Vier vrae aan Margit Meyer-Rödenbeck

  • 0

Teater is eenvoudig ’n kykie in die lewe van die karakters op die verhoog. Só getuig twee stories waarvan Margit Meyer-Rödenbeck die regie behartig. Kytie, ’n Koos Kombuis-storie was onlangs by die US Woordfees te sien en haar volgende stuk, Boksballade, is op pad KKNK toe.

Boksballade is ’n intieme vertelling van ’n lesbiese paartjie wie se verhouding van nege jaar tussen die bokse op die vooraand van hulle groot trek inmekaar tuimel. Chrizane van Zyl het met Margit oor die produksie gesels.
 

Hallo Margit. Jy het reeds verlede jaar opgewonde vir my van Boksballade vertel. Hoe lank is julle al besig met die stuk?

Die produksie het laasjaar by die Vryfees in Bloemfontein begin en hierdie is nou sy tweede speelvak.

Vertel my meer van die Boksballade-geselskap en wat elke deelnemer tot die produksie bydra.

Daleen Kruger is die dramaturg. Die idee vir die toneelstuk kom van haar en is gebore uit haar eie lewenservaring, maar dis nie outobiografies nie.

Alexa Strachan vertolk die rol van Mirte. Die karakter is ’n kunstenaar en meer “in touch” met die haar spirituele kant.

En dan is daar Franci Swanepoel, wat die rol van Bea vertolk. Bea is 'n baie suksesvolle eiendomsagent. 

Daleen Kruger en Alexa Strachan

 

Hoe verskil jou rol as regisseur vir Boksballade van jou mees onlangse Kytie – ’n Koos Kombuis-storie?

Kytie se teks is in lewensgrepe geskryf en handel oor die verloop van ongeveer 15 jaar. Boksballade stel letterlik die 60-minute-speeltyd op die verhoog voor. Die grootste uitdaging van Kytie was om dit te verplaas na die 1960’s, asook die twee akteurs, wat karakterisering oor ‘n tydperk van 15 jaar moet doen, en hoewel dit grepe is, moet dit as ‘n geheel ‘n sentrale tema oordra.

Boksballade het ek sagkens benader. Vir die gehoor moet dit voel asof jy deur ‘n spleet in die gordyn loer. ‘n Verhouding wat verbrokkel, is tog ‘n uiters private affêre. Die boodskap wat die produksie wil oordra, is dat ‘n verhouding tussen vrouens, mans, mans en vroue tog deur dieselfde spektrum van emosies gaan. Ek het juis probeer om nie die vertoning kontroversieel aan te bied nie, want dit gaan om aanvaarding en die afbreek van vooropgestelde idees.

Dit bygesê, die twee aktrises is uiters knap in hulle natuurlike spel.

Hoe dink jy gaan die algemene KKNK-teaterganger die stuk ervaar?

Boksballade is ’n niche-produksie en die deursnit KKNK–ganger gaan dit nie noodwendig kom kyk nie. Daar is niks “dieps” aan Boksballade nie. Dis net die verhaal van twee vroue wat mekaar ontgroei het. Hopelik kan elke teaterganger identifiseer met die universele idee van verlies.


Vervaardiger: Arena Produksiehuis-Margit Meyer-Rödenbeck
Teks: Daleen Kruger
Regie: Margit Meyer-Rödenbeck
Met: Alexa Strachan en Franci Swanepoel
Ondersteun deur die Hiemstra Trust
Tydsduur: 60 minute

KKNK, Grieselsaal, 3–6 APRIL, 17:00
Bespreek nou by Computicket http://online.computicket.com/web/event/boksballade/707073499/0/52732865

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top