Vir Thys Human (Pta) en Thomas

  • 7

Ek verwys na Thomas se brief Die essensie van die evolusieteorie en Thys se kommentaar onderaan einste.

Thys, jy reken " ... die gapings wat mense soos Jan Rap glo sien, is sonder uitsondering kreasionisgemaakte stellings ..."  Ek weet nie hoe jy so kan sê nie.  As 'n oogpister se vlerke nie vinnig kan oopvou nie sou mens dink natuurlike seleksie sou teen die tyd die modelle wat nie maklik op die vlug kan slaan nie uitgeroei het sodat net die vinnigstes oorleef en voortplant.  Maar nee, hy gaan staan en ontwikkel ter verdediging 'n ingewikkelde storie wat daarin bestaan dat hy sy vyande met 'n kokende toksiese stof spuit, die goed is so warm dat na so 'n spuitsessie die rook blykbaar op die oogpister staan.  Is dit nie logies dat enigiemand natuurlike seleksie hier sou bevraagteken nie (behalwe nou die wat 'n blinde geloof in die evolusieteorie het)?

Mens kan seker aanneem dat ek hier aanvaar dat die proses van die minste weerstand gevolg word.  Ek sou dus verwag dat jy iets soos "... die evolusieproses gehoorsaam nie noodwendig die tweede wet van Termodinamika nie ..." of " ... die vyande waarteen hierdie verdediging ontwikkel is bestaan nie meer nie ..." of so-iets.  Dit maak nie sin om my stelling aan te val deur te vertel waar jy dink ek vandaan kom nie; dis die hele kwessie systap.

Thomas, jy wil hê ek moet vertel wat ek as die gapings sien.  Wel, ek het al baie voorheen maar laat ek dit maar weer doen.  Die een is die oogpister hierbo; slaat vir my 'n gat in natuurlike seleksie.  Dat daar natuurlike seleksie is betwyfel ek vir geen oomblik nie, maar natuurlike seleksie is deel van 'n tot nou toe nog onvolledige teorie (of model dan).

Die ander ding wat my pla is dat die spesies duidelik onderskeibaar is.  Weens die aanpasbaarheid van organismes, sou lukrake mutasie as een van die drywers geld, mens sou dink dat 'tussengangerspesies' sou gedy maar daar is niks van die aard nie en dit slaan weer vir my 'n duik in lukrake mutasie.  Jy kan dalk hierdie beswaar, as jy dit so kan noem, van my besweer deur te wys op die inherente diskriminasie in spesies; niemand sal byvoorbeeld wil trou met 'n vrou met 3 vingers, of vier borste (mind you ...) nie maar ek glo nie dit sal water hou nie.  Op hierdie manier sou daar genoeg mutante gewees het sodat mens nie meer sou kon onderskei watter is mutante en watter organismes is 'normaal' nie.

Dan is daar die halfpadmerkstorie.  As iets van 'n eenvoudige organisme evoleer het na 'n ingewikkelder organisme moet daar noodwendig 'n halfpadmerk wees.  Hoe lyk die halfpadmerk van organismes wat metamorfeer?  Hoekom hoegenaamd 'n proses soos metamorfose ontwikkel; dis mos gevaarlik dan nie?  Vir 'n groot deel van die organisme se lewensiklus is hy 'n hulpelose papie en selfs die rusper is taamlik weerloos.  Ek moet sê, iemand hier op SêNet het al vir my verklaring hiervoor gegee wat vir my nogal sin gemaak het maar ek het vergeet wat dit was, ek moes dit seker nie volledig begryp het nie.

Parasiete is 'n groot raaisel.  Hoe is die parasiet geselekteer wat die mier se senustelsel indring om sy gedrag te verander?  Het dié uitgesterf wat dit nie goed kon regkry nie?  Kan nie wees nie, want hoe het hy dan in die eerste plek in die skaap (of watter soogdier ookal sy ander gas is) beland?  Hoekom hoegenaamd so 'n ingewikkelde lewe 'kies'?  En hoe gebeur dit dat hy gaste in sy siklus het wat millennia uitmekaar op die evolusieleer is?

Dis nou genoeg vir eers.

Groetnis

Jan Rap

  • 7

Kommentaar

  • Jan Rap

    Dis alles geldige vrae wat jy vra en ek glo daar is baie meer gekwalifiseerde mense as ek om jou te antwoord. Ek vertrou maar Angus en kie sal my beperkte antwoorde kan aanvul.

    Die evolusionêre proses is ’n langsame proses en natuurlike seleksie het nie ’n spesifieke einddoel voor oë nie. Om jou oogpister voorbeeld te gebruik. Die aanpassings waardeur die oogpister gegaan het om te kom waar hy vandag is, het oor ’n geweldige lang tyd plaasgevind. Elke opeenvolgende geslag het so min van die vorige geslag verskil dat die verskille onbeduidend was. Sommiges van elke nuwe geslag het glad nie verskil van die vorige geslag nie. Natuurlike seleksie het veroorsaak dat dié met die beste oorlewingseienskappe oorleef en daardie eienskappe aan die volgende geslag oorgedra. Natuurlike seleksie het dus nie besluit dat ’n toksiese spuitapparaat ontwikkel moet word in plaas van verbeterde vlerke nie. Dit het natuurlik ontwikkel oor ’n baie lang tyd. Dalk het daar spesies ontwikkel met beter vlerke maar hulle woon heel waarskynlik nou na miljoene jare in ’n ander onherkenbare gedaante onder ons. Die oogpister dui baie duidelik op die afwesigheid van ’n intelligente ontwerper.

    Die onintelligente proses van natuurlike seleksie gaan meedoënloos voort met geen voorkeure of afkeure nie. Die gemeenskaplike voorouers van ons en die sjimpansees het rustig hulle gang gegaan en nie hulle of natuurlike seleksie het enige idee gehad dat ek en jy en die sjimpansees sou ontwikkel nie. Ek het in 2010 in Uganda sjimpansees in hulle natuurlike habitat beskou en gewonder of hulle simpatiek na ons gekyk het met ons onvermoë om in bome te swaai en van die veld te lewe. Die mens is allermins die kroon van die skepping en dis ’n godsdienstige konstruk wat deur wetenskaplik-oningeligte mense in stand gehou word.

    Ek vertrou maar die kundiges gaan verdere opklaring verskaf. Indien nie sal ek beslis so tussen die studies deur verder wil gesels – my promotor druk my so bietjie vir ’n volgende hoofstuk!  

    Groetnis
    Thomas

  • Jan Rap:

     
    Gaan lees daardie webwerf waarna ek in 'n vorige kommentaar verwys.

     
     
    Jy volg nou die tipiese kreasionistiese werkwyse: vra 'n dosyn vrae en sit agteroor en wag dat hulle geantwoord word, en daarna vra jy NOG 'n dosyn, en so aan, ad infinitum en ad nauseum. Antwoorde op feitlik al jou vrae is vrylik beskikbaar in handboeke en op die web. 
     
    Een van die voordele van metamorfose is dit: die larwes leef gewoonlik van heeltemal ander voedsel en selfs in 'n heeltemal ander habitat as die volwassenes. Dit beteken dat daar nie kompetisie ontstaan tussen volwassenes en larwes nie, wat beteken dat die volwassenes baie groot hoeveelhede eiers kan lê. Om miljoene kinders te hê is een van die strategieë wat organismes volg om hul voortplanting te verseker. (Die ander strategie is om klein hoeveelhede kinders te hê maar baie beter na die kinders om te sien - dit is die strategie wat breedweg deur soogdiere gevolg word.)
     
    Dit is nie dat jou vrae swak of irrelevant is nie, maar meeste van hulle is reeds heel bevredigend geantwoord. 
     
  • Ek hou van Thomas se respons.  Beleefd en eerlik. Die ander loop die gevaar waaroor fundementalistiese Christene beskuldig word, nl.  onverdraagsaamheid, alwetend en neerhalend teenoor eerlike soeke na waarheid, hetsy in ewolusie of in godsdiens, antwoorde te vind.

    Jaco Fourie

  • Beste Jan Rap
     Een van die aspekte in die  “On the Origin of Species  wat my getref  het, was dat Darwin deurgaans die rol voldoende tyd by evolusie beklemtoon maar dat hy dan op beskeie wyse verwys na  ‘honderde en duisende jare’.  As Darwin en sy tydgenote maar wis hoe oud die aarde en lewe werklik is en hoeveel tyd evolusie regtig tot sy beskikking gehad het.
    Indien jy die geskiedenis van elke tien jaar van die aarde op ’n posseël van 20 mm x 20 mm sou kon skryf en jy sou dan elke tien jaar se seël langs die vorige een plak, dan sal die lengte van jou ry seëls elke 1 000 jr. met slegs 2 meter groei en elke een miljoen jaar met so min as 2 km. Maar na 4,5 miljard jaar sal die lengte van die ry seëls darem al 9 000 km wees— min of meer van Kaapstad tot by Parys (Frankryk) en dis waar ons min of meer nou staan met tyd.
    Thomas se wenk om Dawkins se uitstaande boeke oor evolusie te lees (2 Oktober 2012) wat baie van jou geldige vrae sal opklaar, is uitstekende raad en ek stem saam dat geoordeel aan jou bydraes hier op SêNet, jy Dawkins se styl en onderwerpe sal geniet ongeag of jy met hom saamstem al dan nie. Dawkins se vermoë om moeilike begrippe te verduidelik is indrukwekkend. Sy boeke is deesdae op verskeie ‘E-readers’ o.a. IPad en Kindle teen billike pryse beskikbaar.
    Dawkins opsommend: Benewens die doktorsgraad in Wetenskap wat hy in 1989 aan die Universiteit van Oxford verwerf het, is hy die houer van 12 eredoktorsgrade van die beroemdste en verskillende universiteite oor die wêreld heen en is hy ook vereer met sowat 15 gesogte pryse en ander toekennings  op wetenskaplike terrein. Time magazine het hom in 2007 as een van die 100 mees invloedrykste mense in die wêreld benoem en hy is 20ste geplaas in The Daily Telegraph se lys van 100 lewende genieë.
     Groete
     Panda

  • Thys Human (PTA)

    Jan Rap, ek het Donderdag al hier 'n reaksie op jou inset gepos, maar nugter weet waar dit is. Ek sal moet leer om kopiee van my insette te hou totdat dit verskyn het want ek sien nie kans om alles weer oor te tik nie.

     
    Maar kortliks het ek vir jou probeer vertel dat evolusie - totaal anders as die aksies van 'n beweerde skeppergod - geen doel of plan of logika of sin het nie - dit is net, dit gebeur net. Daar word hoegenaamd nie aangevoer dat "natuurlike seleksie en oorlewing van die geskikste" die beste of hoogste of perfekste produk oplewer nie - inteendeel, dit kan juis as een van die bewyse van evolusie gesien word dat die produkte NIE perfek is asof dit deur 'n "intelligente ontwerper" beplan is nie. 'n IO sou nie vir die oogpister die omslagtige warmstraal gegee het nie, maar 'n ander soort verdedigingsmeganisme. Duidelike bewys van die nie-bestaan van die IO!
     
    Jou opmerkings oor oorgangsfossiele en die "halfpadmerk" van fossiele getuig nie alleen van onkunde oor wat al gevind en in derduisende wetenskaplike artikels en verhandelings beskryf is nie, maar is so tipies van kreasies se onwilligheid om te aanvaar dat daar sulke oorgangsorganismes is en was want dit voldoen nou nie aan wat HULLE as oorgangsgoed beskou nie. Ek dink bv dat julle kreasies dink dat 'n oorgangsfossiel tussen mens en oeraap sien as iets wat helfte mens en helfte aap is - met hare aan die eenkant en niks aan die anderkant!  Dis ongelukkig nie hoe evolusie werk nie.  Jou paragraaf oor parasiete is lagwekkend. 
     
    Asb JanRap, gaan lees dan net iemand soos Jerry Coyne se Why Evolution is True en selfs Gould se taamlike ou Wonderful Life (kry die geillustreerde uitgawe as jy kan).
     
    Jaco, ja ek is dikwels ongeduldig met mense soos JanRap en Driesie want hulle hou aan om dieselfde ou vrae en argumente tot vervelens te herhaal al word hulle tereggewys. En as ek sekere boeke en werke aanbeveel is dit juis omdat ek graag wil he^ dat mense lees en leer - nie uit "alwetenheid" nie. Maar jou soort opmerking is tipies van die banggat kreasionis wat nie kans sien om sy eie sieninge hier te stel nie. Dis tipies van 'n tref-en-trap benadering.
     
    En dit is neerhalend bedoel! 
     
     
  • Toemaar Thys.

     

    HeHe! Jy skryf oor my:  " Maar jou soort opmerking is tipies van die banggat kreasionis wat nie kans sien om sy eie sieninge hier te stel nie".  Heel  duidelik ken jy my nie hier op die Net nie, want ek is op rekord dat ek homo-ateis is en die bevindinge in ewolusie onderskryf.  Die verskil.  Die aanvaarding van ewolusie al dan nie, is vir my nie lewensbelangrik nie.  Nie 'n plaasvervanging van godsdiens soos dit in jou geval blyk te wees nie (jou heftige optrede bewys dit).  In teenstelling.  Thomas benader die onderwerp adademies objektief, nie asof dit 'n soort van godsdiens is nie, en is nederig genoeg om sy tekortkominge insake die onderwerp te erken. 

     

    Maar van jou het ek heelwat kennis opgedoen.  'n Verregse Praag soort ondersteuner (of is dit gewees?) .  Met een voet in verligte ateistiese denke en die ander in verregse verkrampte politieke onkunde, selfs kapsie gemaak dat die Afrikaner Owerheid deur godsdienstiges oordonder word.  Terloops wat het geword van hierdie "parlement?"  Vanaf sy ontstaan (indien dit nog bestaan) niks verder gehoor nie!

     

    En soos jy self erken dat jy jouself verhemel (die eie ek, "ego ami") dat jy met veragting kan skryf:

    "En dit is neerhalend bedoel!"  HeHe  Temper Temper!  Dont throw the toys out of the cot

    Om af te sluit. Ek is skoon verbaas dat jy Jan so heftig kan aanvat, want julle twee is mos politieke broers.

     

    Jaco Fourie

  • Thys Human (PTA)

    Jaco, ons praat nou evolusie (en eintlik godsdiens) - nie politiek nie. As jy enigsins behoorlik na my rekord kon kyk sal jy sien dat ek juis die bekrompe en eng sieninge van instansies soos die VVK aanvat omdat hulle dink en verkondig dat 'n mens slegs 'n Afrikaner kan wees as hy in die Bybel glo en lid van een van die Afrikaanse kerke is. Ek - en heelwat ander - is bewys dat dit nie waar is nie.

     
    En juis daarom neem ek hier op 'n Afrikaanse webwerf - en op Afrikaanse media se webwerwe - deel aan debatte oor sake soos hierdie. Baie van hierdie mense is goeie en weldenkende Afrikaners - in 'n politieke sin - maar helaas so oningelig en bygelowig en bekrompe in 'n wetenskaplike en godsdienstige sin. Ek probeer net bietjie leer en denke oopmaak.  Soos my vriend Armando graag aanhaal: "'n brein werk net as dit oop is". 
     
    As ek jou inset as "kreasionisties" beoordeel het is dit omdat dit vir my voorgekom het as 'n indirekte aanval op my en andere wat hulle saak oor evolusie duidelik en reguit en ferm stel.  Julle "liberales" se "softly-softly" benadering werk nie met hierdie wetenskaplik en godsdienstige verkramptes nie.
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top