Vir Reney Warrington en Anoeschka Von Meck oor Vaselinetjie se resensie van 11 September

  • 5

Beste Reney en Anoeschka en almal betrokke by die maak van Vaselinetjie

Ek skryf omdat ek, ná Reney se resensie van 11 September (https://www.litnet.co.za/vaselinetjie-die-kyknet-silwerskermfees-2017/), en Hanno Visagie en Hans Richardt se snedige kommentaar, sowel as Anoeschka se sagte antwoorde daarop, voel dat ek iets móét sê, nadat ek die fliek die afgelope naweek gaan kyk het.

In die eerste paragraaf beskryf Reney die fliek as “... ’n lieflike, opbouende film met ’n vars invalshoek in die rassespanning wat ons elke dag voel.” Verder aan sê sy die film het “… die harwar van ’n kinderkoshuis perfek vasgevang …”

Die fliek is egter méér as net ’n koshuisfliek, dis ’n film oor kinderhuiskinders wat deur die staat uit meesal disfunksionele huislike omstandighede van hul ouers weggeneem word en hiér in die kinderhuis geplaas word. En hierdie kinderhuislewe is nie vir sissies nie.

Ek wéét, want ek het op ’n Bolandse dorp saam met kinderhuiskinders skoolgegaan en skouer geskuur vanaf graad 5 tot graad 12. (Die Weeshuis het ons dit genoem!) En daar wás kinders van gemengde afkoms; en daar wás kinders wie se ma’s prostitute was; en ja, hulle ís name genoem soos in die film. En name vir blas kinders het nié agtergebly nie. Dit wás soos dit was.

Kinders is wreed en die dorpskinders het meer as dikwels neergesien op die kinderhuiskinders en hulle is gebrandmerk as outsiders en minderes. Ou afgeremde klere en uniforms het bygedra tot hul laer status en sommige onderwysers het hulle nie gespaar nie. En om na die dorp se winkels toe te kon gaan was die absolute uitsondering. Net Sondag kerk toe waar die dominee se toorn ook nog op hul uitgehaal is as hulle nie stil gesit het nie.

Die film Vaselinetjie is dus vir my, wat so ’n effense kykie in die lewens van kinderhuiskinders ervaar het, ’n lewensgetroue weergawe van hierdie kinderhuislewe. Dis ’n blik op jong tieners en ouer tieners wat te midde van hul minderwaardige en gebrekkige agtergrond, en in dikwels vyandige omstandighede vir hulself ’n pad in die lewe moet uitkap. Dis ál waaroor Vaselinetjie gaan.

Hanno Visagie verwys na die film as “...’n links-humanistiese propaganda-poging ter versmelting van die Khoi-San- en Afrikaner-etniese volksgroepe en -identiteite ...” en dan gaan draai hy by “… Babel, satan, die Antichris, wêreldstaat, valse profeet, volkskulture, vergryp teen God se orde, bose lewenswyse, kruipsugtige Afrikaner-ontkenners …” en wat nog!

Hans Richardt weer slaan die politieke korrekte kitaar tot die snare pap is. Eintlik is sy kommentaar só onsinnig ’n mens wil saam met hom verlang na sy groot gunsteling van die Staccatos: “Don’t you feel like crying, don’t you feel like crying, come on baby, cry to me.”

Wat my heeltemal verstom, is wanneer mense soos Hanno en Hans só behep raak met hul politieke ras-ideologie, dat hulle elke kans gebruik om dit aan die maspaal vas te spyker, selfs wanneer dit hóégenaamd nie die geleentheid daarvoor is nie.

In hierdie geval het nie een van hulle twee die moeite gedoen om ten minste eers na die film te kyk, voordat hulle ’n mening daaroor gee nie. Daarbenewens maak beide sulke vergesogte aannames oor die “boodskap” van die fliek, dat ’n mens saggies aan die ween wil gaan oor die absurditeit daarvan.

Anoeschka, jy verdien vyf sterre vir jou uiters beleefde én beskaafde response op die snedige kommentaar. Wat ’n mooi voorbeeld is jy vir ons almal!

Reney, jy het in jou respons gesê dat jy nie woorde het nie. Net so het ek my vrek gesukkel met hierdie skrywe, want wragtig, ’n mens het nie woorde hiervoor nie.

Groete

Dirk

 

  • 5

Kommentaar

  • Hans Richardt

    Luister nou mooi vir my. Ek het die ding met haar kunsfliek deurgetrap. Ek wil en hoef nie van hierdie fliek te hou nie.

  • Reney Warrington

    Hi Dirk. Ek sien nou eers hierdie brief, maande te laat. Dankie vir jou insae, veral in terme van koshuislewe. Ek sukkel om te reageer op mense wat opinies het oor 'n film wat hulle self nog nie gesien het nie en het dus nie op die kommentaar gereageer nie. Dankie weereens.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top