Verwarde ideologie knou die ekonomie

  • 0

Baie Suid-Afrikaners meen die land is op pad om ’n tweede Zimbabwe te word. Swak onderwys, die Eskom-fiasko, vakbondeise en dom politieke besluite dwing die ekonomie op sy knieë. Die hoofekonoom van Efficient Group, Dawie Roodt, het aan Jean Oosthuizen gesê ons is nie ’n mislukte staat nie, maar die regering is ideologies verward. Suid-Afrikaners moet help om die verval stop te sit voordat dit te laat is. Gordel jou maar vas vir ’n onstuimige jaar.

Ekonomie behels, in jou eie woorde, veel meer as grafieke en wisselkoerse. Dit gaan oor mense. Mens moet eers mense verstaan om die kloutjie by die oor te kry van wat op die mark gebeur. Maar wie is die “mark” en hoe moet die gewone mens dit verstaan?

Inderdaad, dit gaan oor mense. Ek wonder soms of ’n graad in sielkunde nie beter is as ’n graad in ekonomie nie! Die “mark” is ek en jy. Die mark is ons almal en nie die een of ander vormlose “wese” êrens nie. Ekonome probeer verstaan waarom mense die rand, tamaties, drank en haarsnye koop en verkoop. Wanneer ons dit verstaan, dan verstaan ons die “mark”.

Die mark lyk maar bleek gegewe die politieke situasie in Suid-Afrika. Voorsien jy enige noemenswaardige ekonomiese groei vir Suid-Afrika die volgende tien jaar?

Na watter mark verwys jy hier? Die ekonomie? In welke geval dit maar vrotterig lyk. Die mark vir kragopwekkers? In welke geval die mark baie goed lyk. Die mark vir aandele? In welke geval dit ook maar papperig lyk. Die mark vir die rand? Wat ook swak lyk.

Kan ons met ander woorde heelwat meer belastingverhogings te wagte wees om die boeke te laat klop en indien wel, watter soorte belastingverhoging is ons voorland?

Inderdaad. Die politici spandeer gewoonlik meer van ons geld as wat hulle deur belastings ontvang. Intussen het hierdie besteding en beloftes al soveel toegeneem dat die bestaande belastingbronne nie meer kan byhou nie. Ek dink ’n aantal belastings gaan verhoog word: persoonlike-inkomstebelasting, BTW, kapitaalwinsbelasting en die brandstofheffing (met sommer baie!).

Thabo Mbeki het gepraat van ’n tweewêreld-ekonomie. Was hy nie dalk reg as mens kyk na die groeiende gaping tussen ryk en arm nie?

Hy was reg, maar ook verkeerd. Daar is net een ekonomie en ons is almal deel daarvan. Wat egter waar is, is dat daar ’n groeiende gaping tussen rykes en armes is. Ek is egter glad nie daaroor bekommerd nie, solank die armes net beter af is as in die verlede – en dit is inderdaad die geval. Die laaste paar jaar het dinge swarerig gegaan, maar indien jy die armes van vandag met die armes van ’n paar jaar gelede vergelyk, is vandag se armes baie beter daaraan toe.

In jou boek Tax, Lies and Red Tape verduidelik jy die ingewikkelde ekonomiese prosesse wat Jan Alleman se sak raak. Gewone Suid-Afrikaners hou hulle soms baie slim oor die ekonomie, maar verstaan dikwels bitter min daarvan. Hoe bring mens die boodskap in verstaanbare taal by die man op straat tuis dat ekonomie oor mense gaan en nie net oor grafieke en uitruilkoerse nie?

Eintlik is ons almal ekonome, en die “prosesse” wat ons raak, is baie eenvoudiger as wat ons dink. Al wat nodig is om te weet, is dat ons mense is en dat ons menslike dinge doen. Verder is dit ook belangrik om te weet dat die staat nie iets vir iemand kan doen sonder om dit eers van iemand anders weg te neem nie.

Dis ook nie moontlik om iets te verbruik sonder dat dit geproduseer word nie. Dis ook nie moontlik om ’n ekonomie te laat groei sonder dat ons eers spaar nie. Anders gestel, ’n ekonomie is baie soos ‘n individu se finansies. Al wat jy moet weet, is dat jy gedissiplineerd en verantwoordelik moet optree en dat ’n makliker uitweg gewoonlik nie bestaan nie. Rykdom en voorspoed word uit harde werk verwerf.

Die land se donker ekonomiese prentjie word nog donkerder as mens kyk na Eskom se kragonderbrekings, wat volgens alle aanduidings die volgende drie jaar ons voorland gaan wees. Hoe groot is die invloed wat dit op die land se ekonomie gaan hê?

Reusagtig! Ek het bereken dat die Suid-Afrikaanse ekonomie meer as 10% groter sou gewees het as ons net genoeg krag sedert 2008 gehad het. Dit is gelyk aan sowat R300 miljard of meer as een miljoen werksgeleenthede! En hierdie jaar gaan dit weer ekonomiese groei benadeel.

Wat is jou mening rakende staatsbesteding vir sogenaamde beleggingsprojekte soos kernkragstasies. Is die besteding wat nodig is, nie bo ons vuurmaakplek nie, en hoe moet die staat sulke besluite neem uit 'n finansiële oogpunt?

Die realiteit is dat die staat sekere infrastruktuur gaan en moet voorsien. Die beste manier om dit te doen is om die privaatsektor soveel moontlik te betrek. In die geval van kernkrag is dit vir die oomblik waarskynlik nie ’n opsie nie, eenvoudig omdat so ’n projek verskriklik duur is. Nogtans dink ek kernkrag behoort deel van ons kragstrategie te wees, maar die staat sal eers sy finansiële sake in orde moet kry.

Koop Tax, Lies and Red Tape by Kalahari.com.

Nog iets wat die land se ekonomiese groei kniehalter, is die land se swak onderwysstandaarde. Daar was ’n 2,4%-daling in verlede jaar se matriekslaagsyfer (75,8% in 2014 teenoor 78,2% in 2013). Dit was die eerste keer sedert 2008 dat daar ’n daling was. Byna 70 persent van die land se werkloses is jonger as 35 jaar. Dit is mos ’n tydbom wat wag om te ontplof en hoe keer mens dit?

Om iets oor ons werkloosheid en onderwysstandaarde te sê kan baie boeke beslaan! ’n Paar punte:

  • Ons jaag kwalifikasies na terwyl ons meer aandag aan vaardighede moet gee.
  • Vakbonde is een van die belangrikste redes waarom onderwys so swak is in die land.
  • Ons spandeer meer aan onderwys as die meeste ander lande, nogtans is ons onderwys swak en soms die swakste in die wêreld!
  • Die enigste langtermynoplossing is om onderwys aan die privaatsektor oor te laat.
  • Werkloosheid sal ’n baie groot probleem bly weens ons swak onderwys, omdat ons die verkeerde tipe “onderwys” verskaf en omdat die ekonomie nie vinnig genoeg groei nie.

En selfs baie van diegene wat matriek slaag, sal oor ’n jaar steeds werkloos wees. Wat help dit?

Jy het gelyk. Meer as 70% sal oor ’n jaar na matriek steeds nie werk hê nie. Intussen het ons ’n tekort aan tegniese mense wat binne ’n redelik kort tyd opgelei kan word (ons voer jaarliks sweisers vanaf Indië in).

Onthou ook dat die wêreld deur ’n nywerheidsrevolusie gaan waar kapitaal (tegnologie) baie meer “produktief” word (masjiene neem ons werke oor) en waar baie spesifieke vaardighede benodig word – ons onderwysstelsel verskaf dit eenvoudig nie.

Van onderwys gepraat, jy het baie onderwysers verlede jaar die harnas in gejaag toe jy gesê het onderwysers is oorbetaal en onderwerk. Dit is darem seker nie op almal van toepassing nie. Staan jy nog by jou standpunt en na watter onderwysers het jy verwys?

Die punt wat ek wou maak, is dat die belastingbetaler baie betaal vir onderwys, maar ’n swak opbrengs vir hierdie “belegging” kry. Maar om dié punt dalk anders te stel: indien jy ’n onderwyser is wat nie elke jaar al jou siekverlof opgebruik nie, wat betyds by die werk is, wat naweke en na ure nasien en voorberei, wie se studente meestal slaag, wat nie staak nie, wat nie verhoudings met jou leerlinge het nie, dan praat ek nie van jou nie! Die onderwysers wat nie hulself aan bogenoemde skuldig maak nie word waarskynlik hopeloos te min betaal!

Daar het verlede jaar ’n groot debat onder ekonome gewoed na aanleiding van die rubriekskrywer Magnus Heystek se stelling dat Suid-Afrika op pad is na ’n “mislukte staat”. Jy het van hom verskil. Verskil jy nog van hom en indien wel, hoekom?

Inderdaad. Ek verskil omdat ons steeds baie sterk en goedgevestigde instellings in die land het. ’n Land waar hierdie instellings nie meer bestaan nie, is ’n land wat misluk het. Alhoewel van hierdie instellings onder druk vanaf die staat is, bestaan hulle steeds en is meestal sterk. Ek verwys na instellings soos ’n vrye pers, onafhanklike regbank, beskerming van eiendomsreg, onafhanklike sentrale banke ens.

Tog is mense besig om hulle vertroue te verloor in voorheen gerespekteerde instellings soos die onafhanklike sentrale bank, die media en selfs die regbank. Kyk maar hoe die Suid-Afrikaanse inkomstediens in duie stort en hoe ’n mediareus soos Independent Newspapers dit vir joernaliste moeilik maak. Daar is selfs vrae oor die onafhanklikheid van die regbank. Is dit nie genoeg om die rooi ligte te laat flikker en uiteindelik die dun ent van die wig wat tot ’n “mislukte staat” lei nie?

Sonder twyfel! Van al hierdie instellings is private eiendomsreg die belangrikste, want alle ander “regte” vloei uit persoonlike eiendomsregte. Dis ons almal se plig om te verseker dat ons die verval stopsit voor dit te laat is! Ongelukkig het ons politieke leiers wat nie besef dat hulle vir ons werk nie en nie die waarde van individuele regte besef nie, want hulle behoort meestal aan ‘n ideologiese skool wat die onderdrukking van individue ondersteun.

Die groot positiewe faktor is darem dat oliepryse veel vinniger as kommoditeitspryse geval het, maar die rand bly onder druk. Sal ons genoeg voordeel uit die lae olieprys trek om die ekonomie ’n behoorlike hupstoot te gee?

Dit sal sommer baie help. Ongelukkig gaan die minister van finansies die belasting op petrol sommer baie verhoog terwyl die olieprys oor tyd weer gaan styg. Dis nóú lekker, maar dit gaan nie hou nie – pasop!

Waarom daal voedselspryse nooit as petrol goedkoper word nie, maar die oomblik as petrol duurder word, styg voedselpryse? Iewers is iets mos nie pluis nie en iemand moet al die pad bank toe lag?

Dit is onwaar. Dit gebeur baie gereeld dat veral voedselpryse daal! Hou ook in gedagte dat petrol nie die enigste koste is wat die prys van voedsel beïnvloed nie. Verder: vorige petrolprysverhogings se effek is ook nie noodwendig volledig aan voedselpryse deurgegee nie.

By ’n vorige geleentheid het jy gesê die werklike opposisie is nie die DA of die EFF nie, maar die finansiële markte. Is dit dan nie juis die optrede en dreigemente van politieke partye soos die EFF en vakbonde wat die finansiële markte nadelig beïnvloed nie?

Sonder twyfel. Maar dit is ook hoekom die minister van finansies gereeld die “markte” probeer paai wanneer sy kollegas twak praat. Verder sien mens gereeld dat ons politici skielik die “regte” ding begin sê sodra die markte onder druk kom – onlangs by Davos is ’n goeie voorbeeld.

Ons sit eintlik met ’n teenstrydige ekonomiese beleid en totale verval in dienslewering, terwyl Cosatu besig is om homself van binne af op te vreet en die staatsamptenare, waaruit Cosatu deesdae hoofsaaklik bestaan, heeltemal belaglike loonverhogings eis. Dit alles gebeur terwyl die staat se finansies feitlik uitgeput is. Hoe kom ons uit die gemors?

Ek is bevrees dat dit waarskynlik ons grootste probleem is. Eintlik is die probleem dat ons ’n regering het wat ideologies verward is. Die “regering” bestaan uit Cosatu, die SAKP en die ANC. Cosatu is ’n soort van arbeidersparty, die SAKP is veronderstel om kommuniste te wees, alhoewel hulle nie hulle eie ideologie verstaan nie, terwyl die ANC nog steeds hulself as ’n “liberation organisation”sien. Intussen verskil die “partye” onderlangs met hulself en verstaan meestal nie hulle eie ideologieë nie. Ons het dus ’n ideologies verwarde regering wat teenstrydige beleid voortbring en wat (gelukkig meestal) nie in staat is om die beleid toe te pas nie. Die gevolg is totale verwarring.

Ons is almal bewus van die swak vertoning van die rand die afgelope jaar of twee. Jy het al voorheen daarop gewys dat die rand die afgelope 43 jaar 99% van sy waarde verloor het. As mens in 1970 R100 onder jou bed weggesteek het, sou die koopkrag daarvan vandag ’n skamele R1 werd wees. As mense dit hoor, sê hulle maklik ons word ’n tweede Zimbabwe?

Ons sal net Zim word indien ons ook ons instellings soos hulle vernietig.

Ten slotte: Jou raad aan beleggers en Suid-Afrikaners wat ’n neseiertjie het? Moet hulle bly of gly en wat moet hulle met hulle geld maak?

Bly, maar wees streetwise en maak seker ’n redelike deel van daai eiertjie is in die buiteland.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top