VFKT in Johannesburg

  • 0

Dis sewe-uur Vrydagaand en by die Standard Bank-arena in Johannesburg staan klein groepies mense half bedremmeld rond. Vir ’n oomblik wonder mens of jy by die regte plek is of dalk te vroeg opgedaag het. Dit gebeur nie elke dag dat Johannesburg se rock-liefhebbers die geleentheid kry om nie een nie, maar vier van Suid-Afrika se gewildste groepe op een verhoog te aanskou nie. Die sogenaamde Bellville Belt – Die Heuwels Fantasties, aKing, Van Coke Kartel en Fokofpolisiekar – se VanFokKingTasties-konsert het van Kaapland tot bo in die noorde gereis. En hoewel dit lyk of die meeste inwoners van Jozi soos gewoonlik verkies om agter elektriese heinings weg te kruip en TV-reekse te kyk, heers daar ’n gevoel van opwinding onder die enkele dapperes wat hul veilige vestings vir die Goudstad se ingewande verlaat het.


Van Coke Kartel

Wanneer Die Heuwels Fantasties op die verhoog stap, druk mense wat nog buite sit en kuier, haastig hul sigaretstompies dood en fladder soos motte na die lig en klank. En so vloei die groepies inmekaar en vorm ’n massakoor wat elke woord van treffers soos “Klein tambotieboom”, “Pille vir Kersfees”, “Beloofde land” en “Sonrotse” in bewonderende eenvormigheid uitbasuin. Met die laaste note wat nog in die lug hang, gooi Pierre Greeff die set list in die gehoor in en tientalle fans sak soos honger honde daarop toe.


Pierre Greeff (Die Heuwels Fantasties)

Daarna ontplof Van Coke Kartel op die verhoog. Die bebaarde baskitaarspeler Wynand Myburgh lyk soos ’n verwoede grotman wat kitaar in die hand sy prooi bestorm. Sy energie syfer deur na die mense in die gehoor wat teen die tralie-afskorting voor die verhoog begin beur, hande omhoog. Aan die einde van hul uitbundige set speel hulle die rustiger nuwe song, “Tot die son uitkom”. “As dit klank is waarna jy soek, dink ek jy’s op die regte plek,” sing Francois van Coke byna profeties.


Francois van Coke

Hoewel dit lyk asof die gehoor nie so vertroud is met al aKing se songs nie, is Laudo Liebenberg se stem soos ’n magtige dreuning wat die bykans leë lokaal met warmte vul. Mense herken wel radiotreffers soos “You and I” en kom dan behoorlik tot lewe. “Ek het nie geweet hulle is local nie!” gil ’n opgewonde meisie bo-oor die musiek aan haar vriend. “You’re still young and breathing’s easy, suck it in,” beveel Liebenberg. En jong Suid-Afrika gehoorsaam hom.


Laudo Liebenberg (aKING)

En dan breek die aand se keerpunt aan. Sommiges meen hul tyd is verby. Dat hulle hul doel gedien het. "Sag" geword het. Maar Fokofpolisiekar se teenwoordigheid op die verhoog is elektries. Francois van Coke behoort aan die gehoor. 'n Jong knaap met 'n stywe pienk kniebroek hys homself so hoog as wat hy kan teen die tralie-afskorting voor die verhoog. "Francois! Ek wil jou kinders hê!" bulder hy. Van Coke se uitgesteekte hand word honger deur die skare ingesluk. Uit elke keel rys dawerend luid die akkoorde. 


Hunter Kennedy (Fokofpolisiekar)

Toe dit verby is, is die stilte amper onverwags. Met die ligte aan besef jy weer hoe spookagtig leeg die arena is. Maar vir 'n paar uur was daardie leemtes gevul. Vir een aand was Johannesburg VanFokKingTasties. 


Die Heuwels Fantasties


Die Heuwels Fantasties


Andrew Davenport (aKING)


Francois van Coke


Hunter Kennedy


Johnny de Ridder (Fokofpolisiekar)


Philip Erasmus (Die Heuwels Fantasties)

Foto's: Riaan Grobler

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top