Dagsê Jaco
Jou brief die 'Nuwe Afrikaner' van 17 deser verwys.
Jy praat die waarheid waar jy sê, en ek haal aan, " ... die Afrikaner het moeg geword vir leë beloftes wat ooglopend nie nagekom kan word nie." Van eie skole byvoorbeeld het niks gekom nie en dit is maar onder andere; jy kan seker die plakkate onthou voor die referendum.
Behalwe dat beloftes nie nagekom is nie, het alles waarteen, wat jy die gekkegrens noem, gewaarsku het: Misdaad, korrupsie, die verval van infrastruktuur en 'n afskaal van Afrikaans. Daar gebeur dit toe selfs erger as jou 'gekkegrens' se ergste nagmerries; nie net word skole NIE gedeel nie maar hulle verdwyn sommer en daarmee saam die Afrikaanse kolleges en universiteite, wrede moorde word met reëlmaat gepleeg op plaasboere (hier by die 3 000 verstaan ek al teen die tyd), Afrikaanse dorp- en straatname word weggevee en Afrikaans verdwyn heeltemal uit die openbare lewe; jy kan nie eers meer Afrikaans praat met die belastinggaarder nie.
Verder word regstellende aksie ingestel (hoe anders met die kerke en politici se gebieg oor uitbuiting en onderdrukking) en het so handuit geruk dat briljante Afrikaanse skoliere nie eers universiteitstoelating, of selfs werk, kry nie.
Geen wonder Afrikaners, wat eers niks wou weet van 'n volkstaat nie, dink nou ernstig daaraan. Die wat reken dis onmoontlik, vat hulle goed en verkas oorsee. Afrikaners is baie belowe maar uiteindelik, vir hulle goedertrou, word hulle beloon met 'n mislukte staat en dan is hulle nog boonop persona non grata in einste.
Jy verlekker jou in die feit dat PRAAG nou soveel minder trefslae kry. Wel, een goeie rede kan wees dat 'n groot gros nou bekeerdes is; hulle weet nou wat die ware toedrag van sake is. Nog 'n rede is dat alle webbesoeke maar afgeneem het; SêNet het op 'n stadium oor die 70 briewe per dag gehad en nou is daar daagliks so vyf of ses.
Daar kan nog ander redes wees maar wees verseker, dit is nie omdat die volkstaatidee verdwyn het nie want die versugting na 'n volkstaat word al hoe groter. Hoe anders? Ons word dan, soos ek hierbo aangetoon het, elke dag vertel dat ons onwelkom hier is. As jy wat Jaco is teen 'n volkstaat is, is jy bloot dikvellig; hoeveel skimpe moet jy nog kry dat jy nie hier verdra word nie? Selfs Akademia, waaroor jy so bly is, is een van die manifestasies na 'n strewe vir die eie en is gebore juis uit die feit dat die Afrikaner totaal uitgeskuif word.
Jan Rap


Kommentaar
Ou Rapsie
Jy steek vas in die verlede my ou. Jy gebruik diesefde afgesaagde argumente tot ad nauseum. Soos Thomas reeds gesê het, julle soort sal nooit by die toekoms uitkom nie. Ten minste het jy erken dat Roodt se populariteit afgeneem het. Jou gesublimeerde argument dat alle web-trefslae het afgeneem, hou natuurlik nie water nie. Hy is juis die een wat uitdruklik gesê het, net na Zuma ingekom het, die Afrikaner het sy onafhanklike volkstaat binne 5 jaar. Die 5 jaar is nou amper om met geen volkstaat in vooruitsig nie. Dit is soortgelyke leë beloftes waarna ek in my brief verwys het.
Jy sê dat ’n versugting na ’n volkstaat word al hoe groter. Wat is jou inligtingsbron? Moet nie weer die verouderde Beeld-polsslag aanhaal nie, want sedert dit, het die Afrikaner met dreunende voete DA gestem as verdere bewys van sy misnoë met die gekkegrens tipe politiek. Die Mulder familiesaak (VF+) is selfs deur AfriForum daarna op UP kampus vervang.
Ou maat, jy sê ek word nie verdra nie, die vorige skimpe deur jouself word nou deur jou reguit verwoord. Kyk ou. Ek het nooit hier populariteit gesoek nie. Dat ek veral onder gekkegrensers onpopulêr is, skeel my min. Hulle is ook suur omrede hulle nie meer die alleenreg tot politieke uitdrukking hier op die Net ondervind nie, soos dit ’n paar jaar gelede die geval was.
Indien jy aan Afrikaner-selfbemagtiging wil deelneem, ondersteun die enigste Afrikaner-organisasie wat die vermoë het om bewysbare resultate vir Afrikaners te kan bekom. Die gekkegrens politiek is steriel met geen vooruitsig van enige vorm van sukses nie. Hulle is so bekend vir hulle kleinlike geskille (infighting) onderling, was dit nie tragies nie, sou dit lagwekkend gewees het.
Terloops Jan. Afgesien van ons venynige politieke verskille, hou ek steeds van jou.
Jaco Fourie