Vet feetjies vlieg nie deur Kristel Loots: ’n resensie

  • 1

Vet feetjies vlieg nie
Kristel Loots
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624083245

“Kristel Loots is iemand wat oor vet vroue skryf,” het ’n leser onlangs Afrikaans se chicklit-koningin in ’n boksie probeer druk. Wat mens laat wonder: Is daar iets mee verkeerd om oor vet vroue te skryf?

Indien dit “verkeerd” is om oor oorgewig vroue te skryf, is die volgende logiese vraag of dit dan verkeerd is om oorgewig te wees.

Ongelukkig is die antwoord in die moderne samelewing ’n onomwonde ja. Dis sosiaal onaanvaarbaar vir vroue om oorgewig te wees. (Mans spring blykbaar steeds hierdie lot grotendeels vry.) Heelwat pogings word uit verskillende oorde aangewend om hierdie stereotipe die nek in te slaan, maar die sukses is beperk. Selfs werklik maer vroue voel dikwels steeds hulle voldoen nie aan die (onrealistiese) standaard nie.

’n Dekade of wat gelede sou ’n Afrikaanse liefdesverhaalskrywer dit kwalik gewaag het om die romantiese hoofkarakter van ’n boek ’n oorgewig vrou te maak. Heldinne was bloedjonk, brandmaer en selde enigsins selfgeldend. Loots is deel van die vreugdevolle ontploffing van genrefiksie wat Afrikaans op die oomblik beleef waarin ook klaargespeel word met hierdie verouderde opvatting. Vandag wemel Afrikaanse ontspanningsfiksie van (dikwels ouer) heldinne wat nie (meer) strykplanklyfies het nie en hulle beslis nie daardeur laat kortwiek nie. Loots se hoofkarakters in liefdesromans soos Aspoesterskoene, Sjokoladesoene, Lemoenseisoen en die bekroonde Eendagmooi (ATKV-Veertjie vir liefdesroman, 2013) is sprekende voorbeelde hiervan.

Chicklit soos Vet feetjies vlieg nie is maar een van die subgenres wat deesdae gretig gelees word en in haar werk in hierdie kategorie sluit Loots weer eens aan by die neiging tot meer realistiese heldinne in romantiese fiksie.

Maar wat is chicklit nou eintlik? Is dit noodwendig Bridget Jones wat met haar gewig worstel, flaters maak in haar beroep en op die verkeerde man verlief raak? Is dit bloot ’n liefdesverhaal wat met humor opgedis word? Maak ’n paar handelsname en ’n paar moderne verwysings van ’n liefdesverhaal ’n chicklit-verhaal?

Bogenoemde is wel dikwels elemente van chicklit-verhale, maar die genre staan en val nie daarby nie. Die essensie van chicklit lê in die lighartige hantering van ernstige kwessies wat die moderne jong vrou raak. As die vet feetjie aan hierdie kriterium getoets word, slaag sy met vlieënde vaandels.

Vet feetjies vlieg nie is voorafgegaan deur juwele soos ’n Hap van die appel, Sushi en sjampanje en Troukoek maak nie vet nie. Die eenvormige voorblaaie bring die titels effektief onder dieselfde kategorie byeen. Soos dié van haar voorgangers, is Vet feetjies se voorblad funky, speels en lig. Die unieke titel impliseer pret, maar ook patos. Want wat bly oor vir ’n feetjie wat nie kan vlieg nie? (Lees die boek om die antwoord te kry!)

Genrefiksie verseker dat die leser vooraf ’n idee het wat om te verwag. In ’n wêreld vol verandering kan dit gerusstellend wees om ’n boek van Deon Meyer of Irma Joubert op te tel en min of meer te weet waarvoor jy jou inlaat. Ook met Loots se chicklit-titels weet die leser wat om te verwag en dis juis deel van die bekoring van die boeke.

Die leser weet sy kan ’n prettige wipwarit verwag wanneer sy een van Loots se boeke en veral haar chicklit-titels optel. Vet feetjies vlieg nie is deurspek van Loots se kenmerkende humor. (“Lyk of hy ’n leeumannetjie grond toe kan stoei – en jy dan nog steeds slegs aftershave sal ruik”, bl 8.) Soms neig dit na galgehumor, die lag met ’n traan. Daar is dikwels ’n diep hartseer agter Lucy se gevatte uitsprake. (“Potjierolle wat soos vraatsugtige stofsuiers alles wat nie giftig is nie voor die voet verslind ...”)

Die leser moet ook besef hier is ’n moderne jongmens aan die woord, en dit beteken nie suiwer Afrikaans sonder kragwoorde nie. “(M)y ouma is nie een wat aan ’n drol in die drinkwater ’n mooier naam gee tensy dit absoluut noodsaaklik is nie,” stel Lucy die saak duidelik op bl 45, en op bl 69 sê sy: “Ek ís effens feetjiebedinges. Maar darem nie feetjiebefok nie ...”

Die leser van chicklit weet die heldin is ’n moderne vrou wat met moderne, maar ook eeue oue probleme worstel. Lucy worstel onder andere met haar gewig, haar selfbeeld, baie skuldgevoelens, haar ouers, haar behoefte aan iemand om lief te hê. Hierdie kwessies is so oud soos die mensdom en so vars soos môreoggend se doudruppels. Die tydlose kwessies bring mee dat die leser met die heldin kan identifiseer, al is sy self nie meer bloedjonk nie.

Ja, in chicklit word daar redelik lig met die werklikheid omgegaan. Dit beteken egter nie dat ligsinnigheid aan die orde van die dag is nie. Chicklit is nie spookasemleesstof nie. (Wie hieraan twyfel, kan gerus Marian Keyes se Rachel’s holiday met die tema van dwelmverslawing lees, of The mystery of Mercy Close, oor depressie.)

Die kuns lê juis daarin om aktuele temas op ’n toeganklike en vermaaklike manier te hanteer. Hierin slaag Loots keer op keer uitmuntend. Die probleme waarmee Lucy Lombaard worstel, strek veel verder en dieper as die oppervlakkige gewroeg oor gewig en kêrels. Lucy is ’n slagoffer van ’n tydsgees waarin ’n vrou selde maer genoeg en mooi genoeg kan wees – en waar maer en mooi onlosmaaklik verbonde geword het. Haar selfbeeldprobleem lê diep, dit maak seer en dit beïnvloed ander aspekte van haar lewe. Haar frustrasie in haar oninspirerende werk by SARS vorm ’n treffende teenpool vir haar feetjie-behangde woonstel en haar blog Funky Feetjie, waar sy aktuele onderwerpe takel terwyl sy agter ’n denkbeeldige persona wegkruip.

Die koms van die mediabaas Billy Bruwer plaas Lucy op die pad na ’n nuwe lewe waar sy as Lucy Lombaard op haar eie (welgevormde) bene kan staan en haarself genoeg kan aanvaar om nie langer weg te kruip nie. Billy aanvaar haar soos sy is; hy wil haar nie verander nie. Maar hy is nie haar redder nie. Lucy is heeltemal in staat om haarself te laat geld wanneer sy haarself leer aanvaar en die geleentheid aangryp om ’n kreatiewe en bevredigende loopbaan te bou.

In vet feetjies vlieg nie slaag Kristel Loots weer eens daarin om eietydse probleme op ’n prettige en toeganklike manier te hanteer. Lucy se verhaal word sterk aanbeveel vir liefhebbers van moderne stories wat ook tydlose kwessies aanspreek.

  • 1

Kommentaar

  • Die boek is baie pret om te lees. Billy Bruwer as die "prins" in die verhaal laat my wel so bietjie frons. Ek kry gay vibes van die karakter, veral met sy gebruik van woorde soos "dis fabulous!" en sy passie om skindertydskrifte te skryf. Dit bring my ook tot sy doktorsgraad. Ek kan nie dink dat iemand met 'n doktorsgraad sal belangstel om te skryf wat celebs doen in tydskrifte nie, soos daar gesê word, intelligente mense praat oor idees en nie oor ander mense nie. Ek het hierdie boek opgetel, want dit lyk nie soos 'n oppervlakkige storie nie, maar gaan juis oor iemand wat deur die lewe moet kom sonder om staat te maak op die stereotipe mooi voorkoms. In hierdie aspek doen Vet feetjies vlieg nie baie goed. Thumps up!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top