuuskierig en eintlik leergierig (daarom het ek die joernalistiek so geniet) en ek lees en soek na nuwe inligting op 'n wye front - en uit alle bronne. So het ek al taamlik in diepte gelees oor wat op die kreasiewebwerwe aangaan, maar ek het gou genoeg gehad van hulle verdraaiings.
     
    Dit is 'n probleem dat baie boeke nie maklik vir ons toegangklik is nie want die goed is duur en ons biblioteke is beroerd en word net swakker en swakker.  Maar gelukkig is die internet daar - soms moeilik en frustrerend maar darem. 
     
    As dit jou erns is om antwoorde op geldige vrae te kry, moet jy dalk net jou fokus versit. Sterkte daarmee, maar hou net op om evolusie in die proses te probeer aftakel. Jy mors jou tyd - en dan myne ook!
  • Chris Dippenaar

    LitNet vier 'n week van geen bydraes van Kobus de Klerk! Ek weet nie wat wat van die ou geword het nie, maar ek hoop hy bly weg. Miskien is daar nou die moontlikheid dat gelowiges en ongelowiges opinies kan uitruil sonder onnodige venyn (iets waaraan ek myself gereeld skuldig gemaak het). Ek is seker dat Kobus vir baie Christene 'n groot verleentheid was en ek hoop dat jy nie dieselfde gaan wees vir die anderkant van die spektrum nie.

    Doen jouself 'n guns en gaan lees van Jan en Jaco se vorige bydraes in die argief. Hulle is nie die verstokte kreasioniste wat hy julle as uitkryt nie.

    Wat mense soos Driesie betref, probeer iets van Lee Strobel onder oë kry, al is dit dan ook net om te sien waarmee jy te doen het. Strobel is 'n ongelooflike begaafde joernalis en kry dit reg om 'n baie eenvoudige en oortuigende argument te maak vir sy saak. Dit is baie moeilik vir iemand wat nie 'n diep kennis het van kosmologie en biologie om Christene te oortuig dat hierdie ou oneerlik is. Teenargumente is gewoonlik ingewikkeld en lank, en vereis ongelooflike geduld. Alle sielkundige studies dui daarop dat jou taktiek teenproduktief is.

    Die bydrae van Einie, 'n Christen, onderaan Thomas se brief (Die essensie van die evolusieteorie) is 'n voorbeeld van hoe dit gedoen moet word. So ook, soos Jaco uitwys, Thomas se reaksie op Jan se vrae.

    Chris

  • Uiteindelik is hier ’n sinvolle debat en ek volg almal se insette met belangstelling! Ek hoop regtig Kobus en sy skaduwee, Dolf, bly laaank weg!

    Groetnis

    Perdebytjie

  • Thys Human (PTA)

    Chris, dis vriendelik van jou om vir my ’n ou lessie te gee oor hoe ek my saak behoort te stel, maar ek is jammer, ek kan nie ag slaan op sulke lessies wat kom van enigeen wat selfs net kan begin dink dat Lee Strobel oortuigende argumente maak nie.

    En dit is duidelik jy weet eintlik nie mooi wat in die wêreld aangaan in die voortgesette stryery tussen fundamentalistiese kreasioniste en wetenskaplikes op die terrein van evolusie en die fisika nie. Die tyd vir mooi broodjies bak en "nice" wees met hierdie mense is lankal verby. Dit is so twintig, dertig jaar gelede probeer, o.m. deur mense soos Dawkins en selfs Hawking, maar juis omdat die ekstremistiese gelowiges hulle sagte benaderings as ’n teken van swakheid beskou het en dit uitgebasuin het dat die evolusioniste en "oerknal-fisici" eintlik nie ten volle oortuig is van hulle standpunte nie, dat Dawkins sy The God Delusion geskryf het en Hawking in sy jongste The Grand Design baie sterker en heftiger stel dat daar nie plek vir ’n skeppende godheid in die fisika is nie. Dit is hoekom mense soos Christopher Hitchens en Sam Harris net so sterk en onverbiddelik uitgekom het in hulle werke

    As jy gaan kyk na die webblaaie van mense soos Jerry Coyne en PZ Myers sal jy presies dieselfde hardekwas houding sien. Coyne het nou die dag weer skerp te velde getrek teen iemand soos Michael Ruse wat glo self nie ’n kreasionis is nie, maar beweer dat die hardekwas houdings van mense soos Dawkins en kie "teenproduktief" is. Dit is nie, sê Coyne, dit werk!

    Daar is op die oomblik ’n taamlike sterk beweging in sekere gelowige kringe aan die gang om weg te beweeg van die ekstremisme van die kreasioniste en evolusie (en die "oerknal") toenemend uit te beeld en te aanvaar as die werking/skepping van God. Hulle gebruik graag die naam "teistiese evolusie". Gaan kyk by ’n webblad met die naam "biologos" of so iets.

    Ek het al die idee op webblaaie hier plaaslik aangemoedig omdat ek wil hoop dat dit die gaping van begrip kan vernou, maar mense soos Coyne is taamlik snedig teenoor hulle – dis net nog ’n poging om die ongegronde godsidee in die wetenskap in te sleep, meen hy. As jy dus nie omgee nie, sal ek voortgaan om my saak en my siening sterk, duidelik, onverskonend, selfs aanvallend te stel – en as mense soos Jaco en Jan Rap deurloop omdat hulle hul saak nie duidelik en reguit stel nie, moet hulle maar vat wat uitgedeel word.

  • CorneliusHenn

    Jammer Chris, die ou grote is op sy jaarlikse verlof ... jare reeds gun hy ons hierdie bietjie kalmte en rus ... geniet dit wyl jy kan ... as ek reg onthou duur dit nie langer as twee weke nie dan is die ou grote gelaai met ’n geykte en paradoksale onderwerp soos byvoorbeeld "agnostiese ateïsme" terug ... ek is nes jy oortuig dat enige onderwerp aan alle kante van die spektrum sonder omstredenheid wel met waarde aangevoer kan word ...

  • Chris Dippenaar

    Hello Cornelius

    Was dit nie Socrates wat gesê het dat die orakel van Delphi vir hom gesê het dat hy die wysste mens is nie? Nie omdat hy alles weet nie, maar omdat hy weet hy weet nie alles nie. Ons gesels weer.

    Chris

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top