
Foto: Canva.com
Villanelle-skildery
my lief, ek skilder ’n gedig vir jou
terwyl ek strofes ritmies sien dans
op palet van sorgelose hemelblou
ek wou die doek eers spierwit hou
as ek dink aan jou lewe eerbaar, rein;
my lief, ek skilder ’n gedig net vir jou
die komposisie word eenvoudig gehou;
beelde, kleure sterk ekspressionisties
op palet van kommervrye hemelblou
rissierooi die dapper passie van jou;
jou ruim hartlikheid hommelbygeel;
my lief, ek verf ’n kleurryke gedig vir jou
breë kwas bind verlate verslyne gou
in komplementerende jukstaposisie
op palet van sorgvrye hemelblou
onverdunde olieverfstrofes steeds nat
onthul skaamdapper ’n voldoekgedig;
my lief, dié gedig is geskilder net vir jou
op palet van versoenende hemelblou


Kommentaar
Netjies Desmond: geordende vorm én ritmiese klem, kleurvol en klankryk!
Baie dankie, Louis. Dit is lekker om as ou toppie hierdie digvorm aan te leer. Dinge wat julle meesters gemaklik met toe oë doen, terwyl julle op een been staan met hande agter die rug geboei.
Digter en vriend van formaat! So ’n mooi gedig. Groete vanuit Perth.
Baie dankie Lizelle. Sterkte met die laaste skof en vestiging in Sydney en die leef en skryf van julle eie Griessels-storie vol avontuur daar doer onder 🙃