Vinkel en koljander: Kop in die son, voete in die water

  • 2

Dis ’n hittige somersmiddag in Rustaq, Oman. Die son spoeg vuur. Amper twee verdiepings hoog hang ’n man aan ’n harnas in die top van ’n dadelboom.

Oor die voorafgaande week het ons met ’n ompad ’n boodskap gekry: “Die Mabseli-dadels is ryp in die Al Batinah.” Nie ek of Michelle kan onthou dat ons oor dadels navraag gedoen het nie, maar nuuskierig laat weet ons: “Dankie. Met wie moet ons gesels?”

’n Paar dae later kom ’n tweede riemtelegram: “Gaan maak ’n draai by Daoud Al Maari in Rustaq. Hy verwag julle.” Ons wonder wat om vir ons gasheer te neem. Sjokolade sal smelt, vis sal vrot, vrugte het hulle. Ons koop pakke neute en ’n groot glasbak met ’n goue krulrand. Michelle verpak dit in sellofaan, met ’n goue strik.

Akwaduk in dadelboord (foto: michelleshelby1@yahoo.co.uk)

By die dadelplantasie van Daoud Al Maari is verskeie Daouds en die oudste van die lot is nie oorvriendelik nie; dit lyk trouens nie of hy ons verwag nie. Maar in die klipwoestyn van niks is die dadeloases ’n lafenis, die gras groen in die skadu van die dadelbome. Verskeie vroue en kinders sit langbeen op verslete matte tussen hope dadels. As hulle nie so stug gelyk het nie, sou mens kon dink dis ’n piekniek. Hulle sorteer die dadels in hopies; die mooistes vir die mark, genoeg goeies vir die eie spens en die afval vir die diere.

Die boomklimmer laat sak ’n swaar tak dadels stadig na onder waar uitgestrekte hande dit vasvat en by die vroue gaan uitsprei. Die kinders hardloop om los dadels op te tel. Niemand praat met ons nie. Ons is ongemaklik. Moet ons liewer ry? Maar twee seuns bring stoele en ons gaan sit gedwee eenkant in die skaduwee.

Bokke wei in die skadu van die palmbome (foto: michelleshelby1@yahoo.co.uk)

Ek probeer my stoel ongemerk dieper die skaduwee inskuif. Die hitte is verswelgend. Dis soos ’n kombers wat oor my kop gegooi word. Ek probeer die hitte woorde gee, dit definieer, in ’n boksie sit; iets waaraan ek kan naam gee en sodoende op ’n afstand kan hou. Maar my woorde brand weg. Die hitte is deel van my lyf, lood in my voete, ’n gewig teen my bors, ’n drukking in my kop. Die Arabiese son se woedebui laat hom nie met woorde tem nie.

’n Stofstreep laat almal opkyk. ’n Verflenterde Toyota hou stil. Sonder dat iemand iets hoef te sê, weet ons die regte Daoud het aangekom. Hy hink reguit op ons af, blaf links en regs bevele uit. Dis duidelik wie baas op die dadelplaas is. Hy is ’n klein mannetjie vol bravade. Hy straal selfvertroue uit – die slepende linkerbeen ten spyt. Sy elmboë beweeg soos roeispane om homself vorentoe te dryf. Hy groet van ver af, glimlag van oor tot oor, slaan op die hart en bekyk ons onbeskaamd van kop tot tone.

Vuur word gestook vir busur (foto: michelleshelby1@yahoo.co.uk)

“As-salaam alaikum,” groet hy. Ek stotter lomp: “Wa alaikum as-salaam.” Maar hy het oë net vir Michelle. Sy is ’n lang blondine, ’n rare skoonheid in ’n nasie van donker vroue wat hulself van kop tot tone bedek. Ons is volgens Westerse standaarde konserwatief aangetrek, in lang moue en lang rompe. Die Omani-vroue, daarenteen, is van kop tot enkels bedek.

Daoud beduie dat ons moet ingaan. In die koelte van die huis staan ’n vrou gereed met ghawa en dadels. Die sjarmante gasheer skink met sy regterhand die kardomynkoffie in klein koppietjies sonder ore of pierings. Die bejaarde Daoud se oë sukkel om van Michelle se blonde hare weg te bly, maar sy laat haar nie ontsenu nie. Sy het ’n manier om te glimlag soos wanneer ’n mens ’n kind gelate sy gang laat gaan, in die wete dat ’n bietjie geduld jou ver bring.

Foto: michelleshelby1@yahoo.co.uk

Ek skud my koppie ná die derde volmaak, want so het ek geleer – drie koppies is goeie maniere. Ná Michelle se derde ghawa begin die gesprek voel-voel. Daoud is vir lang tye stil en ek wonder of hy die gepaste Engelse woorde soek. Ek vermoed die bravade is maar net oppervlakkig. Sy gedagtes draai ver en hy klink afgetrokke as hy verder praat. “Julle kan nie dadels verstaan voor julle wéét waar dadels en die Omani’s vandaan kom nie. Ons kom duisende en duisende jare saam, die Omani’s en ons dadels.”

Hy wys na die dadelplantasie. “Alles vroulike bome,” verduidelik hy. Hy hou van baie vroue, spog hy met ’n knipoog vir Michelle. “Allah het gesê ’n man mag vier vroue hê. Ek het net drie; ek is reg vir ’n vierde.”

Ons praat nie; gee hom tyd om sy gedagtes en woorde te vind.

“Daar was altyd dadelbome in Oman. Dadels was die stapelvoedsel lank voor olie ontdek is; toe ons nog met kamele en bokke van plek tot plek getrek het. Die Bedoeïene het gedroogde dadels in bokvelsakke saamgetrek oor die duine.

Gaste word met grasie ontvang (foto: michelleshelby1@yahoo.co.uk)

“Die Koran skryf 22 keer oor die dadels en die Profeet het gesê sewe dadels ’n dag hou die dokter weg. Gedurende Ramadan word die vas gebreek met ’n dadel. Dis ’n volmaakte maaltyd in een soet happie. In tye van hongersnood kan die mens met net vyftien dadels oorleef. Dit bevat al die nodigste voedingstowwe vir oorlewing.”

Weer is Daoud lank stil.

“Julle wil die storie van Tabseel hoor, maar eintlik moet mens lank voor Tabseel reeds begin. Tabseel is die einde wanneer die familie van oral kom om die dadels te sorteer. ’n Dadelboom leef net so lank soos ’n mens. Daardie boom, daar, is so oud soos my oudste seun. Ek het hom geplant toe hy gebore is. Dis hy daar by die vuur. En daar is sy ma, my eerste vrou. Sy was maar vyftien toe hy gebore is.

“In vandag se dae plant mense nie meer ’n boom as ’n kind gebore word nie. Die tradisie het uitgesterf. Maar ek plant ’n dadelboom vir elke kind en elke kleinkind wat Allah my gee. Nie net vir die seuntjies nie; ook vir dogtertjies.

Mandjie gevleg van dadelblare (foto: michelleshelby1@yahoo.co.uk)

“Miskien begin die storie van dadels wanneer die vroulike bome reg is vir die manlike stuifmeel. Ja, miskien is dit ’n punt om te begin. Dis hoe Allah dit bestem het: Die mens en hierdie woestynplante moet saamwerk. Die mens bring die water van die berge en diep uit die fonteine en die boom gee kos.

“Ek het nie manlike bome nie. Dis ’n mors van goeie water. Ek koop die beste manlike blomme, die tal-la, op die souk in Rustaq. Ek, wat Daoud is, vat nie sommer enige tal-la nie. Nee, ek maak my oë toe ruik die nabat, die stuifmeel. Bloot op die reuk af kan ek jou sê of die stuifmeel gesond is. Geen siektes nie; sterk lang blomme met goeie nabat vir die beste vrugte. Daarna droog ek die tal-la so ’n dag of twee. Dan is die nabat net reg.

“Die ander dadelboere is te oorhaastig. Hulle bevrug sommer dadelik die vroulike bome. Nee, nee, nee, die vrou moet wag vir die regte man.” Hy loer vir Michelle.

“Ek het dit vir jare self gedoen; dikwels sonder die harnas.” Daoud tik op sy vervormde linkerbeen. “Mens is dom as jy jonk is. Mens maak die vroulike boom se blare saggies oop en sit die stuifmeeldraad versigtig in die stamper. Daardie tyd is verby,” sug hy. “Verby. Deesdae doen masjiene alles. Die ou manier is uit die mode. Niks is meer dieselfde nie. Oman is nie meer dieselfde nie.”

En toe weet ek weer hoekom Michelle so ’n spesiale mens is. Sy het Daoud maar laat begaan, haar niks gesteur aan sy flirtasies nie. Sy kyk verby alles en sien ’n ou man, gestroop van sy liggaamskragte, bewus van sy kwynende gesag en manlikheid. Hy loop die pad van die ouderdom, ontuis op sy eie plek.

Opreg troos Michelle: “Tog staan hier ’n dadelboord met amper honderd bome en jou hele familie is hier vir Tabseel. Hoeveel dadelboere kan dit nog sê? Kan jy ons wys wat jou seun daar by die vuur doen asseblief? En mag ek foto’s neem?”

Daoud kyk met gelatenheid na my aantreklike vriendin en lei ons na buite.

Tuisgemaakte leer (foto: michelleshelby1@yahoo.co.uk)

’Die nakhl moet met sy kop in die son en sy voete in die water staan; dis hoekom Oman se dadels die beste in die wêreld is. Allah gee vir ons die verskriklike son. Hy laat ons sweet om water in die hande te kry, maar gee ook die soetste dadels. My bome gee elk tussen 50 en 70 kg vrugte per seisoen. Dis genoeg vir ons behoeftes, maar ons leef nie groot nie. Die groot karre daar is nie myne nie. Dis die kinders wat uit Muskaat gekom het om te help. Maar jy is reg, hulle kom nog elke jaar vir Tabseel.”

By die vuur roer Daoud se eersgeborene die pot dadels met ’n lang houtspaan. Hy verduidelik: “Mabseli-dadels moet gekook word om die taai basur te vorm. Basur is die saamgeperste pakkies dadels wat mens in die supermark koop. Dis nie ’n moeilike proses nie. Mens kook dit oor die vuur vir so ’n uur, soms selfs korter as hulle baie ryp is. Dan droog ons dit vir so twee tot drie dae op matte in die son.”

Hy glimlag en wys na sy ma: “Die matte is van dadelblare, die mandjies ook. Alles my ma se werk. Sy leer die ander vroue ook.”

Die groepie vroue wat onverstoord aanhou werk, stem my ongemaklik. Ek wonder hoe hulle regtig oor ons besoek voel? Twee Westerse vroue met onbedekte koppe in ligte somersklere ongenooid op die werf? Vroue wat vryelik gesels en lag met die mans? Ek stap na die vroue toe, probeer ’n gesprek aanknoop, maar hulle lyk ongemaklik.

Michelle gaan haal die glasbak met die goue krulrandjies in die motor. Sy gee dit vir Daoud se eerste vrou.

Die vrou kyk op, glimlag verras. Haar oë is ’n vreemde groenbruin, haar mond onverwags sag. Ek wonder hoe oud sy is, maar Daoud eis ons aandag met ’n sakkie dadels wat hy met grootdoenerigheid oorhandig. Woordeloos vat die vrou die bak, sit dit neer en keer met ’n taai hand die vlieë weg van haar natgeswete gesig.

Die mark by Tustaq (foto: michelleshelby1@yahoo.co.uk)

Ons vertrek ná ’n uitgerekte groet.

Michelle stop skielik, tru terug. Daoud frons, sy oë skrefies teen die son.

“Plant vir jou vroue elk ’n dadelboom. ’n Boom om dankie te sê, ’n boom sodat hulle onthou kan word. Daoud Al Maari, jy en net jy kán ’n nuwe tradisie vir ’n nuwe Oman begin,” sê sy.

Woorde: Helena Opperman
Foto’s: michelleshelby1@yahoo.co.uk

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top