Vir Panda oor die ruimte daarbuite

  • 0

Sjoe Panda, dankie vir die interessante inligting oor die asteroïede wat die aarde so volg. Ek het twee weke terug die voorreg gehad om deur ’n groot teleskoop te kyk na Jupiter en sy mane. Dit was in Namibië naby Sossusvlei. Hierdie plek is geleë in die Namib Rand Privaat-natuurreservaat. Daar was ’n sterrekundige van Amerika wat gratis sy dienste lewer deur vir die gaste wat belangstel te vertel van die wondere van die kosmos.

Ek weet nie wat my die meeste beïndruk het nie, die wondere daarbo of die fantastiese teleskoop wat hy net programmeer en dan zoem die ding rond en fokus vanself op die regte plek! Jupiter en sy mane was vir my ’n hoogtepunt en die gasringe om Jupiter was duidelik sigbaar. ’n Mens dink altyd dis net Saturnus wat ringe het, maar hier was dit so duidelik sigbaar deur daai fantastiese teleskoop. Natuurlik was die toestande ook ideaal: donkermaan, geen stadsligte, net stilte en die sterre wat soos diamante blink in die donkerte.

Geen wonder ’n mens raak so vasgevang hierdeur nie. Dis vreemd om te dink dat ouens soos Bruno, Galileo en andere na dieselfde hemel getuur het en uiteindelik vir ketters uitgekryt is oor hul bevindings! Ek wonder waar sou hulle vandag inpas. So jammer daar is so ’n onreg aan hulle gedoen!

Nietemin, ek loer nou maar hier deur die stadsligte met my verkyker na die sigbare goed daarbo en moet maar my kans afwag om weer so ’n voorreg te belewe!

Groetnis

Perdebytjie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top