Beste Cornelius
Dankie vir die interessante brief, ek weet nie of ek alles mooi verstaan nie – jy was ontgogel deur De Klerk-hulle, tot so’n mate dat jy by die AWB aangesluit het en toe later weer tot ander insigte gekom het en nou glo die NSA is heel gangbaar, Malema se liedjie is net soveel teen swart as wit boere gemik, en dat ons meer moeite met ’versoening’ moet doen, die wit boere moet net die ekwivalent van ’n Hanekom kry? Ek weet nie, ek sal bly wees as jy kan verduidelik.
Intussen kan ek jou dít sê: Malema se liedjie vra vir die uitroei van ’n nasie, nie ’n beroep nie, dit is dus ’Boer’, met ’n hoofletter. Ek is nie baie gelukkig dat jy van ons Boere se ’laer mentaliteit’ praat nie, laer as wie s’n? Of dalk is dit maar net ’n spelfout, dalk bedoel jy ’laermentaliteit’? Indien dit die geval is, is die beskuldiging ook vals; hoe kan jy die Afrikaner kwalik neem as hy homself wil beskerm? Was die mote en mure rondom kastele destyds die manifestasie van ’n laermentaliteit of die behoefte om jouself teen invallers te beskerm? Wat van radarinstallasies, vliegtuie wat gedurig in die lug is en slagskepe op patrollie; sou jy dit laermentaliteit noem?
Ek stem saam met jou stelling dat die susterkerke besig is met ’n jammerlike gekruip. Tot nou toe was die Hervomde Kerk nie daarby betrokke nie maar dit lyk my hulle gaan ook binnekort hulle deeltjie tot polarisasie en geweld bydra. Waarmee ek nié saamstem nie is jou implikasie dat dit uit hoofde van protestantisme is. Na my mening het protestantisme tot stand gekom vanweë dwalinge deur die Katolieke kerk; Martin Luther en John Knox-hulle is nie ’n klomp ouens wat verveeld was en besluit het hulle wil nou vervolg word vir bietjie opwinding in hulle saai lewentjies nie (daar is ’n reeks genoem Helde van die Hervorming deur ’n De Leeuw dink ek. Probeer dit in die hande kry, dit lees so lekker soos die beste speurverhaal).
Wat my bring by jou gewone afsluiting: Jy sê ’Hindoe-, Moslem-, Joodse, Katolieke en Boeddhistiese groete maar in jou brief sê jy jou ’... hart gaan uit aan elke Hervormde, en Protestante lidmaat op ons Aarde ...’ maar jy ignoreer hulle as jy groet. Hoekom so diskrimineer?
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Beste Jan Rap,
Ek herinner my dat ek reeds lank-lank gelede op hierdie brief geantwoord het.
Oor my "Hindoe, Moslem, Joodse, Katolieke en Boeddhistiese goete", het ek jou ook destyds na my beste vermo? ingelig.
Vir jare is my spelling van "katoliek" met 'n klein letter, deur ons gawe Webvoete "gekorrigeer" na 'n hoofletter.
Die woord katoliek met 'n klein letter soos ek dit eintlik bedoel, verwys na ons Heilige Algemene Kerk in Jesus Christus ons GOD. Dit sluit almal in wat die Evangelie in Jesus Christus ons GOD die afgelope 2000 jare plus uitdra - ongeag hul denominasie hetsy Rooms, Anglikaans, Hellenis, Kopt, Oosterse Ortodoks, Apostolie, Charismata, Evangelies, Sendeling, ... ja - en selfs Protestants.
Katoliek met 'n hoofletter verwys eintlik net na die Roomses.
Die "laer" kwessie was destyds 'n verwerkingsfout. As ek reg kan onthou het ons gawe Webvoet destyds self ook verskoning daarvoor aangeteken. Nietemin, ek dink steeds die gereformeerde Afrikaner trek laer in 'n ideologiese beskouing van die Evangelie.
Miskien bietjie ou nuus Jan, maar ek hak my waentjie aan jou lokomotief en bly saam met jou op die spoor.
Namaste!
Hindoe-, Moslem-, Joodse, katolieke en Boeddhistiese liefde,
Ekke
So by my kool Cornelius jy's reg! Ek het die brief nou die dag onder die "drafts"-leer op my rekenaar gekry en hom toe gestuur. Jammer daaroor. Groetnis