Dit verstom my dat ons hier op die Net Afrikaners kry wat nog wil voorskryf wat en wie is Afrikaner, asof hulle gesagsposisies beklee om sodanige stellings te kan maak. Sonder uitsondering, vorm hulle deel van die Afrikaner-gekkegrens, ‘n vokale minuskule minderheid onder ons volksgenote. Hulle kan ook nie besluit of hulle Afrikaners is of te wel Boere nie, gewoonlik besluit hulle op laasgenoemde om hulself van die meerderheid van hulle volksgenote te wil distansieer.
Maar hulle is vinnig besig om van die toneel te verdamp.
Neem nou Praag as voorbeeld. ‘n Paar jaar gelede het Dan Roodt se rubrieke tot soveel as 8000 trefslae getrek. Hierdie jaar sukkel hy om ‘n 1000 per rubriek te kry en sy laaste 8 rubrieke veel onder 1000. Kranige ondersteuners, met amper net soveel rubrieke as Dan, soos Anton Barnard het verkas, met laasgenoemde se laaste rubriek Feb hierdie jaar. Die laaste van die volkstaat-konsep gehoor was Johan Wingard se rubriek 20 Jun 11 met 3611 trefslae. Selfs Thys Human (nou ook hier op SêNet) se laaste rubriek was Jan 11.
Wat het almal van hulle in gemeen. Die VOLKSTAAT. Die AWB wil die hele TVL; Vrystaat en Natal Vryheid distrik vir die Afrikaner terugneem. Roodt kan nie besluit waar nie, (selfs in die moerasse van Meklenburg, Duitsland ondersoek), maar sy keuse is verkieslik die “Pretoria tot Port Elizabeth”-konsep. Dan kry ons nog ook die Geloftevolk, die Suidlanders, Boereorde, en nog omtrent 10 ander. Elk geskaar om ‘n eie profeet, en van hulle selfs hulle eie uniform soos die AWB en die Suidlanders.
Maar die Afrikaner het moeg geword vir leë beloftes wat ooglopend nie nagekom kan word nie. Moeg om met elke negatiewe geleentheid deur die gekkegrensers emosioneel opgesweep te word. Moeg vir kleinlikhede rakende mede-Afrikaners. Moeg vir die Mulder familie-saak (VF+). Hy soek nou eerder ‘n vaste betrekking en ‘n veilige heenkome vir homself en sy gesin as eerste prioriteit. Daarna ordentlike opvoeding vir sy kinders. Sy soeke is ook na vreedsame naasbestaan met ander volkere en rasse hier in SA, nieteenstaande die gemors, wat nie net die Afrikaner, maar ook die ander burgers van die land hulself tans in bevind.
Solidariteit / AfriForum is tans besig om aan hierdie verwagtinge te voldoen: “Met Akademia wil ons bekostigbare gehalte-onderrig gee wat deur middel van ’n telematiese onderrigmodel landwyd toeganklik is. Só wil ons werkende Afrikaanse jongmense verdere opleiding gee. Akademia het vanjaar met 50 studente begin en bied tans 30 vakke in vier studierigtings. Daar is ses studiesentrums landwyd en volgende jaar wil ons 500 studente inneem. Akademia is een van die vier bene van ons opleidingsfokus. Die ander is Sol-Tech, waar ons jongmense met tegniese vaardighede toerus en volgende jaar begin ons aan ons opleidingskampus bou. Ons ander fokus is ’n opleidingsfonds in samewerking met Virseker en bydraes van ons lede. Ons wil ’n duisend beurse gee vir behoeftige studente wat wil studeer.” (Flip Buys – Rapport 14 Okt 12).
Die ou politieke bedeling en sieninge bestaan nie meer in die Afrikanerwese nie. Eerder as om van die Nuwe Suid-Afrika te praat moet daar van die Nuwe Afrikaner gepraat word.
Flip Buys eggo die Nuwe-Afrikaner-gevoel: “Ek is ’n Afrikaner, ’n Afrikaanssprekende en ’n Suid-Afrikaner en meen dis moontlik om al die identiteite 100% uit te leef.” (Rapport 14 Okt 12) ‘n Verdere seining van Flip: “Ek hou van mense wat self dinge doen. Hier is gereeld mense wat bel en sê: ‘Julle moet’, of ‘hulle (die regering) moet’. Daar is maar min ‘Ons moet’-mense. Ek verkies om met ‘ons moet’-mense te werk.” En daarby voeg ek “HOOR! HOOR!”
Jaco Fourie


Kommentaar
Jaco
Ek deel jou versugting na die nuwe Afrikaner. Die ou Afrikaners (of Volkstaters of Boere of wat ook al) is so besig met die verlede dat hulle nooit by die toekoms gaan uitkom nie.
Viva nuwe Afrikaners!
Groetnis
Thomas
Beste Jaco,
Ek onderskryf jou idees oor die nuwe Afrikaner, en hulle is die geslag wat sal oorbly nadat die huidige sestigjare + geslag wat hunker na die verlede in die graf sal wees.
Beste groete,
Pieter Redelinghuys
Jou feite en jou afleidings en jou wensdenkery is almal op ’n ry verkeerd – selfs verdraai.
Sal jy asb. ook antwoord op die feite wat ek elders gestel het oor Afriforum se weiering om selfs eens net gesprek te voer met verteenwoordigers van ’n hele aantal organisasies.
Daar is op die oomblik op Praag ’n hele inset waarin Flip Buys van Solidariteit/Afriforum skerp gekritiseer word vir sy afwysende houding teenoor Afrikaners en sy klaarblyklik geheul met mense wat eintlik anti-Afrikaner is.
Terloops, jy is verkeerd oor my deelname aan Praag. Ek het verskeie artikels en berigte geskryf – nie almal daarvan het onder my naam verskyn nie – en ek neem gereeld aan die debatte deel – met presies dieselfde houding en standpunte as wat ek hier inneem. Ek het juis hier op SêNet begin deelneem om mense soos jy in die bek te ruk met hulle skewe politiek en wanvoorstellings van wat die Afrikaner wil ...
Daar is nie so iets soos ’n "nuwe Afrikaner" nie – daar is wel ’n hele klomp wat in die verlede as Afrikaners bekendgestaan het wat dit nie meer wil wees nie en nou by elke geleentheid op die Afrikaner vloek – soos jy en Thomas eintlik hier doen. Gaan heen en stig julle nuwe groep – dalk julle nuwe politieke party, maar kry ’n ander naam. Julle sal steun kry – maar net van die lamsakkiges, die hensoppers en die verraaiers van ons tyd.
Thomas
Dankie vir die positiewe respons.
Jaco Fourie
Beste Jaco
Dankie vir 'n baie nugter, oopkop skrywe. Dit laat my sommer weer positief voel oor wie ek is en waar ek inpas.
Groetnis
Perdebytjie
Afrikaner Selfbemagtiging
In ’n respons op ’n vorige skrywe van my maak Thys Human die volgende aantuigings:
Wel. Elkeen is geregtig om ’n gek van homself te maak. Die dat die term gekkegrensers juis is.
As gevolg van Solidariteit / AfriForum se inisiatiwiteit sowat ’n jaar gelede, is die volgende samewerkende organisasies onder die Taalraad se sambreel saamgesnoer, onder andere die Orania beweging:
Medewerkers
AfriForum is gedurig in die nuus. Die ander “out of sight, out of mind”:
AfriForum in die nuus op 11 Oktober 2012 - 11 Oct 2012
AfriForum in die nuus op 26 September 2012 - 26 Sep 2012
AfriForum in die nuus op 25 September 2012 - 25 Sep 2012
AfriForum in die nuus op 24 September 2012 - 24 Sep 2012
Hulle is besig met die oprigting van eie Afrikaanse skole en kolleges. Het selfs hulle eie radiostasie. Hulle wen die een hofsaak op die ander tot die ANC se verleentheid.
Al wat Thys se mense kan doen is praat, praat en nog net verder praat. Van daadwerklikheid weet hulle niks van nie.
Thys. Ek kom met FEITE voorendag. Jy kom voor met AANTYGINGS. Nou wie dink jy gaan die leser glo?
Jaco Fourie
Jaco ek sou graag die volgende vrae aan jou wil stel: Wat is jou mening rondom die samewerkingooreenkoms tussen Solidariteit en FW de Klerk? Hoe sien jy dit dat Solidariteit sy mense aanmoedig om vir die DA te stem in die vorige verkiesing? Die ATKV wat nou deur ’n dialek van Afrikaans ingedring is, en by implikasie oorgeneem is. Dan iets wat my besonder naby aan die hart lê, Die FAK sangbundel wat voorheen deur Afrikaner digters en bekende musici, wat die lirieke getoonset het nou "nuwe" liedere wat nie volkseie is geinfiltreer word juis om asgevolg van die infiltrasie van dialektiese Afrikaanssprekendes moontlik gemaak is. Waar gaan julle die streep trek? Wie beskou jy as deel van die Afrikanervolk en wie nie?
Leonie
Dankie vir jou respons.
Ek gaan jou beantwoord op ’n ander skakel waar ek meer insake Thys Human se aantyging teenoor myself en AfriForum, verder gaan uitbrei. Hopelik sal dit 23 Okt 12 uitkom.
Vriendelike groete
Jaco Fourie