Gilgamesh: filosofie en geloof

  • 2

Hallo Gilgamesh,

Dankie vir jou kommentaar.

Jou dinamiese hantering van die onderwerp het my aangespoor om dit terug op die bord te plaas.

Jy tik:

"Mens moet seker ook in gedagte hou dat waarna ons albei verwys slegs deel is van 'n breër argument/ondersoek oor die vermoë van filosofie om epistemologiese antwoorde te verskaf." 

Inderdaad!

In 'n mate voel ek ons het langs mekaar gestaan toe ons die Costa Concordia sien klippe tref. Maar nes dié aan boord, sal elkeen hul eie weergawe van die ervaring die wêreld instuur.

Jou "cherry-pick" verklaring van ons omgang met die werklikheid, is 'n juiste beginsel oor die bruikbare grondslag van kennisleer in die filosofie.

Dis presies hoe dit is; elkeen pluk vir onsself om sodoende ons eie werklikheid te voed.

Geloof is glad nie bedoeld om algemeen nuttig in hierdie lewe te wees nie. Elkeen sal deur sy eie geloof salig word.

Anders as geloof, is filosofie 'n wysbegeerte vir hier en nou. Filosofie is 'n gesamentlike werktuig wat ons met nut onder mekaar kan deel.

Dis wat die gedweep van 'n ander se geloof soveel hel maak. Om jou geloof in God ewe ingenome aan jou medemens op te dring, is gewoon waanwysheid. Net God gee geloof in Hom/Haar. Geen mens kan aan 'n ander geloof in God gee nie. Geloof in God is genade. Geen hart wat dit ken sal daarmee spog of daarmee verhef oor ander nie.

Daar is baie wonderlike en kosbare filosofie in die Bybel. Dis 'n kompendium van duisende jare se oorlewing in menswees. Maar net so is daar 'n oorvloed lieflike en waardevolle filosofie in ander se godsdiens en gemeenskappe.  

Ek is bly ons het ooreenstemming omtrent wette. Dit geld ewe veel vir wette in die Bybel as wette in die regte of natuur. Om skuiling in wette te soek skep uiteindelik 'n meerderwaardige waan waarin jy op ander kan neersien. Mense mislei hulself daarin dat hulle beter kan wees as die wat hulle daarmee kan veroordeel.

Filosofie is geen wet of geloof nie. Daarom sal Jesus Christus se samevat van wette in 'n filosofie van; jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag en hieraan gelyk is dit: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself, vir ewig staan.

In die voedbaarheid van filosofie deel ek Bertrand Russell nogmaals met jou. Ek het 'n goeie dosis van sy werk weg. 'n Leeftyd gelede het ek 'n stukkie epistemologie uit een van sy boeke oorgekom. Dit was lank voor Google en Facebook waar mense so wys en suid aanhalings met mekaar deel.

Ek het Bertrand Russel se aanhalings nes op 'n "Facebook wall" op my drukbord agter my lessenaar gespyker. 'n Stukkie filosofie van Bertrand Russel wat my hele bestuur vandag nog bepaal het geleer dat 'n goeie analitikus al die elemente bepaal maar altyd terugkeer na die geheel. Tot op hede kon ek nie die presiese aanhaling daarvan opspoor nie.

Maar net miskien, weet jy presies waar dit staan.

Namaste!

Hindoe-, Moslem-, Joodse, katolieke en Boeddhistiese liefde,

Ekke

  • 2

Kommentaar

  • Chris Dippenaar

    Hello Cornelius. Ek het slegs Russell se gedagtes probeer opsom. Om te sê dat ek dit dinamies hanteer is dalk effens oordrewe. Ek voel dat jy my dalk verkeerd verstaan het waar ek praat van 'n breër argument/ondersoek oor die vermoë van filosofie om epistemologiese antwoorde te verskaf. Hiermee het ek spesifiek verwys na 'The Problems of Philosophy' en het dit nie bedoel as 'n stelling in die algemeen nie. Dit beteken nie dat ek nie so 'n siening, of dalk miskien 'n effens aangepaste weergawe daarvan, met jou kan deel nie.

    Ek glimlag maar as jy die "cherry-pick" verklaring van ons omgang met die werklikheid verstaan as my lewensuitkyk. Ek aanvaar dat ons altyd sal kies wat van waarde is vir onsself, maar ek dink dat elke keuse wat ons maak meer as een opsie het. Dis die keuse van opsie, meer as die "cherry-picking", wat vir my belangrik is. Die keuse van opsie is wat jou waarde as mens bepaal. Dit wat Russell stel as "an orderly systematic organization of our knowledge, in which, though the possibility of error remains, its likelihood is diminished by the interrelation of the parts and by the critical scrutiny which has preceded acquiescence" (soos voorheen aangehaal).

    Natuurlik het die Bybel kosbare en selfs wonderlike insigte en van dit dalk selfs filosofie. Dit is immers geskep deur mense wat nie heeltemal anders as ons is nie. Dieselfde geld vir die literatuur van Mesopotamië, Egipte, die Grieke en die Romeine. Die Bybel, veral die Ou Testament, is een van my gunsteling-boeke. Dit bied vir ons 'n waardevolle skakel met die antieke wêreld wat so 'n groot invloed gehad het op die Grieke. Die Christen-geloof wat groei uit 'n mengsel van Judaïsme, pagangelowe en Griekse filosofie vorm deur die strukture van die Romeine die brug na die moderne tydperk. Om as ongelowige die wysheid van die verlede, insluitende die van Christene, te ontken sal sekerlik dwaas wees. Dis nie nodig om die Cool-Aid (my nuutste gunsteling-woord) te drink nie.

    Wat betref die formele verband tussen filosofie en godsdiens: Ek vind die gesprek gewoonlik onnodiglik abstrak en oneerlik. Ontologiese en kosmologiese argumente maak my heeltemal lam. Soveel intelligente mense het al leeftye gemors op filosofiese bewyse vir "god", wat in my opinie altyd misluk, wat hulle geensins nader bring aan die god met spesifieke eienskappe waaraan hulle glo. Dis goed en wel, as dit jou belangstelling is, maar ek voel ek vind meer insig in 'n historiese en kulturele benadering tot die onderwerp van godsdiens. As jy kyk na 'n seevarende gemeenskap sal jy gewoonlik vind dat die belangrikste god die branders beheer. As jy kyk na 'n gemeenskap wat geen vryheid het, wat begin twyfel aan die regverdigheid van hulle gode, vind jy gewoonlik die opkoms van 'n semi-goddelike held. Filosofie gee nie vir jou so 'n antwoord nie. Lekker dag vir jou, Chris

    NS. Vir die aanhaling wat jy soek sal jy Johannes Comestor se hulp moet inroep.

  • CorneliusHenn

    Dankie vir jou kommentaar Chris. Dit gee beslis goeie woord aan soveel gedagtes wat ons wel deel. Jy hoef natuurlik glad nie so beskeie te wees oor die woord dinamies nie. Dit beteken gewoon opbouend of te wel skeppend. Jy breek nie af nie, is nie neutraal nie en daarom is dinamies al wat oorbly. Midde soveel van Kobus de Klerk se neerhalende dwepery, is jou bydraes beslis ’n vars bries. Ek dink ons sal nog baie oor en weer tik na mekaar. Weet gerus ek waardeer jou nugter denke.

    Groete
    Ekke

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top