Vir mans deur Johan Ferreira: ’n resensie

  • 1

Vir mans: Rus jouself toe om vervuld te leef
Johan Ferreira

Lux Verbi, 2019
ISBN: 9780796317902

Terwyl Cas van Rensburg se Mans en hulle wonde Jungiaanse lig op manlikheid en manlikhede laat val en Theo Kemp in Strafjaart verwys na afwesige manlike vaderfigure en rolmodelle as ’n belangrike oorsaak dat mans in die gevangenis beland, fokus Johan Ferreira se Vir mans: Rus jouself toe om vervuld te leef ook op manwees. As bekende Johannesburgse voorligtingsielkundige bespreek hy onderwerpe waarmee hy in die spreekkamer te doen kry.

Die verhalende trant waarmee hy ’n reeks situasies skets waarmee mans te doen kry, en hulle simptome, maak die boek toeganklik. Ferreira is reg wanneer hy inleidend sê dat jy jou waarskynlik êrens in die boek gaan raaklees. ’n Wye verskeidenheid kwessies wat breedweg met manlike identiteit vervleg is, kom ter sprake. Die rol wat manlike sosialisering hierin speel, is belangrik, omdat dit tot gevolg het hoe “manlikheid” uiteindelik gekonstrueer word.

Wanneer die onderwerp van angs byvoorbeeld behandel word, sê Ferreira dat mans geneig is om “dit weg te steek of te internaliseer omdat dit nie as baie manlik beskou word om angstigheid te beleef nie”. Daar moet dus “na die ware identiteit van die man gekyk en besef word dat mans ook kwesbaar en bang kan voel”. Dis in die aanvaarding van dié emosie dat die antwoord lê (en ook, sou ’n mens kon byvoeg, in die integrasie van ander emosies).  

Dis hier waar die dilemma met manlike sosialisering lê: Mans is meestal nie ’n taal aangeleer om emosies te verwoord nie en dus sukkel hulle om op ’n ervaringsvlak te deel. Dit skakel met afwesige pa’s wat hier, soos in Strafjaart, ter sprake kom. Ferreira noem dat manlike identiteit grootliks aan werksukses gekoppel word en moedig ’n meer gebalanseerde uitkyk aan.

Ferreira gee in sy vertellings leidrade oor hoe hy die spreekkamersituasies hanteer het. Hy poog dus om ’n ruimte te skep vir selfrefleksie na aanleiding van die scenario’s wat hy skets. ’n Paar vrae dien telkens as hulpmiddel om jouself te toets in terme van die simptome wat bespreek word.

Die boek is in verskillende afdelings verdeel wat gaan oor verhoudings, verslawing, gemoedsprobleme, lewensfase-uitdagings en traumatiese ervarings. Situasies wat aan die orde kom, wissel van reeksverneukery tot afpersing na ’n buite-egtelike kuberverhouding, ’n lewensmaat met demensie, pornografie-, dwelm- en tegnologieverslawing, bipolêre gemoedsteurnis, posttraumatiese stres, loopbaankeuses, ’n middeljarekrisis, oefening, vriendskap, selfvertroue, aftrede, verhuising, kanker en nog meer.

Moenie indringende ontleding hier verwag nie. Cas van Rensburg kan ons waarskynlik meer daarmee help. Jy sal waarskynlik wel weerklanke van jou eie ervarings raakhoor in hierdie boek. Dit kan jou stem tot bestekopname en nadenke oor waar jy jou bevind. Jy kan ’n paar stimulerende gedagtes kry wat jou situasie verhelder en volgende stappe aandui.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top