
Foto: Canva
“Ek het lief geraak vir daardie land in my nasionalistiese hartjie,” vertel Adelle vir my oor die foon die dag, verlangend na Oekraïne. Die oorlog is al ses maande aan die gang, met geen einde in sig nie en al waaroor sy kan praat, is ’n terugkeer na Oekraïne. “As daar ooit ’n goeie tipe nasionalisme was, dink ek dis die Oekraïnse nasionalisme teen die Russe. Ek weet nie.”
Ek het vermoed daar was ’n man wat die rede was dat sy wou teruggaan. Ek het ook nie lekker geweet wat die rede was dat sy en haar eks Oekraïne toe gefok het in die eerste plek nie. Sy doen die simpelste dinge wanneer daar mans betrokke is. Dis verstaanbaar, op die ouderdom van 20. As ek dink aan al die simpel kak wat ek aangevang het op 20 ...
“Daar’s ’n mural van Mandela in Kyiv se middestad.”
“Dis interessant,” sê ek, glad nie verbaas dat die beeld van Mandela hooggeplaas word nie. Baie onthou hom as ’n vredemaker. Dis seker al wat Oekraïne wil hê. Vrede. Selfde in Sirië en ander plekke, te veel om te noem.
Dit herinner my aan daardie dag wat ek in Sandton Square was. Dit was ’n stil somersdag. Wel, so stil soos Sandton kan wees. Die fontein was die dag af en daar was baie duiwe wat voor die imposante beeld van Mandela gestaan het.
Ek het, as amateurbeeldhouer, gaan kyk na hierdie beeld. Ek het gewonder hoe dit aanmekaar sit, want ek het nie regtig enige welds of joins gesien nie.
“Sjoe,” glip uit my mond uit. Ek het nie geweet hoe die beeld aanmekaargesit is nie. Dis ook nie vir my ’n besondere mooi beeld nie. Dis byna karikatuuragtig.
“Hy was ’n terroris gewees. Waarom dink jy is hy tronk toe?” vra ’n kwaai oom vir my. Hy’t ’n lang, wit baard gehad en duidelik nie omgegee wie sy beste Afrikaans hoor nie.
“Hoe de moer het jy in Oekraïne beland, my suster?” Dis mos hoe ons mekaar noem, soos baie ander vroue voor ons.
“Wel, ek en Thinus het na mekaar toe gegaan met dieselfde idee. Ons dink wat die Russe gedoen het, is werklik ongevraagd. Jy val mos nie ’n ander land in sommer net so nie.”
Naledi Pandor het dieselfde opinie gelig. Die ANC het haar stilgemaak. Hulle het seker nog een of ander waansinnige lojaliteit teenoor Rusland, oor wat hulle tydens die Struggle gedoen het.
Never mind dat daar proxy wars baklei is wêreldwyd omdat die Koue Oorlog warm begin word het nie.
“Daar is baie skuldiges in hierdie situasie, maar die feit van die saak is Rusland het ’n oorlog begin. Dit is ’n tree te ver gewees,” deel Stef wat redelik baie RT kyk. Dis mos die Russiese TV-kanaal wat deur die staat beheer word. So, dis eintlik maar die enigste Russiese TV-kanaal.
“Ek weet te min hiervan af, maar soos jy sê, oorlog is ongevraagd.”
Stef begin toe vir my vertel van die Russiese puppet governments en die seperatiste en die geskiedenis van NAVO en nog wat. Ek wens regtig ek kon alles onthou wat hy vir my vertel het. Dis nie asof hy simpatiseer met die Russe nie. Hy dink net dit kon anders hanteer word.
“Waarom is ek nie verbaas om te hoor daar is ’n man betrokke nie?” en ek sug. Thinus is haar eks en hy’s ’n opperste kont, soos my dik pel sou sê. Hy’s maer, tengerig en rook hopeloos te veel boom. Hy was nie ’n goeie invloed op Adelle gewees nie, maar ons vergewe die lewe van 20.
Ek het ook ’n Thinus gehad, maar sy naam was Gerald. Ek sou enigiets vir hom doen. Goddank hy’t my nie oortuig om te gaan veg in Afghanistan of in Sirië nie.
“Hy’s in Londen en dinge is duur hier in Spanje.”
“Ons sal later by Spanje kom, maar ek wil weet, waarom Oekraïne?”
Sy sug.
“Weet jy, ons het met goeie intensies gegaan. Ons wou humanitarian aid bied. Altans, dis wat ons vir die Suid-Afrikaanse regering gesê het.”
“Die internasionale gemeenskap gee nou om, want die mense is wit. Hoe lank al hou die war in Syria aan en die mense doen fokkol? Soos in Yemen, selle storie. Nee, dis sommer kak man,” vertel Letitia vir my die dag.
Letitia is nie op haar bek geval nie. Sy’s ook een wat gereeld vertel dat haar pa destyds nie kon werk kry nie, want hy was nie wit genoeg nie. Hy soek nou nog glo werk, omdat hy nie swart genoeg is nie.
Ek wou haar nog vra ook hoe sy voel en ’n paar ander ongemaklike dinge, maar ek weet nie hoe om sulke gesprekke te hê nie. Dis moeilik genoeg om met Ruan en Manfred te praat oor gay dinge, en hulle twee is oop boeke.
Seker maar omdat ek grootgemaak is om stil te wees en dankbaar te wees. Jy bevraagteken ook nie ’n man nie, want ’n vrou moet onderdanig wees. Baie bly ek het nie gehoor gegee aan die “bly onderdanig en dankbaar”-paradigma nie.
“Ons het allerhande opleiding gedoen om field medics te wees. Ek gaan nou nie sê dit was besonder lekker nie, maar dit het gevoel of ek sou kon help. Ek hou daarvan om te help. Plus ek kan skiet as dit nodig is.”
Adelle het op ’n plaas grootgeword en elke jaar word die rooibokke uitgedun. Maar dié keer sou sy nie rooibokke moet skiet nie.
“En soos ek jou ken, het jy baie maklik Oekraïens geleer, of hoe?”
“Nes jy daar sê, my suster. Spaans en Hollands het my fokkol daar gehelp. Anyway, ek gaan toe Kharkyiv toe en Thinus bly toe in Kyiv. Ek het veiliger gevoel in Kharkyiv as wat ek ooit het op die plaas, al het my pa altyd sy pistool by hom. Dis snaaks dat ek veiliger gevoel het in ’n oorlogsone as op die plaas.”
“Het jy gehoor van die Stella-moorde, my suster?” vra Adelle.
“Wat’s die storie?” vra ek. Daar is soveel sensasionele moorde deesdae dat dit moeilik is om by te bly. Krugersdorp, daai outjie met die byl op die landgoed, Stella ...
“Twee meisies is in die koshuis vermoor. Die een se eks het hulle met ’n byl doodgemaak en hy sit nou in die tronk.”
“Dis vreeslik!”
“Ek het hulle geken, my suster,” vertel sy verder. “Hulle was oulike girls gewees. Nog saam met Jana op skool ook gewees. En nou is hulle dood.”
Jana is Adelle se suster. Jana het haar eie stel probleme sonder om nog te treur oor twee vriendinne wat vermoor is, net omdat ’n jaloerse eks nie wou aanbeweeg nie.
En so jonk ook nog.
“Maar ja, Thinus het naby Kyiv gebly. Ek het rustig voortbestaan in Kharkyiv, maar toe word hy gestuur na Bucha toe, die dag na die slagting. Hy sweer hoog en laag hy’t vir Zelenski gesien rondloop met trane in sy oë, maar ek weet nie of ek hom moet glo daaroor nie.
“Ek glo hom wel oor die ander dinge. Oor die lyke wat gestrooi gelê het in die paaie. Oor die kinders wat vasgebind is voordat hulle vermoor is. Ek is bly ek het dit nie met my eie oë gesien nie. Dit was hoofnuus hier.”
“Dit was hier ook hoofnuus gewees.”
Ek kan duidelik die ontsteltenis in haar stem hoor. Sy snuif hard en ek hoor hoe sy ’n sigaret aansteek.
“Dis regtig die moeite werd om dit te lees, maar dis moer ontstellend,” begin tannie Retha vir my vertel oor die versamelbundel van die reeks Maus. Sy vertel vir my die boek is ’n versameling van comics wat gedoen is toe ek nog jonk was.
“Die boek vertel die verhaal van ’n man wat Auschwitz oorleef het. In beeld en woord sien jy hoe absoluut haglik dit was in die oorlog. Donnerse krauts ... Ek kan mos nie ‘mowwen’ sê in Suid-Afrika nie.”
Tannie Retha was nie besonder lief vir die Duitsers of die Engelse nie. Haar oumagrootjie was in die konsentrasiekamp in Bethulie gewees en haar oom is glo vermoor in Nederland deur ’n Duitse soldaat. Dit het ook nie gehelp dat sy ’n graad in geskiedenis het nie.
Noudat ek daaraan dink, die enigste mense waarvan sy eintlik hou, is die Iere, maar ook net omdat hulle nie Engels is nie. Elke nasie wat ’n koloniale mag was, beledig sy graag met woorde soos “limey bastards”, “donnerse kaaskoppe”, “krauts”, of haar persoonlike gunsteling “die fokken seppos”. Sy sê ook graag die woord “Afrikanerdom” met die klem op die laaste lettergreep.
Ek wonder wat sy die Russe gaan noem.
“Jy’t mos MASH saam met my gekyk die een dag. Jy sal Maus geniet.”
“Na die storie in Bucha, het Thinus besluit ons moet uit Oekraïne. Sy moed het hom begewe, maar ek wou fokkol weet van uit. Ek wou bly, want ek het iemand daar ontmoet. ’n Oekraïnse soldaat. Ek kan nou nog nie sy naam sê sonder om te huil nie. Ek het by hom ingetrek in Kharkyiv. Hy was alte bly om my in die huis te hê. Hy’t gesê dit voel reg vir hom.
“‘If we survive war, maybe I take you on proper date ... without bullet proof vest,’ het hy vir my vertel. Ek het altyd geglimlag wanneer hy by die huis gekom het. En ek het elke keer wat hy die huis verlaat het, my oë uitgehuil. Ek het nooit geweet of hy sou terugkom of nie.”
Sy snuif hard.
“Ek kan nog onthou hoe die sirenes en dinge sou afgaan, en dan moet ons vinnig uitkom by die parkeerplek van die gebou. Dit was ons bomskuiling. Glo iets wat sekere argitekte by die Finne geleer het na die Koue Oorlog.”
Ek sit en kyk deur nuusberigte van die oorlog. Dit is ook min of meer die tyd wat Finland by NAVO wou aansluit. Hulle het glo geleer uit hul ervarings met Rusland.
“Many Cold War era buildings and more modern buildings were designed with war in mind. The Fins have been in a state of perpetual readiness, should Russia ever decide to invade them again ...” dreun die BBC-verslaggewer voort, soos geboue uit Finland oor die skerm gewys word.
“It is frightening and indeed sad to think the Finnish people need to be in a perpetual state of readiness in case of invasion.”
“Hy’t altyd teruggekeer, my soldaat. Thinus was op pad Londen toe om by sy pa te gaan bly, wat glo ’n Britse burger is. Ek het hom sedertdien nog nie gesien nie. Maar hy’t vir my gesê ek kan Spanje toe gaan as die kak die fan strike. Daar is ’n vlugtelingroete indien nodig.”
“Waarom kom jy nie terug Suid-Afrika toe nie?”
“Het ek jou nie vertel wat op die lughawe gebeur het nie?”
“Vertel, suster, vertel ...”
“Hulle wou ons arresteer.”
My mond hang oop.
“Op watter gronde nogal?”
“Hulle kon niks doen nie. Maar ons was toe op pad Londen toe en dan van Londen na Warsaw en dan Oekraïne. En ons kan nie terugkom nie, al het ek probeer, want die regering gaan ons kamma aankla vir oorlogsmisdade.”
“Jy’s nie ernstig nie.”
“Ons het die mense kom help, fok. Ons het nie missiele afgevuur op hospitale of volksmoord gepleeg nie. Maar dis wat die ambassade vir ons vertel het.”
“Fok.”
“Wat was ek besig om jou te vertel?”
“British Prime Minister Boris Johnson and President Volodymyr Zelensky were each presented with a ceramic rooster, which has become a symbol of Ukrainian resistance.”
“Jy en jou soldaat wat saam bly in Kharkyiv,” herinner ek vir Adelle waar ons mekaar onderbreek het.
“O ja. My suster, die man het my byna verafgod. Niemand het my al so op die hande gedra nie. Dalk is dit die oorlog of dalk was dit dat ek ’n sielsgenoot gevind het ... Dit het nie saak gemaak nie. Hy was my alles. Hy’t my tot ’n Vasylkiv-haan gegee. Dis ’n teken van Oekraïnse verset teen die Russe.
“Hy’t vir my gesê: ‘If anything happens to me, you take this and box under my bed and go to Spain, yes?’”
HOT LIPS
Pierce, it’s me again. Don’t listen to him. Peace is right around the corner.
“Ek het vir hom gesê ek bid elke dag dat hy veilig is en dat hy nie moet dink oor sulke dinge nie. Môre is iets wat ons dalk nie het nie.”
Hel, tot ek het emosioneel geraak daaroor. Ek kon hoor sy snuif meer gereeld en teug elke nou en dan lank aan ’n sigaret.
“As the war passes the six month mark, it also marks the largest refugee crisis in Europe’s history since the Second World War. The first war of this magnitude on European soil in over a century has had far reaching consequences, affecting everything from oil to food prices. But the cost of the war is so much higher when measured in human suffering.”
“Kharkyiv is baie naby aan die front gewees op ’n stadium. Ons kon soms die bomme hoor in die verte. Dit het darem nie te naby gekom nie, maar ons het nooit geweet of dit so sou bly of nie. Ons het geleef vir die nou.
“Tussenin het ek gehelp waar ek kon: Rooikruis, sopkombuise, die plaaslike kerk ... Ek het naderhand bekend geraak as ’n gewillige hand.
“Ek was al seker vier maande of so in Oekraïne toe my soldaat opdrag kry einde Junie om Kherson toe te gaan in die suide.
“Die aand voor hy weg is, het ons ons liefde aan mekaar betoon op ’n fisiese wyse. Na die tyd het ek my kop op sy bors gesit, geluister na sy hart ... Ek het begin huil.
“Die was die perfekte oomblik gewees, die twee van ons. Ek onthou nog hoe hy geruik het en hoe sy klam bors warm was onder my kop.
“‘No. No be sad. Not now. Now we enjoy time together.’
“Ek het saam met hom gegaan treinstasie toe. Dit was byna soos daardie outydse oorlogmovies waar die mooi, jong dame sagkens ween oor haar soldaat wat na die front toe gaan. Dit was my lewe.
“Ek het teruggekeer na ons plekkie toe. Ek’t nie geweet wat in die boks onder sy bed is nie. Ek wou nie weet wat in die boks is nie. Ek, my haan en my gebede het vir hom gewag om tuis te kom.
“Ek het nie geweet hoe lank hy sou weg wees. Ek het nie geweet of hy ooit gaan terugkom nie. Die dae het soos maande gevoel en die weke soos eeue. Maar hy’t elke dag wat hy kon my darem laat weet hy’s veilig.
“29 Augustus was daar ’n counter-offensive naby Kherson gewees. Ek was vrek bekommerd gewees, maar ek het gehoop alles was okay.
“Dis toe daar twee uniforms by die deur opdaag, ook soos in die movies. Maar hierdie was nie ’n movie nie. Ek weet ook nie hoe hulle geweet het ek is hier nie.”
“Ukrainian forces suffered losses near Kherson today but reclaimed much of the region from Russian forces. Ukraine says it’s a significant breach in Russian defences.”
“Ek het my dinge begin pak. Ek was op pad Lviv toe om aansoek te doen om Spanje toe te gaan. Dis waar jy heen moet gaan volgens wat ek gehoor het. Ek het my tas in die voorhuis gesit met my haan. Dis toe ek onthou van die boks onder die bed.
“Ek het die boks geskud. Ek kon nie regtig enigiets hoor nie. Ek kon ook nie glo wat ek gesien het toe ek die boks oopmaak nie.
“Daar was geld, paspoorte, ander dokumente, ’n diamantring en ’n brief.”
My dearest Adelle
If you reading this, I did not survive. Please go to Spain with documents and money. I have for you passport and marriage certificate. I was going to ask you to marry me after war. I don’t know if you would say yes but documents will help keep you safe. Please take ring and remember me always.
Please my love, take everything in box and go to Spain.
“Ek het my haan, my tas en die boks gevat na die metro toe en ’n kaartjie Lviv toe gekoop. Van Lviv af was dit tien uur op ’n bus Madrid toe: ek, my haan, my tas en die boks.”
HAWKEYE
In a recent survey, two out of three chickens prefer to take the bus. But what of their contributions to society? Just think of the great chickens of history. Hard to think of any, isn’t it?
“Ek wonder nou nog waar hy ’n ring gekry het wat my pas. Dit help seker as jy ’n soldaat is om sulke dinge te kry. Die dokumentasie ook. Ek weet eintlik nie of ek hartseer of bly is oor die paspoort en huweliksertifikaat nie, maar dit het gehelp dat ek in Spanje kom.
“Die Spanjaarde het niks snaaks gedink oor my Suid-Afrikaanse paspoort met ’n Oekraïnse huweliksertifikaat nie. Dit het vir hulle amptelik genoeg gelyk om my vlugtelingstatus te gee.”
“Wel, jy kon netsowel getroud gewees het aan jou soldaat.”
Ek hoor hoe sy snik.
“Ek sou ja sê as hy gevra het.”
Die foon sny uit. Beurtkrag. Goddammit ...
Ek hoor die verskillende opinies in my kop soos ek Adelle se storie neerskryf.
“Poetin moet net eenvoudig vermoor word, maar die ongeluk is hy het ’n diktator geword. Uit en uit. Hy’s nog erger as Lukashenko.”
“Die ANC moet ’n ruggraat kry en vir die Russe sê hulle is verkeerd.”
“Julle koop in op ’n klomp Oekraïnse propaganda, man. Die Russe het niks verkeerd gedoen nie.”
“Ek weet te min hiervan af om werklik iets sinvols te sê.”
“Het jy die prys van kookolie gesien?”
“We must remain neutral and hope for a diplomatic solution.”
Die hartseerste woorde wat ek hoor draai in my kop, is dié van Adelle: Ek sou ja sê as hy gevra het.
“As the war drags on, Putin threatens with an escalation of hostility. US President Joe Biden has warned Putin that an escalation will be met with extreme consequences.
“So far, the war has claimed nearly 6 000 Ukrainian lives, some of whom are children.
“Ukraine has managed to reclaim much of the occupied territory but sadly there seems to be no end to the war in sight.
“With Putin’s new conscription rule, it remains to be seen how the Russian people will react.”
Ek steek ’n sigaret aan en dink aan die eerste keer wat ek “Dulce et decorum est” van Wilfred Owen gelees het. Ek was fisies naar, en dit van ’n gedig. Snaaks waaraan ’n mens dink wanneer iemand vir jou ’n storie vertel.
Hier sit ek agter my rekenaar, oor 100 jaar na Owen se dood, en daar is weer oorlog wat die wêreld omvergooi. Dis ook nie iets in ’n handboek nie. Dis wat werklik aangaan. Darem het my rekenaar ’n battery, so ek kan begin om Adelle se verhaal op te teken.
SIDNEY
She killed the chicken?
Dis maklik om te vergeet dat Hitler of Saddam Hoessein nie so lank gelede was nie. Die swart en wit foto’s laat dit lyk of dit eeue gelede was. Maar dit was nie. Relatief gesproke, was dit gister. Soos Adelle se soldaat “gister” Kherson toe is of hoe jy gister Covid gehad het.
“Many Russians are fleeing the state, after the institution of Putin’s conscription rule. Putin aims to add around 300 000 soldiers to his forces, many of whom have no interest in fighting.”
Ek bel toe vir Adelle terug toe die ligte weer aankom. Dis darem nie te laat gewees haar tyd nie.
Sy was uitgepraat. Sy was moeg. Sy wou baie liewer hoor wat met my aangaan.
Ek wil haar storie neerskryf. Ek wil details uit haar kry wat ek nodig het vir die storie. Ek moet slim wees.
Dis nie genoeg dat sy vir my die foto’s stuur van verlate strate in Lviv of Kharkyiv nie. Details soos die mural van Mandela maak dit meer werklik, minder generies as net “die stad”. Dit skep ’n wonderlike beeld en gee baie wat ek kan beskryf om die stad meer werklik te maak, maar dis nie ’n storie nie.
Die mense se opinies oor die oorlog, die beriggewing, Adelle oor die foon ... Dis alles stories, want dinge gebeur. Soms is hulle afgryslik, soms nie, maar dit moet iewers onthou word. Dit kan nie net verdwyn nie. Genoeg stories het al verdwyn weens oorlog.
Hawkeye breaks down and sobs. Sidney watches quietly.
HAWKEYE
I didn’t mean for her to kill it. I just wanted it to be quiet. It was a baby. She smothered her own baby. A baby.
“Wel, ek het ’n nuwe storie begin skryf,” begin ek. Dalk is dit hoe ek die detail uit haar kan lok.
“Vertel, suster. Vertel.”
“Ek sal jou vertel sodra die storie klaar is.”

