
Fotobron: https://www.toolshero.com/leadership/second-chances-begin-now
Volgens die Woordeboek van die Afrikaanse Taal word die woord kans in verskillende kontekste gebruik. Dit kan verwys na die onvoorspelbare verloop van ’n gebeurtenis, onafhanklik van enige bepalende faktor (deur die gooi van ’n dobbelsteen word ‘n uitkoms op grond van toeval byvoorbeeld bereik); of na die waarskynlikheid dat ’n gebeurtenis kan plaasvind (soos in: die kanse is 1 uit 10 om die wedstryd te wen); of doodeenvoudig na ’n geleentheid wat hom voordoen of opduik.
’n Tweede kans sou dus nuwe moontlikhede of geleenthede kon skep om ’n impak op die verloop van ’n reeds bestaande proses te maak, hetsy deur blote toeval, waarskynlikheid of ’n nuwe geleentheid wat ontstaan. Indien ’n diagnose van kanker by ’n pasiënt gemaak word, bied die diagnose en toekomstige behandelingsproses byvoorbeeld nuwe geleenthede aan die persoon om tot ander insigte te kom en sodoende sy lewensfilosofie en/of -styl te wysig indien nodig.
Die meeste prosesse waarby mense betrokke is, impliseer dat eksplisiete en/of implisiete besluitneming ’n bepalende rol in die prosesse speel. ’n Reeks foutiewe besluite in die verlede kon aanleiding daartoe gee dat ’n persoon se lewe buite beheer geraak het as gevolg van byvoorbeeld patologiese dobbelary. ’n Tweede kans sou teoreties gesproke kon opduik indien die persoon professionele hulp vir sy verslawing ontvang en suksesvol gerehabiliteer word.
Die tydsverloop voordat ’n tweede kans opduik, speel nie ’n deurslaggewende rol met betrekking tot die gegewe potensiaal om die proses te wysig nie. In die geval waar ’n persoon die enigste oorlewende van ’n noodlottige ongeluk is (bv ’n motorongeluk, bergklimongeluk), spruit die tweede kans om te lewe onmiddellik voort uit die traumatiese gebeurtenis. ’n Student se hereksamen (die tweede kans) kan 12 maande later op ’n aanvanklike eksamen volg. ’n Baba wat in pleegsorg geplaas word (in tyd en ruimte word dus ’n nuwe begin dus gemaak), maar op ’n latere stadium deur ’n ander ouerpaar amptelik aangeneem word, kry met die verloop van tyd ’n tweede kans om binne ’n gesinstruktuur opgeneem te word. ’n Volwassene met ’n geskiedenis van materiële deprivasie kan na die verloop van etlike jare uit die bloute ’n tweede kans (soos ’n studiebeurs) ontvang om verder te studeer met die potensiaal om vooruitgang te maak.
’n Tweede kans impliseer natuurlik ook dat die impak of die uitkoms van die proses nie noodwendig altyd positief of gunstig hoef te wees nie. ’n Persoon kan byvoorbeeld weens omstandighede nie die geleenthede benut om in ’n gevangenis wat goeie professionele dienste beskikbaar stel, gerehabiliteer te word nie. ’n Student kan deur die hertoelatingskomitee van ’n universiteit vir ’n tweede keer tot ’n akademiese program toegelaat word, en ten spyte van die vergunning voldoen sy rekord weer eens nie aan die minimum kredietvereistes nie. ’n Huwelik kan na 20 jaar in ’n egskeiding eindig, waarna een van die egliede weer in die huwelik tree en dié verhouding ook op die rotse beland.
Spektrum navorsingsonderwerpe
Die generiese soekterm second chances is op die akademiese navorsingsplatform EbscoHost ingetik om ’n vinnige oorsig te verkry van die tipe navorsing wat internasionaal oor hierdie onderwerp gedoen word. Ten einde die omvang van die inligting meer hanteerbaar te maak is die seleksiekriteria afgebaken om hoofsaaklik voorsiening te maak vir portuurgeëvalueerde artikels wat in akademiese vaktydskrifte gepubliseer is. Dié platform toon aan dat 3 389 artikels tussen 1932 en 2020 gepubliseer is. “Tweede kans”-onderwerpe waaroor gepubliseer is, dek ’n baie wye gebied en sluit onder andere die volgende terreine in: klimaatsverandering; dieet; reënwoude; middelafhanklikheid; kliniese farmakologie; houdingsveranderinge; hofuitsprake en regspleging; ekonomie; regeringsbeleid, kanker en medies verwante toestande; deïnstitusionalisering van gevangenis; die globale finansiële krisis 2008–9; loopbaanontwikkeling; skooldruipelinge; verbandlenings; onderwys; akademiese prestasie; fokusgroepe; jong volwassenes; korrektiewe dienste; teologie en militêre situasies.
Indien ander soortgelyke akademiese databasisse geraadpleeg word, sou die omvang van die spektrum van onderwerpe nog verder uitgebrei word. Slegs vyf artikels is as voorbeelde ter illustrasie gekies sodat die “tweede kans”-konsep uit verskille invalshoeke verder toegelig kan word.
MIV
Die doel van Burns en medewerkers (2019) se kwalitatiewe studie met 58 kroniese MIV-pasiënte in Mosambiek (n=19), Malawi (n=18) en Kenia (n=21) was om die deelnemers se antiretrovirale behandelingstrukture (treatment regimen) vroegtydig te wysig en sodoende die pasiënte se lewensverwagting te verleng. Daardie pasiënte wie se aanvanklike antiretrovirale terapie oneffektief blyk te gewees en/of misluk het (met die dood as enigste uitkoms) is op ’n meer doeltreffende medikasieskedule geplaas en noukeurig gemonitor.
Hierdie gewysigde ingrypprogramme vir landelike pasiënte word deur die navorsers as ’n tweede kans op oorlewing beskou wat op ’n indirekte wyse hoop, optimisme, nuwe identiteite, verbeterde hanteringsmeganismes en verbeterde sosiale vaardighede tot gevolg het.
Gesigsoorplantings
Die doel van Lellouch en Lantieri (2019) se artikel is om te beklemtoon dat ’n tweede kans nie noodwendig ’n vanselfsprekende opsie vir ’n persoon is nie, maar dat die proses wat die moontlikheid vir ’n tweede kans skep, vooraf deeglik gekontroleer en geassesseer behoort te word.
Die eerste gesigsoorplantingoperasie in die wêreld is in 2005 uitgevoer. Die oorweging van ’n gesigsoorplanting by pasiënte met selftoegediende haelgeweerwonde skep komplekse uitdagings vir die betrokke mediese span. ’n Belangrike etiese kwessie ontstaan uit die moontlikheid dat ’n selfmoordpoging herhaal kan word na afloop van ’n gesigsoorplantingsoperasie by ’n persoon met selftoegediende haelgeweerwonde. Die navorsers beveel gevolglik aan dat deeglike pre- en postoorplantingsassessering deur ’n multidissiplinêre span deskundiges uitgevoer behoort te word.
Die doel hiermee is om lae-risiko-pasiënte te identifiseer, en sluit in die evaluering van die sielkundige vlak van funksionering, die bereidwilligheid van die pasiënt asook die sjirurgiese uitvoerbaarheid. Die skep van tweede kanse by gesigsoorplantingoperasies is dus nie vanselfsprekend nie, en word benader as ’n proses wat meer insluit as slegs die restourasie van ’n anatomiese komponent, of die verbetering van lewenskwaliteit.
Tweede kanse gaan dus hier oor die heropbou van selfagting wat in die kern van die konstruk menslike waardigheid geleë is.
Entrepreneurs
Wakkee en Sleebos (2015) fokus in hul studie op Nederlandse entrepreneurs wat aansoek doen om verdere finansiële hulp (maw ’n tweede kans) in die vorm van banklenings na afloop van bankrotskappe, sowel as op die houdings van bankbeamptes wat die aansoeke om lenings hanteer.
’n Steekproef bankamptenare (n=1 568) verbonde aan ’n Nederlandse bank is by die studie betrek. Die deelnemers is versoek om ’n vraelys oor die keuringsproses van entrepreneurs te voltooi. Die responskoers was 34%. Amptenare wat meer positief ingestel was teenoor die konstruk entrepreneurskap in die algemeen, het makliker lenings toegestaan. Indien ’n amptenaar bereid was om bankrotskap as ’n leerproses te sien, is kredietlenings ook makliker toegestaan. Daardie amptenare wat tot die besef gekom het dat ’n aansoeker gestigmatiseerd is, was ook geneig om makliker lenings toe te staan.
Die studie lewer dus ’n bydrae tot die ontwikkeling van die teorie van kredietaansoek bestuur. Dit toon aan dat nie slegs die interne bankbeleid ’n rol speel by die sukses of mislukking van heraansoeke (of tweede kanse) om krediet te bekom nie, maar ook die subjektiewe sielkundige dinamika van die individue wat vir die bank werk.
Vegvlieëniers
Torrance (1954) doen navorsing oor lugmagpersoneel wat grond toe gedwing is agter vyandelike linies in die Tweede Wêreldoorlog en die Koreaanse Oorlog. Oorlewing as ’n tweede kans word operasioneel gedefinieer as "to live where others would die". Die navorsing is kwalitatief van aard en die data is onttrek uit 200 onderhoude wat gevoer is deur personeel van die Menslike-faktor-navorsingsinstituut sowel as die Afdeling Militêre Intelligensie van die Amerikaanse lugmag.
By oorlewing is twee tipes struktuur noodsaaklik: duidelikheid of struktuur in terme van die metodes wat gevolg moet word vir oorlewing as die einddoel, sowel as duidelikheid oor die struktuur binne die groep oorlewendes. Laasgenoemde verwys na die mate waarin patrone van interafhanklikheid of interindividuele koppeling (linkages) binne die groep gestabiliseer is. Elke individu het bepaalde funksies om uit te voer. Die uitvoering hiervan bepaal die frekwensie en kwaliteit van interaksies in die groep. Die trauma van die oorlewingsituasie kan egter hierdie patrone kelder, ontwrig of in die gedrang bring, wat die uitkoms van die tweede kans op oorlewing sou benadeel. Daar moet absolute duidelikheid wees wat elke persoon moet doen, en nie moet doen nie. Hierdie voorbereidingsverduideliking is die verantwoordelikheid van die offisier in beheer van die groep. Daarsonder is die uitkoms van die tweede kans op oorlewing gedoem.
Victoriawaterval-insident
Gedurende Desember 1972 tot Januarie 1973 besoek ek en ’n goeie vriend die Victoria-waterval in die destydse Rhodesië as deel van ’n langer toer per motor wat ook besoeke aan Beira en Lourenço Marques (nou Maputo) in Mosambiek ingesluit het.
Die sg Rhodesiese bosoorlog, waarvan die eerste fase van 1964 tot 1972 geduur het, was in volle swang.
Ons het besluit om net ten noorde van die brug wat Rhodesië met Zambië verbind, in die diep kloof van die Zambezirivier af te klim om boulder-hopping onder in die ravyn te doen.
Toe ons onder kom en opkyk in die rigting van die brug was die gewapende magte wat die grenspos aan die Zambiese kant van die brug duidelik sigbaar.
Die volgende dag het ons verder op ons reis vertrek.
Enkele weke na afloop van ons besoek aan die Zambeziravyn word oor die radionuus aangekondig dat twee Kanadese toeriste onderskeidelik 19 en 20 jaar oud deur die Zambiese polisie vanaf die Zambiese oewer langs die brug (maw skuins oor die rivier en oor die internasionale grens) op die Rhodesiese oewer waar hulle gestap het, doodgeskiet is. ’n Derde persoon is gewond.
Die Zambiese regering het aanvanklik ontken dat Zambiese magte vir die skietery verantwoordelik was, en beweer die studente is deur vyande van Zambië noodlottig gewond om sodoende Zambië in ’n slegte lig te stel en daardeur sy verhoudinge met die internasionale gemeenskap te vertroebel.
Die vraag ontstaan nou of ons dalk onwetend ’n tweede kans op oorlewing gekry het. Waarom het die Zambiese magte nie op ons daar onder in die ravyn losgetrek nie, maar wel op toeriste aan die oorkant van die ravyn?

Foto van die Victoriawaterval: Pixabay
Kyk ook na nog foto’s in Ritsgids.co.za: https://www.southafrica.to/provinces/Zimbabwe/Victoria-Falls/helicopter/helicopter-Victoria-Falls.php.
Die omstandighede tussen die twee insidente was natuurlik in sekere opsigte heeltemal verskillend: Ons het onder in die ravyn aan die noordekant van die brug beweeg; hulle het aan die suidekant van die brug op die oewer van die rivier beweeg. Hulle het rugsakke gedra, terwyl ons nie rugsakke gedra het nie. Die samestelling van die groep soldate wat hul wapens afgevuur het, het na alle waarskynlikheid verskil. Dit kon nie dieselfde groep gewees het nie. Die veiligheidsituasie het ook verander, omdat die oorlog in omvang en intensiteit geëskaleer het vanaf Januarie 1973, toe fase twee van die oorlog ingelui is.
Daar is baie variasies op die tema van tweede kanse. Indien die Victoria-waterval-insident as ’n tweede kans beskou sou word, dan is dit moontlik dat ’n individu ’n tweede kans op oorlewing beleef sonder om werklik bewus te wees dat dit ’n tweedekansgeleentheid is totdat die insig op ’n later stadium by wyse van terugskouing teweeggebring word.
Gevolgtrekkings
’n Tweede kans skep nuwe moontlikhede met die potensiaal om ’n impak op die verloop van ’n reeds bestaande proses te maak. Tweede kanse is ’n komplekse verskynsel.
Of die uitkoms van ’n proses aan ’n suksesvolle tweede kans toegeskryf kan word, word deur ’n wye spektrum veranderlikes bepaal:
- Op sekere toepassingsterreine van die mediese beroep het die pasiënt self betreklik min of geen beheer oor of ’n tweede kans gegun word of nie, omdat die proses aan streng preassesseringsvoorvereistes moet voldoen. Die proses word uitsluitlik deur die mediese span self gekontroleer en bestuur.
- Onder sekere omstandighede word die uitkoms van ’n tweede kans deur groepsdinamika as ’n tussenkomende veranderlike bepaal. In situasies waar oorlewing op die slagveld op die spel is, is onder andere duidelikheid ten opsigte van groepstruktuur van deurslaggewende belang.
- In sekere finansiële omgewings word tweede-kans-besluite dikwels nie net deur reglemente, riglyne, bepalings en voorwaardes bepaal nie, maar ook deur die houdings en oortuigings van die besluitnemers.
- ’n Tweede kans kan aanvanklik as ’n totaal onbewuste proses presenteer. ’n Gebeurtenis sou kon plaasvind wat op daardie tydstip in effek op ’n tweede kans neerkom, maar eers lank daarna op grond van terugskouing helder tot die bewussyn deurdring. Op dié wyse ontstaan die insig dat die gebeurtenis inderdaad ’n tweede kans was.
Hierdie artikel is bloot verkennend van aard. Tersaaklike teoretiese konsepte uit vakgebiede soos die opvoedkunde, teologie en filosofie is doelbewus uitgesluit tydens die beplanningsfase van die artikel. Meer omvattende studies kan in die toekoms ander bykomende aspekte wat met tweede kanse verband hou, verder toelig.
Bibliografie
Burns, R, J Borges, P Blasco, A Vandenbulcke, I Mukui, D Magalasi, L Molfino, R Manuel, B Schramm en A Wringe. 2019. “I saw it as a second chance”: A qualitative exploration of experiences of treatment failure and regimen change among people living with HIV on second- and third-line antiretroviral therapy in Kenya, Malawi and Mozambique. Global Public Health, 14:8(1112–24). DOI: 10.1080/17441692.
Lellouch, AG en LA Lantieri. 2019. A second chance at life. Cambridge Quarterly of Healthcare Ethics, 28:463–67.
New York Times. 1973. Body of one of two women shot at Victoria Falls is recovered. 18 Mei. https://www.nytimes.com/1973/05/18/archives/body-of-one-of-two-women-shot-at-victoria-falls-is-recovered-zambia.html.
Snijman, FJ (red). 1968. Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Vyfde Deel. J–KJ. Pretoria: Die Staatdrukker.
Torrance, EP. 1954. The behavior of small groups under the stress conditions of "survival". American Sociological Review, 19(6):751–5. https://www.jstor.org/stable/2087922.
Wakkee, I en E Sleebos. 2015. Giving second chances: the impact of personal attitudes of bankers on their willingness to provide credit to renascent entrepreneurs. International Entrepreneural Management Journal, 11:719–42. DOI 10.1007/s11365-014-0300-0.


Kommentaar
New York Times. 1973. Body of one of two women shot at Victoria Falls is recovered. 18 Mei. https://www.nytimes.com/1973/05/18/archives/body-of-one-of-two-women-shot-at-victoria-falls-is-recovered-zambia.html.
Afrikaanse datum : MEI ...
Weereens ’n puik en aktuele artikel oor ’n "komplekse versynsel!"