Victoria se geheim (erotiese kapitaal)

  • 0

Volpunte aan die persoon wat die term "erotiese kapitaal" uitgedink het, maar om dit so oop en bloot op die lappe te gooi, was nie die beste van idees nie.

E-ro’ties, bnw en bw Wat betrekking het op die sinlike liefde. Dit is kort en bondig die HAT verduideliking. Soek ek vir ka-pi-taal’. snw is dit ‘n meer ingewikkelde storie. Die verduideliking wat myns insiens strook met die konteks waarin dit hier voorkom, is: In die ekonomie, goedere wat nie vir verbruik is nie, maar vir produksie van ander goedere bestem is.

Sinlike liefde wat nie verbruik word nie, maar aangewend word vir die produksie van ander goedere. Klink vir my soos ‘n lang bottelblonde fopdosser wat diepnag van Loopstraat af oppad is Adderleystraat toe.

Liefde, weet ek nou al, is ‘n onverklaarbare ding wat onder mense se velle rondkruip. Dis die vleitaal wat ‘n man gebruik om sy bok plat te trek en dis ook die knieskerms waarmee ‘n vrou in onderdanigheid op die grond rondkruip. HAT sê dit is ‘n hartlike geneentheid, gehegtheid aan ‘n persoon of saak.

”Sinlik” volgens die Groot Tesourus van Afrikaans is so ‘n klomp uiteenlopende goed dat mens dit amper nie voor die kinders kan oorvertel nie: onbetaamlik; dekadent; pervers; sedebederwend; hitsig, geil; onwelvoeglik; uitspattig; verleidend, om maar net ‘n paar – en die sagstes – te noem.

As ek dit nou alles bymekaarsit, verduidelik ek “erotiese kapitaal” as volg:

‘n Hitsigheid wat iemand heeldag voor ander se neuse rondswaai, sonder om enigiets daarmee te doen behalwe om ander mense te motiveer om iets te doen. En dan neem ek aan daardie “iets anders” is vir die rondswaaier tot voordeel. Steve Hofmeyr se naam word ook hieraan gekoppel. Enersyds weet ek darem nie, want hy het dit wat hy rondgeswaai het, gebruik; andersyds kan hy in ‘n ou jean en t-shirt op die verhoog staan met ‘n persoonlikheid wat by die saal se deure en vensters uitpeul.

Met die ophef oor hierdie nuwe term, is ek van gedagte dat dit tot gevolg kan hê dat mense nou nog minder produktief gaan wees en daar ‘n oplewing gaan wees in die verkope van “sinlike” verbruikersgoedere: pienk volstruisvere; vals wimpers; haar-inplantings vir mans; gekleurde kontaklense, ens. En glo my, dis glad nie so vergesog nie.

In die korporatiewe wêreld is erotiese kapitaal lankal die insignia wat ‘n hoër persentasie salarisverhoging of bonus kan verseker. Hulle noem dit die “face of the company” en werkverrigting het bitter min daarmee te doen. Colgate, Pantene, Hugo Boss, Victoria’s Secret, Aramis, Virgin Active, Diners Club kaart en Louis Vuitton en Rolex het wel. Dis hoekom ons ekonomie so “sinlik” agteruitgaan: die toegewyde, hardwerkendes in hulle Edgars Corporate Wear kan en wil net nie meer twee mense se werk doen vir ‘n drie persent salarisverhoging nie. Hulle sien wat aangaan, maar daar is ongelukkig niks wat hulle daaraan kan doen nie, behalwe om oor te gaan in sloerwerk.

Die bevoordeling van Eros in die werkmilieu loop maklik uit op emosionele teistering. Die ou met die gladste tong, ontwerperspak en pienk das; die vrou wat drup met suggestie, kry die voordeel, ten koste van die met kennis en toegewydheid.

Binne enige konteks is emosionele aftakeling baie skadeliker as ‘n blou oog of ‘n gebreekte neus; tog bly dit die voorkeur-manier om van die valies ontslae te raak, net omdat hulle vaal is. Omdat daar geen skriftelike waarskuwing uitgereik word nie, bevind die valie hom/haar aanvanklik in ‘n fase van vertwyfeling. Dalk is dit verbeelding; dis miskien net tydelik. Hoe meer nougeset en deeglik die slagoffer probeer werk, hoe meer meedoënloos raak die aanvaller. Onder direkte konfrontasie sal die aanvaller die slagoffer aanprys en waardering uitspreek, selfs ‘n verhoging aanbied vir uitstekende werk. Net om ure later die volgende aanval uit te voer. Dit neem ‘n tyd om te besef dat Eros ook maar net ‘n mitologiese god is en dat die kapitaal krimp in plaas van groei.

Erotiese kapitaal mag werk vir entrepreneurs, akteurs en kunstenaars, maar in die korporatiewe omgewing deug dit beslis nie. Hou maar Victoria’s Secret vir vanaand by die huis. Dis veel minder gekompliseerd en baie meer guitiglik plesierig.

Suikerbrood en suurvye 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top