Vir eensgesindes en gelykgestemdes: Jerzy Koch se Polkadraai

  • 1

Polkadraai
Jerzy Koch
Uitgewer: Turksvy Publikasies
ISBN: 978-0-6397-2418-8

Koop die boek by Graffiti.

Die omslag van Jerzy Koch se tweede digbundel, Polkadraai, maak dit baie duidelik, voordat mens nog die bundel oopblaai en begin lees, dat woorde en taalgebruik ’n belangrike plek inneem. Sekerlik is dit die geval met alle gedigte, maar die woorde op Polkadraai se omslag word opvallend vooropgestel deur plasing en tipografie. Die uitwerking daarvan is dat die leser, soos met ’n vooraf kennisgewing, onder die indruk gebring word van uiteenlopende woorde wat in die gedigte verwag kan word. Die positiewe visuele impak van die omslag en die woorde wat gekies is, funksioneer soos ’n uitvoerende opsomming en spoor die leser aan om op die uitkyk te wees vir die semantiese en sinmakende bydrae van hierdie woorde tydens die lees van die bundel. Alhoewel die omslag die indruk van ’n organiese geheel skep, is die woorde duidelik verteenwoordigend van twee groepe. Daar is Afrikaanse leenwoorde met ’n duidelike Afrika-kleur, byvoorbeeld die name van inheemse plante, diere en streke (soos boegoe, gamka en karoo), en woorde met ’n Europese herkoms, veral verteenwoordig deur Latynse terme vir botaniese name en geografiese streke (Olea Europaea, Subspecie Africana en altimontane), vir musiek en literêre terme (glissandi, interlude, ex-libris) en vir natuurverskynsels soos die groeiende en kwynende maan (crescit en decrescit). Die twee handevol woorde op die bandontwerp is ook nog net ’n voorsmakie van minder gebruikte woorde wat ook op onverwagse en daarom treffende en interessante wyses gebruik word, en ywerige lesers kan lang lysies uit die bundel hierby aanvul, soos “tjirp en tierelier” (bl 30), “erumantiese swyn” (45), “getempereerde struktuur” (71), “spoelkiesels”, die “kaapse plooigordel” (13), die “glooiings van ’n gedig” (23), en die “gedamasseerde harnasse van hadidas” (50).

...
Europese, Poolse en Suid-Afrikaanse plekke (die omstreke van Stellenbosch, die Kaap en die Karoo), skrywers, waarnemings, woorde en verwoorde indrukke en besinnings, kom in die bundel saam. Alles terug te vind in die bundeltitel.
...

In die bundel manifesteer uiteenlopendheid en meer spesifiek tweeledigheid dus opmerklik in taal, maar ook wat plek betref. Dit hou dan ook verband met biografiese werklikhede in die digter se lewe. Hy is immers aan die een kant uit huis uit Poolssprekend, Europeër, opgeleide Germanis, voormalige professor in Nederlands en Suid-Afrikaanse studies, en ook literêre vertaler van Nederlands en Afrikaans in Pools, terwyl hy aan die ander kant vlot is in Afrikaans (oa), reeds twee volumes van ’n omvattende literatuurgeskiedenis van Afrikaans in Engels publiseer het1 en verder ook besonder goed vertroud is met Suid-Afrika as land, wat hy reeds twee dekades lank gereeld en bykans jaarliks besoek.2 Hierdie tweeledigheid van tuis in Europa en Afrika, in Pools en Afrikaans, is ook in die bundel se titel ingebou. Met die woord polka wat “vrou”, of “Poolse vrou” in Pools beteken en wat ook die woord is vir die gewilde dansvorm die polka, waarskynlik aanvanklik uit Bohemië,3 kan daar in die bundel se titel sowel ’n Poolse verwysing as ’n Afrikaanse element ingelees word. Die woord Polkadraai verwys na die danspassie in die polka, waar ’n kort, vinnige draai uitgevoer word. Ook bekend as tiekiedraai – met verwysing daarna dat die draaipassie baie kort en op byna een plek net maar so groot soos ’n tiekie gemaak word.4 Die kort draai van die danspassie, die polkadraai, beskryf ook die kort, of S-draai, van die oorspronklike Polkadraaipad in die Stellenbosse wynstreke, nou bekend as die Ou Polkadraaipad.5 Alhoewel daar nie ’n spesifieke gedig is oor die Polkadraai-heuwels of -pad in die bundel nie, pas die verwysing na ’n polkadraai in die paradigma van plekname, paaie en bergpasse in die suidelike dele van Suid-Afrika waaroor in die bundel gedig word. Dit kan via assosiasie en suggestie verband hou daarmee dat die bundel deur die bundeltitel aankondig dat dit metafories ’n Poolse dans met ’n Kaapse draai gooi. In Afrikaanse spreekwoorde, gesegdes, ens met ’n kort verklaring van die betekenis en die Engelse ekwivalent (Kritzinger, Pienaar en De Villiers 1927 ) word “’n Kaapse draai maak” aangedui as “Kort draaie maak”, alhoewel dit geredelik gebruik word saam met ’n byvoeglike naamwoord, waarmee dan ’n lang ompad aangedui word: ’n baie lang Kaapse draai.6

Europese, Poolse en Suid-Afrikaanse plekke (die omstreke van Stellenbosch, die Kaap en die Karoo), skrywers, waarnemings, woorde en verwoorde indrukke en besinnings, kom in die bundel saam. Alles terug te vind in die bundeltitel. So kan ook die feit dat die polka ’n maatdans is, in verband gebring word met die intertekstuele gesprekke wat dikwels in gedigte aangeknoop word, en met gedigte waarin verwys word na die sprekende digter se vrou as reisgenoot.

Jerzy Koch, afgeneem deur sy vrou, Magdalena Koch

Die digter put uit sy literêr-historiese kennis van Afrikaans, en ook uit sy belewenis van wonings en landskappe in Europa en Suid-Afrika, en skep gedigte waarin die manier waarop hy Afrikaans gebruik, bly opval. Gedigte wat besin – oor plek en belewenis, oor bestaande poësie en die maak van poësie. Hy maak ’n Kaapse draai, ’n polkadraai. Die beskrywing in die eerste strofe van “voordrag” (24), waar ’n groep skrywers oor skryf en die lettere gesels, ’n polka met die poësie dans, gee ’n perspektief hierop. Dit is gedigte vir die dansmaat, “vir eensgesindes en gelykgestemdes”:

ons sit en praat in ’n kring eensgesindes
en gelykgestemdes ons drink en dink mooi oor
die woordkuns en hoe mens jou gedagtes
verdig in klanke inpak ryme en assonansies
ontdek klemtone vind intonasies
orkestreer inspirasies knee en klee
en dies meer in dier voege.

Koch stal ook sy verstegniese vernuf uit deur die verskillende soorte gedigte wat in Polkadraai opgeneem is. Daar is geestige, dit wil sê speelse, gedigte (“taalles”, 7–8, “voordrag”, 24–6), tipografies bewuste gedigte (“stryd”, 9 en “hoekom poësie”, 95), tersines (“oomblikke by die oop oseaan”, 85–6) en reekse (byvoorbeeld “in die tuin”, 34–6). Waar “ballade oor ’n wandeling” (64–72) ook die reeksvorm beoefen, is dit saam met “truitjie” (57–9) ’n voorbeeld van Koch se beoefening van balladeske verse. In teenstelling met digters of lesers wat soms weg kan skram van intertekstuele gesprekke en huldigingsgedigte, maak Koch geen geheim daarvan dat hy graag deelneem aan ’n verliteratuurde poësie nie. Die eerste afdeling, “Literatuurgeskiedenis”, is in hierdie verband die digter se poëtiese uitdrukking van die literatuurhistorikus se intense kennis van en interaksie met die Afrikaanse literatuur.

Die digter sluit ook in ander opsigte by die Afrikaanse poësietradisie aan, nie net via opdraggedigte en intertekstuele gesprekke nie. So sluit ’n aantal gedigte tematies aan by die beduidende korpus huldigings- en lykgedigte, en ook siekte- en sterwensbegeleidingsgedigte in Afrikaans. Die literêre tradisie hiervan loop sterk en strek wyd. Met bundels soos Komas uit ’n bamboesstok (waarin Opperman (1979) verslag van sy siektetoestand, koma en herstel gee), Die wolf in die blare (Anlen Marais (1999) se elegieë en sterwensbegeleidingsgedigte), Doodsteek van ’n diabeet deur EWS Hammond (1995), Petra Müller se elegieë7 oor haar broer se dood, maar ook spesifiek die bundels met gedigte oor siekte, begeleiding, dood en verlies: Swerfgesange vir Susan en ander (Müller 1997) en Die aandag van jou oë (Müller 2002), veral Joan Hambidge (1997, 2000 en 2006) se Ewebeeld, Lykdigte en Dad, alhoewel huldigings en lykgedigte dwarsdeur haar oeuvre ’n prominente plek inneem, Tom Gouws (1995) se “liedere van geboorte en dood”, en Hammie, Ronelda Kamfer (2016) se outobiografiese gedigte waarin die verlies aan haar ma verwerk word, kan die bydrae wat besinnings, beskrywings, insigte en huldigings van gedigte in hierdie trant tot die Afrikaanse poësie nie geïgnoreer word nie. Hierby sluit Koch aan. Die gedig “voorlesing” (15–6), opgedra aan Olga Kirsch, is een van die voorbeelde van die bydrae wat sy oeuvre maak tot huldigings-, lyk- of in memoriam-gedigte wat aan skrywers opgedra word. ’n Beeld van die digter op haar siekbed word gegee waardeur sy en haar digterskap ter sprake kom. Die gedig besin ook aangrypend daaroor en word ’n monument daarvoor dat die poësie aangebied word as gesprek en troos waar ander woorde faal. Nie net in die voorlees van gedigte aan die sterwende nie (“gedigte ... / in ’n taal wat die sterwende se oë verstaan”), maar ook in die skryf van die lyk- en huldigingsgedig.

die diep dongas in die barokke lakens
gaan soepel oor na die bleek gesig
...

die beddegoed is soos die negev
se landskap of groot-karoo s’n
of talle ander ruimtes waar sy was
of tuis wou of moes gewees het

watter toonhoogte kies ’n mens
om met die sieke te praat
jy goël met woorde en lees gedigte voor
in ’n taal wat die sterwende se oë verstaan.

In die laaste drie strofes word beskryf hoe die poësie waardeur gepoog word om “die knaende weemoed” aan te spreek, al meer moet swig voor die besef van magteloosheid wat in die slot verwoord word:

jy lees voor en heel die knaende weemoed
se barste en sing die tweestemmige kanon
met die stilte en hoor hoe dit nagalm
in die gedagtenis en wanhoop se kloof

watter woorde sou die bande
van die dood verbreek ...

en skielik besef jy – jy het te veel
op jou stemvurk geneem
toe jy probeer om die pasiënt
se pyne met poësie te verlig.

Ook “nostalgia” (30–1), waarin die verlies van ’n vriend intens beleef word omdat die spreker dit as gevolg van die inperkingstyd met die C-19-pandemie aanvanklik nie weet nie, word verlies, huldiging en die vreemdelingskap van die mens op aarde (ook as ’n gevolg van tegnologie) en van mense in verskillende lande of landstreke opgeroep. 

... dis nou
’n halfjaar later dat ek te wete kom Wim is dood ...

dis my vriend se tuin aan die noordsee wat ek op die skerm
beskou terwyl ek voor my lessenaar sit aan die baltiese see

curaçaose klank van die vleuelklavier beland in die welige
ruigte buite die grasperk, slaan eie vleuels uit, styg op en reik

tot hier, kom ongeskonde aan in chopin se land maar
wanneer die klawer gelos word val die demper finaal terug

op ’n augustusdag het Wim stil-stil weggegly
die goddelike stemmer het sy snare stywer gespan

die warm passaat slaan selfs hier in pole teen my gesig
ek hou asem in maar nie die emosie nie.

Die titel van die lykdig “slegs gas was jy hier” (“vir PPF”, 51–2) is nog ’n illustrasie van Koch se spel met die betekenis van woorde waardeur hy ook dikwels ’n ironiese perspektief behaal. Die gedig is eweneens besonder aangrypend en met empatie geskryf – veral ook wat die perspektief op die poging tot aanpas by die lewe en Afrika betref.

rus sag waar die hoë lug hang
wat uit die aarde opstyg en
voor die kring rondom die finale
ruim vervlugtig en verdun want
kosmos was van vroeg af jou vriend

’n groter las is op jou geplaas
as wat jy elke oggend
kon optel en deur die dag dra
na die aand se donker gordyn ...

... soos daardie donderdag
toe die koerier die gasbottel
gebring het en toe jy nog alles
en anders kon beplan
byvoorbeeld om te gaan
skottelbraai soos almal of
kampeer êrens in die binneland
waar afrika se toekoms lê
dit het jy mos altyd vir ons gesê

die sakke was van plastiek
...
... groen soos herwinning
die gaspyp was oranje
met dieselfde deursnee as jou lugpyp
jou laaste asem was ’n stywe bries

***

eers vandag weke daarna
kry ons dit reg om op asem te kom
maar moeilik tot verhaal.

Teenoor die enkele gedigte waarin landskappe, die natuur en literatuur uit die noordelike halfrond ter sprake kom waarna reeds verwys is, en veral ook gedigte in die laaste afdeling, soos “polder” (75-76), is daar ’n hele aantal gedigte waarin die suidelike en sentrale dele van landskappe in Suid-Afrika beskryf word. Dit is gedigte met besinnende insigte en perspektiewe van buite, soos “aankoms aan die kaap” (10) wat, soos blyk uit die subtitel en die notas, meer as ’n persoonlike belewenis is, maar ook ’n intertekstuele gesprek.

die wolke se waterig blonde bekke
het bo ons bly hang ...
... terwyl ons statig beweeg het deur die ruim
in ’n halfleë vliegtuig vol nuwelinge
en rare reisigers na nêrens

ons gevoelens was gemeng
soos ons bloed en bang ...

nader kom ons aan die oppervlak
van hierdie rooi ruwe grond
die laslapland vol verwagtings en
onbeproefde uitdagings
nader aan stapels berge en
ongeslypte vlaktes
vasgepin aan die onderstel
van die immense vasteland ...

Die gedigte in die bundel wat aandag trek met die perspektief wat dit bied op die landskap van Afrika en die samelewing in Suid-Afrika, is veral daardie wat verband hou met die platteland en die Karoo. Dit is ook van die sterkste gedigte in die bundel. Kyk maar na “die boer” (12), “brockenskim op swartbergpas” (73–4), “karoo-dorp” (82) en “petrichor” (87–8).

Vroeër in die bundel word die “ons” in die spreker se gedigte aangedui as “oorsese gaste” met oorsese verwysingsraamwerke waarin ’n dak aan ’n piramide herinner (“besoek”, 18), en ook as besoekers en reisigers wat “ooggetuies van die getinte land” (87) is. Hulle belewenisse wissel en vorder van afwagting (soos beskryf in “aankoms in die kaap” hier bo) na aanpassing: “dit duur / voor ons oë aan die donker / gewond raak / dit duur lank / voor ons ons aanpas / aan die wêreld buite” (in “net buite”, 45–6). Gaandeweg word daar ook gedigte aangebied wat getuig dat selfs al is hulle “nuwelinge”, hulle tuis word en toe-eien, soos in “huis” (47):

hierdie is ons kraaknuwe huis
ek bedoel die huis is bra oud
dis ons wat hier nuut is

georgiaans of victoriaans
ek kan nie alles tuisbring
van hierdie toegeëiende huis nie

die nuwelinge in die land is ons ...

Die aanpassing en pogings tot vereenselwiging waarna in oa “huis” verwys word, met die progressie vanaf bloot “ons voete plat op die grond plaas” tot “ons voetboë (wat) span en ... / die middeskip van ’n nuwe katedraal” word, word veral in die latere gedigte van die laaste afdeling, “onder andere”, uitgewerk. Die beskrywings van hoe aangepas word by landskap en kultuur, word uitgebrei tot beskrywings van aanpassings by die ouderdom. Hier staan “die diep plooi” (40) en “crescit, decrescit” (41) uit. Die slotstrofe van “crescit, decrescit” is heel besinnend en stil gestem:

hy is in sy laaste kwartier en jy ook
verstaan nou in die kleiner wordende kier lig
dat die donkermaan op koms is en
dat as jy minder word, vermeerder jy en
as jy skraler raak, vervolledig jy
luna mendax.

Hierteenoor het “die diep plooi” ’n besondere vaart en staan as goeie teken van Koch se taal en metafories vaardige digtershand:

die diep plooi
die ru verrimpelde vel
van my regterhand
wat die nog ongelese boek
beskermend teen die sonstrale
en die windstote hou
lyk wel na ’n ou wond
in opgekropte woede
oopgekrapte kors
met op die bodem
week weefsel
wat souterig proe
merkboei in die golwing
van die epiderm
wat na simmetrie streef
toegroeiende roos
wat aan bas en murg laat dink
bronaar en hergeboorte.

Polkadraai is mooi uitgegee deur Turksvy Publikasies – goed versorg en met ’n stewige buiteblad en flappe. Dit beloof ’n aangename leeservaring vir poësielesers wat op ’n speurtog wil gaan, of wat net wil geniet van die gedigte met landskap- en reisbeskrywings, of ’n oomblik tot besinning en besef gedring wil word deur die memento mori’s in gedigte oor siektebegeleiding of teen die ouderdom. Polkadraai gooi die net van die poësie en van taal met ’n wye Kaapse draai en sal ’n aandagtige leser ruim beloon.

Bibliografie

A Dictionary of South African English (corrected edition). Aanlyn. sj. Tiekiedraai. Tickey-draai. https://dsae.co.za/entry/tickey-draai/e07171 (23 Maart 2023 geraadpleeg).

Anon. 2021. Jerzy Koch. Wikipedia, 14 April. https://af.wikipedia.org/wiki/Jerzy_Koch (23 Maart 2023 geraadpleeg).

Botma, R. 2021. Verlies, herlewing en oorlewing in Petra Müller se elegiese poësie. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.

Gouws, T. 1995. troglodiet. Kaapstad: Human & Rousseau.

Hambidge, J. 1997. Ewebeeld. Midrand: Perskor.

—. 2000. Lykdigte. Kaapstad: Tafelberg.

—. 2006. Dad. Parklands: Genugtig!

Hammond, EWS. 1995. Doodsteek van ’n diabeet. Kaapstad: Tafelberg.

Kamfer, RS. 2016. Hammie. Kaapstad: Kwela.

Koch, J. 2020. Pleks van plaas. Kaapstad: Naledi.

—. 2022a. A history of South African literature. Afrikaans Literature: Part two. The period of Emancipation 1900-1930. Pretoria: Van Schaik.

—. 2022b. Polkadraai. Oudtshoorn: Turksvy Publikasies.

Koch, J. en D. Ferens (vert) 2015. A history of South African Literature. 17th–19th centuries. Pretoria: Van Schaik.

Kritzinger, MSB, E. Pienaar en AAM de Villiers. 1922. Derde druk 1927. Kaapse draai. Afrikaanse spreekwoorde, gesegdes, ens met ’n kort verklaring van die betekenis en die Engelse ekwivalent. Pretoria: Van Schaik. https://www.dbnl.org/tekst/krit001afri02_01/krit001afri02_01_0013.php (23 Maart 2023 geraadpleeg).

Marais, Anlen. 1999. Muur van berge. Elegieë. Kaapstad: Tafelberg.

Müller, P. 1997. Swerfgesange vir Susan en ander. Kaapstad: Tafelberg.

—. 2002. Die aandag van jou oë. Gedigte vir die liefde. Kaapstad: Tafelberg.

Opperman, DJ. 1979. Komas uit ’n bamboesstok. Kaapstad: Human & Rousseau.

Trochimczyk, M. sj. Polka. Polish Music Centre. University of Southern California. https://polishmusic.usc.edu/research/dances/polka (23 Maart 2023 geraadpleeg).

Van Heerden, M. 2019. Lekker Afrikaanse idiome I. Voertaal, 5 Augustus. https://voertaal.nu/lekker-afrikaanse-idiome-i (23 Maart 2023 geraadpleeg.

 

Eindnotas

1 Kyk Koch (2015) en Koch (2022a).

2 Kyk byvoorbeeld die Wikipedia-inskrywing vir Jerzy Koch: “Hy besoek Suid-Afrika sedert 1992 gereeld en het die Afrikaanse taal as sodanig sy eie gemaak dat hy dit vlot besig en gedigte daarin skryf” (Anon 2022).

3 Kyk byvoorbeeld Trochimczyk (sj) se inskrywing oor die polka in die Polish Music Centre. https://polishmusic.usc.edu/research/dances/polka.

4 Kyk byvoorbeeld die inskrywing Tickey-draai in A dictionary of South African English.

5 Vir ’n lugfoto van die draaie van die Ou Polkadraaipad, kyk https://www.google.com/maps/@-33.9602314,18.7424175,17z (31 Maart 2023 geraadpleeg).

6 Vergelyk: “’n Vinnige, kort draaitjie maak; (ook) met bnw hele: ’n lang ompad ry, byvoorbeeld: Die ou pad is toegedraad en ek moes ’n hele Kaapse draai maak om by sy plaas te kom” (Van Heerden 2019).

7 Kyk veral Riëtte Botma (2022) se studie oor die elegie en die elegie by Müller.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top