Titel: Vlam
Skrywer: Sidney Gilroy
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798182188
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
’n Vuur laat ’n spoor agter, vlamme vorm patrone. Die verwoesting wat ’n brand saai, vertel sy eie, unieke storie. Wanneer ’n ondersoekbeampte ’n brand ondersoek, moet hy heel eerste vasstel wáár die brand ontstaan het. Dit sal hom na die oorsaak lei.
In Vlam deur Sidney Gilroy brand die wêreldberoemde kunstenaar Aretha Hattingh se kunsgalery en woning af en die oorskot van ’n vrou word in die puin gevind. Wat die vraag laat: Het sy haar eie lewe geneem of is sy vermoor?
As die brandpatrone korrek geïnterpreteer word, sal dit jou teruglei na die oorsprong van die brand. Maar jy moet terugwaarts beweeg, in die verlede in, terug op die spore van verwoesting wat gelaat is. Dis presies wat Sidney Gilroy in hierdie heerlik tergende en senutergende boek doen. Hy lei ons terug na die oorsprong van alles. Die middelpuntige lont van die vuur. Aretha self.
Haar lewe word stuk vir stuk aan ons ontbloot aan die hand van die verskillende rolspelers en in sommige gevalle ook die verdagtes in die brandsaak soos wat hulle ondervra word deur speursersant Sollie Mthembu.
Sollie is die hoofkarakter in Gilroy se vorige boeke, maar anders as sy laaste, Middernag, is dit nie so grusaam nie. Dié keer word geen grillerige verminkte lyke gevind nie. Daar is net een liggaam, genadiglik reeds verkool sodat ek nie weer grilstuipes soos in die vorige boek kry nie, maar tog hou die boek jou warm op die spoor van wat gebeur of nié gebeur het nie.
Wat ons bring by Aretha Hattingh. En by my en Sidney. Ons ontmoet een aand in Durbanville. Dis warm. As ek my pas gekoopte boek vir Sidney gee, vra ek hom (aangemoedig deur ’n glas wyn en die vonkel in sy oog) om vir my iets “scary” voor in te skryf. Wat hy dan ook doen. Hy skryf: Erla! Ek wil hê jy moet vir my één rede uitdink hoekom jy nie Aretha kan wees nie!
Wat de …!
Aretha is ’n enigma. Seksueel sterk, kaalvoet-natuurlik en baie bewus van die uitwerking wat sy op mans het. ’n Vrou met talent en sjarme. Maar soos wat Sollie begin krap tussen die asserige oorblyfsels van Aretha se lewe, vind hy verskeie verdagtes – elkeen met ’n eie moontlike rede om haar te sou wou vermoor en elkeen ’n getuie van ’n ander kant van Aretha – ma, kunstenaar, verleidster, vriendin, gedugte sakevrou.
Maar belangrik in die boek is die tema van geweld. ’n Nodige een in vandag se wêreld waar geweld teen vroue onblusbaar voortwoed en waar omstanders steeds wonder hoekom ’n mishandelde vrou by ’n gewelddadige man bly.
En dis waar daar wel ’n pynlike ooreenkoms tussen my en Aretha is. ’n Gewelddadige eks. Wat dit natuurlik gepas en ironies maak dat ek Vlam juis op ’n reënerige dag sit en lees in ’n hof in Bishop Lavis, waarheen wanhopige ouers hulle wend om onderhoud vir hul kinders te verhaal. Want ’n vernietigende vlam word nie sommer geblus nie.
Maar terug by Aretha.
In haar eie woorde, en in die vertellings van die mense wat haar geken het, word verskeie redes gegee vir die ingewikkelde en gewelddadige verhouding wat sy gehad het met ’n skatryk sakeman met wie sy trou en dan later van skei.
Het sy met vuur gespeel deur met hom te trou vir ’n paspoort? Het haar ambisieuse planne haar lewe uiteindelik aan puin gelê? En watter rol speel al die mans op die dorp in haar lewe? Dalk was hulle seksuele pionne. Miskien het sy hulle uitgehonger en toe word hulle honger vir wraak.
Al dié vrae duik op en word op vernuftige wyse beantwoord. Tussendeur sal aanhangers van die nimlike, wroegende Solly saam met hom tob oor sy wankelende huwelik. Maar soos wat hy probeer sin maak uit die brandspoor wat gelaat is, maak hy ook sin van sy eie verwoeste huwelik en waar dit alles begin verkeerd loop het.
Want pyn, soos ’n brand, het altyd ’n oorsaak.
Ns. En hoewel ek toe nie ’n rede kon uitdink waarom ek nié Aretha kan wees nie, kon ek wel aan ’n rede dink waarom daar net één Sidney Gilroy kan wees – want niemand verweef emosies, ’n byna poëtiese skryfstyl en misdaad so vaardig soos hy nie.