Nuwe besems vee gewoonlik skoon, so lui die spreekwoord. Die landbousektor het nou so ’n besem. Nié dat die ou besem ’n spoor van vuilheid nagelaat het nié. Allermins, dit was ’n formidabele besem wat skoon gevee het, as dit by vee kom. Dis nou Thoko Didiza, voormalige minister van landbou. Sy het die sektor goed verstaan en het altyd ’n oopdeurbeleid gehandhaaf. Gedurende die COVID-19-pandemie het sy en die sektor ook goed saamgewerk.
Dis deur haar toedoen dat die sektor as ’n noodsaaklike diens verklaar is. Boere kon met die hulp van ’n vervoerpermit wat deur georganiseerde landbou verskaf is, hul produkte na markte toe vervoer. Sy het besef dat ’n selfregulerende benadering baie meer effektief sou wees as om die landbousektor aan burokratiese rompslomp te onderwerp.

John Steenhuisen (Fotobron: Democratic Alliance [CC BY-SA 4.0], via Wikimedia Commons)
Die nuutaangestelde minister van landbou, John Steenhuisen, is welbekend in politieke kringe. As leier van die DA is hy ’n deurwinterde politikus wat die dinamika van die politiek deeglik verstaan. By vele geleenthede het hy ook NAMPO besoek. Sy lewendige belangstelling in die sektor het duidelik deurgeskemer in die gesprekke wat hy met rolspelers aldaar gehad het.
Die verhoudings wat hy opgebou het, het ’n stewige grondslag gelê waarop hy met selfvertroue die sektor kan vorentoe neem om enersyds dit te groei en om andersyds voedselsekerheid vir die land te verseker.
Laasgenoemde is van kritieke belang. Die Verenigde Nasies voorspel juis ’n 70% toename in die wêreldwye vraag na voedsel teen 2050. Hierdie vraag sal slegs deur ’n landbousektor bevredig kan word wat voedselproduksie meer kostedoeltreffend kan maak. In dié verband bring Suid-Afrikaanse boere hul kant. En die bewyse is daar vir almal om te sien.
Di landboubedryf was die enigste sektor wat sterk groei in die eerste kwartaal van 2024 getoon het. Dit is ’n waardevolle bron van buitelandse valuta deur die uitvoer van goedere en is die grootste werkverskaffer vir landelike Suid-Afrikaners in diens as in enige ander bedryf. Volgens Statistiek SA staan die landbousektor se nuutste indiensnemingsyfer op 941 000 mense.
Die Suid-Afrikaanse landbousektor produseer ook ’n wye verskeidenheid gewasse. In 2022 was suikerriet en mielies die voorste oeste in die land, met onderskeidelik sowat 18 miljoen en 16,1 miljoen ton. Mielies speel ’n groot rol in die landbousektor in Suid-Afrika. In 2024 was dit die landbougewas wat die grootste grondgebied dek. Boonop was Suid-Afrika vanaf 2023/2024 een van die 10 voorste koringproduserende lande wêreldwyd. Graan SA speel in dié verband ’n deurslaggewende rol en dit sal minister Steenhuisen tot voordeel strek as hy dié leierskap se kontakdetails byderhand het.
Dieselfde geld vir die pluimveebedryf, die grootste verskaffer van proteïne. In 2020 was daar meer as 179 miljoen lewende hoenders in Suid-Afrika. Hoenderproduksie word erg beïnvloed deur uitbrake van voëlgriep. In 2023 het die uitbraak ’n vernietigende impak op die bedryf gehad en dringende stappe moet geneem word om op ’n deurlopende grondslag onmiddellik te kan optree as daar ’n uitbraak is.
Tydens die vorige uitbraak was daar duidelike verskille tussen die bedryf, die Departement van Landbou (DALRRD) en veeartsenykundiges oor hoe om die probleem aan te spreek en die uitbraak onder bedwang te bring. Hopelik is daar darem nou al ’n strategie in plek.
Die lewende hawe-bedryf staar dieselfde uitdagings met betrekking tot bek-en-klouseer-siektes in die gesig. ’n Verdoemende verslag oor die bestuur van biosekuriteit deur DALRRD vereis dringend die minister se aandag. Volgens die taakspan is die veeartsenykundige stelsel en dierebiosekuriteitstelsel wanfunksionerend. Dit kan toegeskryf word aan sistemiese (institusionele) kwessies, wetgewende beperkings, begrotingsprobleme en nie-belyning tussen belanghebbendes.
Ander probleme behels swak en onwetenskaplike besluitneming deur amptenare, gebrekkige koördinasie tussen nasionale en provinsiale regerings en stadige reaksie op noodsituasies, swak instandhouding van grensheinings, laboratoriuminfrastruktuur en -toerusting en navorsingsfasiliteite.
Hierdie verslag kan nie stof vergader nie, want dit hou ernstige risiko’s in vir die veebedryf wat ’n inkomste van 152 miljard Suid-Afrikaanse rand vir die land verlede jaar opgelewer het.
Dit geld ook vir die vele ander planne wat die industrie in samewerking met DALRRD saamgestel het. Die landboumeesterplan bied ’n goeie basis om inklusiewe groei teweeg te bring. Dit fokus onder andere op voedselsekerheid, uitgebreide produksie, werkskepping, transformasie, uitbreiding van markte, die verbetering van marktoegang, uitgebreide landbouverwerking en -versorging en opheffing van plaaswerkers om ook hulle te laat deel in die voorspoed. Begin om van die elemente in die plan te implementeer.
Groei is ’n sleutelwoord in die landbousektor. Dit is immers waaroor dit gaan. Sonder finansiering is dit egter nie moontlik nie. Veral nie vir nuwe toetreders nie. Die landbank speel hier ’n sentrale rol en moet nou op ’n stewige grondslag van finansiële volhoubaarheid geplaas word. Verskeie staatsinstellings voorsien finansiering en bied opleiding, insluitend DALRRD, DTIC, DBSA, NEF, AgriSETA, FoodBev SETA, en so meer. Verskillende staatsfondse soos die AgriBEE Fonds en trusts wat deur die privaatsektor bedryf word, maak geld beskikbaar vir landbou-ontwikkeling. Die bedryfsorganisasies is uiters suksesvol. Praat gerus met die NWGSA, Graan SA, Rosyne SA, Hortgro en die megaboere. Onder meer ZZ2, Karstens, DuToit Groep, Wildeklawer, Tru-Cape.
Ongelukkig is al hierdie lofwaardige bemagtigingsprojekte uiters gefragmenteerd. Die landbousektor het egter ’n storie van grensverskuiwende grondvlakontwikkeling en bemagtiging wat vertel moet word. En dit, minister Steenhuisen, behoort u groot fokus te wees.
Bring die verskillende rolspelers bymekaar sodat almal in een rigting saamtrek. Vertel die suksesstories van landbou. Hang dit aan die groot klok!
Christo van der Rheede is Adjunk-Professor aan die Fakulteit van Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Universiteit Vrystaat.

