Vir ’n verandering stem ek saam met Jaco Fourie

  • 0

Al is ek self nie ’n gelowige nie, maar wel ’n voormalige NGK-lid, stem ek saam met Jaco Fourie: Daar is geen manier hoe die kerk homoseksualiteit kan goedpraat sonder om skriftuurlike riglyne te ignoreer nie. Dit geld nie net gays nie. Dominees wat hulself byvoorbeeld aan owerspel skuldig maak, word ook gereeld uit die amp ontslaan.

So ook stem ek saam met Jaco Fourie dat dit amper ’n verleentheid is om te sien hoe gays teen wil en dank wil deel wees van ’n groep wat hulle duidelik nie daar wil hê nie. Waar's die Gay Pride nou heen, gay dames en here? Kry bietjie ruggraat, want dis vernederend om jouself te moet opdwing aan diegene wat jou nie soek nie. As jy dan regtig moet aanbid, stig gerus jou eie kerk, maar soos Jaco Fourie sê, ’n gay-kerk amper ’n parodie van die ware Jakob.

Ek meen persoonlik dat die opdwingery van gay-predikante aan die NGK bloot deel is van ’n groter veldtog, wat onder andere die gedwonge aanvaarding van die Boesakbelydenis insluit, om een van die laaste oorblywende Afrikanerinstellings stelselmatig op sy knieë te dwing en te vernietig, deur sy lidmate toenemend van die kerk te vervreem. Al wat die polities-korrektes onder die NGK se dominees wat so geagiteer het vir die Boesakbelydenis en die sinode gedwing het om daardie stuk struggle-teologie te omarm, gaan vermag, is om die kerk weer eens te laat skeur. Alhoewel die sinode die Boesakbelydenis aanvaar het, moet individuele gemeentes dit ook aanvaar, en ek is oortuig dat bitter min gemeentes so sal maak.

Wat was dus die doel met die Boesakbelydenis behalwe om tweespalt te saai, nes die alewige gay-stories in die NGK ook verdeling veroorsaak? Wat het geword van die konsep van vrye assosiasie? As ek nie daarvan hou om langs knoffeleters op vliegtuie te sit nie, waarom moet enige kerk, ook die NGK, onder dwang assosieer met diegene waarvoor hy nie ooghare het nie?

Anton B

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top