Angeliere blom teen die agtermuur
'n swembad spieël die rook van braaivleisvuur
mense lag in t-bone geur en
glase klink
soos Bacchus meer en meer
die sinne wink
Kinders waggelspeel met
hond en bal
toe ene skielik in sy skeeftrap
val
klanke demp die spieël se breek toe dié kind -
in stilte
na die bodem sink
Angeliere blom teen die agtermuur
'n swembad spieël die rook van
verlate en verbrande braaivleis
op 'n vuur
eenkant het 'n hond gevind
en kou 'n kinnerskoen se lint

