Volgens die koerante kan ons, almal wat in die SAW gedien het, as "veterane" registreer.
Dit is ’n koue oggend in Bloemfontein toe ek by Tempe se hoofhek inry, die koue grys wolke hang laag en ’n koue ysreën sak uit toe ek die bekende pad opry na regiment Bloemspruit se kantore; daar is niemand by die hek van die regiment nie so ek maak die hek self oop en stap na die kantoor waar ek almal voor die verwarmer kry; die persoon met die hoogste rang daar, en ek neem aan die mens in beheer, vra of hy kan help. Ja, sersant, ek wil registreer as veteraan.
Die sersant is behulpsaam - wys my waar ek kan gaan sit. By ’n tafel, waar ek langs ’n ouerige dame stelling inneem. In haar hande hou sy ’n groot bruin koevert vas en antwoord vrae aan die weermaglid wat reg teenoor haar sit en haar help om die dokumente te voltooi. Ek begin my dokumente invul, die army is die army sover dit dokumentasie aangaan, en ek vul my dokumente in met ’n vraag hier en daar oor iets waarvan ek nie seker is nie. Die dame langs my word simpatiek gehelp, maar omdat ek besig is met my eie dokumente, slaan ek nie juis ag op wat sy sê nie. Uiteindelik is ek klaar, stoot my stoel agteruit om op te staan, toe hoor ek hoe sy iets vra, of sy ook in aanmerking sal kom en die lid wat haar help. Vra haar wat gebeur het en sy sê met ’n hartverskeurende gelatenheid hulle het vir haar kom sê haar kind is doodgeskiet tydens operasie Savanna. Volgens die seun se testament is sy en sy pa begunstigdes, maar het sy stawende bewyse vra die lid en sy sit die verweerde bruin koevert voor die lid neer. Voorop is in groot rooi letters geskryf: TESTAMENT.
Boer in Beton

