Dirk
Jou kommentaar onderaan my briewe van 22 Februarie het betrekking.
Dankie Dirk vir die storie oor ‘verlief neem’ en ‘vir lief neem’. Ek het gewonder toe ek dit neergeskryf het maar ‘verlief neem’ lýk toe meer reg, gedag dit het in die volksmond al reg geword, soos ‘guur’ en ‘onguur’ wat deesdae dieselfde betekenis het. Maar jy’s reg, ‘vir lief’ maak sin, ‘verlief’ nie.
Jy’s ook reg as jy sê dis nie moontlik om met my oor die posisie van Afrikaans te debatteer nie, want daar is geen debat in die verband nie – Afrikaans ís besig om veld te verloor en agteruit te gaan in die NSA, dis ’n voldonge feit. Jy stem effektief daarmee saam, want jy gee redes vir die kwyn van Afrikaans, soos onder andere ‘dis 2017’ en ‘die dae dat Afrikaans die septer geswaai het is lank verby’ en die ‘posisie van Afrikaans is te wyte aan die demografie’.
Wat wel debatteerbaar is, is die aandeel van RSG en KykNET in hierdie agteruitgaan. Jou verweer is dat daar ’n groot luister- en kykertal is en dat hierdie instansies 24 uur per dag in Afrikaans uitsaai. Hoe is hoeveelheid mense en tyd nou ’n bewys dat daardie twee instansies nié ondermynend is nie? Dit is juis vanweë hierdie statistiek van jou dat hierdie ondermyning so effektief is want miljoene Afrikaanssprekendes word 24 uur per dag met subliminale boodskappe gebombardeer. Afrikaans speel tweede viool op daardie stasies; Engels word bevorder, eintlik in ons kele afgedruk. Is dit nou bevordering van Afrikaans? Die teenoorgestelde gebeur nóóit op Engelse stasies nie; Afrikaans word daar doelbewus vermy of openlik afgejak.
En dis nie net die radio en televisie wat Afrikaans afgradeer tot houthakkerstatus nie. Ons eie mense doen ewe lustig mee; daar is selfs Afrikaanssprekendes wat hulle kinders in Engelse skole sit. Ons Afrikaanse universiteite het lankal boedel oorgegee en kort-kort hoor jy predikante sê “ ... die Engels sê dit vir my so mooi ...” Party van hulle, die dominees nou, haal sommer lang stukke Engels aan en dis nie ongewoon dat Engelse gesange in die Afrikaanse kerke gesing word nie, selfs in van die susterkerke.
Beduidend ook in hierdie verband is jou opmerking dat ek nie die arme Afrikaanse mense op die platteland moet beledig as ek sê daar is van hulle wat nie Engels kan praat of goed verstaan nie. So dis ’n belediging vir Afrikaanssprekendes as hulle nie Engels kan praat nie? Soos jy altyd sê, nou toe nou.
Maar jy’s reg; vir die meeste Afrikaners is dit ’n geweldige verleentheid as hy nie kan Engels praat nie. Ek weet nie of dit vanweë die subliminale propaganda van sekere Afrikaanse instansies (soos onder andere RSG en KykNET) of vanweë ‘n selfopgelegde minderwaardigheid is nie. Afrikaanse mense sal byvoorbeeld Engelse woorde, as hulle Afrikaans praat, met die Engelse ‘r’ uitspreek maar Engelse mense sal nooit die Afrikaanse rol-r gebruik as hulle Afrikaanse woorde in Engels gebruik nie. Dit klink uiters kok en gedienstig, luister maar na die omroepers.
Jy vra hoekom “ . . . moet Afrikaans bo-aan die Wildtuinbrosjure staan as slegs 12 persent van die RSA se bevolking Afrikaans eerstetaalsprekend is?” Wel, hoekom Engels as slegs 9,6 % van die SA-bevolking Engels-eerstetaalsprekers is? Terloops, ek het dit 13,5 % (2011-syfer) Afrikaanssprekend is. So, wat ook al jou statistiek wys, dit verskaf geensins die rede vir die dominansie van Engels op die brosjures nie inteendeel, dit staaf my bewering dat dit Engels is omdat die swart owerheid dit wil hê.
Buitendien, persentasies blyk nie veel van ’n invloed te hê nie, want slegs 4,8% (Ethnologue) van die wêreldbevolking het Engels as moedertaal maar dit het hulle nie gekeer om hulle taal buite verhouding invloedryk in die wêreld te maak nie. Engels het daardie status verwerf deur die energie, toegewydheid en ywer van die Engelsman (en net so kwyn Afrikaans weens die gebrek aan energie, toegewydheid en ywer van die Afrikaanssprekende).
7,2% van die wêreldbevolking het ’n kennis van Engels en jy mag nou aanvoer dat 7,2% van die wêreldbevolking ’n geweldige hoeveelheid mense is en dit is wel so maar nie almal van daardie mense is toeriste nie. Net ’n piepklein persentasie van hulle is toeriste en net ’n piepklein persentasie van húlle weer besoek Suid-Afrika en al besoek AL hierdie mense die wildtuine en parke; daar ís mos Engels op soos ek voorstel (en Duits en Frans) om hulle te akkommodeer.
Dit is ’n feit dat Afrikaans geweldig veld verloor het die afgelope 22 jaar en daar bestaan by my geen twyfel dat RSG en KykNET hier saamspeel nie. En ten slotte, jy sê ons moet al die variante van Afrikaans omarm en ek stem saam; hoe sal mens dit nou nie wil doen nie. Onthou net, Afrikaans deurspek met Engels is nie ’n variant nie; dis gewoon swak Afrikaans.
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Jan,
As jy glo en oortuig is dat KykNET en RSG besig is om Afrikaans met "subliminale propaganda" te ondermyn, dan glo jy gewis ook dat indien 'n langspeelplaat van die Beatles agterstevoor gespeel word, daar 'n duiwelsboodskap gelewer word. Of so iets. Kommunis agter elke bos. Dis só 1970's.
Amen
Subliminale boodskappe? Ek laaik dit, ek laaik dit! En in my onderbewussyn bêre ek dit. Kyk net wat hier gebeur: 'n Engelse woord word sommer netso, pens en pootjies geneem en verafrikaans deur die agtervoegsel -e aan te heg aan die woord. Dit veroorsaak dat die woord sintakties inpas by Afrikaans. Meer nog: dit veroorsaak dat die woord ook fonologies inpas, omdat die beklemtoning nou outomaties verskuif van -bli- na -na-. Dit klink sommer Afrikaans en het nie eens nodig om eers in 'n woordeboek opgeneem te word voordat Jan dit mag gebruik nie.
Beste Angus,
Subliem gesê.
Groete
Dirk
Dit is duidelik dat beide Angus en Dirk die invloed van Engels as 'n dominante en ook wêreldtaal op minderheidstale totaal onderskat. Interessante leesstof is te vind onder
http://www.eajournals.org/wp-content/uploads/The-Influence-Of-The-English-Language-In-A-Multilingual-And-A-Monolingual-Environmet-----A-Comparative-Approach.pdf
Hierin word bevind dat daar 'n positiewe en negatiewe sy aan Engels as omgang- en onderrigtaal is.
Afrikaans is 'n redelik jong taal en is ek van mening dat as die verengelsing van Afrikaans goedgepraat en aangemoedig word om dit 'n nuwe en beter taal te maak, dit ook 'n negatiewe invloed op die Afrikanervolk se moedertaal, onderrig en kultuur sal hê.
Probeer nou die volgende van Jan F E Celliers te vermink met Engelse woorde.
Die vlakte
Ek slaap in die rus van die eeue gesus,
ongesien, ongehoord,
en dof en loom in my sonnedroom,
ongewek, ongestoord.
Tot die yl-bloue bande van die ver-verre rande
skuif my breedte uit,
wyd-kringend aan die puur al-omwelwend asuur,
wat my swyend omsluit ...
Wat my die meeste pla in die debat is dat gebore Suid-Afrikaners die voorbokke
in die stryd oor die verengelsing van Afrikaans is. Is dit maar net omdat die Afrikanervolk se ankertoue wat dit in 'n veelrassige samelewing geanker gehou het, een vir een afgekap word, sy taal, sy kultuur, sy geskiedenis en sy godsdiens, om een globale gesiglose mens te word?
Sy taal as die taal van die verdrukker, sy geskiedenis en kultuur, as die begin van ellende plaaslik, sy godsdiens as argaïes en 'n 'steen des aanstoots' in die onderwys.
Is daar meer as dit te sê?
Beste FC Boot,
Waar val jy uit, ou? My hele skrywe wys juis op die kragtige invloed wat Engels op Afrikaans het, en nou kom prewel jy dat ek dit onderskat!
Ek stem volkome saam met elke en 'n iedere woord wat in jou skakel staan. Jy kan maar sê ek het dit alles al in 'n neutedop aan Jan verduidelik.
Die invloed van Engels op Afrikaans is so groot dat Afrikaans op Engels steun vir verryking van sy woordeskat sodat dit kan voortbestaan in 'n moderne wêreld.
As jy mooi lees, sal jy sien dat ek net beskryf wat op die oomblik met Afrikaans gebeur - ek praat niks goed nie.
Jou oefening waarin jy wil hê dat ek 'n gedig moet "vermink" met Engels, is net 'n bewys dat daar nie genoeg spreekwoorde in Afrikaans is om te beskryf hoe ver jy van die spoor af is nie. Jy het die kat aan die stert beet, en jy het die klok hoor lui, maar weet nie waar die klepel hang nie, is nog onvoldoende.
Groete,
Angus